Selfs in ’n dooie taal is die Bybel lewend
OOR die afgelope paar eeue het ten minste die helfte van die wêreld se tale verdwyn. ’n Taal sterf uit wanneer daar nie meer moedertaalsprekers is nie. In hierdie sin word Latyn gewoonlik gedefinieer as “’n dooie taal”, al word dit algemeen bestudeer en is dit steeds die amptelike taal van die Vatikaanstad.
Latyn is ook die taal van party van die vroegste en vernaamste Bybelvertalings. Kan sulke vertalings in ’n verouderde taal vandag “lewend” wees en ’n invloed op Bybellesers hê? Die fassinerende geskiedenis van hierdie vertalings help ons om dié vraag te beantwoord.
Die oudste Latynse vertalings
Latyn was Rome se eerste taal. Maar toe die apostel Paulus aan die Christengemeente in daardie stad geskryf het, het hy in Grieks geskryf.a Dit het nie ’n probleem geskep nie, aangesien die mense daar oor die algemeen albei tale gepraat het. Aangesien baie van Rome se inwoners uit die Griekssprekende deel van Asië gekom het, is daar gesê dat die stad Grieks geword het. Die tale wat in die Romeinse Ryk gepraat is, het van streek tot streek verskil, maar namate die Ryk gegroei het, het die belangrikheid van Latyn toegeneem. Gevolglik is die Heilige Skrif uit Grieks in Latyn vertaal. Hierdie proses het blykbaar in die tweede eeu G.J. in Noord-Afrika begin.
Die onderskeie tekste wat geproduseer is, staan bekend as die Vetus Latina, of die Ou Latynse weergawe. Geen antieke manuskrip wat ’n volledige Latynse vertaling van die Skrif bevat, het tot in ons dag behoue gebly nie. Die dele wat wel behoue gebly het, asook die dele wat deur eertydse skrywers aangehaal is, dui daarop dat die Vetus Latina nie een saamgestelde werk was nie. Dit is blykbaar eerder deur etlike vertalers geproduseer wat afsonderlik op verskillende tye en plekke gewerk het. Dit is dus nie een teks nie, maar eintlik ’n versameling vertalings uit die Grieks.
Onafhanklike pogings om dele van die Skrif in Latyn te vertaal, het verwarring veroorsaak. Teen die einde van die vierde eeu G.J. het Augustinus gemeen dat “elke man wat ’n Griekse manuskrip in die hande kry en dink dat hy enige kennis van die twee tale het—ongeag hoe min—’n [Latynse] vertaling aanpak”. Augustinus en ander het gedink dat daar te veel vertalings in omloop is en het die juistheid daarvan in twyfel getrek.
Hieronimus se vertaling
Die man wat hierdie verwarring oor die vertalings probeer beëindig het, was Hieronimus, wat in 382 G.J. af en toe as sekretaris gedien het vir Damasus, die biskop van Rome. Die biskop het Hieronimus gevra om die Latynse teks van die Evangelies te hersien, en Hieronimus het hierdie taak binne net ’n paar jaar voltooi. Toe het hy die Latynse vertalings van ander Bybelboeke begin hersien.
Hieronimus se vertaling, wat later die Vulgaat genoem is, was ’n saamgestelde teks. Hieronimus het sy vertaling van die Psalms gebaseer op die Septuagint, ’n Griekse vertaling van die Hebreeuse Geskrifte wat in die tweede eeu v.G.J. voltooi is. Hy het die Evangelies hersien en het ook ’n groot deel van die Hebreeuse Geskrifte uit die oorspronklike Hebreeus vertaal. Die res van die Skrif is waarskynlik deur ander hersien. Uiteindelik het dele van die Vetus Latina ook deel van Hieronimus se Vulgaat geword.
Aanvanklik is Hieronimus se werk nie juis met geesdrif ontvang nie. Selfs Augustinus het dit gekritiseer. Tog het dit stadig maar seker die aanvaarde standaard vir enkelbundel-Bybels geword. In die agtste en negende eeu het geleerdes soos Alcuinus en Teodulf begin om taalkundige en tekstuele foute reg te maak wat weens herhaalde oorskrywing in Hieronimus se vertaling ingesluip het. Ander het die teks in hoofstukke verdeel, wat dit makliker gemaak het om tekste in die Skrif na te slaan. Toe drukwerk met los letters uitgevind is, was Hieronimus se vertaling die eerste Bybel wat gedruk is.
Dit was by die Konsilie van Trente in 1546 dat die Katolieke Kerk die eerste keer Hieronimus se vertaling die Vulgaat genoem het. Die konsilie het verklaar dat hierdie Bybel “eg” is, wat dit ’n verwysingsteks vir Katolisisme gemaak het. Die konsilie het terselfdertyd beveel dat dit hersien word. Die werk sou onder die toesig van spesiale komitees gedoen word, maar pous Sixtus V, wat nie kon wag dat dit voltooi word nie en wat klaarblyklik ’n bietjie te veel van sy eie vermoëns gedink het, het besluit om die taak self af te handel. Daar is skaars met die druk van sy hersiene uitgawe begin toe die Pous in 1590 oorlede is. Die kardinale het die werk, wat volgens hulle vol foute was, onmiddellik verwerp en dit herroep.
’n Nuwe weergawe wat in 1592 onder pous Klemens VIII gepubliseer is, het later bekend geword as die Sixtyns-Klementynse uitgawe. Dit het ’n hele ruk lank die Katolieke Kerk se amptelike vertaling gebly. Die Sixtyns-Klementynse Vulgaat het ook die grondslag geword vir Katolieke vertalings in volkstale, soos Antonio Martini se vertaling in Italiaans, wat in 1781 voltooi is.
’n Moderne Bybel in Latyn
In die 20ste eeu het tekskritiek dit duidelik gemaak dat die Vulgaat, soos ander vertalings, hersien moet word. Met dié doel het die Katolieke Kerk in 1965 ’n Kommissie vir die Nuwe Vulgaat gestig en die kommissie die verantwoordelikheid gegee om die Latynse vertaling op grond van bygewerkte kennis te hersien. Die nuwe teks sou vir Katolieke dienste in Latyn gebruik word.
Die eerste deel van die nuwe vertaling het in 1969 verskyn, en in 1979 het pous Johannes-Paulus II die Nova Vulgata goedgekeur. Die eerste uitgawe het die goddelike naam, Iahveh, in etlike verse bevat, onder andere Eksodus 3:15 en 6:3. Toe, soos een lid van die komitee dit gestel het, het die tweede amptelike uitgawe, wat in 1986 uitgegee is, “berou gehad . . . Dominus [‘Here’] is teruggesit in die plek van Iahveh”.
Net soos die Vulgaat eeue tevore, is die Nova Vulgata ook gekritiseer, selfs deur Katolieke geleerdes. Hoewel dit aanvanklik aangebied is as ’n vertaling met ’n sterk ekumeniese geur, het baie dit beskou as ’n struikelblok tot godsdiensdialoog, veral omdat dit voorgehou is as ’n bindende model vir vertalings in hedendaagse tale. In Duitsland was die Nova Vulgata die middelpunt van ’n geskil tussen Protestante en Katolieke in verband met die hersiening van ’n interkerklike vertaling. Protestante het Katolieke daarvan beskuldig dat hulle daarop aandring dat hierdie nuwe vertaling met die Nova Vulgata moet ooreenkom.
Hoewel Latyn nie meer algemeen gepraat word nie, het die Bybel in Latyn ’n direkte sowel as ’n indirekte uitwerking op miljoene lesers gehad. Dit het ’n groot invloed op godsdiensterminologie in baie tale gehad. Maar ongeag die taal waarin God se Woord uitgegee word, dit oefen steeds krag uit en verander die lewens van miljoene mense wat uit gehoorsaamheid daarna streef om in ooreenstemming met die kosbare leringe daarin op te tree.—Hebreërs 4:12.
[Voetnoot]
a Vir verdere inligting oor waarom die Christelike Geskrifte in Grieks geskryf is, sien die artikel “Het jy geweet?” op bladsy 13.
[Lokteks op bladsy 23]
Pous Johannes-Paulus II het die Nova Vulgata goedgekeur. Die eerste uitgawe het die goddelike naam Iahveh bevat
[Venster op bladsy 21]
TERME WAT GESKIEDENIS GEMAAK HET
Die Vetus Latina, wat uit Grieks vertaal is, het baie terme bevat wat geskiedenis sou maak. Een hiervan was die vertaling van die Griekse woord di·a·theʹke, of “verbond”, as testamentum, of “testament” (2 Korintiërs 3:14). Gevolglik verwys baie mense nog steeds na die Hebreeuse en die Griekse Geskrifte as die Ou Testament en die Nuwe Testament onderskeidelik.
[Venster op bladsy 23]
’N OMSTREDE INSTRUKSIE
In 2001, ná vier jaar se werk, het die Vatikaanse Kongregasie vir Gewyde Erediens en die Reëling van die Sakramente sy instruksie Liturgiam authenticam (Amptelike Liturgie) gepubliseer. Baie Katolieke geleerdes het dit al skerp gekritiseer.
Aangesien die Nova Vulgata die kerk se amptelike vertaling is, moet dit volgens hierdie instruksie as ’n model vir alle ander vertalings gebruik word, al verskil dit van die antieke, oorspronklike geskrifte. Slegs op hierdie voorwaarde kan ’n Bybel deur die Katolieke hiërargie aanvaar word. Hierdie instruksie sê dat “die naam van die almagtige God wat deur die Hebreeuse tetragrammaton (JHWH) weergegee word” in Katolieke uitgawes in “enige gegewe volkstaal [vertaal moet word] met ’n woord wat dieselfde betekenis het” as Dominus, of “Here”, soos in die tweede uitgawe van die Nova Vulgata—al gebruik die eerste uitgawe “Iahveh”.b
[Voetnoot]
b Sien die artikel “Vatikaan wil ’n einde maak aan die gebruik van die goddelike naam”, op bladsy 30.
[Prent op bladsy 22]
Alcuinus se vertaling van die Latynse Bybel, 800 G.J.
[Erkenning]
From Paléographìe latine, by F. Steffens (www.archivi.beniculturali.it)
[Prente op bladsy 22]
Sixtyns-Klementynse Vulgaat, 1592
[Prente op bladsy 23]
Eksodus 3:15, Nova Vulgata, 1979
[Erkenning]
© 2008 Libreria Editrice Vaticana