Help nuwelinge om deel te hê aan Koninkryksvermeerdering
1 Dit verskaf ons groot vreugde om te sien hoe talle nuwelinge aan die goeie nuus gehoor gee gedurende hierdie tyd van Koninkryksvermeerdering. Namate hulle kennis en waardering toeneem, begin hulle vergaderinge bywoon en wil hulle kort daarna as gereelde Koninkryksverkondigers die dinge wat hulle leer met ander deel. Dit bied ’n uitdaging en bykomende verantwoordelikheid vir diegene van ons wat reeds ervare is in velddiens. Nuwelinge moet aangemoedig en opgelei word sodat hulle bekwaam sal wees in die bediening.
2 Daar is gedurende die 1984-diensjaar 1 927 in Suid-Afrika gedoop. Word al hierdie nuwelinge persoonlik gehelp sodat hulle bekwame bedienaars kan word?
LEI HULLE OP VIR VELDDIENS
3 Dit is ’n ernstige saak om nuwelinge te help sodat hulle bedrewe kan word in die bediening. Bou dus voort op hulle aanvanklike entoesiasme en ywer en help hulle om bekwaam te word in die veld. Ons wil nie hê dat hulle aanvanklike geesdrif en ywer moet af neem nie, en dit sal nie gebeur as ons hulle van die nodige opleiding voorsien nie.
4 Opleiding vir velddiens moet vroeg begin. Spoor studente aan om hulle familielede, bure, vriende en kennisse te vertel wat hulle leer. Vertel hulle dat slegs ’n paar van die met wie hulle praat gunstig op die goeie nuus sal reageer (Matt. 7:13, 14). Maar help hulle terselfdertyd om te besef watter vreugde dit die onsigbare sowel as die sigbare dele van God se organisasie verskaf wanneer selfs een persoon luister.—Luk. 15:10.
JOU PERSOONLIKE VERANTWOORDELIKHEID
5 Bestudeer jy tans die Bybel saam met iemand? Kwalifiseer die persoon om saam met jou velddiens te doen? Spoor hom aan om gereeld elke week aan die diens deel te neem nadat hy ’n goedgekeurde metgesel geword het. Gebruik ’n paar minute voordat julle uitgaan om voor te berei. Hersien die aanbiedings wat julle sal gebruik as julle met tydskrifte werk; of help hom om met die lektuuraanbod ’n betekenisvolle bydrae tot die bespreking te lewer. Hy sal aanvanklik dalk net een van die tekste wil lees of ’n kort kommentaar gedurende die bespreking lewer. Maar, namate jy hom aanmoedig en oplei, sal sy vertroue toeneem en sal hy leer hoe om sy eie besoeke te behartig.
6 Selfs nadat ’n nuweling gereeld aan die diens deelneem, het hy nog jou hulp nodig. Hou aan om opregte belangstelling in sy geestelike vooruitgang te toon. Daardie vooruitgang sluit die vermoë in om ander te leer terwyl hy self nog kennis inneem. Prys hom mildelik en opreg vir die vooruitgang wat hy maak. Laat hom besef dat dit vir jou groot vreugde verskaf om hom te help om geestelike vooruitgang te maak.—1 Tim. 4: 15, 16.
HELP ANDER OOK
7 Daar is dalk ander in die gemeente wat, hoewel hulle al geruime tyd assosieer, nie genoeg persoonlike hulp ontvang het sodat hulle doeltreffende onderrigters kon word nie. Weens ’n gebrek aan opleiding, smaak hulle nie ten volle die vreugde wat dit ons verskaf om die goeie nuus met ander te deel nie. Ouere manne, pioniers of ander met ondervinding in die veld, moet veral daarvan bewus wees om hulle ook te help.
8 Laat ons ten volle van Koninkryksvermeerdering gebruik maak deur hard te werk, nie net om meer verkondigers te kry nie, maar ook om hulle te help om bekwamer te word in die maak van nog dissipels. Dit is die manier waarop Jehovah die insameling vir redding bespoedig.—Jes. 60:22.