Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w04 10/15 bl. 30-31
  • Wie is “die ware God en die ewige lewe”?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wie is “die ware God en die ewige lewe”?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “Die waaragtige”
  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Wat sê die Skrif oor “die godheid van Christus”?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Jode
    Redenering uit die Skrif
  • Waarom moet ons “die Christus” volg?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
w04 10/15 bl. 30-31

Wie is “die ware God en die ewige lewe”?

JEHOVAH, die Vader van ons Here Jesus Christus, is die ware God. Hy is die Skepper, die een wat die ewige lewe gee aan dié wat hom liefhet. Dit is hoe talle wat die Bybel lees en daarin glo, die vraag in die titel hierbo sal beantwoord. Trouens, Jesus self het gesê: “Dít beteken die ewige lewe, dat hulle kennis inneem van u, die enigste ware God, en van die een wat u uitgestuur het, Jesus Christus.”—Johannes 17:3.

Tog verstaan talle kerkgangers hierdie uitdrukking anders. Die woorde in die titel kom uit 1 Johannes 5:20, wat gedeeltelik sê: “Ons is in eenheid met die waaragtige, deur middel van sy Seun Jesus Christus. Dit is die ware God en die ewige lewe.”

Mense wat aan die Drie-eenheidsleer glo, beweer dat die aanwysende voornaamwoord “dit” (houʹtos) na die naaste antesedent, Jesus Christus, verwys. Hulle voer aan dat Jesus “die ware God en die ewige lewe” is. Maar hierdie vertolking is in stryd met die res van die Skrif. En talle gesaghebbende geleerdes aanvaar nie hierdie Trinitariese beskouing nie. B. F. Westcott, ’n geleerde aan die Universiteit van Cambridge, het geskryf: “Die [voornaamwoord houʹtos] verwys natuurlikerwys nie na die onderwerp wat naaste daaraan genoem word nie, maar na die onderwerp wat oorheersend is in die apostel se gedagtes.” Die apostel Johannes het dus Jesus se Vader in gedagte gehad. Die Duitse teoloog Erich Haupt het geskryf: “Daar moet vasgestel word of die [houʹtos] van die volgende stelling verwys na die onderwerp wat die naaste daaraan is en dit onmiddellik voorafgaan . . . of na die antesedent wat vroeër ter sprake was, naamlik God. . . . Dit lyk of ’n getuienis ten gunste van die een ware God meer ooreenstem met die laaste waarskuwing teen afgode as met ’n bewys van die goddelikheid van Christus.”

A Grammatical Analysis of the Greek New Testament, uitgegee deur Rome se Pontifikale Bybelinstituut, sê selfs: “[Houʹtos]: as ’n klimaks van [verse] 18-20 is die verwysing feitlik sonder twyfel na God as die werklike, die ware Een [in] teenstelling met wat heidens is (v. 21).”

Houʹtos, wat oor die algemeen met “dit”, “hy” of “die een” vertaal word, verwys dikwels nie na die onderwerp of frase waardeur dit voorafgegaan word nie. Ander tekste lig dit toe. In 2 Johannes 7 het dieselfde apostel en skrywer van die eerste brief geskryf: “Baie bedrieërs het in die wêreld uitgegaan, mense wat nie bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het nie. Dit [houʹtosʹ] is die bedrieër en die antichris.” Hier kan die voornaamwoord nie na die naaste antesedent—Jesus—verwys nie. “Dit” verwys klaarblyklik na diegene wat Jesus verloën het. Hulle is gesamentlik “die bedrieër en die antichris”.

In sy Evangelie het die apostel Johannes geskryf: “Andreas, die broer van Simon Petrus, was een van die twee wat gehoor het wat Johannes gesê het en Jesus gevolg het. Eers het hy [houʹtos] sy eie broer, Simon, gevind” (Johannes 1:40, 41). Dit is duidelik dat houʹtos hier nie na die persoon verwys wat laaste genoem is nie, maar na Andreas. In 1 Johannes 2:22 gebruik die apostel dieselfde Griekse voornaamwoord op ’n soortgelyke wyse.

Lukas maak ook op hierdie manier van die voornaamwoord gebruik, soos in Handelinge 4:10, 11 gesien kan word: “Laat dit dan aan julle almal . . . bekend wees dat in die naam van Jesus Christus die Nasarener, wat julle aan die paal gehang het maar wat God uit die dode opgewek het, dat deur hóm hierdie man hier gesond voor julle staan. Dit [houʹtosʹ] is ‘die steen wat deur julle, die bouers, behandel is asof hy van geen belang was nie, wat die hoof van die hoek geword het’.” Die voornaamwoord “dit” verwys beslis nie na die man wat gesond gemaak is nie, hoewel hy die een is wat net voor houʹtos genoem word. “Dit” in vers 11 verwys ongetwyfeld na Jesus Christus die Nasarener, wat die ‘hoeksteen’ was waarop die Christengemeente gebou is.—Efesiërs 2:20; 1 Petrus 2:4-8.

Handelinge 7:18, 19 lig ook hierdie punt toe: “Daar [het] ’n ander koning oor Egipte opgestaan . . . , wat nie van Josef geweet het nie. Hy [houʹtos] het listige staatkunde teen ons ras gebruik.” Die houʹtos wat die Jode onderdruk het, was nie Josef nie, maar Farao, die koning van Egipte.

Hierdie Skrifgedeeltes bevestig die waarneming van die Griekse geleerde Daniel Wallace, wat aangaande Griekse aanwysende voornaamwoorde sê dat dit “wat moontlik die naaste antesedent in die konteks is, dalk nie die naaste antesedent in die skrywer se gedagtes is nie”.

“Die waaragtige”

Soos die apostel Johannes geskryf het, is “die waaragtige”, Jehovah, die Vader van Jesus Christus. Hy is die enigste ware God, die Skepper. Die apostel Paulus het erken: “Daar [is] in werklikheid vir ons een God, die Vader, uit wie alles is” (1 Korintiërs 8:6; Jesaja 42:8). Nog ’n rede waarom Jehovah “die waaragtige” is waarna 1 Johannes 5:20 verwys, is dat hy die Bron van waarheid is. Die psalmis het Jehovah “die God van waarheid” genoem omdat Hy getrou is in alles wat Hy doen en nie kan lieg nie (Psalm 31:5; Eksodus 34:6; Titus 1:2). Met verwysing na sy hemelse Vader het die Seun gesê: “U woord is die waarheid.” En aangaande sy eie onderrigting het Jesus gesê: “Wat ek leer, is nie myne nie, maar behoort aan hom wat my gestuur het.”—Johannes 7:16; 17:17.

Jehovah is ook “die ewige lewe”. Hy is die Bron van die lewe, die Een wat dit as ’n onverdiende gawe deur Christus gee (Psalm 36:9; Romeine 6:23). Dit is dus betekenisvol dat die apostel Paulus gesê het dat God “die beloner [is] van dié wat hom ernstig soek” (Hebreërs 11:6). God het sy Seun beloon deur hom uit die dood op te wek, en die Vader sal die beloning van die ewige lewe gee aan dié wat Hom met hulle hele hart dien.—Handelinge 26:23; 2 Korintiërs 1:9.

Tot watter gevolgtrekking moet ons derhalwe kom? Dat Jehovah, en niemand anders nie, “die ware God en die ewige lewe” is. Hy alleen is waardig om uitsluitlike aanbidding te ontvang van diegene wat hy geskep het.—Openbaring 4:11.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel