Die mens—Geskep as ’n seun van God
JEHOVAH GOD het die eerste mens uit die stof van die aarde gevorm en die asem van die lewe in sy neusgate geblaas, “en die mens het ’n lewende siel geword” (Genesis 2:7; 1 Korintiërs 15:45). Nadat Adam geskep is en nadat hy die diere name gegee het, het Jehovah ’n diep slaap op hom laat val; en terwyl hy geslaap het, het God een van Adam se ribbebene geneem en dit gebruik om die vrou te maak. Toe sy na die mens gebring is, kon Adam dus sê: “Dit is eindelik been van my gebeente en vlees van my vlees.” Hy het haar Mannin genoem, “want sy is uit die man geneem” (Genesis 2:21-23). Adam het haar later Eva genoem (wat “Lewende” beteken).—Genesis 3:20.
Die apostel Paulus het getuig van die feit dat Jehovah God die mens geskep het toe hy vir die Ateners gesê het: “Hy het uit een mens elke nasie van die mense gemaak om op die hele oppervlak van die aarde te woon” (Handelinge 17:26). Daarom het alle nasies en rasse ’n gemeenskaplike oorsprong.
Die eerste man en vrou
Adam en Eva is teen die einde van die sesde ‘skeppingsdag’ geskep (Genesis 1:24-31). Daar is geen werklike verslae van die eertydse mens, sy skrif, landbou en ander bedrywighede wat teruggevoer kan word tot voor 4026 VHJ, die jaar toe Adam geskep is nie. Aangesien die Skrif die mens se geskiedenis vanaf die skepping van die eerste mensepaar beskryf, kan daar nie iets soos ’n “prehistoriese mens” wees nie. Fossielverslae in die aarde voorsien geen skakel tussen die mens en diere nie. Daar is ook hoegenaamd geen verwysing na enige diermens in die mens se vroegste verslae nie, hetsy geskrewe dokumente, grottekeninge, beeldhouwerke of iets soortgelyks nie.
Die Skrif toon duidelik die teenoorgestelde, naamlik dat die mens oorspronklik ’n seun van God was en dat hy versleg het (Prediker 7:20; 1 Johannes 1:8-10). Die argeoloog O.D. Miller het gesê: “Die oorlewering van die ‘goue eeu’ was dus nie ’n mite nie. Die ou lering van ’n latere agteruitgang, van ’n droewige verslegting van die mensdom, wat gevolg het op ’n oorspronklike toestand van geluk en suiwerheid, het ongetwyfeld ’n groot maar bejammerenswaardige waarheid omvat. Ons hedendaagse filosofieë van die geskiedenis, wat met die oermens as ’n barbaar begin, het klaarblyklik ’n nuwe inleiding nodig. . . . Nee; die oermens was nie ’n barbaar nie.”—Har–Moad, 1892, bladsy 417.
Die Bybel openbaar dat die mens se oorspronklike tuiste “’n tuin in Eden” was (Genesis 2:8). Die ligging wat daarvoor aangegee word, is redelik naby die plek waar die vroeë beskawing ná die Vloed gelewe het. Die beskouing wat geleerdes oor die algemeen aanvaar, word soos volg deur P.J. Wiseman uitgedruk: “Al die werklike bewyse wat ons het, dit wil sê dié van Genesis, argeologie en die oorleweringe van mense, dui op die Mesopotamiese vlakte as die oudste tuiste van die mens. Die Verre-Oosterse beskawing, hetsy Chinees of Indies, is nie naastenby so oud soos die volke van hierdie land nie, want dit kan maklik die bewering staaf dat dit die bakermat van die beskawing is.”—New Discoveries in Babylonia About Genesis, 1949, bladsy 28.
Die mens is “na God se beeld” gemaak
Toe God sy voorneme om mense te skep aan sy “meesterwerker” onthul het, het God gesê: “Laat ons mense maak na ons beeld, ooreenkomstig ons gelykenis.” (Genesis 1:26, 27; Spreuke 8:30, 31; vergelyk Kolossense 1:15-17.) Let op dat die Skrif nie sê dat God die mens na die beeld van ’n wilde dier of ’n mak dier of ’n vis geskep het nie. Die mens is “na God se beeld” gemaak; hy was ’n “seun van God” (Lukas 3:38). Wat die vorm van God se liggaam betref, lees ons: “Niemand het God nog ooit aanskou nie” (1 Johannes 4:12). Niemand op aarde weet hoe God se glorieryke, hemelse geesliggaam lyk nie; daarom kan ons nie die mens se liggaam met God se liggaam vergelyk nie. “God is ’n Gees.”—Johannes 4:24.
Die mens is egter “na God se beeld” geskep in die sin dat hy gemaak is met sedelike eienskappe soos dié van God, naamlik liefde en geregtigheid. (Vergelyk Kolossense 3:10.) Hy het ook vermoëns en wysheid wat dié van diere oortref, sodat hy die dinge kan waardeer wat God geniet en waardeer, soos prag en kuns, spraak- en redeneervermoë en soortgelyke verstandelike en emosionele prosesse waartoe diere nie in staat is nie. Daarbenewens het die mens ’n sin vir geestelikheid, om God te leer ken en met hom te kommunikeer (1 Korintiërs 2:11-16). Om dié redes was die mens bekwaam om God se verteenwoordiger te wees en om lewensvorme in die lug, op die aarde en in die see onderworpe aan hom te hê.
As ’n skepping van God was die mens oorspronklik volmaak (Deuteronomium 32:4). Adam kon dus menslike volmaaktheid en die geleentheid om vir ewig op die aarde te lewe, aan sy nageslag oorgedra het (Jesaja 45:18). Hy en Eva is beveel: “Wees vrugbaar en word baie en vul die aarde en onderwerp dit” (Genesis 1:28). Namate hulle gesin groter geword het, sou hulle die aarde bewerk en pragtig maak volgens die voorneme van hulle Skepper.
Geskep met wilsvryheid
Omdat die mens na God se beeld, ooreenkomstig Sy gelykenis, gemaak is, het hy wilsvryheid. Hy kon kies of hy goed of kwaad wou doen. Deur sy gewillige, liefdevolle gehoorsaamheid aan sy Skepper kon hy God op ’n veel beter wyse eer en verheerlik as wat die diereskepping kon. Met sy verstand kon hy God om Sy wonderlike eienskappe loof en kon hy God se soewereiniteit ondersteun.
Maar Adam se vryheid was relatief; dit was nie absoluut nie. Hy kon slegs aanhou om in geluk te lewe as hy Jehovah se soewereiniteit erken het. Dit is aangedui deur die boom van die kennis van goed en kwaad, waarvan Adam verbied is om te eet. Om daarvan te eet, sou ’n daad van ongehoorsaamheid wees, ’n opstand teen God se soewereiniteit.—Genesis 2:9, 16, 17.
Aangesien Adam ’n “seun van God” was, was sy verhouding met God dié van ’n seun met ’n vader, en hy moes dienooreenkomstig gehoorsaam wees (Lukas 3:38). Verder het God die mens geskep met ’n ingebore begeerte om te aanbid. Hierdie begeerte sou, indien dit verdraai word, die mens in die verkeerde rigting lei en hom van sy vryheid beroof, waardeur hy in slawerny sou kom aan wat geskep is in plaas van die Skepper. Dít sou tot die mens se agteruitgang lei.
’n Opstandige geesseun van God het Adam se vrou Eva laat sondig, en sy het Adam in versoeking gebring, wat opsetlik in opstand teen Jehovah gekom het (Genesis 3:1-6). Deur sy oortreding het Adam sy seunskap en volmaaktheid verloor en sonde, met onvolmaaktheid en die dood, oor sy nakomelinge, die hele mensdom, gebring. Selfs by geboorte was hulle soos hulle vader Adam, onvolmaak, met die dood wat in hulle liggaam werksaam is.—Genesis 3:17-19; Romeine 5:12.
Jehovah het ’n liefdevolle voorsiening gemaak om die mensdom van slawerny aan sonde en die dood te bevry. Om aan die vereistes van God se volmaakte wet te voldoen, moes ’n volmaakte mens geoffer word om terug te koop wat die volmaakte man, Adam, weens ongehoorsaamheid verloor het (1 Korintiërs 15:22). God het sy enigverwekte seun, Jesus Christus, gestuur om as ’n volmaakte man op aarde gebore te word. Hy het hierdie toewysing nederig aanvaar, en deur sy pynlike dood aan ’n folterpaal het hy die mensdom vrygemaak en dit vir onvolmaakte mense moontlik gemaak om uit te sien na ’n glorieryke toekoms as volmaakte kinders van God.—Romeine 8:20, 21.