Ek het uitgevind hoe kosbaar die lewe is
DIT WAS DIE OGGEND VAN 16 APRIL 2007. Terwyl ek ineengehurk in ’n hoek van ’n kantoor op die derde verdieping van die Norris-saal op die kampus van Virginië se Politegniese Instituut en Staatsuniversiteit, of Virginië se Tegnikon, gesit het, is ek weer eens daaraan herinner hoe dankbaar ons moet wees vir elke kosbare lewensdag wat ons het.
Ek was op die punt om my kantoor te verlaat om my pos op die tweede verdieping te gaan haal. ’n Professor het my kom vra om hom met ’n rekenaarprobleem in sy kantoor te help. Net toe ons by sy kantoor kom, het ons etlike geweerskote vanaf die tweede verdieping gehoor. Ons het nie geweet wat aangaan nie en het vinnig by sy kantoor ingegaan, die deur gesluit en beangs gewag om te sien wat in die volgende paar minute van ons lewe gaan gebeur. Terwyl ek in ’n hoek geskuil het, het ek my hart in gebed teenoor Jehovah God uitgestort en sy leiding gevra om te kan verduur wat ook al voorlê.
Terwyl ons gewag het, het ’n voorval wat 15 jaar tevore gebeur het, deur my gedagtes geflits. Ek het as motorwerktuigkundige in ’n garage gewerk. ’n Pannetjie vol petrol het in my werksmaat se hande aan die brand geslaan. Paniekbevange het hy per ongeluk die brandende petrol in my gesig gegooi! Ek het die brandende dampe ingeasem en tweede- en derdegraadse brandwonde op my bolyf opgedoen. Ek is met ’n helikopter na ’n hospitaal met ’n brandwondeenheid geneem en het drie en ’n half maande in die waakeenheid vir my lewe geveg. Ná vyf maande van behandeling en rehabilitasie kon ek huis toe gaan, dankbaar dat ek nog lewe. Daardie ondervinding het my geleer om elke dag van die lewe as kosbaar te beskou. Dit het my ook meer vasbeslote gemaak om my lewe te gebruik in die diens van die een wat my daardie lewe gegee het, Jehovah God—as een van sy Getuies.—Psalm 90:12; Jesaja 43:10.
Omdat komplikasies weens my beserings dit vir my onmoontlik gemaak het om as ’n motorwerktuigkundige te werk, het ek geleer om met rekenaars te werk, en ek is deur Virginië se Tegnikon in diens geneem. Dit is waarom ek daardie oggend in die Norris-saal was.
Terwyl die skote voortgeduur het, het ons glad nie besef dat die dodelikste skietvoorval in die Amerikaanse geskiedenis net een verdieping onder ons plaasvind nie. Die slagting het geëindig toe die skieter homself geskiet het nadat hy die lewe van 32 onskuldige slagoffers geneem het. Omtrent 20 minute nadat dit alles begin het, het ons die polisie in die gang gehoor. Ons het hulle geroep, en hulle het ons na veiligheid gelei.
Hierdie traumatiese ondervinding het my geleer hoe vlietend en onseker die lewe is (Jakobus 4:14). Hoe belangrik is dit tog vir ons om ons vertroue in die Lewegewer, Jehovah God, te stel en elke dag as ’n kosbare gawe van hom af te beskou!—Psalm 23:4; 91:2.
[Foto-erkenning op bladsy 30]
AP Photo/The Roanoke Times, Alan Kim