Wie sal opgewek word?
“Moet julle nie hieroor verwonder nie, want die uur kom waarin almal wat in die gedenkgrafte is, sy stem sal hoor en sal uitkom.”—JOHANNES 5:28, 29.
1. Watter uitsonderlike verklaring het Moses by die brandende doringbos gehoor, en wie het later hierdie woorde aangehaal?
IETS baie buitengewoons het meer as 3 500 jaar gelede gebeur. Moses het die skape van die aartsvader Jetro opgepas. Naby die berg Horeb het Jehovah se engel in ’n vuurvlam in ’n doringbos aan Moses verskyn. “Terwyl hy bly kyk het, het die doringbos met vuur gebrand, en tog is die doringbos nie verteer nie”, vertel die verslag in Eksodus. Toe het ’n stem uit die doringbos na hom geroep. “Ek is die God van jou vader”, het die stem gesê, “die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob” (Eksodus 3:1-6). Later, in die eerste eeu G.J., het niemand anders nie as God se eie Seun, Jesus, hierdie woorde aangehaal.
2, 3. (a) Watter vooruitsig is daar vir Abraham, Isak en Jakob? (b) Watter vrae ontstaan?
2 Jesus het met ’n paar Sadduseërs geredeneer, wat nie aan die opstanding geglo het nie. Jesus het gesê: “Dat die dooies opgewek word, het ook Moses onthul, in die verslag oor die doringbos, wanneer hy Jehovah ‘die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob’ noem. Hy is ’n God, nie van die dooies nie, maar van die lewendes, want vir hom lewe hulle almal” (Lukas 20:27, 37, 38). Met hierdie woorde het Jesus bevestig dat Abraham, Isak en Jakob, wat lank tevore gesterf het, vanuit God se standpunt nog in Sy geheue gelewe het. Soos Job, wag hulle dat hulle “dwangarbeid”, hulle slaap in die dood, eindig (Job 14:14). Hulle sal in God se nuwe wêreld opgewek word.
3 Maar wat van die miljarde ander wat deur die mensegeskiedenis heen gesterf het? Sal hulle ook ’n opstanding kry? Voordat ons ’n bevredigende antwoord op hierdie vraag kan kry, moet ons met behulp van God se Woord uitvind waarheen mense gaan wanneer hulle sterf.
Waar is die dooies?
4. (a) Waarheen gaan mense wanneer hulle sterf? (b) Wat is Sjeool?
4 Die Bybel sê dat die dooies “bewus [is] van hoegenaamd niks”. Ná die dood is daar geen foltering in ’n helse vuur nie, geen pynlike wagtydperk in Limbus nie; die afgestorwene keer bloot terug tot die stof. Daarom vermaan God se Woord die lewendes: “Alles wat jou hand vind om te doen, doen dit met jou mag, want daar is geen werk of beplanning of kennis of wysheid in Sjeool, die plek waarheen jy gaan nie” (Prediker 9:5, 10; Genesis 3:19). “Sjeool” is vir baie ’n onbekende woord. Dit is ’n Hebreeuse woord waarvan die oorsprong onseker is. Baie godsdienste leer dat die dooies nog lewe, maar soos die geïnspireerde Woord van God toon, is diegene in Sjeool dood, onbewus van enigiets. Sjeool is die gemeenskaplike graf van die mensdom.
5, 6. Waarheen het Jakob ná sy dood gegaan, en wie was ook daar?
5 In die Bybel kom die woord “Sjeool” die eerste keer in Genesis 37:35 voor. Ná die skynbare dood van sy geliefde seun Josef, het die aartsvader Jakob geweier om hom te laat troos en gesê: “Ek sal treurende na my seun in Sjeool afdaal!” Omdat Jakob gedink het dat sy seun dood is, wou hy sterf en in Sjeool wees. Later wou nege van Jakob se ouer kinders sy jongste seun, Benjamin, saamneem na Egipte om verligting van die hongersnood te verkry. Jakob het egter geweier en gesê: “My seun sal nie saam met julle aftrek nie, want sy broer is dood en hy het alleen oorgebly. As ’n noodlottige ongeluk hom sou oorkom op die pad wat julle sal gaan, dan sal julle beslis my grys hare met droefheid na Sjeool laat afdaal” (Genesis 42:36, 38). Hierdie twee verwysings verbind die dood, nie ’n hiernamaalse lewe van die een of ander aard nie, met Sjeool.
6 Die Genesisverslag toon dat Josef die voedseladministrateur in Egipte geword het. Gevolglik kon Jakob daarheen reis vir ’n vreugdevolle hereniging met Josef. Daarna het Jakob tot sy dood op die hoë ouderdom van 147 in daardie land gewoon. Ooreenkomstig sy sterwenswens het sy seuns sy oorskot geneem en dit in die grot van Magpela in die land Kanaän begrawe (Genesis 47:28; 49:29-31; 50:12, 13). Jakob was dus nou by Isak, sy vader, en Abraham, sy grootvader.
‘Tot hulle voorvaders versamel’
7, 8. (a) Waarheen het Abraham by sy dood gegaan? Verduidelik. (b) Wat toon dat ander by hulle dood na Sjeool gegaan het?
7 Toe Jehovah vroeër sy verbond met Abraham bevestig het en beloof het dat sy saad talryk sou word, het hy aangedui wat met Abraham sou gebeur. “Wat jou betref”, het Jehovah gesê, “jy sal in vrede na jou voorvaders gaan; jy sal op ’n goeie ouderdom begrawe word” (Genesis 15:15). En dit is presies wat gebeur het. Genesis 25:8 sê: “Toe het Abraham die laaste asem uitgeblaas en op ’n goeie ouderdom gesterf, oud en tevrede, en hy is tot sy volk versamel.” Wie was hierdie volk? Genesis 11:10-26 gee ’n lys van sy voorvaders tot by Noag se seun Sem. Abraham is dus by sy dood versamel tot hierdie persone wat reeds in Sjeool geslaap het.
8 Die uitdrukking “tot sy volk versamel” kom dikwels in die Hebreeuse Geskrifte voor. Ons kan derhalwe die logiese gevolgtrekking maak dat Abraham se seun Ismael en Moses se broer Aäron albei by hulle dood na Sjeool gegaan het en daar op ’n opstanding wag (Genesis 25:17; Numeri 20:23-29). Moses het dus ook na Sjeool gegaan, hoewel niemand geweet het waar sy graf is nie (Numeri 27:13; Deuteronomium 34:5, 6). Net so het Josua, Moses se opvolger as leier van Israel, tesame met ’n hele geslag mense ook by hulle dood na Sjeool afgedaal.—Rigters 2:8-10.
9. (a) Hoe toon die Bybel dat die Hebreeuse woord “Sjeool” en die Griekse woord “Hades” na dieselfde plek verwys? (b) Wat is die vooruitsig van diegene in Sjeool, of Hades?
9 Eeue later het Dawid die koning van die 12 stamme van Israel geword. By sy dood het hy “met sy voorvaders ontslaap” (1 Konings 2:10). Was hy ook in Sjeool? Interessant genoeg, op Pinksterdag 33 G.J. het die apostel Petrus na Dawid se dood verwys en Psalm 16:10 aangehaal: “U sal my siel nie in Sjeool laat nie.” Nadat hy genoem het dat Dawid nog in sy graf is, het Petrus hierdie woorde op Jesus toegepas en gewys dat Dawid “die opstanding van die Christus vooraf gesien en daaroor gepraat [het], dat hy nie in Hades verlaat is en sy vlees ook nie verderwing gesien het nie. Hierdie Jesus het God opgewek, ’n feit waarvan ons almal getuies is” (Handelinge 2:29-32). Petrus het hier die woord “Hades” gebruik, die Griekse ekwivalent van die Hebreeuse woord “Sjeool”. Of daar dus gesê word dat persone in Hades is of in Sjeool, hulle is almal in dieselfde situasie. Hulle slaap terwyl hulle op ’n opstanding wag.
Is daar onregverdiges in Sjeool?
10, 11. Waarom kan ons sê dat party onregverdiges by hulle dood na Sjeool, of Hades, gaan?
10 Nadat Moses die nasie Israel uit Egipte uitgelei het, het ’n opstand in die wildernis uitgebreek. Moses het vir die volk gesê om hulle af te skei van die voorbokke—Korag, Datan en Abiram. Hulle sou gewelddadig sterf. Moses het verduidelik: “As hierdie mense volgens die dood van alle mense sterf en hulle met die straf van alle mense gestraf word, dan is dit nie Jehovah wat my gestuur het nie. Maar as Jehovah iets nuuts skep en die grond sy mond oopmaak en hulle verswelg met alles wat aan hulle behoort en hulle lewend in Sjeool afdaal, dan sal julle vir seker weet dat hierdie manne Jehovah met minagting bejeën het” (Numeri 16:29, 30). Hetsy die aarde oopgegaan en hulle verswelg het of vuur hulle verteer het soos in die geval van Korag en die 250 Leviete wat hulle aan sy kant geskaar het, al hierdie opstandelinge het in Sjeool, of Hades, beland.—Numeri 26:10.
11 Simeï, wat ’n vloek oor koning Dawid uitgespreek het, is deur Dawid se opvolger, Salomo, gestraf. “Moet . . . hom nie ongestraf laat bly nie”, het Dawid beveel, “want jy is ’n wyse man en jy weet goed wat jy met hom behoort te doen, en jy moet sy grys hare met bloed na Sjeool laat afdaal.” Salomo het toegesien dat Benaja die vonnis voltrek (1 Konings 2:8, 9, 44-46). Nog iemand wat ’n slagoffer van Benaja se swaard van teregstelling geword het, was Israel se voormalige leërhoof Joab. Sy grys hare het “nie in vrede na Sjeool [afgedaal] nie” (1 Konings 2:5, 6, 28-34). Beide hierdie voorbeelde getuig van die waaragtigheid van Dawid se geïnspireerde lied: “Die goddeloses sal terugdraai na Sjeool, ja, al die nasies wat God vergeet.”—Psalm 9:17.
12. Wie was Agitofel, en waarheen het hy by sy dood gegaan?
12 Agitofel was Dawid se persoonlike raadgewer. Sy raad is beskou asof dit van Jehovah self gekom het (2 Samuel 16:23). Ongelukkig het hierdie vertroude kneg ’n verraaier geword en by Dawid se seun Absalom aangesluit in sy poging om Dawid te onttroon. Blykbaar het Dawid op hierdie verraad gesinspeel toe hy geskryf het: “Dit was nie ’n vyand wat my gesmaad het nie; anders sou ek dit kon verdra. Dit was nie iemand wat my intens haat wat hom baie groot teen my gehou het nie; anders sou ek my vir hom kon verberg.” Dawid het verder gesê: “Laat verwoestings oor hulle kom! Laat hulle lewend in Sjeool afdaal; want gedurende hulle vreemdelingskap was daar slegte dinge in hulle” (Psalm 55:12-15). By hulle dood het Agitofel en sy metgeselle na Sjeool gegaan.
Wie is in Gehenna?
13. Waarom word Judas “die seun van die vernietiging” genoem?
13 Vergelyk Dawid se situasie met die een waarin die Grotere Dawid, Jesus, hom bevind het. Een van Christus se 12 apostels, Judas Iskariot, het soos Agitofel ’n verraaier geword. Judas se verraderlike daad was baie ernstiger as dié van Agitofel. Judas het teen God se enigverwekte Seun opgetree. In ’n gebed aan die einde van sy aardse bediening het God se Seun oor sy volgelinge gesê: “Toe ek by hulle was, het ek oor hulle gewaak weens u naam wat u my gegee het; en ek het hulle bewaar, en nie een van hulle is vernietig nie, behalwe die seun van die vernietiging, sodat die Skrifgedeelte vervul sou word” (Johannes 17:12). Deur hier na Judas te verwys as “die seun van die vernietiging”, het Jesus te kenne gegee dat daar vir Judas by sy dood geen hoop sou wees om terug te keer nie. Hy het nie in God se geheue voortgeleef nie. Hy het nie na Sjeool gegaan nie, maar na Gehenna. Wat is Gehenna?
14. Wat stel Gehenna voor?
14 Jesus het die godsdiensleiers van sy dag veroordeel omdat hulle elkeen van hulle dissipels “’n voorwerp vir Gehenna” gemaak het (Matteus 23:15). Destyds was mense bekend met die Hinnomvallei, ’n gebied wat gebruik is as ’n vullishoop waar lyke van tereggestelde misdadigers gegooi is wat nie ’n behoorlike begrafnis waardig geag is nie. Vroeër het Jesus self in sy Bergpredikasie van Gehenna gepraat (Matteus 5:29, 30). Die simboliese betekenis daarvan was vir sy toehoorders duidelik. Gehenna het algehele vernietiging sonder die hoop op ’n opstanding voorgestel. Het ander benewens Judas Iskariot van Jesus se dag by hulle dood na Gehenna in plaas van na Sjeool, of Hades, gegaan?
15, 16. Wie het by hulle dood na Gehenna gegaan, en waarom het hulle daarheen gegaan?
15 Die eerste mense, Adam en Eva, is volmaak geskep. Hulle het opsetlik gesondig. Hulle kon óf die ewige lewe óf die dood kies. Hulle was ongehoorsaam aan God en het hulle by Satan geskaar. Toe hulle gesterf het, het hulle geen vooruitsig gehad om by Christus se losprysoffer baat te vind nie. Hulle het eerder na Gehenna gegaan.
16 Adam se eersgebore seun, Kain, het sy broer Abel vermoor en toe as ’n vlugteling gelewe. Die apostel Johannes het Kain beskryf as iemand “wat sy oorsprong by die bose gehad het” (1 Johannes 3:12). Dit is redelik om tot die slotsom te kom dat hy, soos sy ouers, na Gehenna gegaan het toe hy gesterf het (Matteus 23:33, 35). Wat ’n kontras vorm dit tog met die situasie van die regverdige Abel! “Deur geloof het Abel ’n offerande van groter waarde aan God gebring as Kain, en deur hierdie geloof het hy getuienis aangaande homself ontvang dat hy regverdig is, aangesien God aangaande sy gawes getuig het”, het Paulus verduidelik en bygevoeg, “en daardeur spreek hy nog, hoewel hy gesterf het” (Hebreërs 11:4). Ja, Abel is tans in Sjeool waar hy op ’n opstanding wag.
’n “Eerste” en ’n “beter” opstanding
17. (a) Wie gaan gedurende hierdie “tyd van die einde” na Sjeool? (b) Wat is die vooruitsig van dié in Sjeool en van dié in Gehenna?
17 Baie wat hierdie inligting lees, sal wonder oor die situasie van diegene wat gedurende hierdie “tyd van die einde” sterf (Daniël 8:19). Openbaring hoofstuk 6 beskryf die rit van vier perderuiters gedurende dié tydperk. Interessant genoeg, die laaste van hierdie ruiters het die naam Dood, en hy word deur Hades gevolg. Baie van diegene wat ’n ontydige dood sterf weens die bedrywighede van die vorige perderuiters, beland dus in Hades en wag daar op ’n opstanding in God se nuwe wêreld (Openbaring 6:8). Wat is dan die vooruitsig van dié in Sjeool (Hades) en dié in Gehenna? Eenvoudig gestel, ’n opstanding vir eersgenoemdes; ewige vernietiging—’n toestand van niebestaan—vir laasgenoemdes.
18. Watter vooruitsig bied “die eerste opstanding”?
18 Die apostel Johannes het geskryf: “Gelukkig en heilig is enigeen wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen gesag nie, maar hulle sal priesters van God en van die Christus wees en sal die duisend jaar lank saam met hom as konings heers.” Diegene wat medeheersers saam met Christus sal wees, het deel aan “die eerste opstanding”, maar watter hoop is daar vir die res van die mensdom?—Openbaring 20:6.
19. Hoe vind party baat by “’n beter opstanding”?
19 Sedert die dae van God se knegte Elia en Elisa het die wonder van die opstanding mense weer lewend laat word. “Vroue het hulle dooies deur opstanding ontvang”, het Paulus vertel, “maar ander manne is gemartel omdat hulle nie bevryding deur die een of ander losprys wou aanvaar nie, sodat hulle ’n beter opstanding kon verkry.” Ja, hierdie getroue handhawers van onkreukbaarheid het uitgesien na ’n opstanding wat hulle nie net nog ’n paar jaar sou laat lewe om daarna weer te sterf nie, maar wat hulle die vooruitsig op ewige lewe sou gee! Dit sal beslis “’n beter opstanding” wees.—Hebreërs 11:35.
20. Wat sal die volgende artikel bespreek?
20 As ons getrou sterf voordat Jehovah hierdie goddelose stelsel tot ’n einde bring, het ons die vaste hoop op “’n beter opstanding”, beter in die sin dat dit die vooruitsig op ewige lewe bied. Jesus het belowe: “Moet julle nie hieroor verwonder nie, want die uur kom waarin almal wat in die gedenkgrafte is, sy stem sal hoor en sal uitkom” (Johannes 5:28, 29). Ons volgende artikel bespreek die doel van die opstanding verder. Dit sal toon hoe die opstandingshoop ons versterk om handhawers van onkreukbaarheid te wees en ons help om ’n selfopofferende gees te ontwikkel.
Onthou jy?
• Waarom word Jehovah beskryf as die God “van die lewendes”?
• Wat is die toestand van dié in Sjeool?
• Wat is die vooruitsig van dié in Gehenna?
• Hoe sal party baat vind by “’n beter opstanding”?
[Prent op bladsy 15]
Soos Abraham, het diegene wat na Sjeool gaan, die hoop op ’n opstanding
[Prente op bladsy 16]
Waarom het Adam en Eva, Kain en Judas Iskariot na Gehenna gegaan?