Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w05 10/15 bl. 12-15
  • Die Christelike godsdiens versprei onder eerste-eeuse Jode

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die Christelike godsdiens versprei onder eerste-eeuse Jode
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die Joodse wêreld in die eerste eeu
  • Paulus se reise en Jode in die Diaspora
  • Joodse gemeenskappe in die Ooste
  • Die gemeente in Jerusalem en Jode in die Diaspora
  • Wat kan ons leer?
  • “Met heilige gees gevul”
    ‘Getuig deeglik’ oor God se Koninkryk
  • Die Christelike godsdiens bereik Klein-Asië
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • Judaïsme—’n Soeke na God deur geskrifte en tradisie
    Die mensdom se soeke na God
  • Christene en die wêreld
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
w05 10/15 bl. 12-15

Die Christelike godsdiens versprei onder eerste-eeuse Jode

’N BELANGRIKE vergadering is omstreeks 49 G.J. in Jerusalem gehou. “Dié wat blykbaar pilare was” van die eerste-eeuse Christengemeente—Johannes, Petrus en Jesus se halfbroer Jakobus—was teenwoordig. Die ander twee wat volgens die verslag die vergadering bygewoon het, was die apostel Paulus en sy metgesel Barnabas. Op die agenda was hoe om die uitgestrekte gebied vir die predikingswerk te verdeel. Paulus het verduidelik: “[Hulle het] my en Barnabas die regterhand van deelgenootskap gegee, sodat ons na die nasies sou gaan, maar hulle na die besnedenes.”—Galasiërs 2:1, 9.a

Hoe moet ons hierdie ooreenkoms verstaan? Is die gebied waarin die goeie nuus verkondig moes word, verdeel in Jode en proseliete aan die een kant en nie-Jode aan die ander kant? Of was die ooreenkoms eerder ’n geografiese verdeling van die gebied? Om ’n moontlike antwoord te vind, het ons geskiedkundige inligting nodig oor die Diaspora, Jode wat buite Palestina gewoon het.

Die Joodse wêreld in die eerste eeu

Hoeveel Jode was in die eerste eeu in die Diaspora? Baie geleerdes stem blykbaar saam met die publikasie Atlas of the Jewish World: “Dit is moeilik om spesifieke getalle te gee, maar ’n redelike skatting is dat daar kort voor 70 [G.J.] twee en ’n half miljoen Jode in Judea en ver oor die viermiljoen in die Romeinse diaspora was. . . . Waarskynlik het die Jode naastenby ’n tiende van die hele bevolking van die ryk uitgemaak, en in die plekke waar die meeste van hulle gewoon het, in die stede van die oostelike provinsies, het hulle moontlik ’n kwart of meer van die inwoners uitgemaak.”

Die vernaamste sentrums was in Sirië, Klein-Asië, Babilon en Egipte, in die Ooste, met kleiner gemeenskappe in Europa. Party van die bekende vroeë Joodse Christene het ’n Diaspora-agtergrond gehad, soos Barnabas van Siprus, Prisca en Aquila van Pontus en toe Rome, Apollos van Aleksandrië en Paulus van Tarsus.—Handelinge 4:36; 18:2, 24; 22:3.

Daar was baie dinge wat die Diaspora-gemeenskappe met hulle vaderland verbind het. Een daarvan was die jaarlikse belasting wat aan die tempel in Jerusalem gestuur is, ’n manier om ’n aandeel te hê aan die tempellewe en aanbidding daar. Die geleerde John Barclay sê hieroor: “Daar is genoegsame bewyse dat hierdie geld, wat aangevul is deur bykomende skenkings van die rykes, nougeset deur die Diaspora-gemeenskappe ingevorder is.”

Nog iets wat hulle met die vaderland verbind het, was die tienduisende pelgrims wat elke jaar vir die feeste na Jerusalem gegaan het. Die verslag in Handelinge 2:9-11 oor Pinkster 33 G.J. lig dit toe. Die Joodse pelgrims wat daar teenwoordig was, het van Partië, Medië, Elam, Mesopotamië, Kappadosië, Pontus, Asië, Frigië, Pamfilië, Egipte, Libië, Rome, Kreta en Arabië gekom.

Die tempelbestuur in Jerusalem het skriftelik met die Jode in die Diaspora gekommunikeer. Dit is bekend dat Gamaliël, die leermeester van die Wet wat in Handelinge 5:34 genoem word, briewe na Babilon en ander wêrelddele gestuur het. Toe die apostel Paulus omstreeks 59 G.J. as ’n gevangene in Rome aangekom het, het “die vernaamste manne van die Jode” vir hom gesê: “Ons het nie briewe oor jou uit Judea ontvang nie, en ook het niemand van die broers wat hier aangekom het, enigiets kwaads van jou vertel of gesê nie.” Dit toon dat briewe en verslae dikwels van die vaderland na Rome gestuur is.—Handelinge 28:17, 21.

Die Bybel van die Diaspora-Jode was ’n Griekse vertaling van die Hebreeuse Geskrifte wat as die Septuagint bekend staan. ’n Naslaanwerk sê: “Dit is redelik om tot die slotsom te kom dat die LXX [Septuagint] regdeur die diaspora gelees is en aanvaar is as die Joodse Bybel of ‘heilige skrif’ van die diaspora.” Dieselfde vertaling is algemeen deur die vroeë Christene in hulle onderrigting gebruik.

Die lede van die Christenbestuursliggaam in Jerusalem was bekend met hierdie omstandighede. Die goeie nuus het reeds die Diaspora-Jode in Sirië en selfs verder bereik, insluitende Damaskus en Antiogië (Handelinge 9:19, 20; 11:19; 15:23, 41; Galasiërs 1:21). By die vergadering in 49 G.J. het diegene wat teenwoordig was, klaarblyklik reëlings vir toekomstige werk getref. Kom ons beskou die Bybelse verwysings na die uitbreiding onder die Jode en die proseliete.

Paulus se reise en Jode in die Diaspora

Die apostel Paulus se oorspronklike toewysing was “om [Jesus Christus se] naam na die nasies sowel as na konings en die kinders van Israel te dra” (Handelinge 9:15).b Ná die vergadering in Jerusalem het Paulus voortgegaan om die Diaspora-Jode te probeer bereik waar hy ook al gereis het. (Sien die venster op bladsy 14.) Dit dui aan dat die ooreenkoms in verband met die gebied waarskynlik ’n geografiese ooreenkoms geword het. Paulus en Barnabas het hulle sendingwerk na die weste uitgebrei, en die ander het die Joodse vaderland en die groot Joodse gemeenskappe in die Oosterse wêreld bedien.

Toe Paulus en sy metgeselle op die tweede sendingreis uit Siriese Antiogië vertrek het, is hulle weswaarts deur Klein-Asië en op na Troas gelei. Van daar af het hulle oorgegaan na Masedonië omdat hulle die gevolgtrekking gemaak het dat “God [hulle] geroep het om die goeie nuus aan [die Masedoniërs] bekend te maak”. Christengemeentes is later in ander Europese stede gestig, waaronder Atene en Korinte.—Handelinge 15:40, 41; 16:6-10; 17:1–18:18.

Omstreeks 56 G.J., aan die einde van sy derde sendingreis, het Paulus beplan om selfs verder weswaarts te gaan en die gebied uit te brei wat by die vergadering in Jerusalem aan hom toegeken is. Hy het geskryf: “Ek [is] gretig om ook aan julle wat daar in Rome is, die goeie nuus bekend te maak”, en: “Ek [sal] by julle langs na Spanje reis” (Romeine 1:15; 15:24, 28). Maar wat van die groot Diaspora-gemeenskappe in die Ooste?

Joodse gemeenskappe in die Ooste

Gedurende die eerste eeu G.J. het Egipte die grootste Diaspora-gemeenskap gehad, veral in die hoofstad Aleksandrië. Hierdie handel- en kultuursentrum het ’n Joodse bevolking van honderdduisende gehad, met sinagoges oral in die stad. Filo, ’n Jood van Aleksandrië, het beweer dat daar destyds in die hele Egipte ten minste ’n miljoen Jode was. ’n Aansienlike getal het ook in die nabygeleë Libië gaan woon, in die stad Sirene en omstreke.

Sommige Jode wat Christene geword het, was van hierdie gebiede. Ons lees van “Apollos, ’n boorling van Aleksandrië”, “party manne van Siprus en Sirene” en “Lucius van Sirene”, wat die gemeente in Siriese Antiogië ondersteun het (Handelinge 2:10; 11:19, 20; 13:1; 18:24). Benewens die vermelding van die Christenevangeliedienaar Filippus se getuienis aan die Etiopiese eunug, sê die Bybel verder niks oor die vroeë Christelike werk in Egipte en sy omliggende gebiede nie.—Handelinge 8:26-39.

Babilon, met uitbreidings in Partië, Medië en Elam, was nog ’n hoofsentrum. Een geskiedkundige sê dat “daar Joodse bevolkings was in elke gebied in die laagvlakte van die Tigris en die Eufraat, van Armenië tot die Persiese Golf, sowel as noordooswaarts tot by die Kaspiese See en ooswaarts tot by Medië”. Die Encyclopaedia Judaica skat hulle getalle op 800 000 of meer. Die eerste-eeuse Joodse geskiedkundige Josefus sê vir ons dat tienduisende Babiloniese Jode vir die jaarlikse feeste na Jerusalem gereis het.

Is party van die Babiloniese pelgrims op Pinkster 33 G.J. gedoop? Ons weet nie, maar onder diegene wat die apostel Petrus op daardie dag gehoor het, was mense van Mesopotamië (Handelinge 2:9). Ons weet wel dat die apostel Petrus omstreeks 62-64 G.J. in Babilon was. Terwyl hy daar was, het hy sy eerste brief en moontlik ook die tweede een geskryf (1 Petrus 5:13). Babilon, met sy groot Joodse bevolking, is klaarblyklik beskou as deel van die gebied wat aan Petrus, Johannes en Jakobus toegeken is by die vergadering wat in die brief aan die Galasiërs genoem word.

Die gemeente in Jerusalem en Jode in die Diaspora

Jakobus, wat ook die vergadering bygewoon het waar die gebiede gemeld is, het as ’n opsiener in die gemeente in Jerusalem gedien (Handelinge 12:12, 17; 15:13; Galasiërs 1:18, 19). Hy was ’n ooggetuie op Pinkster 33 G.J. toe duisende besoekende Diaspora-Jode gunstig gereageer het op die goeie nuus en gedoop is.—Handelinge 1:14; 2:1, 41.

Toe en daarna het tienduisende Jode vir die jaarlikse feeste gekom. Die stad het oorvol geword, en besoekers moes in tente of in die omliggende dorpies bly. Die pelgrims het nie net by vriende gekuier nie, verduidelik die Encyclopaedia Judaica, maar hulle het ook na die tempel gegaan om te aanbid, offerandes te bring en die Tora te bestudeer.

Jakobus en die ander lede van die gemeente in Jerusalem het ongetwyfeld hierdie geleenthede gebruik om vir die Diaspora-Jode te getuig. Die apostels het dit moontlik baie oordeelkundig gedoen gedurende die tydperk toe daar weens Stefanus se dood “groot vervolging ontstaan [het] teen die gemeente wat in Jerusalem was” (Handelinge 8:1). Die verslag toon dat die ywer van hierdie Christene vir die predikingswerk, voor en ná hierdie gebeurtenis, voortdurende vermeerdering tot gevolg gehad het.—Handelinge 5:42; 8:4; 9:31.

Wat kan ons leer?

Ja, die vroeë Christene het opregte pogings aangewend om die Jode te bereik waar hulle ook al gewoon het. Terselfdertyd het Paulus en ander die nie-Jode in die Europese veld probeer bereik. Hulle het Jesus se afskeidsbevel aan sy volgelinge gehoorsaam, naamlik om dissipels te maak “van mense van al die nasies”.—Matteus 28:19, 20.

Uit hulle voorbeeld kan ons leer hoe belangrik dit is om die predikingswerk op ’n georganiseerde wyse te doen sodat ons die ondersteuning van Jehovah se gees kan hê. Ons kan ook sien dat dit voordelig is om diegene te bereik wat respek vir God se Woord het, veral in gebiede waar daar min Getuies van Jehovah is. Is sommige gebiede wat aan julle gemeente toegewys is, produktiewer as ander? Dit kan voordelig wees om hierdie gebiede meer dikwels te dek. Is daar openbare funksies in die omgewing wat gepas is vir spesiale pogings om informele of straatgetuieniswerk te doen?

Ons vind daarby baat om nie net in die Bybel oor die vroeë Christene te lees nie, maar om ook kennis op te doen oor sommige van die geskiedkundige en geografiese besonderhede. ’n Middel wat ons kan gebruik om ons begrip te verbreed, is die brosjure ‘Sien die goeie land’, met al sy kaarte en foto’s.

[Voetnote]

a Hierdie vergadering het moontlik saamgeval of verband gehou met die eerste-eeuse bestuursliggaam se bespreking oor die besnydenis.—Handelinge 15:6-29.

b Hierdie artikel konsentreer op Paulus se getuieniswerk onder die Jode, nie op sy bedrywighede as “ ’n apostel vir die nasies” nie.—Romeine 11:13.

[Tabel op bladsy 14]

DIE APOSTEL PAULUS SE BESORGDHEID OOR JODE IN DIE DIASPORA

VOOR DIE VERGADERING IN JERUSALEM IN 49 G.J.

Handelinge 9:19, 20 Damaskus — “het . . . in die sinagoges

begin verkondig”

Handelinge 9:29 Jerusalem — “het met die Griekssprekende Jode

gepraat”

Handelinge 13:5 Salamis, Siprus — “het . . . die woord van

God in die sinagoges van

die Jode . . . verkondig”

Handelinge 13:14 Antiogië in Pisidië — “het . . . in die

sinagoge ingegaan”

Handelinge 14:1 Ikonium — “het . . . in die sinagoge van die

Jode ingegaan”

NÁ DIE VERGADERING IN JERUSALEM IN 49 G.J.

Handelinge 16:14 Filippi — “Lidia, . . . ’n aanbidder van God”

Handelinge 17:1 Tessalonika — “’n sinagoge van die Jode”

Handelinge 17:10 Berea — “die sinagoge van die Jode”

Handelinge 17:17 Atene — “het . . . in die sinagoge met die

Jode . . . begin redeneer”

Handelinge 18:4 Korinte — “het . . . ’n toespraak in die

sinagoge gehou”

Handelinge 18:19 Efese — “het in die sinagoge ingegaan en met

die Jode geredeneer”

Handelinge 19:8 Efese — “het in die sinagoge ingegaan en drie

maande lank met vrymoedigheid

gespreek”

Handelinge 28:17 Rome — “het . . . dié wat die vernaamste

manne van die Jode was,

bymekaargeroep”

[Kaart op bladsy 15]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Diegene wat op Pinkster 33 G.J. die goeie nuus gehoor het, het uit ’n groot gebied gekom

ILLIRIKUM

ITALIË

Rome

MASEDONIË

GRIEKELAND

Atene

KRETA

Sirene

LIBIË

BITINIË

GALASIË

ASIË

FRIGIË

PAMFILIË

SIPRUS

EGIPTE

ETIOPIË

PONTUS

KAPPADOSIË

SILISIË

MESOPOTAMIË

SIRIË

SAMARIA

Jerusalem

JUDEA

MEDIË

Babilon

ELAM

ARABIË

PARTIË

[Watermassas]

Middellandse See

Swart See

Rooi See

Persiese Golf

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel