Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w11 11/15 bl. 15-16
  • “Ek is nou gestremd, maar nie vir ewig nie!”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Ek is nou gestremd, maar nie vir ewig nie!”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ek bied terugslae die hoof
  • ’n Onverwagte huweliksaanbod
  • Gestremd—En tog in staat om te bestuur
    Ontwaak!—1996
  • Dankbaar vir Jehovah se onfeilbare ondersteuning
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • “O Jehovah, laat my dogtertjie tog getrou bly!”
    Ontwaak!—1993
  • ’n Positiewe uitkyk ondanks gebreke
    Ontwaak!—2000
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
w11 11/15 bl. 15-16

“Ek is nou gestremd, maar nie vir ewig nie!”

Soos vertel deur Sara van der Monde

Mense sê dikwels vir my: “Sara, jy het so ’n mooi glimlag. Waarom is jy altyd so gelukkig?” Ek sê dan vir hulle dat ek ’n wonderlike hoop het. Dit word opgesom in hierdie woorde: “Ek is nou gestremd, maar nie vir ewig nie!”

EK IS in 1974 in Parys, Frankryk, gebore. Daar was probleme tydens my geboorte, en later is ek met serebrale verlamming gediagnoseer. Ek kon my arms en bene nie veel beweeg nie, en dit was moeilik om my te verstaan wanneer ek gepraat het. Ek het ook epileptiese aanvalle begin kry en was vatbaar vir infeksies.

Toe ek twee jaar oud was, het ons gesin na Melbourne, Australië, getrek. Twee jaar later het my pa my en my ma verlaat. Sover ek kan onthou, was dit die eerste keer dat ek na aan God gevoel het. My ma, een van Jehovah se Getuies, het my gereeld na Christelike vergaderinge geneem, waar ek geleer het dat God my liefhet en vir my omgee. Hierdie kennis, sowel as my ma se liefde en versekering, het my gehelp om veilig te voel ondanks ons veranderde omstandighede.

My ma het my ook geleer hoe om tot Jehovah te bid. Om die waarheid te sê, dit is vir my makliker om te bid as om te praat. Wanneer ek bid, hoef ek nie te sukkel om die woorde uit te spreek nie, maar ek “hoor” dit duidelik in my gedagtes. En omdat dit vir ander moeilik is om my spraak te verstaan, is dit gerusstellend om te weet dat Jehovah alles verstaan, of ek dit nou saggies in my verstand sê of sukkel om die woorde uit te spreek.—Ps. 65:2.

Ek bied terugslae die hoof

Teen die tyd dat ek vyf was, het my verlamming in so ’n mate vererger dat ek swaar loopysters nodig gehad het om te kan loop. Ek het eerder gewaggel as geloop! Teen die tyd dat ek 11 was, kon ek nie eens meer loop nie. Later kon ek nie meer in of uit die bed kom sonder die hulp van ’n elektriese hystoestel om my in my gemotoriseerde rolstoel—wat ek met ’n handhefboom stuur—te sit nie.

Ek moet erken dat my gestremdheid my soms terneergedruk laat voel. Maar dan dink ek aan ons gesin se leuse: “Moet jou nie bekommer oor die dinge wat jy nie kan doen nie. Doen die dinge wat jy kan!” Dit het my in staat gestel om perd te ry, in ’n boot te seil, in ’n kano te vaar, te kampeer en selfs ’n motor te bestuur op ’n pad waar daar geen verkeer was nie! Ek gee uiting aan my kunssinnigheid deur te skilder en naaldwerk, kwiltwerk en borduurwerk te doen asook erdeware te maak.

As gevolg van my ernstige gestremdheid het party my vermoë om God as ’n intelligente volwassene te aanbid, bevraagteken. Toe ek 18 was, het ’n onderwyseres my aangespoor om die huis te verlaat om “weg te kom” van my ma se godsdiens. Sy het selfs aangebied om my te help om verblyf te vind. Maar ek het vir haar gesê dat ek nooit my godsdiens sal verlaat nie en dat ek die huis net sal verlaat wanneer ek gereed is om onafhankliker te wees.

Kort ná die voorval met my onderwyseres is ek as een van Jehovah se Getuies gedoop. Twee jaar later het ek in ’n klein woonstel ingetrek. Hier geniet ek die ondersteuning van ander sowel as my onafhanklikheid.

’n Onverwagte huweliksaanbod

Oor die jare heen het ek voor ander toetse van geloof te staan gekom. Eendag was ek stomgeslaan toe ’n medestudent—wat ook gestremd is—my gevra het om met hom te trou. Ek het eers gevlei gevoel. Soos die meeste jong vroue, smag ek daarna om ’n lewensmaat te hê. Maar die feit dat ons ’n gebrek in gemeen het, is geen waarborg dat ons ’n gelukkige huwelik sou hê nie. Wat meer is, hierdie jong man het nie aan dieselfde godsdiens as ek behoort nie. Ons opvattings, bedrywighede en doelwitte het heeltemal verskil. Hoe kon ons dan ’n lewe saam bou? Ek was ook vasbeslote om God se duidelike riglyn te volg om net met ’n medegelowige te trou (1 Kor. 7:39). Ek het derhalwe beleefd vir die jong man gesê dat ek nie sy aanbod kan aanvaar nie.

Vandag nog weet ek dat ek die regte besluit geneem het. En ek twyfel nie vir ’n oomblik dat ek in God se beloofde nuwe wêreld gelukkig sal wees nie (Ps. 145:16; 2 Pet. 3:13). Intussen is ek vasbeslote om lojaal te bly aan Jehovah en vergenoeg te wees met my huidige omstandighede.

Ek sien uit na die dag wanneer ek uit my rolstoel sal kan spring en so vinnig soos die wind sal kan hardloop. Dan sal ek uitroep: “Ek was gestremd, maar nou is ek blakend gesond—vir ewig!”

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel