Betoon goedhartigheid in ’n vyandige wêreld
“Wat begeerlik is in die mens, is sy liefderyke goedhartigheid.”—SPREUKE 19:22.
1. Waarom kan dit moeilik wees om goedhartigheid aan die dag te lê?
BESKOU jy jouself as ’n goedhartige mens? Indien wel, kan die lewe in vandag se wêreld moeilik wees. Goedhartigheid word weliswaar in die Bybel as een van “die vrugte van die gees” geïdentifiseer, maar waarom is dit so moeilik om selfs in sogenaamde Christenlande goedhartigheid te betoon? (Galasiërs 5:22). Soos ons in die vorige artikel gesien het, kan die antwoord gedeeltelik gevind word in wat die apostel Johannes geskryf het—die hele wêreld lê in die mag van ’n ongevoelige geespersoon, Satan die Duiwel (1 Johannes 5:19). Jesus Christus het Satan “die heerser van die wêreld” genoem (Johannes 14:30). Hierdie wêreld is dus geneig om sy opstandige heerser na te boots, wie se gesindheid deur bose gedrag gekenmerk word.—Efesiërs 2:2.
2. Wat kan dit vir ons moeilik maak om goedhartigheid te betoon?
2 Dit maak die lewe baie onaangenaam wanneer ander ons sleg behandel. So ’n gebrek aan goedhartigheid kan geopenbaar word deur venynige bure, onvriendelike vreemdelinge, selfs vriende en familielede wat soms onbedagsaam optree. Die spanning wat veroorsaak word deur kontak met mense wat onbeskof is en wat op mekaar skree en vloek, lei dikwels tot groot onsteltenis. Ander se gebrek aan goedhartigheid kan vyandige gevoelens by ons laat posvat, en ons kan dit dalk oorweeg om kwaad met kwaad te vergeld. Dit kan selfs tot geestelike of fisiese gesondheidsprobleme lei.—Romeine 12:17.
3. Watter ernstige probleme kan mense se bereidwilligheid om goedhartig te wees, op die proef stel?
3 Spanningsvolle wêreldtoestande kan dit ook vir ons moeilik maak om goedhartigheid aan die dag te lê. Die mensdom oor die algemeen ervaar byvoorbeeld spanning weens die bedreiging van terrorisme en terreurdade, sowel as die moontlikheid dat biologiese of kernwapens deur verskeie lande gebruik kan word. Daarbenewens is miljoene mense brandarm en moet hulle klaarkom met die minimum kos, beskutting, klere en mediese sorg. Dit word ’n uitdaging om goedhartigheid te betoon wanneer die situasie hopeloos lyk.—Prediker 7:7.
4. Tot watter verkeerde gevolgtrekking kan party kom wanneer hulle dink aan die betoning van goedhartigheid teenoor ander?
4 Iemand kan maklik tot die gevolgtrekking kom dat dit nie werklik belangrik is om goedhartigheid te betoon nie en dat dit selfs ’n teken van swakheid kan wees. Hy kan voel dat daar van hom misbruik gemaak word, veral wanneer ander glad nie sy gevoelens in ag neem nie (Psalm 73:2-9). Maar die Bybel voorsien goeie raad vir ons wanneer dit sê: “’n Sagte antwoord keer woede af, maar ’n woord wat pyn veroorsaak, laat toorn opkom” (Spreuke 15:1). Sagmoedigheid en goedhartigheid is twee vrugte van die gees wat ten nouste met mekaar verband hou en ’n mens grootliks help wanneer jy met moeilike omstandighede te kampe het.
5. Op watter gebiede in die lewe is goedhartigheid nodig?
5 Aangesien dit so belangrik vir ons as Christene is om die vrugte van God se heilige gees te openbaar, sal dit goed wees as ons kyk hoe ons een van daardie eienskappe—goedhartigheid—aan die dag kan lê. Is dit moontlik om goedhartigheid in ’n vyandige wêreld te betoon? Indien wel, op watter gebiede kan ons bewys lewer dat ons nie toelaat dat Satan se invloed ’n demper op ons goedhartigheid plaas nie, veral in stresvolle situasies? Kom ons bespreek hoe goedhartigheid betoon kan word in die gesin, by die werksplek, by die skool, teenoor ons bure, in ons bediening en onder medegelowiges.
Goedhartigheid in die gesin
6. Waarom is goedhartigheid in die gesin so belangrik, en hoe kan dit geopenbaar word?
6 Die vrugte van die gees is noodsaaklik en moet ten volle aangekweek word as ons Jehovah se seën en leiding wil hê (Efesiërs 4:32). Kom ons kyk waarom dit so belangrik is dat gesinslede goedhartigheid teenoor mekaar betoon. In hulle daaglikse handel en wandel moet ’n man en vrou ’n goedhartige en liefdevolle gees teenoor mekaar en teenoor hulle kinders openbaar (Efesiërs 5:28-33; 6:1, 2). Hierdie goedhartigheid moet gesien kan word in die manier waarop gesinslede met mekaar praat—die kinders moet hulle ouers eer en respekteer en die ouers moet hulle kinders reg behandel. Wees gou om te prys, stadig om te veroordeel.
7, 8. (a) Watter soort gedrag moet ons vermy as ons ware goedhartigheid in die gesin wil openbaar? (b) Hoe dra goeie kommunikasie by tot ’n sterk gesinsband? (c) Hoe kan jy goedhartigheid in jou gesin aan die dag lê?
7 Goedhartigheid teenoor diegene in ons gesin behels dat ons die raad van die apostel Paulus volg: “Verwyder dan nou al hierdie dinge van julle: gramskap, toorn, slegtheid, smadende taal en onwelvoeglike praatjies uit julle mond.” Christengesinne moet elke dag op ’n respekvolle manier met mekaar kommunikeer. Waarom? Omdat goeie kommunikasie die lewensbloed van sterk, gesonde gesinne is. Wanneer meningsverskille ontstaan, moet ’n mens dit probeer oplos deur eerder die probleem uit te stryk as die argument te probeer wen. Gelukkige gesinslede wend ’n ywerige poging aan om goedhartigheid en bedagsaamheid in die gesin te bevorder.—Kolossense 3:8, 12-14.
8 Goedhartigheid is ’n positiewe eienskap en beweeg ons om goed te doen aan ander. Ons probeer dus behulpsaam en bedagsaam teenoor ander gesinslede wees in die mate waarin dit gepas is. Dit vereis individuele sowel as gesamentlike pogings om die soort goedhartigheid aan die dag te lê wat ’n gesin tot eer strek. Gevolglik sal hulle nie net God se seën geniet nie, maar hulle sal ook, in die gemeente en in die gemeenskap, die God van goedhartigheid, Jehovah, vereer.—1 Petrus 2:12.
Goedhartigheid by die werksplek
9, 10. Beskryf van die probleme wat by die werksplek kan ontstaan, en verduidelik hoe dit met goedhartigheid hanteer kan word.
9 Vir ’n Christen kan daaglikse gebeure by die werk dit moeilik maak om goedhartigheid teenoor werksmaats te betoon. Wedywering tussen werknemers kan veroorsaak dat jou werk in die weegskaal geplaas word deur ’n werksmaat wat bedrieglik of slinks optree om jou ’n slegte naam by die werkgewer te gee (Prediker 4:4). Dit is nie maklik om op sulke tye goedhartigheid aan die dag te lê nie. Nietemin sal ’n kneg van Jehovah wat in gedagte hou dat die goedhartige weg altyd die regte weg is om te volg, sy bes doen om in die geval van onbedagsame mense die kwaad met die goeie te oorwin. Wat in dié verband kan help, is om besorgdheid aan die dag te lê. Jy kan byvoorbeeld besorgdheid toon as die werksmaat siek is of familielede het wat siek is. Selfs om net te vra hoe dit gaan, kan ’n positiewe uitwerking op die ander persoon hê. Ja, Christene moet daarna streef om sover dit van hulle afhang, eenheid en vrede te bevorder. Soms sal ’n vriendelike woord wat besorgdheid en belangstelling toon, die situasie verbeter.
10 By ander geleenthede kan ’n werkgewer sy mening op sy werknemers afdwing en vereis dat almal aan die een of ander nasionalistiese gebeurtenis of onskriftuurlike viering deelneem. Wanneer ’n Christen se gewete hom nie toelaat om dit te doen nie, kan dit tot ’n konfrontasie lei. Dit sal moontlik nie wys wees om op daardie oomblik breedvoerig te verduidelik waarom dit verkeerd is om aan die werkgewer se wense te voldoen nie. Buitendien kan dit vir diegene wat nie dieselfde oortuigings as die Christen het nie, lyk of dit reg is om aan so iets deel te neem (1 Petrus 2:21-23). Miskien kan jy die redes waarom jy persoonlik nie sal deelneem nie, vriendelik verduidelik. Moenie sarkastiese kommentare met sarkastiese kommentare vergeld nie. Dit is beter vir ’n Christen om die goeie raad in Romeine 12:18 te volg: “Wees, indien moontlik, sover dit van julle afhang, vreedsaam teenoor alle mense.”
Goedhartigheid by die skool
11. Voor watter uitdagings kom jongmense te staan wat goedhartigheid teenoor skoolmaats betref?
11 Dit kan ’n groot uitdaging vir jongmense wees om goedhartigheid teenoor skoolmaats te betoon. Jongmense wil gewoonlik graag aanvaar word deur hulle klasmaats. Party seuns tree op ’n macho manier op sodat hulle ander leerlinge kan beïndruk en gaan dalk selfs sover om ander by die skool af te knou (Matteus 20:25). Dan is daar jongmense wat weer daarvan hou om bo ander uit te munt op akademiese gebied, in sport of in ander aktiwiteite. Hulle spog met hulle prestasies en behandel hulle klasmaats en ander leerlinge dikwels sleg omdat hulle in die waan verkeer dat dit hulle beter as ander maak. ’n Jong Christen moet oppas dat hy of sy nie sulke persone navolg nie (Matteus 20:26, 27). Die apostel Paulus het gesê dat “die liefde . . . lankmoedig en goedhartig” is en dat die liefde ‘nie grootpraat en nie opgeblase raak nie’. Daarom is ’n Christen onder verpligting om skriftuurlike raad te volg in sy handelinge met skoolmaats en moet hy nie die verkeerde voorbeeld volg van diegene wat ander sleg behandel nie.—1 Korintiërs 13:4.
12. (a) Waarom kan dit ’n uitdaging vir jongmense wees om goedhartig teenoor hulle onderwysers op te tree? (b) Op wie kan jongmense staatmaak vir hulp wanneer druk op hulle uitgeoefen word om nie goedhartig te wees nie?
12 Jongmense moet ook goedhartigheid aan die dag lê teenoor hulle onderwysers. Baie leerlinge geniet dit om hulle onderwysers te irriteer. Hulle dink dat hulle baie oulik is wanneer hulle respek vir hulle onderwysers ondermyn deur dinge te doen wat in stryd met die skoolreëls is. Hulle intimideer ander dalk om by hulle aan te sluit. Wanneer ’n jong Christen weier om dit te doen, word hy of sy dalk die teiken van bespotting of afknouery. Om deur die skooljaar heen sulke situasies te ondervind, toets ’n Christen se vasbeslotenheid om goedhartig te wees. Hou egter in gedagte hoe belangrik dit is om ’n lojale kneg van Jehovah te wees. Wees verseker dat hy jou deur middel van sy gees sal onderskraag tydens sulke moeilike oomblikke in die lewe.—Psalm 37:28.
Goedhartigheid teenoor bure
13-15. Wat kan dit moeilik maak om goedhartigheid teenoor bure te betoon, en hoe kan hierdie uitdagings die hoof gebied word?
13 Hetsy jy in ’n huis, ’n woonstel, ’n karavaanpark of elders woon, jy kan aan maniere dink om goedhartigheid aan die dag te lê en besorgdheid oor die welsyn van jou bure te toon. Weer eens is dit nie altyd maklik nie.
14 Gestel jou bure is bevooroordeeld teen jou weens jou ras, nasionaliteit of godsdiens. Sê nou hulle is soms ongeskik of hulle ignoreer jou geheel en al? As ’n kneg van Jehovah sal dit goed wees om sover moontlik goedhartigheid te betoon. Jy sal uitstaan as verkwikkend anders, as iemand wat waarlik lof bring aan Jehovah—die vernaamste voorbeeld van goedhartigheid. Jy weet nooit wanneer jou buurman se gesindheid kan verander as gevolg van jou goedhartigheid nie. Hy kan selfs ’n lower van Jehovah word.—1 Petrus 2:12.
15 Hoe kan goedhartigheid betoon word? Een manier is deur die goeie gedrag van die gesin wat almal die vrugte van die gees openbaar. Die bure merk dit moontlik op. Soms kan jy dalk vir jou bure ’n guns doen. Onthou dat goedhartigheid beteken dat ’n mens daadwerklike belangstelling in die welsyn van ander toon.—1 Petrus 3:8-12.
Goedhartigheid in ons bediening
16, 17. (a) Waarom is goedhartigheid belangrik in ons openbare bediening? (b) Hoe kan goedhartigheid in verskeie aspekte van die veldbediening betoon word?
16 Goedhartigheid moet ’n kenmerk van ons Christelike bediening wees terwyl ons ’n doelgerigte poging aanwend om mense by hulle huise, by die werk en op openbare plekke te bereik. Ons moet onthou dat ons Jehovah verteenwoordig, wat altyd goedhartig is.—Eksodus 34:6.
17 Wat sluit ons pogings in om goedhartigheid in ons bediening te openbaar? Jy kan byvoorbeeld terwyl jy aan die straatgetuieniswerk deelneem, goedhartigheid betoon deur kort en saaklik asook bedagsaam te wees wanneer jy mense nader. Sypaadjies is gewoonlik vol voetgangers, en ons moet dus versigtig wees om nie ander se pad te versper nie. Ook wanneer jy in sakegebied getuig, moet jy goedhartigheid betoon deur saaklik te wees en te onthou dat winkeliers na hulle klante moet omsien.
18. Watter rol speel onderskeidingsvermoë in die betoning van goedhartigheid in ons bediening?
18 In die huis-tot-huis-bediening moet ons onderskeidingsvermoë gebruik. Moenie te lank by mense vertoef nie, veral as die weer onaangenaam is. Kan jy bepaal wanneer iemand ongeduldig of selfs geïrriteerd raak weens jou teenwoordigheid? Dalk word die mense in julle deel van die wêreld dikwels deur Jehovah se Getuies besoek. Indien wel, moet jy selfs groter bedagsaamheid aan die dag lê en altyd goedhartig en vriendelik wees (Spreuke 17:14). Probeer verstaan waarom ’n huisbewoner nie op daardie dag wil luister nie. Onthou dat een van jou Christenbroers of -susters heel waarskynlik in die nabye toekoms daardie huis sal besoek. As jy iemand ontmoet wat ongemanierd is, moet jy ’n spesiale poging aanwend om goedhartigheid te betoon. Moenie jou stem verhef of frons nie, maar praat op ’n kalm manier. ’n Goedhartige Christen wil nie ’n argument met die huisbewoner uitlok nie (Matteus 10:11-14). Moontlik sal die persoon eendag na die goeie nuus luister.
Goedhartigheid by gemeentelike vergaderinge
19, 20. Waarom is goedhartigheid nodig in die gemeente, en hoe kan dit betoon word?
19 Dit is geensins minder belangrik om goedhartigheid teenoor medegelowiges te betoon nie (Hebreërs 13:1). Aangesien ons deel uitmaak van ’n wêreldwye broederskap, is goedhartigheid noodsaaklik in ons handelinge met mekaar.
20 As ’n gemeente ’n Koninkryksaal deel met een, twee of meer gemeentes, is dit belangrik om goedhartig teenoor diegene in die ander gemeentes te wees en hulle met waardigheid te behandel. Wedywering bevorder nie samewerking wanneer daar besluit moet word oor vergaderingtye en belangrike sake soos skoonmaak- of herstelwerk nie. Wees goedhartig en bedagsaam al is daar dalk verskillende menings. Sodoende sal goedhartigheid seëvier, en Jehovah sal waarlik ons belangstelling in die welsyn van ander seën.
Hou aan om goedhartigheid te betoon
21, 22. Wat moet ons vasbeslote wees om te doen in ooreenstemming met Kolossense 3:12?
21 Goedhartigheid is so ’n omvattende eienskap dat dit elke aspek van ons lewe raak. Ons moet dit derhalwe ’n integrerende deel van ons Christelike persoonlikheid maak. Die betoning van goedhartigheid teenoor ander moet ’n gewoonte word.
22 Mag ons almal elke dag goedhartigheid teenoor ander openbaar en sodoende as individue die woorde van die apostel Paulus toepas: “Beklee julle dan, as God se uitverkorenes, heilig en gelief, met die tere geneenthede van medelye, goedhartigheid, ootmoed, sagmoedigheid en lankmoedigheid.”—Kolossense 3:12.
Onthou jy?
• Wat maak dit moeilik vir ’n Christen om goedhartigheid te betoon?
• Waarom is dit belangrik om goedhartigheid in die gesin aan die dag te lê?
• Wat is van die uitdagings wat dit moeilik maak om goedhartigheid te betoon by die skool, by die werk en teenoor bure?
• Verduidelik hoe Christene goedhartigheid in hulle openbare bediening kan betoon.
[Prent op bladsy 18]
Wanneer almal in die gesin goedhartigheid betoon, bevorder dit eenheid en samewerking
[Prent op bladsy 19]
Jy kan goedhartigheid betoon wanneer ’n werksmaat of sy familie siek is
[Prent op bladsy 20]
Jehovah onderskraag diegene wat ondanks bespotting lojaal goedhartigheid betoon
[Prent op bladsy 21]
Dit is ’n daad van goedhartigheid om ’n helpende hand te reik aan ons bure