Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • km 9/96 bl. 3-5
  • Verkondig die goeie nuus oral

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Verkondig die goeie nuus oral
  • Ons Koninkryksbediening—1996
  • Soortgelyke materiaal
  • Hoe ons ons tydskrifte ten beste kan benut
    Ons Koninkryksbediening—1995
  • Vind belangstellendes deur doeltreffende straatgetuieniswerk
    Ons Koninkryksbediening—1994
  • Nuwe inisiatiewe vir openbare getuieniswerk
    Ons Koninkryksbediening—2013
  • Hoe om in sakegebied te getuig
    Ons Koninkryksbediening—2004
Sien nog
Ons Koninkryksbediening—1996
km 9/96 bl. 3-5

Verkondig die goeie nuus oral

1 Die vroeë Christene het die goeie nuus oral verkondig. Hulle was so ywerig dat die Koninkryksboodskap binne 30 jaar ná Jesus Christus se opstanding “verkondig is in die hele skepping wat onder die hemel is”.—Kol. 1:23.

2 Jehovah se ywerige hedendaagse knegte het dieselfde doelwit—om almal wat ons kan met die goeie nuus van die Koninkryk te bereik. Wat kan ons help om hierdie doelwit te bereik? In baie dele van ons gebied, veral op die platteland, vind ons nog mense tuis wanneer ons van huis tot huis gaan. Hoewel dit wat in hierdie byvoegsel bespreek word nie ons huis-tot-huis-bediening vervang nie, werk al hoe meer mense voltyds en is hulle dikwels nie tuis wanneer ons hulle besoek nie. Wanneer hulle nie werk nie, is hulle dalk op pad iewers heen, doen hulle miskien inkopies of neem hulle aan die een of ander vorm van ontspanning deel. Hoe word verdienstelikes onder hulle met die Koninkryksboodskap bereik?—Matt. 10:11.

3 Daar word met sommige by hulle werksplek in aanraking gekom. Selfs klein dorpies het ’n sakegebied waar baie mense die grootste deel van die dag deurbring. In groot stede kry mense wat in nywerheidsgebiede of hoë kantoorgeboue werk en diegene wat in woonstelgeboue met streng sekuriteit woon ’n getuienis—baie vir die eerste keer. Daar is gevind dat sommige met wie daar oor naweke in aanraking gekom word terwyl hulle in parke, ontspanningsterreine, kampeerplekke of in vakansiehuisies ontspan, of wat in parkeerterreine of winkelsentrums wag, gunstig op die goeie nuus reageer.

4 Al hoe meer verkondigers wend ’n spesiale poging aan om in openbare plekke, waar mense ook al gevind kan word, te getuig. Hierdie Getuies het aanvanklik huiwerig en ietwat senuweeagtig gevoel omdat hulle gewoond was om in formeler situasies te getuig, soos van huis tot huis. Hoe voel hulle nou?

5 “Dit het nuwe lewe aan my bediening gegee!” sê een ervare broer. Nog een voeg by: “Dit hou my ingestel op die bediening.” ’n Ouer pionier sê: “Dit is verstandelik, fisies en geestelik versterkend, . . . en ek bly groei.” ’n Verkondiger meld dat hy nou baie mense bereik wat nog nooit vantevore met Jehovah se Getuies gepraat het nie. Jongmense deel ook in die gees van hierdie genotvolle werk. ’n Jong persoon het hom so uitgedruk: “Dis lekker, want jy kan met soveel mense praat.” Nog een sê: “Ek versprei meer lektuur as ooit tevore!” Dit alles vind plaas in gebiede wat oor en oor gewerk word.

6 Reisende opsieners neem die leiding: Die Genootskap besef dat ‘die toneel van hierdie wêreld aan die verander is’, en daarom het hulle onlangs voorgestel dat reisende opsieners hulle velddiensrooster van week tot week aanpas sodat soveel mense moontlik met die goeie nuus bereik kan word (1 Kor. 7:31). Kringopsieners het jare lank die oggende in die week opsy gesit om aan die huis-tot-huis-werk deel te neem, terwyl die middae gebruik is om herbesoeke te doen en tuisbybelstudies te hou. In sommige gebiede is daardie rooster dalk nog prakties. In ander gebiede word daar dalk min bereik deur op sekere oggende in die week van huis tot huis te werk. In sulke gevalle sal die reisende opsiener dalk besluit dat dit beter sal wees om vroeg in die dag aan winkel-tot-winkel- of straatwerk deel te neem. Of hy kan reël dat klein groepies in hoë kantoorgeboue, winkelgebiede, parkeerterreine of ander openbare plekke getuig. As verkondigers die tyd wat vir velddiens opsy gesit word beter benut, sal hulle baie meer mense bereik.

7 Verslae dui daarop dat hierdie aanpassing baie goed ontvang is deur reisende opsieners sowel as verkondigers. ’n Aantal liggame van ouer manne het die kringopsiener gevra om ’n paar verkondigers op te lei in sekere fasette van die werk wat plaaslik aandag nodig het. Hierdie verkondigers het dit nuttig gevind om die reisende opsiener te vergesel terwyl hy aan een van hierdie bedrywighede deelneem. Hulle kon op hulle beurt weer ander oplei (2 Tim. 2:2). Gevolglik word daar nou meer mense met die goeie nuus bereik.

8 Jy hoef natuurlik nie te wag totdat die kringopsiener julle besoek voordat jy hierdie ander fasette van die predikingswerk op die proef stel nie. Hier is verskeie idees wat jy dalk in julle gebied prakties sal vind:

9 Straatgetuieniswerk: ‘Waar is al die mense?’ wonder ons soms as ons op ’n weeksoggend ’n verlate woongebied besoek. Party is miskien besig om takies te verrig of inkopies te doen. Het jy al probeer om hulle deur straatgetuieniswerk te bereik? Wanneer dit behoorlik gedoen word, kan hierdie faset van die bediening baie produktief wees. Dit is beter om mense te nader en ’n vriendelike gesprek met hulle aan te knoop as om op een plek met die tydskrifte te staan. Dit is nie nodig om vir elke verbyganger te getuig nie. Praat met diegene wat nie haastig is nie, soos mense wat winkels kyk, diegene in geparkeerde motors of mense wat vir openbare vervoer wag. Aanvanklik kan jy iemand net vriendelik groet en wag dat hy reageer. As die persoon bereid is om te gesels, kan jy sy mening vra oor ’n onderwerp waarin jy dink hy dalk belang sal stel.

10 ’n Reisende opsiener het ses verkondigers genooi om saam met hom en sy vrou aan straatgetuieniswerk deel te neem. Met watter resultate? “Ons het ’n wonderlike oggend gehad!” berig hy. “Daar was nie so iets soos mense wat nie tuis is nie. Tagtig tydskrifte en baie traktate is versprei. Ons het verskeie interessante gesprekke gehad. Een van die verkondigers wat vir die eerste keer aan straatwerk deelgeneem het, het gesê: ‘Ek is al jare lank in die waarheid en ek het nie besef wat ek mis nie!’ Teen die einde van die week was die gemeente se oortollige voorraad tydskrifte uitgedun.”

11 Terwyl dieselfde reisende opsiener die volgende gemeente besoek het, het hy gehoor dat verskeie verkondigers vroeg een oggend aan straatgetuieniswerk deelgeneem het, maar slegs geringe sukses gehad het. Een suster het gedurende die ganse tyd in straatwerk met net twee mense gesels, aangesien al die ander wat sy genader het haastig op pad werk toe was. Die reisende opsiener het voorgestel dat hulle almal later in die oggend na dieselfde straat toe teruggaan. Hulle het dit gedoen en tot die middag daar gebly. Die suster wat vroeër die oggend slegs twee gesprekke gehad het, het baie beter gevaar toe sy teruggegaan het. Sy het 31 tydskrifte en 15 brosjures versprei, die name en adresse van sewe mense gekry en twee tuisbybelstudies begin! Ander in die groep het soortgelyke bemoedigende resultate gehad.

12 Wanneer jy iemand vind wat belangstelling toon, moet jy die persoon se naam, adres en telefoonnommer probeer kry. Moenie die inligting direk vra nie, maar sê dalk eerder: “Ek het hierdie gesprek geniet. Is daar enige manier waarop ons dit op ’n ander tyd kan voortsit?” Of vra: “Is daar enige manier waarop ek tuis met jou in aanraking kan kom?” Baie mense wat so genader word, stem in tot ’n herbesoek. Maak seker dat jy ’n voldoende voorraad uitnodigings het om diegene wat ons vergaderinge wil bywoon uit te nooi.

13 As jy met ’n belangstellende gesels wat in ’n ander gemeente se gebied woon, moet jy die inligting vir hulle stuur sodat die broers daar die belangstelling verder kan kweek. Sal straatgetuieniswerk ’n doeltreffende manier wees om die goeie nuus in julle gebied te versprei? Indien wel, kan jy die artikel “Vind belangstellendes deur doeltreffende straatgetuieniswerk” in Ons Koninkryksbediening vir Julie 1994 hersien. Reël dan om op ’n gepaste tyd van die dag aan straatgetuieniswerk deel te neem sodat jy soveel mense moontlik kan bereik.

14 Getuieniswerk op openbare vervoer: Een oggend het ’n aantal pioniers besluit om vir mense te getuig wat vir die bus naby ’n plaaslike kollege gewag het. Hoewel hulle ’n paar aangename gesprekke gehad het, was daar ’n probleem. Teen die tyd dat die gesprek goed gevorder het, het die bus gekom en ’n skielike einde aan die gesprek gemaak. Die pioniers het die probleem opgelos deur op die bus te klim en voort te gaan om vir die passasiers te getuig terwyl hulle na die ander kant van die dorp toe gery het. Aan die einde van die roete het die pioniers met die bus teruggery en op pad terug getuig. Ná verskeie heen-en-weer-ritte het hulle gekyk wat hulle gesamentlik bereik het: Meer as 200 tydskrifte is versprei en ses Bybelstudies is begin. Van die passasiers het gewillig hulle adres en telefoonnommer gegee sodat hulle tuis besoek kon word. Die week daarna het die pioniers na die bushalte teruggekeer en dieselfde metode gevolg. Hulle het 164 tydskrifte versprei en nog ’n Bybelstudie begin. By een halte het ’n passasier op die bus geklim en op die enigste beskikbare sitplek gaan sit—langs ’n pionier. Hy het na die broer gekyk en met ’n glimlag gesê: “Ek weet, jy het ’n Wagtoring vir my.”

15 Baie verkondigers gee ’n doeltreffende getuienis terwyl hulle per bus, trein of vliegtuig reis. Hoe kan jy met ’n passasier wat langs jou sit ’n gesprek aanknoop? Een 12-jarige verkondiger het eenvoudig ’n eksemplaar van die Ontwaak! op die bus begin lees in die hoop dat dit die tienermeisie wat langs hom gesit het se aandag sou trek. Dit het gewerk. Die meisie het vir hom gevra wat hy besig was om te lees, en die jong seun het geantwoord dat hy van die oplossing lees vir probleme waarvoor jongmense te staan kom. Hy het bygevoeg dat hy grootliks by die artikel baat gevind het en dat dit haar ook kan help. Sy het die tydskrifte met graagte geneem. Twee ander jongmense het die gesprek gehoor en ook eksemplare van die tydskrifte gevra. Daarop het die busbestuurder aan die kant van die pad stilgehou en gevra waarom daar soveel belangstelling in hierdie tydskrifte was. Toe hy die rede hoor, het hy ook eksemplare geneem. Dit alles sou natuurlik nie moontlik gewees het as die jong verkondiger nie ’n voldoende voorraad tydskrifte gehad het om vir almal aan te bied wat belangstelling getoon het nie!

16 Getuieniswerk in parke en parkeerterreine: Getuieniswerk in parke en parkeerterreine is ’n uitstekende manier om mense te bereik. Het jy al probeer om getuieniswerk in die parkeerterrein van ’n winkelsentrum te doen? Jy moet altyd eers ’n paar oomblikke neem om na jou omgewing te kyk. Soek iemand wat nie haastig is nie of wat in ’n geparkeerde motor wag, en probeer ’n vriendelike gesprek aanknoop. As die gesprek vlot, kan jy die Koninkryksboodskap inlei. Probeer om alleen te werk, maar met nog ’n verkondiger in die omtrek. Probeer om nie ’n groot sak saam te dra of op ander maniere aandag op jou werk te vestig nie. Lê goeie oordeel aan die dag. Dit is dalk beter om net ’n kort tydjie in een parkeerterrein deur te bring en dan na die volgende een te gaan. As iemand nie met jou wil praat nie, moet jy beleef verder gaan en iemand anders soek om te nader. Een broer het hierdie metodes gebruik en 90 tydskrifte in een maand versprei terwyl hy getuieniswerk in parkeerterreine gedoen het.

17 Party mense gaan na ’n park toe om te ontspan; ander gaan soontoe om ’n speletjie te speel of om tyd saam met hulle kinders deur te bring. Sonder om te veel met hulle bedrywighede in te meng, kan jy op die uitkyk wees na ’n geleentheid om ’n getuienis te gee. Een broer het ’n gesprek met die opsigter van ’n park aangeknoop en gevind dat hy bekommerd was oor dwelms en die toekoms van sy kinders. ’n Tuisbybelstudie is begin en is gereeld in die park gehou.

18 Informele getuieniswerk in winkelsentrums: Hoewel dit weens plaaslike beperkings op sulke bedrywighede nie altyd moontlik is om in winkelsentrums formeel van winkel tot winkel te getuig nie, skep party verkondigers geleenthede om informeel te getuig. Hulle gaan sit op ’n bankie en knoop ’n vriendelike gesprek met ander aan wat gaan sit om te rus. Wanneer belangstelling getoon word, bied hulle omsigtig ’n traktaat of ’n tydskrif aan en probeer reëlings vir ’n herbesoek tref. Nadat hulle ’n paar minute in een deel van die sentrum getuig het, gaan hulle na ’n ander deel en knoop met iemand anders ’n gesprek aan. Ons moet natuurlik versigtig wees sodat ons nie te veel aandag trek as ons informele getuieniswerk op hierdie manier doen nie.

19 Wanneer jy iemand groet, moet jy die gesprek op ’n vriendelike toon begin. As die persoon wat na jou luister gunstig reageer, kan jy ’n vraag stel; luister dan aandagtig terwyl hy praat. Stel persoonlik belang in wat hy sê. Toon dat jy waarde aan sy opinie heg. Stem met hom saam, waar moontlik.

20 Een suster het ’n heerlike gesprek met ’n bejaarde dame gehad deur te meld hoe hoog die lewenskoste geword het. Die vrou het geredelik saamgestem en ’n lewendige gesprek het gevolg. Die suster kon die vrou se naam en adres kry, en ’n herbesoek is nog daardie selfde week gedoen.

21 Wanneer ons van winkel tot winkel werk: Sommige gemeentes het sakegebied as deel van hulle toegewese gebied. Die broer wat na die gebied omsien, kan spesiale gebiedskaarte van hierdie dig gekonsentreerde sakedele voorberei. Enige kaart van ’n woongebied wat dit oorvleuel, moet duidelik aandui dat die sakeondernemings nie as deel van die gebied gewerk moet word nie. In ander gebiede kan sakeondernemings saam met die wonings gewerk word. Die ouer manne kan bekwame verkondigers nooi om gereeld in die sakegebiede te werk sodat getuieniswerk van winkel tot winkel nie afgeskeep word nie.

22 As jy genooi word om aan hierdie werk deel te neem en jy dit nog nooit voorheen gedoen het nie, is ’n goeie manier om ‘vrymoedigheid bymekaar te skraap’ om eers ’n paar kleiner winkels te werk; wanneer jy dan meer vertroue het, kan jy die groter winkels werk (1 Tess. 2:2). Wanneer jy van winkel tot winkel werk, moet jy aantrek soos wat jy vir ’n vergadering by die Koninkryksaal sal doen. Indien moontlik moet jy die winkel binnegaan wanneer daar nie klante is wat wag om bedien te word nie. Vra om met die bestuurder te praat. Wees hartlik, en bowenal, saaklik. Dit is glad nie nodig om verskonend te wees nie. Baie sakeondernemings is ingestel op klante en verwag onderbrekings.

23 Nadat jy die winkelier gegroet het, kan jy iets sê soos: “Sakemense is so besig dat ons hulle selde tuis vind, en daarom besoek ons u hier by u werksplek om vir u ’n gedagteprikkelende artikel aan te bied om te lees.” Maak dan een of twee opmerkings oor ’n tydskrif wat aangebied word.

24 Of jy kan die volgende probeer wanneer jy ’n bestuurder nader: “Ons het opgelet dat sakemense hulle daarop toelê om goed ingelig te wees. Die jongste nommer van Die Wagtoring (of Ontwaak!) bevat ’n artikel wat ons almal persoonlik raak.” Verduidelik wat dit is, en sluit af deur te sê: “Ons is seker u sal geniet om dit te lees.”

25 As daar werknemers is, en dit lyk gepas, kan jy dalk byvoeg: “Sal u omgee as ek dieselfde kort aanbieding by u werknemers doen?” As toestemming gegee word, moet jy onthou dat jy belowe het om saaklik te wees, en die bestuurder sal van jou verwag om jou woord te hou. As enige werknemers by ’n lang gesprek betrokke wil raak, sal dit beter wees om hulle tuis te besoek.

26 ’n Paar verkondigers in ’n klein dorpie het onlangs saam met die kringopsiener aan winkel-tot-winkel-getuieniswerk deelgeneem. Van die verkondigers was aanvanklik skrikkerig omdat hulle die werk nog nooit vantevore gedoen het nie; maar hulle het gou ontspan en dit begin geniet. In minder as ’n uur het hulle met 37 mense gesels en 24 tydskrifte en 4 brosjures versprei. Een broer het gesê dat hulle gewoonlik in een maand van huis-tot-huis-werk nie met soveel mense in aanraking sou kon kom as wat hulle in daardie kort tydjie van winkel tot winkel gedoen het nie.

27 Skep geleenthede om te preek: Jesus het nie sy getuieniswerk tot formele situasies beperk nie. Hy het die goeie nuus by elke gepaste geleentheid verkondig (Matt. 9:9; Luk. 19:1-10; Joh. 4:6-15). Let op die geleenthede wat sommige verkondigers skep om te preek.

28 Party maak ’n gewoonte daarvan om vir ouers te getuig wat vir hulle kinders naby die ingang van ’n skool wag. Aangesien baie ouers tot 20 minute vroeg opdaag, is daar tyd om ’n interessante gesprek oor ’n skriftuurlike onderwerp met hulle te hê.

29 Baie pioniers lê hulle daarop toe om mense te bereik wat ’n spesiale belangstelling het in ’n spesifieke onderwerp wat in ons tydskrifte bespreek word. Een suster het byvoorbeeld gunstige reaksies gekry deur ses skole in haar gemeente se gebied te besoek met die reeks artikels “Skole in ’n krisis”, wat in die Ontwaak! van 22 Desember 1995 verskyn het. Sy het ook maatskaplike dienste besoek met tydskrifte oor die gesinslewe en kindermolestering en is genooi om gereeld terug te keer met toekomstige nommers wat oor soortgelyke onderwerpe handel. Die reaksie wat sy by die arbeidsburo ontvang het op die Ontwaak! van 8 Maart 1996 oor werkloosheid is beskryf as “oorweldigend”.

30 ’n Streekopsiener berig dat hy en sy vrou gereeld informeel getuig terwyl hulle hulle inkopies doen. Hulle koop op ’n tyd van die dag wanneer die winkel nie te besig is nie, en die klante rustig op en af tussen die rakke beweeg. Hulle berig dat hulle talle aangename gesprekke het.

31 Baie verkondigers berig dat hulle goeie resultate kry deur vir mense in openbare wasserye te getuig. Hulle laat nie bloot tydskrifte agter wanneer daar niemand is nie. Hulle doelwit is om mense met die goeie nuus te bereik, en daarom probeer hulle persoonlik met diegene praat wat die fasiliteite gebruik.

32 Op party plekke het sekere verkondigers toestemming om getuieniswerk by lughawens te doen. Hulle het die vreugde ondervind om vir internasionale reisigers te getuig wat in lande woon waar Jehovah se volk klein in getal is. Waar belangstelling gevind word, bied hulle ’n traktaat of die tydskrifte aan.

33 As hulle nie toegelaat word om persoonlik vir die huurders van woonstelle met streng sekuriteit te getuig nie, het party ’n gewoonte daarvan gemaak om taktvol vir die sekuriteitswagte aan diens of vir die bestuurders in die huurkantore te getuig. Dieselfde metode word by privaat, omheinde gemeenskappe gevolg. ’n Kringopsiener en ’n paar verkondigers het sewe woonstelblokke op hierdie manier besoek. By elkeen het hulle vir die bestuurder gesê dat hulle nie wil hê hy moet die inligting in die jongste tydskrifte misloop nie, al word hulle nie toegelaat om die woonstelle op die gebruiklike manier te besoek nie. Die bestuurders by al sewe woonstelblokke het die tydskrifte met graagte geneem en ook vir die volgende nommers gevra! Daar word dan per telefoon met die inwoners van sulke woonstelblokke in aanraking gekom. Jy sal praktiese inligting oor telefoon-getuieniswerk vind in die byvoegsel “Telefoon-getuieniswerk—’n Manier om baie mense te bereik” tot Ons Koninkryksbediening vir Augustus 1993.

34 Span jou in om oral te getuig: As ons ons toewyding wil naleef, behels dit dat ons ’n gevoel van dringendheid moet hê oor ons toewysing om die Koninkryksboodskap te verkondig. Ons moet ons persoonlike voorkeure opsy stoot as ons mense wil bereik op ’n tyd wat vir hulle geleë is, sodat ons “op elke moontlike manier sommige [kan] red”. Alle toegewyde knegte van Jehovah sal graag, soos die apostel Paulus, wil sê: “Ek doen alles ter wille van die goeie nuus, sodat ek met ander ’n deelgenoot daarvan kan word.”—1 Kor. 9:22, 23.

35 Paulus het verder geskryf: “Met die grootste genoeë sal ek dus liewer in verband met my swakhede roem, sodat die krag van die Christus soos ’n tent oor my kan bly. . . . Want wanneer ek swak is, dan is ek kragtig” (2 Kor. 12:9, 10). Met ander woorde, nie een van ons kan hierdie werk in ons eie krag doen nie. Ons moet tot Jehovah bid vir sy kragtige heilige gees. As ons tot God bid vir krag kan ons daarvan seker wees dat hy ons gebede sal verhoor. Dan sal ons liefde vir mense ons beweeg om na geleenthede te soek om die goeie nuus aan hulle te verkondig, waar hulle ook al gevind kan word. Waarom probeer jy nie gedurende die komende week een van die wenke in hierdie byvoegsel toepas nie?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel