Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w05 12/15 bl. 13-16
  • Die Bybel in Italiaans—’n veelbewoë geskiedenis

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die Bybel in Italiaans—’n veelbewoë geskiedenis
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Eerste gedeeltelike vertalings van die Bybel
  • Die eerste Bybel in Italiaans
  • Die Bybel—“’n onbekende boek”
  • Verslapping van die verbod
  • ’n Boek teen boeke
    Ontwaak!—2003
  • Die Franse Bybel se stryd om behoue te bly
    Ontwaak!—1997
  • Hulle het God se Woord van mense probeer weghou
    Ontwaak!—2011
  • Selfs in ’n dooie taal is die Bybel lewend
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
w05 12/15 bl. 13-16

Die Bybel in Italiaans—’n Veelbewoë geskiedenis

“DIE Bybel is een van die wyds verspreide boeke in ons land [Italië], maar dit is dalk ook een van die boeke wat die minste gelees word. Die getroues word nog steeds nie juis aangespoor om die Bybel beter te leer ken of veel hulp gegee om dit as die Woord van God te lees nie. Daar is mense wat die Bybel wil leer ken, maar dikwels is daar niemand wat die brood van die Woord vir hulle kan breek nie.”

Hierdie verklaring, wat in 1995 deur ’n liggaam van die Italiaanse Biskopperaad gedoen is, laat ’n aantal vrae ontstaan. In watter mate is die Bybel in vorige eeue in Italië gelees? Waarom was die verspreiding daarvan nie so groot soos in ander lande nie? Waarom is dit nog steeds een van die boeke wat die minste in Italië gelees word? ’n Ondersoek van die geskiedenis van Italiaanse Bybelvertalings bied ’n paar antwoorde.

Die ontwikkeling van Romaanse tale—Frans, Italiaans, Portugees, Spaans, ensovoorts—uit Latyn het eeue geneem. In verskillende Europese lande met ’n Latynse agtergrond het die volkstaal geleidelik ’n nuwe waardigheid verkry, en dit is selfs in literêre werke gebruik. Die ontwikkeling van die volkstaal het ’n direkte invloed op Bybelvertaling gehad. Hoe? Op ’n sekere stadium het die kloof tussen Latyn, die gewyde kerktaal, en die volkstaal, met sy dialekte en plaaslike variante, so wyd geword dat mense wat nie ’n formele opvoeding gehad het nie, Latyn nie meer verstaan het nie.

Teen die jaar 1000 sou die meeste bewoners van die Italiaanse skiereiland dit moeilik gevind het om die Latynse Vulgaat te lees, al sou hulle ’n eksemplaar daarvan in die hande kon kry. Die kerklike hiërargie het eeue lank algehele beheer oor die onderwys uitgeoefen, ook by die paar universiteite wat bestaan het. Slegs ’n paar bevoorregtes het daarby baat gevind. Gevolglik het die Bybel uiteindelik “’n onbekende boek” geword. Nietemin wou baie toegang tot die Woord van God in hulle eie taal verkry en dit verstaan.

Oor die algemeen het die geestelikes Bybelvertaling teëgestaan, uit vrees dat dit die verspreiding van sogenaamde kettery sou bevorder. Volgens die geskiedskrywer Massimo Firpo sou “die gebruik van die volkstaal [lei tot] die vernietiging van ’n taalhindernis [die gebruik van Latyn] wat die geestelikes se eksklusiewe beheer oor godsdienssake beskerm het”. Die algemene gebrek aan Bybelopvoeding wat nog steeds in Italië heers, kan dus aan ’n kombinasie van kulturele, godsdiens- en sosiale faktore toegeskryf word.

Eerste gedeeltelike vertalings van die Bybel

In die 13de eeu het die eerste vertalings van Bybelboeke uit Latyn in die volkstaal begin verskyn. Hierdie gedeeltelike vertalings is met die hand oorgeskryf en was baie duur. Gedurende die 14de eeu het al hoe meer vertalings verskyn sodat amper die hele Bybel in die volkstaal beskikbaar was, hoewel die individuele boeke deur verskillende mense en op verskillende tye en plekke vertaal is. Die meeste van hierdie vertalings, wat deur anonieme vertalers gedoen is, is deur die welgesteldes of die geleerdes gekoop, die enigstes wat dit kon bekostig. Selfs toe die drukkuns boeke aansienlik goedkoper gemaak het, was daar volgens die geskiedkundige Gigliola Fragnito “min wat toegang kon verkry” tot Bybels.

Die oorgrote meerderheid van die bevolking het eeue lank ongeletterd gebly. Selfs gedurende die tyd van die eenwording van Italië in 1861 was 74,7 persent van die bevolking ongeletterd. Terloops, toe die nuwe Italiaanse regering voorberei het om verpligte openbare opvoeding gratis vir almal beskikbaar te stel, het pous Pius IX in 1870 aan die koning geskryf en hom aangespoor om die wet teë te staan, wat deur die pous beskryf is as ’n “plaag” wat daarop gemik is om “Katolieke skole heeltemal te vernietig”.

Die eerste Bybel in Italiaans

Die eerste volledige Bybel in Italiaans is in 1471 in Venesië gedruk, omtrent 16 jaar nadat los drukletters vir die eerste keer in Europa gebruik is. Nicolò Malerbi, ’n Kamaldulensermonnik, het sy vertaling in agt maande voltooi. Hy het baie gebruik gemaak van die bestaande vertalings, dit op grond van die Latynse Vulgaat versorg en sommige woorde vervang met dié wat tipies was in sy tuisgebied, Venezia. Sy vertaling was die eerste gedrukte uitgawe van die Bybel in Italiaans wat ’n noemenswaardige verspreidingsyfer bereik het.

Nog iemand wat ’n Bybelvertaling in Venesië gepubliseer het, was Antonio Brucioli. Hy was ’n humanis wat tot die Protestantisme geneig het, maar hy het nooit sy bande met die Katolieke Kerk verbreek nie. In 1532 het Brucioli die Bybel uit die oorspronklike Hebreeus en Grieks vertaal. Dit was die eerste Bybel wat van die oorspronklike teks af in Italiaans vertaal is. Hoewel die vertaling nie keurige literêre Italiaans gebruik nie, is dit merkwaardig getrou aan die oorspronklike teks, veral wanneer daar in ag geneem word hoe beperk kennis van die ou tale destyds was. Op sommige plekke het Brucioli God se naam in sekere uitgawes in die vorm “Ieova” herstel. Sy Bybel was byna ’n eeu lank baie gewild onder Italiaanse Protestante en godsdienstige andersdenkendes.

Ander Italiaanse vertalings—in werklikheid hersienings van Brucioli se Bybel—is gepubliseer, party deur Katolieke. Nie een van hulle het ’n noemenswaardige verspreidingsyfer bereik nie. In 1607 het Giovanni Diodati, ’n Calvinistiese predikant wie se ouers na Switserland gevlug het om godsdiensvervolging te vermy, nog ’n Italiaanse vertaling uit die oorspronklike tale in Genève gepubliseer. Sy Bybelvertaling is eeue lank deur Italiaanse Protestante gebruik. Vir die tydperk waarin dit voortgebring is, word dit as ’n uitstekende Italiaanse vertaling beskou. Diodati se Bybel het Italianers gehelp om Bybelleringe te verstaan. Maar sensuur deur die geestelikes het in die weg gestaan van hierdie en ander vertalings.

Die Bybel—“’n onbekende boek”

“Die Kerk het altyd sy plig nagekom om boeke te monitor, maar het dit tot die uitvinding van die drukkuns nie nodig geag om ’n lys van verbode boeke saam te stel nie, want geskrifte wat as gevaarlik beskou is, is verbrand”, sê die Enciclopedia Cattolica. Selfs ná die begin van die Protestantse Hervorming het die geestelikes van verskillende Europese lande hulle bes gedoen om die verspreiding van sogenaamde ketterse boeke te beperk. ’n Keerpunt is ná die Konsilie van Trente in 1546 bereik, toe die kwessie van vertalings in die volkstaal bespreek is. Twee duidelike kampe het toe ontstaan. Dié wat ten gunste was van ’n verbod op vertalings, het beweer dat die Bybel in die omgangstaal “die moeder en oorsprong van alle kettery” is. Dié wat gekant was teen ’n verbod op vertalings, het gesê dat hulle “teenstanders”, die Protestante, sou beweer dat die kerk die Bybel in die volkstaal verbied om “bedrog en misleiding” te verberg.

Omdat daar nie eenstemmigheid was nie, het die Konsilie nie ’n definitiewe standpunt oor die kwessie ingeneem nie, maar het dit bloot die betroubaarheid van die Vulgaat bekragtig, wat die standaardteks vir die Katolieke Kerk geword het. Maar volgens Carlo Buzzetti, ’n dosent aan die Pouslike Universiteit Salesianum, Rome, het die feit dat die Vulgaat “betroubaar” verklaar is “die idee bevorder dat dit in werklikheid die enigste geoorloofde vorm van die Bybel is”. Latere verwikkelinge het dit bevestig.

In 1559 het pous Paulus IV die eerste indeks van verbode boeke uitgegee, ’n lys werke wat Katolieke verbied is om te lees, te verkoop, te vertaal of te besit. Hierdie boeke is as boos beskou, werke wat geloof en sedelike onkreukbaarheid in gevaar gestel het. Die indeks het mense verbied om Bybelvertalings in die volkstaal, insluitende Brucioli s’n, te lees. Oortreders is geëkskommunikeer. Die indeks van 1596 was selfs meer beperkend. Toestemming kon nie meer gegee word om Bybels in die volkstaal te vertaal of te druk nie. Sulke Bybels moes vernietig word.

Ná die einde van die 16de eeu het die verbranding van Bybels op kerkpleine dus skerp toegeneem. Oor die algemeen het mense die Skrif as ’n boek van die ketters begin beskou, en daardie beskouing het nog glad nie verdwyn nie. Byna alle Bybels en Bybelkommentare in openbare en privaat biblioteke is vernietig, en gedurende die volgende 200 jaar het geen Katoliek ’n Bybel in Italiaans vertaal nie. Die enigste Bybels wat in die Italiaanse skiereiland gesirkuleer het—en dít in die geheim, omdat mense bang was dat dit gekonfiskeer sou word—was dié wat deur Protestantse geleerdes vertaal is. Daarom sê die geskiedskrywer Mario Cignoni: “In werklikheid het leke eeue lank nie meer die Bybel gelees nie. Die Bybel het feitlik ’n onbekende boek geword, en miljoene Italianers het hulle lewe gelei sonder om ooit ’n enkele bladsy daaruit te lees.”

Verslapping van die verbod

Later het pous Benedictus XIV in ’n verklaring oor die indeks, gedateer 13 Junie 1757, die vorige bepaling gewysig en “toestemming gegee dat vertalings in die volkstaal wat deur die Heilige Stoel goedgekeur is en onder leiding van die biskoppe gepubliseer is, gelees kon word”. Gevolglik het Antonio Martini, wat later die aartsbiskop van Florence geword het, voorbereidings getref om die Vulgaat te vertaal. Die eerste deel is in 1769 gepubliseer, en die werk is in 1781 voltooi. Volgens ’n Katolieke bron was Martini se vertaling “die eerste een wat werklik spesiale vermelding verdien”. Tot op daardie stadium kon Katolieke wat nie Latyn verstaan het nie, nie ’n Bybel lees wat deur die kerk goedgekeur is nie. Vir die volgende 150 jaar was Martini se vertaling die enigste goedgekeurde vertaling vir Italiaanse Katolieke.

’n Keerpunt is by die ekumeniese konsilie, Vatikaan II, bereik. In 1965 het die dokument Dei Verbum vir die eerste keer “gepaste en korrekte vertalings . . . in verskillende tale, veral van die oorspronklike teks van die heilige boeke”, aangemoedig. Die Pontificio istituto biblico (Pouslike Bybelinstituut) het kort tevore, in 1958, “die eerste volledige Katolieke vertaling van die oorspronklike teks” gepubliseer. In hierdie vertaling is God se naam op ’n paar plekke in die vorm “Jahve” herstel.

Teenstand teen die Bybel in die volkstaal het rampspoedige gevolge gehad wat nog steeds gevoel word. Volgens Gigliola Fragnito het dit daartoe gelei dat “gelowiges nie hulle eie vryheid van intellek en gewete vertrou nie”. Daarbenewens is godsdienstradisies op hulle afgedwing, wat vir baie Katolieke belangriker is as die Bybel. Dit alles het mense van die Skrif vervreem, al het ongeletterdheid feitlik verdwyn.

Die evangelisasiewerk van Jehovah se Getuies het egter nuwe belangstelling in die Bybel in Italiaans gewek. In 1963 het die Getuies die Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte in Italiaans gepubliseer. In 1967 het die hele Bybel beskikbaar geword. Meer as 4 000 000 eksemplare van hierdie vertaling is in Italië alleen versprei. Die Nuwe Wêreld-vertaling, wat God se naam, Jehovah, in sy teks herstel, word gekenmerk deur sy sorgvuldige getrouheid aan die betekenis van die oorspronklike teks.

Jehovah se Getuies gaan van huis tot huis en lees en verduidelik die skriftuurlike boodskap van hoop aan almal wat bereid is om te luister (Handelinge 20:20). Wanneer jy weer met Jehovah se Getuies praat, kan jy hulle gerus vra om vir jou te wys wat jou eie Bybel sê oor God se wonderlike belofte om binnekort “’n nuwe aarde” tot stand te bring waarin “regverdigheid woon”.—2 Petrus 3:13.

[Kaart op bladsy 13]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Venesië

ROME

[Prent op bladsy 15]

Brucioli se vertaling het God se naam, “Ieova”, in sy teks gebruik

[Prent op bladsy 15]

Die indeks van verbode boeke het ’n lys van Bybelvertalings bevat wat as gevaarlik beskou is

[Foto-erkenning op bladsy 13]

Titelblad van Bybel: Biblioteca Nazionale Centrale di Roma

[Foto-erkennings op bladsy 15]

Brucioli se vertaling: Biblioteca Nazionale Centrale di Roma; Indeks: Su concessione del Ministero per i Beni e le Attività Culturali

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel