Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w04 4/15 bl. 23-26
  • Informele getuieniswerk in Mexiko se Engelssprekende veld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Informele getuieniswerk in Mexiko se Engelssprekende veld
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • Onderhofies
  • ‘Op die straat en openbare pleine’
  • By die werk en die skool
  • Ander geleenthede wat benut word
  • ‘Werp jou brood op die water’
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
w04 4/15 bl. 23-26

Informele getuieniswerk in Mexiko se Engelssprekende veld

TERWYL die apostel Paulus in Atene vir sy reisgenote moes wag, het hy die tyd benut deur informeel te getuig. Die Bybel sê: ‘Hy het elke dag op die markplein begin redeneer met dié wat daar was’ (Handelinge 17:17). Op sy reis van Judea na Galilea het Jesus informeel getuig vir ’n Samaritaanse vrou by ’n put (Johannes 4:3-26). Gebruik jy elke geleentheid om oor die goeie nuus van God se Koninkryk te praat?

Die Engelssprekende veld in Mexiko is besonder geskik vir informele getuieniswerk. Toeriste besoek die vakansieoorde, universiteitstudente kom en gaan, en buitelanders wat in Mexiko afgetree het, besoek gereeld die parke en restaurante. Talle Getuies van Jehovah wat Engels kan praat, het bedrewe daarin geraak om gesprekke met sulke mense aan te knoop. Trouens, hulle is daarop ingestel om enigeen te nader wat soos ’n buitelander lyk of wat Engels praat. Kom ons kyk hoe hulle dit doen.

Dikwels stel diegene uit die buiteland wat in die Engelse veld dien, hulle eenvoudig voor aan persone wat lyk asof hulle buitelanders is en vra hulle waar hulle vandaan kom. Dit lei natuurlik tot die vraag oor wat die Getuie in Mexiko doen en bied hom die geleentheid om oor Christelike oortuigings te gesels. Gloria, wat dien waar hulp nodig is in die Engelse veld in Oaxaca, vind dit byvoorbeeld besonder maklik om gesprekke so te begin. Terwyl sy op pad was huis toe nadat sy informeel op die stadsplein getuig het, is Gloria deur ’n egpaar van Engeland voorgekeer. Die vrou het uitgeroep: “Ek kan nie glo dat ek ’n swart vrou op die strate van Oaxaca sien nie!” Gloria het nie aanstoot geneem nie, maar eerder gelag, en hulle het begin gesels oor die rede waarom sy in Mexiko is. Die vrou het Gloria genooi om ’n koppie koffie by haar te kom drink. Nadat hulle ’n afspraak gemaak het, het Gloria Die Wagtoring en Ontwaak! vir die vrou aangebied, maar sy het dit van die hand gewys en gesê dat sy ’n ateïs is. Gloria het geantwoord dat sy dit geniet om met ateïste te gesels en gesê dat sy graag die vrou se opinie wou hoor oor die artikel “Plekke van aanbidding—⁠Het ons dit nodig?” Die vrou het dit aanvaar en gesê: “As jy mý kan oortuig, dan het jy regtig iets bereik.” Daarna het hulle ’n hele paar interessante gesprekke gehad terwyl hulle koffie gedrink het. Later het die egpaar teruggegaan Engeland toe, maar die besprekings het deur middel van elektroniese pos voortgeduur.

Gloria het ook met Saron begin gesels, ’n student uit Washington, DC, wat in Oaxaca vrywillige werk onder plaaslike vroue gedoen het om haar meestersgraad te voltooi. Nadat Gloria Saron vir haar goeie werk geprys het, het sy verduidelik waarom sý in Mexiko is. Dit het gelei tot ’n aangename gesprek oor die Bybel en oor wat God nie net vir die armes sal doen nie, maar vir almal. Saron het gesê dat dit ironies is dat sy nog nooit met die Getuies in die Verenigde State gepraat het nie, maar dat een van die eerste mense wat sy in Mexiko ontmoet, een van Jehovah se Getuies is! Saron het ’n Bybelstudie aanvaar en die Christelike vergaderinge onmiddellik begin bywoon.

Talle buitelanders het na strandoorde in Mexiko getrek, op soek na ’n paradys. Laurel gebruik dit om gesprekke in Acapulco aan te knoop, deur vir mense te vra of Acapulco meer soos ’n paradys is as waar hulle vandaan kom en waarom hulle van die plek hou. Dan verduidelik sy dat die hele aarde binnekort ’n letterlike paradys sal wees. Sy het hierdie benadering gebruik toe sy ’n Kanadese vrou by ’n veearts se spreekkamer ontmoet het, en dit het tot ’n Bybelstudie gelei. Sal ’n soortgelyke benadering dalk doeltreffend wees waar jy woon?

‘Op die straat en openbare pleine’

’n Gesprek word dikwels op straat of op openbare pleine begin deur te vra: “Kan jy Engels praat?” Baie Mexikane kán weens hulle beroep of omdat hulle in die Verenigde State gewoon het, Engels praat.

’n Getuie-egpaar het ’n bejaarde dame genader wat in ’n rolstoel deur ’n verpleegster gestoot is. Hulle het die dame gevra of sy Engels praat. Sy het gesê dat sy kán omdat sy jare lank in die Verenigde State gewoon het. Sy het Die Wagtoring en Ontwaak!, wat sy nog nooit vantevore gelees het nie, geneem en vir hulle haar naam, Consuelo, en haar adres gegee. Toe hulle vier dae later na die adres gaan, het hulle gevind dat dit ’n verpleeginrigting is wat deur Katolieke nonne bestuur word. Aanvanklik was dit moeilik om met Consuelo in aanraking te kom omdat die nonne agterdogtig was en gesê het dat Consuelo hulle nie kon ontvang nie. Die egpaar het daarop aangedring dat die nonne vir Consuelo moet laat weet dat hulle daar is en vir haar wil hallo sê. Consuelo het hulle onmiddellik ingenooi. Sedertdien het hierdie 86-jarige vrou ’n gereelde Bybelstudie, ten spyte van die negatiewe opmerkings van die nonne. Sy het ook al ’n paar Christelike vergaderinge bygewoon.

Spreuke 1:20 sê: “Ware wysheid bly hard uitroep op die straat. Op die openbare pleine laat sy voortdurend haar stem hoor.” Let op hoe dit op die plein van San Miguel de Allende gebeur het. Vroeg een oggend het Ralph ’n middeljarige man genader wat op ’n bankie gesit het. Die man was baie verbaas toe Ralph vir hom Die Wagtoring en Ontwaak! aanbied en het hom sy verhaal vertel.

Hy was ’n Viëtnamveteraan wat soveel mense om hom sien sterf het dat die emosionele spanning te veel geword het en hy gedurende sy militêre diens ’n senuwee-ineenstorting gehad het. Hy is van die frontlinie na ’n basiskamp gestuur. Daar was sy werk om die lyke van gesneuwelde soldate te was voordat hulle na die Verenigde State geneem is. Nou, 30 jaar later, kry hy nog steeds nagmerries en angsgevoelens. Daardie oggend, terwyl hy op die plein gesit het, het hy in sy hart gebid om hulp.

Die veteraan het die lektuur geneem en ’n uitnodiging na die Koninkryksaal aanvaar. Nadat hy die vergadering bygewoon het, het hy gesê dat hy gedurende daardie twee uur in die Koninkryksaal die eerste keer in 30 jaar ’n gevoel van vrede ervaar het. Hierdie man was net ’n paar weke in San Miguel de Allende, maar hy het etlike Bybelstudies gehad en al die vergaderinge bygewoon totdat hy teruggekeer het huis toe. Reëlings is getref om sy studie voort te sit.

By die werk en die skool

Vertel jy vir die mense by jou werksplek dat jy een van Jehovah se Getuies is? Adrián, wat vakansiewoonstelle in Kaap San Lucas verkoop, doen dit. Gevolglik vertel sy werksmaat Judy: “As jy net drie jaar gelede vir my gesê het dat ek een van Jehovah se Getuies sou word, sou ek gesê het, ‘Dit sal die dag wees!’ Maar ek het besluit dat ek die Bybel wou lees. Ek het gedink: ‘Hoe moeilik kan dit wees, aangesien ek daarvan hou om te lees?’ Wel, ek het seker nie meer as ses bladsye gelees toe ek besef het dat ek hulp nodig het nie. Die enigste persoon aan wie ek kon dink om my te help, was ’n werksmaat genaamd Adrián. Ek het daarvan gehou om met hom te gesels omdat hy die enigste persoon daar was wat werklik ordentlik was.” Adrián het onmiddellik aangebied om saam met sy verloofde, Katie, te kom en al Judy se vrae te beantwoord. Katie het die Bybel met haar begin studeer, en nie lank daarna nie was Judy ’n gedoopte Getuie.

Wat van informele getuieniswerk by die skool? Twee Getuies het Spaanse klasse by ’n universiteit bygewoon, maar was ’n dag afwesig om ’n Christelike byeenkoms by te woon. Toe hulle weer in die klas kom, is hulle gevra om in Spaans te vertel wat hulle gedoen het. Hulle het van die geleentheid gebruik gemaak om na die beste van hulle vermoë ’n getuienis in Spaans te gee. Die dosent, Silvia, het baie belanggestel in Bybelprofesieë. Sy het ’n Bybelstudie in Engels aanvaar en is nou ’n verkondiger van die goeie nuus. Verskeie lede van haar familie het ook begin studeer. Silvia sê: “Ek het gevind waarna ek my hele lewe lank al soek.” Ja, informele getuieniswerk kan goeie vrugte voortbring.

Ander geleenthede wat benut word

Gasvryheid kan tot ’n getuienis lei. Jim en Gail, wat dien in San Carlos, Sonora, het gevind dat dit waar is. ’n Vrou wat 6:00 vm. met haar honde gaan stap het, het stil gaan staan om hulle tuin te bewonder. Jim en Gail het haar ingenooi vir koffie. Vir die eerste keer in 60 jaar het sy van Jehovah en die vooruitsig op die ewige lewe gehoor. ’n Bybelstudie is met haar begin.

Adrienne is ook vriendelik teenoor vreemdelinge. Sy het in ’n restaurant in Cancún geëet toe ’n jong seun haar nader en vra of sy van Kanada is. Toe sy sê dat sy is, het hy verduidelik dat hy en sy ma sy suster help met ’n skooltaak oor Kanadese. Die ma, wat Engels kon praat, het nader gekom. Nadat sy die vrou se vrae oor Kanadese geduldig beantwoord het, het Adrienne gesê: “Maar daar is ’n baie belangrike rede waarom ek van Kanada af hierheen gekom het—⁠om mense te help om van die Bybel te leer. Sou jy daarin belangstel?” Die vrou het ja gesê. Sy het tien jaar tevore uit haar kerk bedank en die Bybel op haar eie probeer studeer. Sy het haar adres en telefoonnommer vir Adrienne gegee, en ’n produktiewe Bybelstudie is begin.

‘Werp jou brood op die water’

Wanneer ’n mens van elke geleentheid gebruik maak om oor Bybelwaarheid te praat, lei dit dikwels daartoe dat mense wat selde of nog nooit nie die geleentheid gehad het om die Koninkryksboodskap te hoor nie, ’n getuienis kry. In ’n besige kafee in die hawestad Zihuatanejo, het ’n Getuie twee buitelanders genooi om by haar tafel te sit, aangesien die kafee vol was. Hierdie egpaar het sewe jaar lank van plek tot plek geseil. Hulle het hulle negatiewe gevoelens oor Jehovah se Getuies uitgespreek. Ná die ontmoeting in die kafee het die Getuie die egpaar op hulle boot besoek en hulle na haar huis toe genooi. Hulle het meer as 20 tydskrifte en 5 boeke geneem en belowe om die Getuies op te soek by die volgende hawe waar hulle aandoen.

Jeff en Deb het ’n gesin met ’n pragtige babadogtertjie gesien by ’n eetplek in ’n winkelsentrum in Cancún. Toe hulle ’n opmerking oor die baba maak, het haar ouers hulle genooi om saam met hulle pizza te eet. Die gesin was van Indië. Hulle het nog nooit van Jehovah se Getuies gehoor of van ons lektuur gesien nie. Hulle het ’n paar van die Getuies se publikasies geneem voordat hulle die winkelsentrum verlaat het.

Iets soortgelyks het gebeur op ’n eiland naby die kus van Yucatán. ’n Pas getroude Chinese paartjie het Jeff gevra om ’n foto van hulle te neem, wat hy met graagte gedoen het. Hy het toe uitgevind dat hulle nog nooit Jehovah se Getuies gesien of van hulle gehoor het nie, al het hulle die afgelope 12 jaar in die Verenigde State gewoon! ’n Aangename gesprek het gevolg. Jeff het hulle aangemoedig om die Getuies op te soek sodra hulle by die huis kom.

’n Spesiale gebeurtenis in die gebied waar jy woon, kan jou die geleentheid gee om informeel te getuig. Toe die president van die Verenigde State die president van Mexiko op sy plaas naby Guanajuato kom besoek het, het verslaggewers van oor die hele wêreld die gebeurtenis gedek. ’n Getuiegesin het besluit om van hierdie geleentheid gebruik te maak om in Engels te getuig. Die reaksie was gunstig. Een verslaggewer het byvoorbeeld verskeie oorloë gedek, soos dié in Kosowo en Koeweit. Hy het vertel hoe ’n kollega in sy arms gesterf het nadat hy deur ’n skerpskutter geskiet is. Toe die verslaggewer van die opstanding hoor, het hy God met trane in sy oë gedank omdat hy hom laat besef het dat die lewe ’n doel het. Hy het gesê dat hy hierdie goeie nuus uit die Bybel in sy hart sou bewaar, al sou hy die Getuie-egpaar nie weer sien nie.

Soos ons kan sien, weet ons dikwels nie wat die eindresultaat van hierdie soort getuieniswerk is nie. Maar wyse koning Salomo het gesê: “Stuur jou brood uit op die oppervlak van die waters, want na verloop van baie dae sal jy dit weer vind.” Hy het ook gesê: “Saai jou saad in die oggend en laat jou hand tot die aand nie rus nie; want jy weet nie waar dit sukses sal behaal nie, hetsy hier of daar, en of hulle al twee ewe goed sal wees nie” (Prediker 11:1, 6). Ja, “stuur jou brood” ywerig uit op baie waters en “saai jou saad” milddadig, soos Paulus en Jesus en soos hierdie hedendaagse Getuies in Mexiko se Engelssprekende veld.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel