Jehovah se woord bereik groot hoogtes in “die land van die arend”
“DIE land van die arend.” Dit is wat die Albanese hulle land in hulle taal noem. Hierdie land aan die Adriatiese See is op die Balkanskiereiland geleë, tussen Griekeland en die voormalige Joego-Slawië. Hoewel daar baie teorieë oor die oorsprong van die Albanese is, stem die meeste geskiedkundiges saam dat die Albanese en hulle taal van die antieke Illiriërs afstam, wie se kultuur, volgens The Encyclopædia Britannica, uit 2000 v.G.J. dateer.
Albanië se natuurskoon wissel van ruwe berge in die verre noorde tot uitgestrekte, wit sandstrande in die suide, by die Adriatiese See. Maar die land se grootste prag lê in sy mense. Hulle is hartlik en gasvry, opgewek en spontaan, mense wat vinnig leer en hulle menings geesdriftig en met lewendige gebare lug.
’n Besoek deur ’n beroemde sendeling
Eeue gelede is ’n unieke reisiger ongetwyfeld deur die aantreklike persoonlikheid van die mense en die natuurskoon beïndruk. In omstreeks 56 G.J. het die apostel Paulus, wat baie gereis het, geskryf dat hy “tot by Illirikum die goeie nuus oor die Christus deeglik verkondig het” (Romeine 15:19). Die suidelike deel van Illirikum stem ooreen met die hedendaagse Sentraal- en Noord-Albanië. Paulus het geskryf vanaf Korinte, Griekeland, suid van Illirikum. Die feit dat hy sê hy “tot by Illirikum” deeglik getuig het, dui aan dat hy sy getuieniswerk tot by die grens of tot in die streek gedoen het. Hoe dit ook al sy, hy sou getuig het in wat nou Suid-Albanië is. Paulus was dus blykbaar die eerste persoon wat die Koninkrykspredikingswerk in Albanië gedoen het.
Eeue het verbygegaan. Moondhede het opgekom en ondergegaan. In hierdie hoekie van Europa het buitelandse magte gekom en gegaan, totdat Albanië in 1912 ’n onafhanklike staat geword het. Omtrent ’n dekade later is die woord omtrent Jehovah se Koninkryk weer in Albanië gehoor.
’n Opwindende hedendaagse begin
In die 1920’s het ’n paar Albanese wat na die Verenigde State geïmmigreer het en met die Internasionale Bybelstudente omgegaan het, soos Jehovah se Getuies destyds genoem is, na Albanië teruggekeer om ander te vertel wat hulle geleer het. Onder hulle was Nasho Idrizi. Party mense het gunstig gereageer. Om na die toenemende belangstelling om te sien, het die Roemeense takkantoor in 1924 die toewysing ontvang om oor die predikingswerk in Albanië toesig te hou.
Thanas Duli (Athan Doulis) was onder diegene in Albanië wat gedurende daardie jare omtrent Jehovah geleer het. Hy het gesê: “In 1925 was daar drie georganiseerde gemeentes in Albanië, sowel as afgesonderde Bybelstudente en belangstellendes hier en daar in die hele land. Hulle liefde vir mekaar was in skerp teenstelling met . . . die mense om hulle!”a
Die gebrek aan ’n padnetwerk het dit uiters moeilik gemaak om rond te reis. Maar ywerige verkondigers het die uitdaging aanvaar. Byvoorbeeld, in Vlorë aan die suidkus is Areti Pina in 1928 op 18-jarige leeftyd gedoop. Sy het met haar Bybel in die hand teen ruwe berge op- en afgeklim om vir ander te getuig. Tydens die vroeë 1930’s was sy deel van ’n ywerige gemeente in Vlorë.
Teen 1930 het die takkantoor in Atene, Griekeland, toesig gehou oor die predikingswerk in Albanië. In 1932 het ’n reisende opsiener van Griekeland Albanië besoek om die broers aan te moedig en te versterk. Destyds het die meeste wat Bybelwaarhede geleer het, die hemelse hoop gehad. Hulle reputasie as rein en opregte mense het wyd en syd diep respek afgedwing. Die werk van hierdie getroue broers het baie vrugte afgewerp. In 1935 en 1936 is daar elke jaar sowat 6 500 stukke Bybellektuur in Albanië versprei.
Eendag, in die middel van Vlorë, het Nasho Idrizi een van J. F. Rutherford se toesprake op die grammofoon gespeel. Mense het hulle besighede toegemaak en kom luister terwyl broer Idrizi die toespraak in Albanees getolk het. Die ywer van daardie vroeë, onvermoeide Bybelonderrigters is geseën. Teen 1940 was daar 50 Getuies in Albanië.
’n Ateïstiese staat
In 1939 het Italiaanse Fasciste die land beset. Die wetlike erkenning van Jehovah se Getuies is teruggetrek en hulle predikingswerk is verbied. Kort daarna het Duitse troepe die land binnegeval. Toe die Tweede Wêreldoorlog tot ’n einde gekom het, het ’n charismatiese militêre leier, Enver Hoxha, op die toneel verskyn. Sy Kommunistiese Party het die verkiesing van 1946 gewen, en hy het die eerste minister geword. Die jare daarna is later die tyd van bevryding genoem, maar vir Jehovah se volk het dit presies die teenoorgestelde beteken.
Die regering het geleidelik al hoe minder verdraagsaam geword teenoor godsdiens. Jehovah se Getuies in Albanië het hulle Christelike neutraliteit gehandhaaf en geweier om die wapen op te neem of by die politiek betrokke te raak (Jesaja 2:2-4; Johannes 15:17-19). Baie is in die gevangenis gegooi, sonder kos of die allernodigste lewensmiddele. In baie gevalle het hulle geestelike susters buite die gevangenis hulle klere gewas en vir hulle gekook.
Vreesloos ten spyte van vervolging
In die vroeë 1940’s het Frosina Xheka, destyds ’n tiener in ’n dorpie naby Përmet, gehoor wat haar ouer vleeslike broers leer van ’n Getuie-skoenmaker met die naam Nasho Dori.b Die owerheid was besig om Jehovah se Getuies streng te beperk, maar tot haar ouers se ontsteltenis, het Frosina se geloof sterker geword. “Hulle het my skoene weggesteek en my geslaan as ek na Christelike vergaderinge toe gegaan het. Hulle het probeer reël dat ek met ’n ongelowige trou. Toe ek weier, het hulle my uit die huis gesit. Dit het daardie dag gesneeu. Nasho Dori het broer Gole Flloko in Gjirokastër gevra om my te help. Hulle het gereël dat ek by sy gesin bly. My broers was twee jaar lank in die gevangenis weens hulle neutrale standpunt. Nadat hulle vrygelaat is, het ek na Vlorë toe getrek om by hulle te bly.
“Die polisie het my probeer dwing om aan politieke bedrywighede deel te neem. Ek het geweier. Hulle het my gearresteer, na ’n vertrek toe geneem, en rondom my gaan staan. Een van hulle het my gedreig: ‘Weet jy wat ons aan jou kan doen?’ Ek het geantwoord: ‘Julle kan net doen wat Jehovah julle toelaat om te doen.’ Hy het teruggekap: ‘Jy’s van jou sinne beroof! Loop hier uit!’ ”
Gedurende daardie jare was daardie selfde gees van lojaliteit kenmerkend van die Albanese broers. Teen 1957 is ’n hoogtepunt van 75 Koninkryksverkondigers bereik. In die vroeë 1960’s het die hoofkwartier van Jehovah se Getuies gereël dat John Marks, ’n Albanees wat na die Verenigde State geïmmigreer het, Tirana besoek om te help om die Christelike werk te organiseer.c Maar kort daarna is Luçi Xheka, Mihal Sveci, Leonidha Pope en ander verantwoordelike broers na strafkampe toe gestuur.
Lig aan die einde van die tonnel
Tot 1967 was daar in Albanië ’n negatiewe gesindheid teenoor alle godsdienste. Daarna is dit glad nie meer geduld nie. Geen Katolieke, Ortodokse of Moslem-priesters kon meer godsdienstige seremonies hou nie. Kerke en moskees is gesluit of in gimnasiums, museums of markte omskep. Niemand is toegelaat om ’n Bybel te besit nie. Dit was ondenkbaar om selfs te sê dat ’n mens in God glo.
Dit was byna onmoontlik om die predikingswerk te doen en vergaderinge te hou. Individuele Getuies het hulle bes gedoen om Jehovah te dien, al was hulle van mekaar afgesonder. Van die 1960’s tot in die 1980’s het die aantal Getuies verminder totdat daar net ’n handjievol was. Tog was hulle geestelik sterk.
In die laat 1980’s het politieke veranderinge in Albanië stadig plaasgevind. Voedsel en klere was skaars. Die mense was nie gelukkig nie. Die hervormings wat besig was om deur die hele Oos-Europa plaas te vind, het Albanië in die vroeë 1990’s bereik. Ná 45 jaar van die totalitêre regime het ’n nuwe regering godsdiensvryheid weer eens toegelaat.
Die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies het die takkantore in Oostenryk en Griekeland aangesê om gou aan die werk te spring om kontak te maak met plaaslike Albanese broers. Griekse broers wat Albanees geken het, het pas vertaalde Bybellektuur na Tirana en Berat gebring. Die plaaslike broers, wat voorheen verstrooi was, se harte is met vreugde vervul toe hulle vir die eerste keer in jare Getuies uit die buiteland ontmoet het.
Ywerige buitelandse pioniers neem die voortou met die werk
Vroeg in 1992 het die Bestuursliggaam gereël dat Michael en Linda DiGregorio, ’n sendelingegpaar met ’n Albanese agtergrond, na Albanië oorgeplaas word. Hulle het met die getroue bejaardes in verbinding getree en hulle gehelp om weer eens bymekaar te kom as deel van ’n internasionale geestelike gesin. In November het ’n groep van 16 hardwerkende Italiaanse spesiale pioniers, of voltydse evangeliedienaars, sowel as vier Griekse pioniers, daar aangekom. ’n Taalkursus is gereël om hulle te help om die plaaslike taal te leer.
Die daaglikse lewe was moeilik vir hierdie buitelandse pioniers. Elektrisiteitsvoorsiening was onbetroubaar. Die winters was koud en klam. Mense het ure lank in rye gestaan om kos en ander lewensbenodigdhede te kry. Maar die grootste probleem vir die broers was waar hulle geboue sou kry wat groot genoeg sou wees vir die menigtes belangstellendes wat op die waarheid gereageer het!
Pioniers wat gesukkel het om Albanees te praat, het geleer dat ’n taal net ’n middel tot ’n doel is. ’n Ervare Bybelonderrigter het vir hulle gesê: “Ons het nie die regte grammatika nodig om hartlik te kan glimlag of om ons broers te omhels nie. Albanese sal reageer op liefde uit die hart, nie op volmaakte grammatika nie. Moenie bekommerd wees nie, hulle sal verstaan.”
Ná die eerste taalkursus het die pioniers in Berat, Durrës, Gjirokastër, Shkodër, Tirana en Vlorë begin werk. Kort voor lank het gemeentes in daardie stede soos paddastoele opgeskiet. Areti Pina, wat destyds in haar 80’s was en met haar gesondheid gesukkel het, was nog steeds in Vlorë. Twee spesiale pioniers is soontoe gestuur om die predikingswerk saam met Areti te doen. Die mense was verstom dat buitelanders Albanees gepraat het: “Sendelinge van ander godsdiensgroepe verplig ons om Engels of Italiaans te leer as ons enigiets wil verstaan. Julle moet beslis lief wees vir ons en iets belangriks hê om te sê, want julle het sowaar Albanees geleer!” In Januarie 1994 het Areti haar aardse loopbaan getrou voltooi, tot die heel laaste maand bedrywig in die predikingswerk. Die ywer wat sy en die pioniers aan die dag gelê het, is geseën. In 1995 is daar weer ’n gemeente in Vlorë gestig. Vandag is daar drie gemeentes wat die predikingswerk in daardie hawestad doen.
Regoor die land was mense geestelik uitgehonger en feitlik sonder godsdiensvooroordeel. Hulle het enige en alle Bybellektuur wat hulle van die Getuies ontvang het, verslind. Baie jongmense het begin studeer en vinnig vooruitgang gemaak.
Meer as 90 gemeentes en groepe regoor die land word ‘voortdurend standvastig gemaak in die geloof en bly van dag tot dag in getal toeneem’ (Handelinge 16:5). Die 3 513 Getuies in Albanië het nog baie werk om te doen. In Maart 2005 is die Herdenking van Christus se dood deur 10 144 bygewoon. In die predikingswerk het gesprekke met gasvrye mense tot meer as 6 000 Bybelstudies gelei. Duisende sal beslis baat vind by die Nuwe Wêreld-vertaling wat onlangs in Albanees vrygestel is. Jehovah se woord bereik inderdaad groot hoogtes in “die land van die arend”, tot lof van Jehovah.
[Voetnote]
a Sien The Watchtower van 1 Desember 1968 vir die lewensverhaal van Thanas Duli.
b Sien Die Wagtoring van 1 Januarie 1996 vir Nasho Dori se lewensverhaal.
c Sien Die Wagtoring van 1 Januarie 2002 vir die lewensverhaal van John Marks se vrou, Helen.
[Venster op bladsy 20]
ETNIESE KONFLIK SMELT WEG IN KOSOWO!
In die laat 1990’s het Kosowo ’n bekende naam geword toe gebiedstwis en diepgewortelde etniese haat tot oorlog en internasionale ingryping gelei het.
Gedurende die oorlog in die Balkan moes baie Getuies na omliggende lande vlug. Nadat die oorlog bedaar het, het ’n klein groepie van hulle na Kosowo teruggekeer, gereed om te werk. Albanese en Italiaanse spesiale pioniers het aangebied om na Kosowo te trek om hulp te verleen aan die 2 350 000 inwoners van daardie gebied. Vier gemeentes en ses bedrywige groepe, altesaam omtrent 130 verkondigers, dien Jehovah in hierdie gebied.
In die noordelike lente van 2003 is ’n spesiale byeenkomsdag in Priština gehou, en 252 was teenwoordig. Onder hulle was persone van Albanese, Duitse, Italiaanse, Serwiese en Sigeuneragtergronde. Aan die einde van die dooptoespraak het die spreker twee vrae gevra. Drie persone het opgestaan om hulle bevestigende antwoorde te gee: ’n etniese Albanees, ’n Sigeuner en ’n Serwiër.
Dawerende applous het losgebars toe die gehoor die drie doopkandidate duidelik en gelyktydig hoor sê: “Va!” “Da!” en “Po!” Hulle het mekaar omhels. Hulle het die antwoord gevind op die diepgewortelde etniese probleme wat hulle land geteister het.
[Kaart op bladsy 17]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Middellandse See
ITALIË
ALBANIË
GRIEKELAND
[Prent op bladsy 18]
Jong Getuies volg die ywer van ouer mense na
[Prent op bladsy 18]
Areti Pina het van 1928 tot haar dood in 1994 getrou gedien
[Prent op bladsy 19]
Die eerste groep buitelandse pioniers, tydens ’n taalkursus
[Foto-erkenning op bladsy 16]
Arend: © Brian K. Wheeler/VIREO