Godsdiens—’n Krag ten goede of ten kwade?
“EK IS die Christelike godsdiens baie verskuldig, en ek glo die wêreld waarin ons die afgelope 2 000 jaar lank woon, is ook.”—Voorwoord, Two Thousand Years—The First Millennium: The Birth of Christianity to the Crusades.
Daardie woorde van dank aan “die Christelike godsdiens” kom van die Engelse skrywer en omroeper Melvyn Bragg. Sy woorde druk die gevoelens uit van miljoene mense op aarde wat eweneens meen dat hulle groot dank en lojaliteit verskuldig is aan die een of ander godsdiens. Hulle is daarvan oortuig dat godsdiens ’n sterk krag ten goede in hulle lewe was. Een skrywer sê byvoorbeeld dat Islam “’n besondere beskawing tot gevolg gehad het . . . [wat] die hele wêreld verryk het”.
Die rol van godsdiens—Goed of sleg?
Bragg se volgende woorde laat ’n mens egter wonder of godsdiens oor die algemeen werklik ’n krag ten goede was of nie. Hy sê verder: “Die Christelike godsdiens is my ook ’n verduideliking verskuldig.” Waarvoor wil hy ’n verduideliking hê? “Vir die onverdraagsaamheid, die goddeloosheid, die onmenslikheid en die doelbewuste onkunde wat ook die grootste deel van sy ‘geskiedenis’ gekenmerk het”, sê hy.
Baie mense sou sê dat onverdraagsaamheid, goddeloosheid, onmenslikheid en doelbewuste onkunde die meeste van die wêreld se godsdienste deur die geskiedenis heen gekenmerk het. Hulle beskouing is dat godsdiens hom bloot as ’n weldoener van die mensdom voordoen—dat dit onder die skyn van deug en heiligheid in werklikheid vol huigelary en leuens is (Matteus 23:27, 28). “Geen stelling is algemener in ons literatuur as die een dat godsdiens van besondere waarde in ’n beskawing is nie”, sê A Rationalist Encyclopædia. “En geen stelling word op kragtiger wyse vals bewys deur die feite van die geskiedenis nie”, voeg dit by.
Lees vandag enige koerant en jy sal byna eindelose voorbeelde vind van godsdiensleiers wat oor liefde, vrede en medelye preek, maar wat die vuur van haat aanblaas en die naam van God gebruik om hulle wrede konflikte te regverdig. Dit is geen wonder nie dat baie mense godsdiens merendeels as ’n vernietigende krag in die lewe beskou!
Beter sonder godsdiens?
Party het selfs, soos die Engelse filosoof Bertrand Russell, tot die slotsom gekom dat dit goed sou wees as “elke soort godsdiensoortuiging [mettertyd sou] uitsterf”. Volgens hulle is die verwydering van godsdiens die enigste permanente oplossing vir al die mensdom se probleme. Hulle ignoreer egter die feit dat diegene wat godsdiens verwerp, net soveel haat en onverdraagsaamheid kan verwek as diegene wat dit voorstaan. Godsdiensskrywer Karen Armstrong herinner ons: “Op sy allerminste het die Slagting tydens die Nazi-era getoon dat ’n sekularistiese ideologie net so dodelik soos enige godsdienskruistog [kan] wees.”—The Battle for God—Fundamentalism in Judaism, Christianity and Islam.
Is godsdiens dus werklik ’n krag ten goede of is dit eintlik die oorsaak van die mensdom se probleme? Is die oplossing vir daardie probleme om ontslae te raak van alle godsdiens? Kyk na wat die Bybel hieroor sê in die volgende artikel. Die antwoord sal jou moontlik verras.