Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w05 3/1 bl. 30-31
  • Hoop het die krag om te onderskraag

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoop het die krag om te onderskraag
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • Onderhofies
  • Die Bron van hoop
  • Hoop is noodsaaklik vir geloof
  • Die Christelike hoop
  • Voordele van ’n vaste hoop
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
w05 3/1 bl. 30-31

Hoop het die krag om te onderskraag

WARE hoop, waarvan die Bybel praat, is meer as net ’n begeerte, wat moontlik geen grondslag of vooruitsig op vervulling het nie. Dit is ook beter as blote verwagting, want dit wat verwag word, is nie altyd iets begeerliks nie.

Die Bybel toon dat mense in die wêreld oor die algemeen geen werklike, stewig gegronde hoop het nie; die mens se uiteinde is die dood, en sonder kennis van ’n voorsiening uit ’n hoër bron het hulle geen hoop vir die toekoms nie. Salomo het die vergeefsheid van die situasie waarin die mens hom bevind as God nie sou ingryp nie, as “die grootste nietigheid” beskryf.—Prediker 12:8.

Diegene wat nie hulle hoop op God en op sy belofte van ’n opstanding van die dooies stel nie, spreek gewoonlik gedagtes uit wat ooreenstem met die woorde van die ongehoorsame inwoners van Jerusalem, wat nie berou en droefheid getoon het toe hulle gekonfronteer is met vernietiging wat as God se oordeel oor hulle stad sou kom nie, maar hulle eerder aan sinsgenot oorgegee het. Hulle het gesê: “Laat daar geëet en gedrink word, want môre sal ons sterf” (Jesaja 22:13). Die apostel Paulus waarsku dat ons nie deur die gesindheid van sulke wanhopige mense besmet moet word nie.—1 Korintiërs 15:32, 33.

Paulus het nie ontken dat mense in die wêreld wel sekere redelike verwagtinge nastreef nie, waarvan sommige prysenswaardig is. Hy het eerder getoon dat iemand se verwagtinge sonder God hopeloos is; waarlik, op die lange duur is dit vergeefs.

Die Bron van hoop

Jehovah God is die Bron van ware hoop en die Een wat al sy beloftes kan vervul sowel as die verwagtinge van diegene wat op hom vertrou. Dit is deur middel van sy onverdiende goedhartigheid dat hy die mensdom “troos en goeie hoop” gegee het (2 Tessalonisense 2:16). In die Hebreeuse Geskrifte is daar baie gevalle waar hoop en vertroue op Jehovah uitgespreek word. Selfs toe sy volk in ballingskap gegaan het omdat hulle aan hom ongehoorsaam was, het hy weens sy liefderyke goedhartigheid teenoor hulle vir hulle gesê: “Ek weet goed watter gedagtes ek teenoor julle koester, . . . gedagtes van vrede en nie van rampspoed nie, om julle ’n toekoms en ’n hoop te gee.”—Jeremia 29:11.

Gedurende die Babiloniese ballingskap het Jehovah se belofte die geloof en hoop van getroue Israeliete lewend gehou; dit het manne soos Esegiël en Daniël grootliks versterk, want Jehovah het gesê: “Daar is ’n hoop vir jou toekoms, . . . en die kinders sal beslis na hulle eie gebied terugkeer” (Jeremia 31:17). Daardie hoop is verwesenlik toe ’n getroue Joodse oorblyfsel in 537 v.G.J. na Jerusalem teruggekeer het om die stad en sy tempel te herbou.—Esra 1:1-6.

Die hoop wat ’n kneg van God het om ’n beloning te ontvang, is nie selfsugtig nie. Om ’n regte beskouing en begrip van God te hê, moet ’n persoon weet dat liefderyke goedhartigheid en vrygewigheid voortreflike eienskappe van God is; die persoon moet nie net glo dat God is nie, maar ook “dat hy die beloner word van dié wat hom ernstig soek”.—Hebreërs 11:6.

Hoop is noodsaaklik vir geloof

Hoop is ook noodsaaklik vir geloof; dit is die grondslag en basis van geloof (Hebreërs 11:1). En geloof maak weer die hoop helderder en sterker. Die apostel Paulus noem die goeie voorbeeld van Abraham om Christene te versterk.

Toe Abraham en sy vrou Sara uit ’n menslike oogpunt nie meer kon hoop om kinders te hê nie, is daar van hulle gesê: “Hoewel daar nie meer hoop was nie, het hy tog op grond van hoop geloof gehad, dat hy die vader van baie nasies kon word ooreenkomstig wat gesê is: ‘So sal jou saad wees.’” Abraham het geweet dat sy liggaam en Sara s’n “dood” was in die sin dat hulle nie meer kinders kon voortbring nie. Maar sy geloof het nie verswak nie. Waarom nie? “Weens die belofte van God het hy nie in ’n gebrek aan geloof gewankel nie, maar kragtig geword deur sy geloof.”—Romeine 4:18-20.

Die apostel pas Abraham se voorbeeld van geloof en hoop dan op Christene toe en maak die gevolgtrekking: “Laat ons ons verheug, op grond van hoop op die heerlikheid van God . . . en die hoop lei nie tot teleurstelling nie; omdat die liefde van God in ons harte uitgestort is deur middel van die heilige gees, wat aan ons gegee is.”—Romeine 5:2, 5.

Die Christelike hoop

Die hoop van die Christen en inderdaad ook dié van die mensdom, berus by Jesus Christus. Voordat Christus Jesus “lig op lewe en onverderflikheid gewerp het deur die goeie nuus”, het geen mens die vooruitsig op ewige lewe in die hemel of op aarde gehad nie.—2 Timoteus 1:10.

Die hoop op die ewige lewe en onverderflikheid vir diegene wat “deelgenote van die hemelse roeping” is, het ’n stewige grondslag en is iets waarop daar vas vertrou kan word (Hebreërs 3:1). Dit word bevestig deur twee dinge waarin dit onmoontlik is vir God om te lieg, naamlik sy belofte en sy eed, en die hoop berus by Christus, wat nou onsterflik is in die hemele. Daar word derhalwe van hierdie hoop gepraat as “’n anker vir die siel, seker sowel as vas, en dit gaan tot binne die voorhangsel in [soos die hoëpriester op die Versoendag by die Allerheiligste ingegaan het], waar ’n voorloper ten behoewe van ons ingegaan het, Jesus, wat vir ewig ’n hoëpriester volgens die wyse van Melgisedek geword het”.—Hebreërs 6:17-20.

Voordele van ’n vaste hoop

Die Bybel beklemtoon deurgaans hoe belangrik dit is dat Christene aan die “een hoop” vashou (Efesiërs 4:4). Dit vereis volgehoue ywer en vrymoedigheid van spraak asook dat ’n mens oor die hoop ‘roem’.—Hebreërs 3:6; 6:11.

Hoop word ontwikkel deur onder verdrukking te volhard; en dít lei tot ’n goedgekeurde toestand voor God, die bron van hoop (Romeine 5:2-5). Dit word saam met geloof en liefde genoem as een van die drie eienskappe wat kenmerkend is van die Christengemeente nadat die wonderdadige gawes van die gees wat in die eerste-eeuse gemeente aanwesig was, tot ’n einde gekom het.—1 Korintiërs 13:13.

Hoop is vir die Christen onontbeerlik. Dit gaan gepaard met vreugde, vrede en krag van die heilige gees (Romeine 15:13). Dit bevorder vrymoedigheid van spraak wanneer ’n mens God nader vir sy onverdiende goedhartigheid en barmhartigheid (2 Korintiërs 3:12). Dit stel die Christen in staat om met vreugde te volhard, ongeag die omstandighede (Romeine 12:12). Net soos ’n helm ’n soldaat se kop beskerm het, beskerm die hoop op redding die verstandelike vermoëns, wat die Christen in staat stel om onkreukbaarheid te handhaaf.—1 Tessalonisense 5:8.

Hoop help die Christen om ’n rein lewe te lei omdat hy weet dat God en Christus, in wie hy sy hoop stel, rein is en dat hy nie kan verwag om soos God te wees en die prys te ontvang as hy onreinheid of onregverdigheid beoefen nie (1 Johannes 3:2, 3). Dit het ’n noue verband met die voortreflikste eienskap, liefde, want iemand wat ware liefde vir God het, sal ook sy hoop op al God se beloftes stel. Daarbenewens sal hy hoop op die beste vir sy broers in die geloof, hulle liefhê en vertrou dat hulle opreg van hart is in Christus.—1 Korintiërs 13:4, 7; 1 Tessalonisense 2:19.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel