Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w10 10/1 bl. 14-18
  • Hy “het grootgeword by Jehovah”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hy “het grootgeword by Jehovah”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hy het “as ’n seun voor Jehovah gedien”
  • Hy het rein gebly te midde van verdorwenheid
  • “Spreek, want u kneg luister”
  • ‘Samuel het Jehovah aangeroep’
  • Hy “het grootgeword by Jehovah”
    Volg hulle geloof na
  • Samuel het bly doen wat reg is
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Samuel het aangehou om te doen wat reg is
    Leer jou kinders
  • Jehovah praat met Samuel
    Lesse wat jy kan leer uit die Bybel
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
w10 10/1 bl. 14-18

Volg hulle geloof na

Hy “het grootgeword by Jehovah”

SAMUEL het na die gesigte van sy volksgenote gekyk. Die nasie het by die dorp Gilgal vergader nadat hulle byeengeroep is deur hierdie getroue man wat dekades lank as ’n profeet en rigter gedien het. Dit was Mei of Junie volgens die hedendaagse kalender, diep in die droë seisoen. Die koring was goud op die lande, gereed om geoes te word. ’n Stilte het oor die skare gesak. Hoe kon Samuel hulle harte bereik?

Die volk het nie verstaan hoe ernstig hulle situasie was nie. Hulle het vroeër daarop aangedring dat ’n mensekoning oor hulle heers. Hulle het nie begryp dat hulle ’n ernstige gebrek aan eerbied vir hulle God, Jehovah, en vir sy profeet getoon het nie. Hulle het Jehovah in werklikheid as hulle Koning verwerp! Hoe kon Samuel hulle beweeg om berou te toon?

Samuel het gepraat. “Ek het oud en grys geword”, het hy vir die skare gesê. Sy grys hare het gewig aan sy woorde verleen. Toe het hy gesê: “Ek het van my jeug af tot vandag toe voor julle gewandel” (1 Samuel 11:14, 15; 12:2). Hoewel Samuel oud was, het hy nie sy kinderjare vergeet nie. Sy herinneringe aan daardie vroeë dae was nog helder. Die besluite wat hy as ’n seun geneem het, het hom gelei tot ’n lewe van geloof en toegewydheid aan sy God, Jehovah.

Samuel moes sy geloof voortdurend opbou en handhaaf. En hy het dit gedoen hoewel hy deur ontroue en dislojale mense omring is. Vandag is dit net so ’n uitdaging om geloof op te bou, aangesien ons in ’n ontroue en verdorwe wêreld lewe. Kom ons kyk wat ons uit Samuel se voorbeeld, vanaf sy vroeë kinderjare, kan leer.

Hy het “as ’n seun voor Jehovah gedien”

Samuel se kinderjare was buitengewoon. Kort nadat hy gespeen is, moontlik op die ouderdom van vier of wat, het hy ’n lewe van diens begin by die heilige tabernakel van Jehovah by Silo, meer as 30 kilometer van sy tuisdorp Rama. Sy ouers, Elkana en Hanna, het hulle seun in ’n spesiale vorm van diens aan Jehovah gewy, wat beteken het dat hy lewenslank ’n Nasireër sou wees.a Het Samuel se ouers hom verstoot of nie liefgehad nie?

Beslis nie! Hulle het geweet dat daar in Silo na hulle seun omgesien sou word. Die hoëpriester Eli het ongetwyfeld oor sake toesig gehou, want Samuel het ten nouste met hom saamgewerk. Daar was ook ’n aantal vroue wat die een of ander diens in verband met die tabernakel verrig het, klaarblyklik op ’n georganiseerde wyse.—Eksodus 38:8.

Hanna en Elkana het boonop nooit hulle geliefde eersgeborene, wie se geboorte ’n antwoord op ’n gebed was, vergeet nie. Hanna het God vir ’n seun gevra en het belowe om hom in ’n lewe van heilige diens aan God te wy. Wanneer hulle Samuel elke jaar besoek het, het Hanna vir hom ’n nuwe moulose oorkleed gebring wat sy vir sy tabernakeldiens gemaak het. Die seuntjie het daardie besoeke sekerlik baie waardeer. Hy het ongetwyfeld gefloreer op sy ouers se liefdevolle aanmoediging en leiding terwyl hulle hom geleer het wat ’n voorreg dit is om Jehovah by daardie unieke plek te dien.

Hedendaagse ouers kan baie by Hanna en Elkana leer. Wanneer dit kom by die grootmaak van kinders, spits ouers hulle oor die algemeen op materiële dinge toe en ignoreer hulle geestelike behoeftes. Maar Samuel se ouers het geestelike dinge eerste gestel, en dit het ’n groot invloed gehad op die soort man wat hulle seun geword het.—Spreuke 22:6.

Ons kan ons voorstel hoe die seun groter geword en die heuwels om Silo verken het. Terwyl hy uitgekyk het oor die dorp en die vallei wat daaronder aan die een kant uitgesprei gelê het, het sy hart waarskynlik oorgeloop van vreugde en trots wanneer hy Jehovah se tabernakel gesien het. Die tabernakel was inderdaad ’n heilige plek.b Dit is byna 400 jaar tevore onder die toesig van Moses gebou en was die enigste sentrum van die ware aanbidding van Jehovah in die hele wêreld.

Die jong Samuel het lief geword vir die tabernakel. In die verslag wat hy later geskryf het, lees ons: “Samuel het as ’n seun voor Jehovah gedien, omgord met ’n linne-efod” (1 Samuel 2:18). Hierdie eenvoudige moulose kleed het blykbaar aangedui dat Samuel die priesters by die tabernakel gehelp het. Hoewel Samuel nie tot die priesterklas behoort het nie, het sy pligte ingesluit om soggens die deure wat op die tabernakel se voorhof uitgeloop het, oop te maak en die bejaarde Eli te bedien. Maar al het hy sy voorregte baie geniet, het sy onskuldige hart ná verloop van tyd verontrus geraak. Daar was groot fout in Jehovah se huis.

Hy het rein gebly te midde van verdorwenheid

Samuel het op ’n jong ouderdom groot goddeloosheid en verdorwenheid gesien. Eli het twee seuns, genaamd Hofni en Pinehas, gehad. Samuel se verslag sê: “Die seuns van Eli was deugniete; hulle het Jehovah nie erken nie” (1 Samuel 2:12). Die twee gedagtes in hierdie vers gaan hand aan hand. Hofni en Pinehas was “deugniete”—letterlik “seuns van waardeloosheid”—omdat hulle geen agting vir Jehovah gehad het nie. Hulle het sy regverdige standaarde en vereistes geminag. Uit hierdie tekortkoming het al hulle ander sondes voortgespruit.

God se Wet het die priesters se pligte en die manier waarop hulle offerandes by sy tabernakel moes bring, duidelik uiteengesit. En met goeie rede! Hierdie offerandes het God se voorsienings verteenwoordig om sondes te vergewe sodat mense in sy oë rein kon wees en vir sy seën en leiding in aanmerking kon kom. Maar Hofni en Pinehas het hulle medepriesters beïnvloed om die offerandes met groot minagting te behandel.c

Stel jou voor hoe die jong Samuel met groot oë toegekyk het terwyl hierdie ernstige misbruike ongestraf voortgeduur het. Hoeveel mense—insluitende arm, nederige, onderdrukte persone—het hy na daardie heilige tabernakel sien kom in die hoop om geestelike vertroosting en krag te vind, maar teleurgesteld, gekwets of verneder daar sien weggaan? En hoe het hy gevoel toe hy uitvind dat Hofni en Pinehas ook Jehovah se wette oor geslagsedelikheid verontagsaam, aangesien hulle geslagsomgang gehad het met party van die vroue wat daar by die tabernakel gedien het? (1 Samuel 2:22). Dalk het hy gehoop dat Eli iets daaromtrent sou doen.

Eli was in die beste posisie om die groeiende probleem reg te stel. As die hoëpriester was hy verantwoordelik vir wat by die tabernakel gebeur. As ’n vader was dit sy plig om sy seuns tereg te wys. Hulle het immers hulleself sowel as tallose ander in die land skade berokken. Eli het egter in albei opsigte, as vader en as hoëpriester, te kort geskiet. Hy het sy seuns net ligtelik berispe (1 Samuel 2:23-25). Maar sy seuns het baie strenger dissipline nodig gehad. Hulle het sondes gepleeg wat die dood verdien het!

Dinge het so erg geword dat Jehovah “’n man van God”, ’n ongenoemde profeet, met ’n sterk oordeelsboodskap na Eli gestuur het. Jehovah het vir Eli gesê: “Jy [bly] jou seuns meer as my eer.” God het dus voorspel dat Eli se goddelose seuns op een dag sou sterf en dat Eli se familie grootliks sou ly en selfs hulle bevoorregte posisie in die priesterlike klas sou verloor. Het hierdie kragtige waarskuwing ’n verandering in daardie familie teweeggebring? Die verslag toon nie dat daar enige verandering van hartstoestand was nie.—1 Samuel 2:27–3:1.

Watter uitwerking het al hierdie verdorwenheid op die jong Samuel gehad? Van tyd tot tyd vind ons in hierdie sombere verslag helder ligstrale, goeie nuus oor Samuel se ontwikkeling en vooruitgang. Onthou dat ons in 1 Samuel 2:18 gelees het dat Samuel getrou “as ’n seun voor Jehovah gedien” het. Selfs op daardie jong ouderdom het Samuel sy diens aan God die middelpunt van sy lewe gemaak. In vers 21 van dieselfde hoofstuk lees ons iets wat selfs hartverblydender is: “Die seun Samuel het grootgeword by Jehovah.” Namate hy ouer geword het, het sy band met sy hemelse Vader sterker geword. So ’n hegte persoonlike verhouding met Jehovah is die beste beskerming teen enige vorm van verdorwenheid.

Samuel kon maklik geredeneer het dat— as die hoëpriester en sy seuns voor sonde kan swig— hy net so wel kan doen wat hy wil. Maar die verdorwenheid van ander, insluitende dié in gesagsposisies, is nooit ’n verskoning om te sondig nie. Vandag volg talle jong Christene Samuel se voorbeeld en ‘word hulle groot by Jehovah’—selfs wanneer party om hulle nie ’n goeie voorbeeld stel nie.

Hoe het hierdie weg vir Samuel afgeloop? Ons lees: “Die hele tyd het die seun Samuel groter en meer geliefd geword vanuit Jehovah se standpunt sowel as vanuit dié van mense” (1 Samuel 2:26). Samuel was dus geliefd, ten minste by dié wie se opinies saak gemaak het. Jehovah het hierdie seun weens sy getrouheid gekoester. En Samuel het sekerlik geweet dat sy God teen al die verdorwenheid in Silo sou optree, maar dalk het hy gewonder wanneer dit sou gebeur.

“Spreek, want u kneg luister”

Een nag is hierdie vrae beantwoord. Dit was amper oggend maar nog donker; die flikkerende lig van die tent se groot lamp het nog gebrand. In die stilte het Samuel ’n stem gehoor wat sy naam roep. Hy het gedink dat dit Eli is, wat nou baie oud en byna blind was. Samuel het opgestaan en na die ou man toe “gehardloop”. Kan jy in jou verbeelding sien hoe die seun kaalvoet na Eli toe hardloop om uit te vind wat hy nodig het? Dit is aangrypend om te sien dat Samuel Eli met respek en liefde behandel het. Ondanks al sy sondes was Eli nog steeds Jehovah se hoëpriester.—1 Samuel 3:2-5.

Samuel het Eli wakker gemaak en gesê: “Hier is ek, want u het my geroep.” Maar Eli het gesê dat hy nie geroep het nie en het die seun teruggestuur bed toe. Wel, dieselfde ding het weer en toe weer gebeur! Uiteindelik het Eli besef wat aangaan. Dit het iets seldsaams geword vir Jehovah om ’n visioen of ’n profetiese boodskap aan sy volk te stuur, en dit is nie moeilik om te sien waarom nie. Maar Eli het geweet dat Jehovah nou weer spreek—dié keer tot hierdie seun! Eli het vir Samuel teruggestuur bed toe en vir hom gesê hoe om op gepaste wyse te antwoord. Samuel het hom gehoorsaam. Kort voor lank het hy die stem hoor roep: “Samuel, Samuel!” Die seun het geantwoord: “Spreek, want u kneg luister.”—1 Samuel 3:1, 5-10.

Jehovah het uiteindelik ’n kneg in Silo gehad wat luister. Dít het Samuel se lewenspatroon geword. Is dit joune? Ons hoef nie te wag dat ’n bonatuurlike stem in die nag met ons praat nie. Vandag is God se stem in sekere sin altyd daar. Dit is daar in sy voltooide Woord, die Bybel. Hoe meer ons na God luister en hom gehoorsaam, hoe sterker sal ons geloof word. Dit was die geval met Samuel.

Daardie nag in Silo was ’n mylpaal in Samuel se lewe, want van toe af het hy Jehovah in ’n spesiale sin leer ken en God se profeet en woordvoerder geword. Die seun was aanvanklik bang om Jehovah se boodskap aan Eli oor te dra, aangesien dit ’n finale uitspraak was dat die profesie teen daardie familie binnekort bewaarheid sou word. Maar Samuel het die moed bymekaargeskraap—en Eli het hom nederig berus by God se oordeel. Kort daarna is alles wat Jehovah gesê het, vervul. Israel het teen die Filistyne oorlog gaan voer, en Hofni en Pinehas is op een dag doodgemaak. Eli het gesterf toe hy hoor dat Jehovah se heilige ark buitgemaak is.—1 Samuel 3:10-18; 4:1-18.

Samuel het egter al hoe bekender geword as ’n getroue profeet. “Jehovah was met hom”, sê die verslag en voeg by dat Jehovah nie een van Samuel se profesieë laat faal het nie.—1 Samuel 3:19.

‘Samuel het Jehovah aangeroep’

Maar het dit beteken dat die Israeliete Samuel se voorbeeld gevolg het en ’n geestelike, getroue volk geword het? Nee. Ná verloop van tyd het hulle besluit dat hulle nie wou hê dat ’n blote profeet hulle moet rig nie. Hulle wou soos ander nasies wees en ’n mensekoning hê wat oor hulle heers. Op Jehovah se bevel het Samuel aan hulle versoek voldoen. Maar hy moes Israel die erns van hulle sonde laat besef. Hulle het nie ’n blote mens verwerp nie, maar Jehovah self! Daarom het hy die volk by Gilgal byeengeroep.

Kom ons gaan nou terug na daardie spanningsvolle geleentheid toe hy Israel by Gilgal toegespreek het. Daar het die bejaarde Samuel Israel aan sy rekord van onkreukbaarheid herinner. Dan lees ons: “Samuel [het] Jehovah aangeroep.” Hy het Jehovah gevra om ’n donderstorm te gee.—1 Samuel 12:17, 18.

’n Donderstorm? In die droë seisoen? So iets was ongehoord! As enigiemand hoegenaamd skepties was of gespot het, het dit nie lank geduur nie. Donker wolke het saamgepak. Die wind het die koring op die lande platgevee. Donderslae het gedreun en gerommel. En die reën het neergestort. Die reaksie? “Die hele volk [het] Jehovah en Samuel baie gevrees.” Uiteindelik het hulle besef hoe ernstig hulle gesondig het.—1 Samuel 12:18, 19.

Dit was nie Samuel nie, maar sy God, Jehovah, wat hulle opstandige harte bereik het. Vanaf sy jeug tot op sy ou dag het Samuel geloof gestel in sy God. En Jehovah het hom beloon. Jehovah het tot vandag toe nie verander nie. Hy onderskraag nog steeds dié wat die geloof van Samuel navolg.

[Voetnote]

a Die Nasireërs is deur ’n gelofte gebind waarvolgens hulle onder meer nie alkohol mag gedrink en hulle hare mag gesny het nie. Die meeste het so ’n gelofte net vir ’n bepaalde tyd afgelê, maar ’n paar, soos Simson, Samuel en Johannes die Doper, was lewenslange Nasireërs.

b Die tabernakel was reghoekig, basies ’n groot tent oor ’n houtraamwerk. Maar dit was gemaak van die allerbeste materiale—robbevelle, pragtig geborduurde doeke asook duur hout wat met silwer en goud bedek was. Die tabernakel het in ’n reghoekige voorhof gestaan waarin daar ’n indrukwekkende altaar vir offerandes was. Mettertyd is ander vertrekke klaarblyklik aan die kante van die tabernakel opgerig vir die gebruik van die priesters. Samuel het blykbaar in een van hierdie vertrekke geslaap.

c Die verslag bevat twee voorbeelde van minagting. Eerstens, die Wet het voorgeskryf watter dele van ’n offerande aan die priesters gegee moes word om te eet (Deuteronomium 18:3). Maar by die tabernakel het die goddelose priesters ’n heeltemal ander gebruik gevolg. Hulle het hulle dienaars eenvoudig ’n groot vurk laat steek in die pot waarin die vleis gekook het en enige smaaklike stuk wat uitgekom het, laat neem! Tweedens, wanneer mense hulle offerandes gebring het om op die altaar gebrand te word, het die goddelose priesters dat ’n dienaar die offeraar intimideer en die rou vleis eis nog voordat die vet van die offerande aan Jehovah geoffer is.—Levitikus 3:3-5; 1 Samuel 2:13-17.

[Prent op bladsy 17]

Ondanks sy vrees het Samuel Jehovah se oordeelsboodskap getrou aan Eli oorgedra

[Prent op bladsy 18]

Samuel het in geloof gebid, en Jehovah het met ’n donderstorm geantwoord

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel