Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w05 11/1 bl. 8-12
  • Ek het ‘die versoeke van my hart’ ontvang

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ek het ‘die versoeke van my hart’ ontvang
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Groter insig
  • Die voltydse diens
  • Ek bied ontmoediging die hoof
  • Eers ’n waglys, toe ’n vinnige besluit
  • Ek dink nog steeds aan Afrika
  • Wonderlik om terug te wees
  • In Afrika met Océane
  • Dankbaar vir Jehovah se onfeilbare ondersteuning
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Is kinders veilig by jou hond?
    Ontwaak!—1997
  • Hulle het hulle gewillig aangebied​—In Wes-Afrika
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2014
  • Nou voel ek dat ek ander kan help
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2015
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
w05 11/1 bl. 8-12

Lewensverhaal

Ek het ‘die versoeke van my hart’ ontvang

SOOS VERTEL DEUR DOMINIQUE MORGOU

In Desember 1998 was ek uiteindelik in Afrika! Een van my kinderdrome is bewaarheid. Afrika se uitgestrekte vlaktes en interessante natuurlewe het my nog altyd gefassineer. Nou was ek werklik hier! Terselfdertyd is nog ’n droom verwesenlik. Ek het as ’n voltydse evangeliedienaar in ’n vreemde land gedien. Vir baie het dit miskien onmoontlik gelyk. My sig is uiters beperk, en ek stap deur die sanderige strate van Afrikadorpies met die hulp van ’n gidshond wat eintlik opgelei is om my deur die strate van Europese stede te lei. Laat ek julle vertel wat dit vir my moontlik gemaak het om in Afrika te dien en hoe Jehovah my ‘die versoeke van my hart’ gegee het.—Psalm 37:4.

EK IS op 9 Junie 1966 in die suide van Frankryk gebore. Ek was die jongste van sewe kinders—twee seuns en vyf dogters—en ons ouers het liefdevol vir ons almal gesorg. Maar daar was ’n donker kol in my jong lewe. Soos my ouma, my ma en een van my susters, het ek ’n oorerflike siekte wat uiteindelik tot algehele blindheid lei.

As ’n tiener het ek te kampe gehad met rassisme, vooroordeel en skynheiligheid, wat my teen die samelewing in opstand laat kom het. Dit was gedurende hierdie moeilike tyd dat ons na die Hérault-gebied getrek het. Dáár het iets wonderliks gebeur.

Een Sondagoggend het twee van Jehovah se Getuies aan ons deur geklop. My ma het hulle geken en hulle ingenooi. Een van die vroue het my ma gevra of sy onthou dat sy vroeër belowe het dat sy eendag ’n Bybelstudie sou aanvaar. My ma het onthou en gevra: “Wanneer begin ons?” Hulle het besluit om elke Sondagoggend bymekaar te kom, en op hierdie manier het my ma “die waarheid van die goeie nuus” begin leer.—Galasiërs 2:14.

Groter insig

My ma het alles in haar vermoë gedoen om die dinge wat sy geleer het, te verstaan en te onthou. Omdat sy blind was, moes sy alles memoriseer. Die Getuies was baie geduldig met haar. Ek het egter in my kamer weggekruip wanneer die Getuies gekom het en eers uitgekom wanneer hulle weg was. Maar een middag het Eugénie, een van die Getuies, my ontmoet en met my gepraat. Sy het vir my gesê dat God se Koninkryk ’n einde sal maak aan al die skynheiligheid, haat en vooroordeel wat in die wêreld is. “Net God het die oplossing”, het sy gesê. Wou ek meer weet? Die volgende dag het ek met my Bybelstudie begin.

Alles wat ek geleer het, was vir my nuut. Ek het nou verstaan dat daar goeie redes is waarom God goddeloosheid tydelik op die aarde toelaat (Genesis 3:15; Johannes 3:16; Romeine 9:17). Verder het ek geleer dat Jehovah ons nie sonder hoop laat nie. Hy het ons sy wonderlike belofte van ewige lewe op ’n paradysaarde gegee (Psalm 37:29; 96:11, 12; Jesaja 35:1, 2; 45:18). In daardie Paradys sal ek my gesigsvermoë herwin, wat stadig maar seker verswak het.—Jesaja 35:5.

Die voltydse diens

Op 12 Desember 1985 het ek my toewyding aan Jehovah deur waterdoop gesimboliseer, ’n stap wat my suster Marie-Claire toe reeds geneem het. Kort daarna is my broer Jean-Pierre sowel as my dierbare ma gedoop.

In die gemeente waar ek was, was daar etlike gewone pioniers, of voltydse evangeliedienaars. Hulle vreugde en geesdrif vir die bediening was vir my ’n aansporing. Selfs Marie-Claire, wat ’n oogkwaal gehad het en ’n ortopediese apparaat aan haar een been moes dra, het die voltydse diens betree. Tot vandag toe is sy vir my ’n aanmoediging in my diens aan Jehovah. Omdat ek in die gemeente en in ons gesin deur pioniers omring was, het ek ’n sterk begeerte ontwikkel om self in die voltydse diens te wees. In November 1990 het ek dus in Béziers as ’n pionier begin dien.—Psalm 94:17-19.

Ek bied ontmoediging die hoof

Ander pioniers het my in die bediening gehelp en ’n ogie oor my gehou. Ek het nietemin van tyd tot tyd ontmoedig gevoel weens my beperkings en het gewens dat ek meer kon doen. Jehovah het my egter deur hierdie tye van ontmoediging onderskraag. Ek het navorsing gedoen in die Watch Tower Publications Index en gesoek na lewensverhale van pioniers wat ook ’n gesigsgebrek gehad het. Ek was verbaas oor hoeveel daar was! Hierdie praktiese en aanmoedigende verhale het my geleer om dankbaar te wees oor wat ek kon doen en om my beperkings te aanvaar.

Om my te onderhou, het ek saam met ander Getuies skoonmaakwerk by winkelsentrums gedoen. Eendag het ek opgemerk dat my medewerkers die gedeeltes oordoen wat ek so pas skoongemaak het. Ek het klaarblyklik nie baie goed skoongemaak nie. Ek het na Valérie, die pionier wat toesig gehou het oor ons skoonmaakspan, gegaan en haar gevra om vir my reguit te sê of ek die werk vir die res moeiliker maak. Sy het dit liefdevol aan my oorgelaat om te besluit wanneer ek voel dat ek die werk nie meer kan doen nie. In Maart 1994 het ek my skoonmaakwerk opgegee.

Weer het ’n gevoel van nutteloosheid my oorweldig. Ek het vurig tot Jehovah gebid en ek weet dat hy my versoeke verhoor het. My studie van die Bybel en Christelike publikasies het my weer eens baie gehelp. Hoewel my sig verder verswak het, het my begeerte om Jehovah te dien, nietemin al hoe sterker geword. Wat kon ek doen?

Eers ’n waglys, toe ’n vinnige besluit

Ek het aansoek gedoen vir opleiding by die Rehabilitasiesentrum vir Blindes en Gesigsgestremdes in Nîmes en is uiteindelik vir drie maande aanvaar. Dit was die moeite werd. Ek het die omvang van my gebrek besef en geleer om my daarby aan te pas. Omdat ek met mense omgegaan het wat aan allerhande gebreke ly, het ek besef hoe kosbaar my Christelike hoop is. Ek het ten minste ’n doelwit gehad en kon iets produktiefs doen. Ek het ook Franse Braille geleer.

Toe ek teruggekeer het huis toe, het my familie gesien hoeveel die opleiding my gehelp het. Maar een ding waarvan ek regtig nie gehou het nie, was die wit kierie wat ek moes gebruik. Dit was vir my moeilik om te aanvaar dat ek met dié “stok” moes loop. Dit sou lekker wees om ’n ander hulpmiddel te hê—dalk ’n gidshond.

Ek het aansoek gedoen vir ’n hond, maar is ingelig dat daar ’n lang waglys is. Ook sou die agentskap ’n ondersoek moes doen. ’n Gidshond word nie sommer vir enigiemand gegee nie. Eendag het ’n vrou wat met die bestuur van ’n vereniging vir die blindes help, vir my gesê dat ’n plaaslike tennisklub ’n gidshond aan ’n blinde of gesigsgestremde persoon in ons omgewing gaan skenk. Sy het gesê dat sy aan my gedink het. Sou ek dit aanvaar? Ek het Jehovah se hand in die saak gesien en die vriendelike aanbod aanvaar. Ek moes nietemin wag vir die hond.

Ek dink nog steeds aan Afrika

Terwyl ek gewag het, het ek my aandag op iets anders toegespits. Soos ek vroeër gemeld het, het ek sedert my kinderdae ’n groot belangstelling in Afrika gehad. Ten spyte van my verswakkende sig was daardie belangstelling groter as ooit tevore, veral aangesien ek gehoor het dat soveel mense in Afrika in die Bybel belangstel en Jehovah wil dien. ’n Rukkie tevore het ek so terloops vir Valérie gemeld dat ek Afrika graag wil besoek. Sou sy daarvan hou om saam met my te kom? Sy het ingestem, en ons het aan verskeie Franssprekende takke van Jehovah se Getuies in Afrika geskryf.

Ons het ’n antwoord van Togo gekry. Ek was baie opgewonde en het Valérie gevra om dit vir my te lees. Die brief was aanmoedigend, en daarom het Valérie gesê: “Wel, waarom nie?” Nadat ek vir die broers by die tak geskryf het, het hulle my in aanraking gebring met Sandra, ’n pionier in Lomé, die hoofstad. Ons het besluit dat ons op 1 Desember 1998 sou vertrek.

Hoe anders maar opwindend was dit tog! Nadat ons in Lomé geland het, het ons van die vliegtuig afgeklim en gevoel hoe die Afrikahitte soos ’n kombers om ons vou. Sandra was daar om ons te ontmoet. Ons het mekaar nog nooit tevore gesien nie, maar het dadelik soos ou vriendinne gevoel. Kort voor ons aankoms is Sandra en haar pioniermaat, Christine, aangestel as spesiale pioniers in Tabligbo, ’n klein dorpie in die binneland. Ons het nou die voorreg gehad om saam met hulle na hulle nuwe toewysing te gaan. Ons het omtrent twee maande gebly, en toe ons vertrek, het ek geweet dat ek sou terugkeer.

Wonderlik om terug te wees

In Frankryk het ek onmiddellik vir my tweede reis na Togo begin voorberei. Met my familie se ondersteuning kon ek reëlings tref om ses maande daar te bly. In September 1999 was ek dus weer op ’n vliegtuig op pad na Togo. Hierdie keer was ek egter alleen. Stel jou voor hoe my familie gevoel het toe hulle my, ten spyte van my gebrek, alleen sien vertrek het! Maar daar was geen rede tot kommer nie. Ek het my ouers verseker dat my vriende, wat reeds vir my soos familie geword het, in Lomé op my sou wag.

Hoe wonderlik was dit tog om terug te wees in ’n gebied waar soveel mense belangstelling in die Bybel toon! Dit is nie ongewoon om mense die Bybel op straat te sien lees nie. In Tabligbo roep die mense jou nader net om oor die Bybel te gesels. En hoe bevoorreg was ek tog om in ’n beskeie plekkie saam met twee spesialepionier-susters te bly! Ek het ’n ander kultuur leer ken, ’n ander beskouing van sake. Ek het allereers opgemerk dat ons Christenbroers en -susters in Afrika Koninkryksbelange eerste in hulle lewe stel. Byvoorbeeld, die feit dat hulle kilometers ver na die Koninkryksaal moet stap, verhinder hulle nie om die vergaderinge by te woon nie. Ek het ook baie geleer uit hulle hartlikheid en gasvryheid.

Eendag toe ons van velddiens af terugkom, het ek teenoor Sandra erken dat ek bang is om terug te gaan Frankryk toe. My sig het nog verder versleg. Ek het gedink aan die besige en lawaaierige strate in Béziers, aan die trappe in woonstelgeboue en aan soveel ander dinge wat die lewe moeilik maak vir iemand met beperkte sig. In teenstelling daarmee was die strate in Tabligbo nie geteer nie, maar hulle was stil—daar was nie groot skares of veel verkeer nie. Hoe sou ek regkom in Frankryk noudat ek gewoond was aan Tabligbo?

Twee dae later het my ma gebel om te sê dat die skool vir gidshonde vir my wag. ’n Jong labrador met die naam Océane was gereed om my “oë” te word. Weer eens is daar in my behoeftes voorsien en is my kommer verdryf. Ná ses maande van vreugdevolle diens in Tabligbo was ek op pad terug na Frankryk om Océane te ontmoet.

Ná etlike maande van opleiding is Océane aan my sorg toevertrou. Aanvanklik was dit nie maklik nie. Ons moes mekaar leer verstaan. Ek het egter geleidelik begin besef hoe nodig ek Océane het. Océane is in werklikheid nou deel van my. Hoe het die mense in Béziers gereageer wanneer hulle my met ’n hond na hulle deur sien kom het? Mense het my baie respekvol en vriendelik behandel. Océane het die “heldin” van die buurt geword. Aangesien baie mense ongemaklik voel in die teenwoordigheid van ’n gestremde persoon, het die hond dit vir my moontlik gemaak om op ’n natuurlike manier oor my gebrek te praat. Mense het ontspan en na my geluister. Océane het dit inderdaad vir my baie makliker gemaak om gesprekke te begin.

In Afrika met Océane

Ek het nie van Afrika vergeet nie, en ek het my derde reis beplan. Hierdie keer het Océane saamgekom. ’n Jong egpaar, Anthony en Aurore, en my vriendin Caroline het ook saamgekom—soos ek, is hulle almal pioniers. Op 10 September 2000 het ons in Lomé aangekom.

Aanvanklik was baie mense bang vir Océane. Min mense in Lomé het al ooit so ’n groot hond gesien, want die meeste honde in Togo is klein. Toe hulle haar harnas sien, het party gedink dat sy kwaai is en in bedwang gehou moes word. Wat Océane betref, sy het ’n verdedigende houding aangeneem, gereed om my teen enigiets te beskerm wat volgens haar gevaar ingehou het. Nietemin het Océane gou tuis gevoel in die nuwe omgewing. Wanneer sy die harnas dra, doen sy haar werk—sy is gedissiplineerd, verantwoordelik en bly aan my sy. Wanneer sy losgemaak word, is sy spelerig, soms stout. Ons het baie pret saam.

Ons almal is genooi om by Sandra en Christine in Tabligbo te bly. Om die plaaslike broers en susters te help om aan Océane gewoond te raak, het ons hulle genooi om vir ons te kom kuier, en ons het aan hulle verduidelik wat ’n gidshond doen, waarom ek een nodig het en hoe hulle in haar teenwoordigheid moet optree. Die ouer manne het ingestem dat Océane saam met my na die Koninkryksaal kom. Aangesien hierdie reëling so ongewoon was in Togo, is ’n aankondiging gemaak waarin die saak aan die gemeente verduidelik is. Wat die bediening betref, het Océane net saamgekom wanneer ek herbesoeke gedoen en Bybelstudies gehou het—situasies waarin haar teenwoordigheid makliker verstaan sou word.

Dit bly genotvol om die predikingswerk in hierdie gebied te doen. Ek is nog altyd diep getref deur die saggeaarde mense se bedagsaamheid, wat hulle deur vriendelike dade toon, soos hulle gretigheid om vir my ’n stoel te voorsien. In Oktober 2001 het my ma saam met my gekom op my vierde reis na Togo. Ná drie weke het sy na Frankryk teruggekeer, gerusgestel en gelukkig.

Ek is innig dankbaar teenoor Jehovah dat ek in Togo kon dien. Ek is vol vertroue dat Jehovah sal voortgaan om my ‘die versoeke van my hart’ te gee terwyl ek voortgaan om alles wat ek het, in sy diens te gebruik.a

[Voetnoot]

a Suster Morgou het na Frankryk teruggekeer en kon Togo ’n vyfde keer besoek, van 6 Oktober 2003 tot 6 Februarie 2004. Ongelukkig sal dié besoek, weens gesondheidsprobleme, moontlik haar laaste aan Togo wees in hierdie stelsel van dinge. Haar grootste begeerte is egter nog steeds om Jehovah te dien.

[Prente op bladsy 10]

Afrika se uitgestrekte vlaktes en interessante natuurlewe het my nog altyd gefassineer

[Prent op bladsy 10]

Océane het saamgekom op herbesoeke

[Prent op bladsy 11]

Die ouer manne het ingestem dat ek Océane saambring na die vergaderinge

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel