Het jy ’n volkome hart?
KONING Dawid het sy seun en opvolger, Salomo, aangespoor om Jehovah “met ’n volkome hart” te dien (1 Kronieke 28:9). Hierdie woorde is net so betekenisvol vir diegene wat God vandag wil dien. As ons die volle betekenis daarvan wil verstaan, moet ons verstaan wat Bybelskrywers bedoel wanneer hulle na die mensehart verwys.
Die hart speel ’n belangrike rol in die Skrif, want dit word omtrent duisend keer op die een of ander manier gemeld. Die Hebreeuse (lev, le·vavʹ) en Griekse (kar·diʹa) woorde vir “hart” word letterlik sowel as figuurlik deur die Bybelskrywers gebruik. Daar is betreklik min verwysings na die letterlike hart as orgaan, waarvan die hoofdoel is om die bloed te pomp sodat die liggaamselle gevoed kan word (2 Konings 9:24). In verreweg die meeste gevalle waarin die woord “hart” in die Skrif voorkom, word dit figuurlik gebruik.
Die figuurlike hart
In die Bybel slaan die figuurlike hart nie net op die setel van geneentheid en beweegredes nie, en dit is ook nie beperk tot die intellek nie. Die boek The Metaphorical Use of the Names of Parts of the Body in Hebrew and in Akkadian sê hieroor: “Onder die Semiete . . . is alles wat eie is aan die mens, wat die gevoelens sowel as die intellek en wil betref, aan die hart toegeskryf.” Hierdie boek sê verder dat die hart “die hele innerlike mens is, in teenstelling met die vlees, wat die uiterlike en tasbare mens is”.
By God, wat ’n ondersoeker van harte is, is dit nie bloot die uiterlike voorkoms wat tel nie, maar wat iemand werklik innerlik is (Spreuke 17:3; 24:12). Daarom maan die Skrif: “Bewaak jou hart [die hele innerlike mens] meer as enigiets anders wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe” (Spreuke 4:23). En Christenvroue word aangespoor om nie hoofsaaklik aandag te skenk aan uiterlike versiering nie, maar aan “die geheime persoon van die hart in die onverderflike versiering van die stille en sagmoedige gees . . . , wat in die oë van God van groot waarde is”.—1 Petrus 3:3, 4.
In ’n hele paar van die gevalle in die Bybel waar die woord “hart” voorkom, vestig dit blykbaar die aandag op die denkvermoëns, maar nie in ’n sin wat hierdie vermoëns afsonder van die res van wat die innerlike mens uitmaak nie. Moses het die Israeliete aangespoor: “Jy moet dit in jou hart [of, verstand] terugroep, dat Jehovah die ware God is.” En later het hy vir hulle gesê: “Jehovah [het] julle nie ’n hart [of, verstand] gegee om te verstaan [nie].”—Deuteronomium 4:39, voetnoot in NW; 29:4, voetnoot in NW.
Die hart en beweegredes
Die dryfkrag agter ons gedrag is nog ’n baie belangrike aspek van die innerlike mens, soos voorgestel deur die “hart”. Dié wat bydraes vir die bou van die tabernakel geskenk het, het gevolglik “gekom, elkeen wie se hart hom gedring het” (Eksodus 35:21). Hebreërs 4:12 verduidelik dat God se woord van die belofte, soos ’n skerp swaard, “gedagtes en bedoelings van die hart [kan] onderskei”. Jesus het eweneens aangedui dat die dryfkrag agter ons gedrag, hetsy dit goed of sleg is, uit die hart kom.—Matteus 15:19.
Om ons te help om die regte beweegredes aan te kweek, waarsku die Bybel ons om nie toe te laat dat ons handelinge met ander deur ’n begeerte na selfsugtige gewin bederf word of dat liefde vir geld, ’n sug na rykdom, ons lewensweg bepaal nie (1 Timoteus 6:9, 10; Judas 16). Dit spoor ons eerder aan om opregte liefde vir God aan te kweek as ’n grondslag vir ons diens aan hom, en selfopofferende liefde as ’n maatstaf waarvolgens ons ons medegelowiges behandel (Johannes 15:12, 13; 1 Johannes 5:3). Die Bybel spoor ons ook aan om ander altyd so lief te hê soos ons onsself het.—Lukas 10:27-37.
Die toestand van ons figuurlike hart word weerspieël in ons gesindheid, hetsy ons trots of nederig is (Spreuke 16:5). Ons gevoelens en emosies is ook deel van die innerlike mens. Dit sluit liefde, vreugde, pyn en droefheid, asook haat, in.—Levitikus 19:17; Deuteronomium 6:5; 28:47; Romeine 9:2.
Pasop vir die verraderlike hart
Hoewel Adam volmaak was, het hy toegelaat dat sy hart verlok word; hy het die waarheid verwerp en sy rug op God gedraai. (Sien Jakobus 1:14, 15.) Gevolglik is alle mense, die nageslag van die sondaar Adam, in sonde ontvang en in ongeregtigheid voortgebring (Psalm 51:5). Ná die Vloed het God van die sondige mensdom oor die algemeen gesê: “Die neiging van die mens se hart is sleg van sy jeug af.”—Genesis 8:21.
God het vir die opstandige nasie Juda gesê: “Die hart is verraderliker as enigiets anders en is desperaat” (Jeremia 17:9). Dit is ’n ernstige waarskuwing dat diegene wat God wil behaag, nie net aandag moet skenk aan wat ander mense sien nie, maar ook aan die soort persoon wat hulle werklik is, die innerlike mens. Iemand is miskien al baie jare lank ’n Christen, het ’n goeie kennis van die Bybel en is seker dat hy enige situasie wat kan ontstaan, sal kan hanteer. En tog, hoewel hy goed weet dat ’n daad verkeerd is en uitdruklik deur God se wet veroordeel word, kan die gedagtes en begeertes wat hy in die geheim koester, hom verlok om te sondig.
Om hierdie redes moet ’n Christen, hoewel hy die waarheid ken en homself miskien as ryp beskou, onthou dat sy hart verraderlik kan wees en moet hy dus baie versigtig wees dat hy hom nie aan versoeking blootstel nie.—1 Korintiërs 10:8-12.
Dien met “’n volkome hart”
Die letterlike hart moet heel wees om normaal te funksioneer, maar die figuurlike hart kan verdeeld wees. Dawid het gebid: “Verenig my hart om u naam te vrees”, wat te kenne gee dat ’n persoon se hart verdeeld kan wees wat sy geneenthede en vrese betref (Psalm 86:11). So iemand kan ‘halfhartig wees’—lou in sy aanbidding van God (Psalm 119:113; Openbaring 3:16). ’n Persoon kan ook “dubbelhartig” (letterlik, met ’n hart en ’n hart) wees en probeer om twee here te dien of ander bedrieg deur een ding te sê terwyl hy iets anders dink.—1 Kronieke 12:33; Psalm 12:2, voetnoot in NW.
Iemand wat God wil behaag, moet nie halfhartig of dubbelhartig wees nie, maar moet hom met ’n volkome hart dien (1 Kronieke 28:9). Dit verg ywerige inspanning, aangesien die hart desperaat en tot slegtheid geneig is (Jeremia 17:9, 10). Dinge wat ’n mens help om ’n volkome hart te behou, is: hartgrondige gebed, gereelde studie van God se Woord, ’n ywerige deelname aan die verkondiging van die goeie nuus en omgang met ander wie se hart volkome teenoor Jehovah is.—Esra 7:10; Psalm 119:145; vergelyk 2 Konings 10:15, 16; Jeremia 20:9.