Goeie resultate wanneer geleenthede benut word
IS JY op die uitkyk na geleenthede om te getuig, wat jy kan aangryp as dit onverwags in julle gemeente se gebied ontstaan? Ons Christenbroers in die geskiedkundige hawestad Turku, Finland, het dit gedoen, en dit het goeie resultate gelewer.
’n Tyd gelede het die broers in Turku opgemerk dat ’n groep Asiatiese mans in die stad aangekom het om ’n yslike toerskip te voltooi wat by ’n plaaslike skeepswerf in aanbou was. Later het ’n broer uitgevind in watter hotelle die buitelandse werkers bly. Hy het ook uitgevind dat die werkers vroeg in die oggend per bus van hulle hotelle in die middestad na die hawe geneem word. Hy het die broers in die Engelssprekende gemeente in Turku onmiddellik daaroor ingelig.
Die ouer manne in daardie gemeente het besef dat die teenwoordigheid van soveel buitelanders hulle ’n onverwagse geleentheid gebied het om die Koninkryksboodskap aan hulle mee te deel, en hulle het gou ’n spesiale kampanje gereël. Daardie Sondag het tien verkondigers om seweuur die oggend naby die bushalte bymekaargekom. Eers het geen werkers opgedaag nie. ‘Is ons te laat?’ het die broers gewonder. ‘Het hulle Turku verlaat?’ Maar toe het ’n werker in ’n oorpak om die hoek gekom. En toe nog een, en nog ander daarna. Kort voor lank was daar ’n hele groep werkers naby die bushalte. Die verkondigers het toe aan die werk gespring en die werkers met Engelse publikasies genader. Gelukkig het dit omtrent ’n uur geneem voordat al die werkers sitplek op die busse gevind het, wat die broers genoeg tyd gegee het om met die meeste van hulle te praat. Toe die busse vertrek, het die werkers 126 boekies en 329 tydskrifte gehad!
Die goeie resultate het die broers aangespoor om die kampanje die volgende week, gedurende die kringopsiener se besoek, te herhaal. Op ’n reënerige dag om halfsewe die oggend het die kringopsiener die velddiensvergadering gehou, en 24 verkondigers het toe na die bushalte gegaan. Dié keer het hulle ook lektuur in Tagalog saamgeneem, want hulle het uitgevind dat baie van die buitelanders van die Filippyne afkomstig was. Daardie oggend, toe die busse na die hawe vertrek, is die werkers daar weg met 7 boeke, 69 boekies en 479 tydskrifte. Stel jou die vreugde en opgewondenheid voor van die broers en susters wat aan die kampanje deelgeneem het!
Voordat die werkers na hulle lande teruggekeer het, het die broers ’n hele paar van hulle gaan besoek by die hotelle waar hulle gebly het en die Koninkryksboodskap in meer besonderhede te verduidelik. Party van die werkers het gesê dat die Getuies in ander dele van die wêreld al vir hulle getuig het. Die werkers het hulle waardering teenoor die broers uitgespreek omdat hulle die inisiatief geneem het om gedurende hulle verblyf in Finland met hulle in aanraking te kom.
Is jy op die uitkyk na geleenthede wat onverwags in julle gemeente se gebied kan ontstaan? Neem jy die inisiatief om met mense uit verskillende agtergronde te praat? Indien wel, sal jy dalk ook ondervindinge hê soos dié wat ons broers in Turku gehad het.
[Kaart/Prent op bladsy 32]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
FINLAND
Turku
HELSINKI