Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w08 3/1 bl. 13-16
  • Jy kan gelukkig wees ondanks teleurstelling

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jy kan gelukkig wees ondanks teleurstelling
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Dinge wat teleurstel
  • Konsentreer op die oplossing
  • Die regte beskouing van teleurstelling
  • Berei jou nou voor op teleurstelling
  • Sê nou hy sê nee?
    Ontwaak!—2004
  • Is jy teleurgestel in God?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2015
  • “Staan vas”—Moenie struikel nie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Waarom moet ons redelik wees in ons verwagtinge?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
w08 3/1 bl. 13-16

Jy kan gelukkig wees ondanks teleurstelling

WIE is nog nooit teleurgestel nie? Selfs ons hemelse Vader, Jehovah God, het al die pyn van teleurstelling ervaar. Hy het byvoorbeeld die Israeliete uit slawerny in Egipte verlos en hulle ryklik geseën. Die Bybel sê egter: “Keer op keer het hulle God op die proef gestel, en hulle het die Heilige van Israel bedroef” (Psalm 78:41). Nietemin was Jehovah nog altyd “die gelukkige God”.—1 Timoteus 1:11.

Ja, daar is baie dinge wat teleurstelling kan veroorsaak. Hoe kan ons voorkom dat dit ons van geluk beroof? Wat kan ons leer uit die manier waarop Jehovah God teleurstellende situasies hanteer het?

Dinge wat teleurstel

“Tyd en onvoorsiene gebeurtenisse” tref ons almal, sê God se Woord (Prediker 9:11). Misdaad, ’n ongeluk of ’n siekte kan skielik groot ontsteltenis—en teleurstelling—veroorsaak. Die Bybel sê ook: “’n Uitgestelde verwagting maak die hart siek” (Spreuke 13:12). Wanneer ons gretig uitsien na iets aangenaams, vul dit ons met vreugde, maar as ons verwagtinge nie gou verwesenlik word nie, ervaar ons dalk ’n neerdrukkende gevoel van teleurstelling. Byvoorbeeld, Duncana het altyd die begeerte gehad om ’n sendeling te wees, maar moes ná jare van sendingdiens saam met sy vrou terugkeer huis toe. “Vir die eerste keer in my lewe het ek heeltemal rigtingloos gevoel”, het hy gesê. “Ek het geen doelwitte gehad nie. Niks het meer belangrik gelyk nie.” Die pyn van teleurstelling kan lank duur, soos in Claire se geval. Sy verduidelik: “Ek was sewe maande swanger toe ek ’n miskraam gehad het. Dit was jare gelede, maar elke keer wanneer ek ’n seun ’n toespraak op die verhoog sien hou, dink ek by myself: ‘Dis hoe oud my seun sou gewees het.’”

Dit kan ook pynlik wees wanneer iemand jou teleurstel, soos wanneer ’n hofmakery beëindig word, ’n huwelik op die rotse beland, ’n kind opstandig word of as ’n vriend dislojaal of ondankbaar is. Omdat ons onder onvolmaakte mense en in moeilike tye lewe, is die moontlikheid dat ons teleurgestel sal word, baie groot.

Ons eie tekortkominge kan ook teleurstelling veroorsaak. As ons byvoorbeeld nie ’n eksamen kon deurkom, werk kon kry of iemand se hart kon wen nie, voel ons dalk nutteloos. Ons kan ook teleurgesteld in onsself voel wanneer ’n geliefde van die regte pad afdwaal. Mary sê: “Dit het gelyk of my dogter goed doen. Ek het gedink dat ek ’n goeie voorbeeld vir haar gestel het. Maar toe sy haar rug op Jehovah God en ons gesinswaardes draai, het ek gevoel dat ek ’n volslae mislukking is. Nie een van die suksesse wat ek in ander aspekte van die lewe behaal het, kon hiervoor vergoed nie. Ek was so mismoedig.”

Hoe kan ons sulke teleurstellings verwerk? Vir die antwoord gaan ons kyk na die voorbeeld wat Jehovah daarin gestel het om teleurstelling te hanteer.

Konsentreer op die oplossing

Jehovah God het liefdevol vir die eerste mensepaar gesorg, maar hulle was ondankbaar en het in opstand gekom (Genesis, hoofstukke 2 en 3). Toe het hulle seun Kain ’n slegte gesindheid begin ontwikkel. Kain het Jehovah se waarskuwing geïgnoreer en sy broer vermoor (Genesis 4:1-8). Kan jy jou voorstel hoe teleurgesteld Jehovah was?

Waarom het daardie teleurstelling God nie van sy geluk beroof nie? Omdat hy hom voorgeneem het om die aarde met volmaakte mense te vul en hy aanhou werk het om hierdie voorneme te verwesenlik (Johannes 5:17). Met dié doel het hy die losprysoffer en sy Koninkryk voorsien (Matteus 6:9, 10; Romeine 5:18, 19). Jehovah God het nie op die probleem gekonsentreer nie, maar op die oplossing.

God se Woord spoor ons aan om eerder op positiewe dinge te konsentreer as op wat kon gewees het of wat ons moes gedoen het. Dit sê: “Alles wat waar is, alles wat van ernstige belang is, alles wat regverdig is, alles wat kuis is, alles wat lieflik is, alles waarvan goed gepraat word, watter deug en watter lofwaardige saak daar ook al is, hou aan om hierdie dinge te bedink.”—Filippense 4:8.

Die regte beskouing van teleurstelling

Daar kan dinge gebeur wat ons lewe dramaties kan verander. Ons kan byvoorbeeld skielik sonder werk sit, sonder ’n huweliksmaat of sonder voorregte wat ons eens geniet het. Ons kan ons gesondheid, ons huis of ons vriende verloor. Hoe kan ons sulke veranderinge verwerk?

Party het gevind dat dit nuttig is om prioriteite te stel. Duncan, wat vroeër gemeld is, sê: “Toe ek en my vrou besef dat ons nooit weer na ons vorige lewenswyse sou kon terugkeer nie, was ons verpletter. Ons het uiteindelik twee prioriteite gestel: om vir my skoonma te sorg en indien moontlik ons voltydse bediening voort te sit. Wanneer ons voor besluite te staan kom, oorweeg ons hoe dit hierdie prioriteite sal raak. Dit maak alles makliker.”

Baie van ons is geneig om die negatiewe sy van ’n saak te vergroot wanneer ons teleurgestel word. Byvoorbeeld, ons pogings om ’n kind groot te maak, vir ’n betrekking te kwalifiseer of die goeie nuus in ’n anderstalige veld te verkondig, lewer moontlik nie die gewenste resultate op nie. Ons dink miskien: ‘Ek is ’n mislukking.’ Maar net soos die teleurstellende begin van die mensdom nie beteken dat God ’n mislukking is nie, is ons nie ’n mislukking bloot omdat ons pogings aanvanklik op teleurstelling uitloop nie.—Deuteronomium 32:4, 5.

Dit is maklik vir ons om diep gegrief te voel wanneer mense ons teleurstel. Jehovah reageer nie so nie. Koning Dawid het God teleurgestel toe hy egbreuk gepleeg en later die vrou se man laat doodmaak het. Maar Jehovah het die opregtheid van Dawid se berou gesien en Dawid steeds as sy kneg gebruik. Die getroue koning Josafat het eweneens oortree toe hy ’n bondgenootskap met God se vyande aangegaan het. Jehovah se profeet het gesê: “Hiervoor is daar verontwaardiging teen u van die kant van Jehovah. Daar is nietemin goeie dinge by u gevind” (2 Kronieke 19:2, 3). Jehovah het geweet dat een fout nie van Josafat ’n verraaier gemaak het nie. Net so kan ons ons vriende behou as ons nie oorreageer wanneer hulle ’n fout maak nie. Vriende wat ons teleurstel, het moontlik nog steeds goeie eienskappe.—Kolossense 3:13.

Teleurstellings kan beskou word as noodsaaklike ondervinding wat ’n mens op die weg na uiteindelike sukses opdoen. Ons voel dalk teleurgesteld in onsself wanneer ons sondig. Maar ons kan herstel as ons gepaste en doelgerigte stappe doen en voortgaan met ons lewe. Toe koning Dawid diep teleurgesteld was in homself, het hy geskryf: “My gebeente [het] weggeteer deur my gekreun die hele dag. . . . My sonde het ek uiteindelik aan u [Jehovah] bely, . . . en u het die ongeregtigheid van my sondes vergewe” (Psalm 32:3-5). As ons besef dat ons nie gedoen het wat God van ons verwag nie, moet ons God om vergifnis vra en ons weë verander en vasbeslote wees om in die toekoms God se raad noukeuriger te volg.—1 Johannes 2:1, 2.

Berei jou nou voor op teleurstelling

Ons almal sal ongetwyfeld in die toekoms voor die een of ander teleurstelling te staan kom. Wat kan ons doen om voorbereid te wees? Bruno, ’n middeljarige Christenman wat ’n teleurstelling ondervind het wat sy lewe verander het, het ’n interessante kommentaar gemaak. Hy het gesê: “Wat my die meeste gehelp het om die teleurstelling te verwerk, was die feit dat ek bly doen het wat ek nog altyd gedoen het om my geestelikheid te versterk. Ek het reeds geweet waarom God hierdie wrede stelsel van dinge laat voortduur. Ek het oor baie jare ’n hegte verhouding met Jehovah opgebou. Ek was so dankbaar dat ek dit gedoen het. Die vertroostende wete dat hy met my was, het my gehelp om my depressie te verduur.”

Wanneer ons aan die toekoms dink, kan ons van een ding seker wees: Al stel ons onsself moontlik teleur of al stel ander ons dalk teleur, God sal ons nooit teleurstel nie. Trouens, God het gesê dat sy naam, Jehovah, “Ek sal word wat ek sal word” beteken (Eksodus 3:14). Dit gee ons die vertroue dat hy sal word wat ook al nodig is om sy beloftes te vervul. Hy het belowe dat sy wil, deur middel van sy Koninkryk, sal geskied “soos in die hemel, so ook op die aarde”. Daarom het die apostel Paulus geskryf: “Ek is daarvan oortuig dat nie die dood of die lewe of engele of regerings . . . of enige ander skepping ons sal kan skei van God se liefde wat in Christus Jesus, ons Here, is nie.”—Matteus 6:10; Romeine 8:38, 39.

Ons kan vol vertroue uitsien na die vervulling van die belofte wat God deur die profeet Jesaja gemaak het: “Kyk, ek skep nuwe hemele en ’n nuwe aarde; en die vorige dinge sal nie onthou word nie, en ook sal dit nie in die hart opkom nie” (Jesaja 65:17). Wat ’n wonderlike vooruitsig is dit tog dat die tyd op hande is wanneer alle herinneringe aan teleurstellings iets van die verlede sal wees!

[Voetnoot]

a Van die name is verander.

[Lokteks op bladsy 13]

Ons is nie ’n mislukking bloot omdat ons pogings aanvanklik op teleurstelling uitloop nie

[Lokteks op bladsy 14]

God se Woord spoor ons aan om eerder op positiewe dinge te konsentreer as op wat kon gewees het

[Prente op bladsy 15]

Ten spyte van die tekortkominge van mense is God gelukkig, want sy voorneme sal beslis vervul word

[Prent op bladsy 16]

As ons geestelike prioriteite stel, sal dit ons help om teleurstellings te verwerk

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel