Bespoediging van die werk by Roodekrans
1 Dit is inderdaad opwindend om van die wêreldwye uitbreiding van die Koninkrykspredikingswerk te hoor. Daar is verlede jaar gemiddeld elke week van die jaar 3,450 persone gedoop! Geen wonder dat baie takke vergroot moet word om met hierdie groot instroming tred te hou nie. In Jesaja 60:8 vergelyk Jehovah hierdie instroming met duiwe wat soos ’n wolk na hulle vensters of hokke aangevlieg kom. By die streekbyeenkoms is die takkantore met hierdie vensters vergelyk en is daar gesê dat dit groot genoeg moet wees om tred te hou met die vermeerdering, want Jehovah bespoedig nou die werk.—Jes. 60:22.
2 Hier in Suid-Afrika het daar ’n dringende behoefte ontstaan aan groter takfasiliteite. Ten spyte van die feit dat 29 lede van die Bethelgesin (hoofsaaklik vertalers) reeds op Roodekrans woon, is daar 11 kamers in Bethel waarin ons elk drie persone moet huisves weens ’n gebrek aan ruimte. Met die gelyktydige publikasie van Die Wagtoring, Ons Koninkryksbediening, asook Ontwaak! in die nabye toekoms, benewens die feit dat ons al die nuwe publikasies probeer vertaal gedurende dieselfde jaar as wat die Engels verskyn, moes ons ons Bethelpersoneel na 205 persone vermeerder. Toe ons Roodekrans begin bou het, het die Bethelgesin uit sowat 160 lede bestaan. Dit is dus noodsaaklik dat die projek by Roodekrans so gou moontlik voltooi word.
3 Terselfdertyd vereis die situasie by Roodekrans dat ons die werk bespoedig sodat die projek teen Desember 1986 voltooi kan wees. Die Krugersdorpse owerheid het vir ons toestemming gegee om die tydelike behuising van die konstruksiespan by Roodekrans tot Junie vanjaar te gebruik, en ons is seker dat hulle vir ons verdere uitstel sal gee tot Junie volgende jaar. Ons verwag egter nie daarna enige uitstel nie. Ons sal dus na Junie 1986, met die moontlike uitsondering van ’n paar gesinshuise, die tydelike huisvesting moet begin afbreek en verkoop sodat die meeste tydelike geboue teen Desember 1986 van die perseel af verwyder sal wees. Party van hierdie broers sal in die voltooide kamers in die woongebou intrek, maar die gesinne sal nie in hierdie Bethelkamers kan intrek nie. Ons moet dus ons bouwerk teen Desember 1986 voltooi.
4 Ons bou-afdeling het noukeurig ontleed wat nog gedoen moet word, en hulle meen dat ons, met die ondersteuning van die veld, ons doelwit sal kan bereik. Maar dan sal ons die hulp van AL ons broers in Suid-Afrika nodig hê. Elkeen van ons moet in hierdie opsig daarvoor verantwoordelik voel om sy of haar deel by te dra.
5 As julle na die foto’s in hierdie byvoegsel kyk, sal julle sien dat ons tans baie goeie vordering maak. Die werk aan die drukkery vorder uitstekend en die broers doen nou af rondingswerk soos teël-, pleister-, verfwerk, ens. Ons beplan om die drukkery teen Maart of April vanjaar te voltooi.
6 Ons het gereël dat ’n bykomende span werkers met die betonwerk aan die woongebou voortgaan —die lê van fondamente, die oprig van kolomme en die giet van betonblaaie vir die hele woongebou. Ander spanne sal hulle volg met messelwerk, pleisterwerk, ens. Met die oog op toekomstige uitbreiding bou ons nog ’n vleuel met 42 kamers aan.
7 Buiten die voltooiing van hierdie twee geboue, moet ons nog die kantoorgebou oprig, ’n taak waarmee ons nog nie begin het nie. Ons moet ook nog ’n diensgeboutjie voor die drukkery en ’n ketelhuis agter die woongebou oprig. Buiten al die bouwerk moet ons nog paaie aanlê, tuine uitlê, bome plant, ens. Ons het dus ’n gedugte taak wat ons teen Desember 1986 moet voltooi.
HOE JY KAN HELP
8 Kan jy, as jy ’n ongetroude broer is, aanbied om ons gedurende die volgende jaar of twee te help om die projek te voltooi? Die munisipaliteit het ons toestemming gegee om die voltooide kamers te betrek, en dit sal ons van bykomende huisvesting voorsien namate die bouwerk voortgaan. Kry asseblief ’n aansoekvorm by jou presiderende opsiener, of skryf vir ons en vra een, indien jy kan help. Vul dit in en gee dit vir die ouere manne in jou gemeente sodat hulle dit kan voltooi en aan die Genootskap kan stuur.
9 Woon jy binne ’n radius van ongeveer 250 kilometer van Roodekrans af? Gemeentes in hierdie gebied word gevra om ons ongeveer elke derde maand op die Saterdae te kom help wanneer ons werk. Die hulp wat hierdie gemeentes verleen het, is van onskatbare waarde, en ons bedank die broers vir hulle ondersteuning. Ons weet dat dit harde werk is waaraan baie van julle dalk nie gewoond is nie, maar ons stel julle werk op prys. Kan jy ’n doelgerigte poging aanwend om hierdie reëling te ondersteun wanneer jou gemeente genooi word? Ons geniet party Saterdae uitstekende ondersteuning, maar op ander is die ondersteuning baie swak en kan ons glad nie doen wat ons vir daardie dag beplan het nie. Ons is onlangs meegedeel dat, by bouprojekte oorsee, die broers elke Saterdag werk en die hulp van gemeentes inroep. Kan jy een Saterdag elke derde maand of wat opoffer om ons te kom help?
10 Wat van broers in gemeentes wat verder geleë is, selfs in Kaapstad? Julle kan ook help. Dit sal miskien goed wees as ons julle vertel wat die broers in die Verenigde State tans doen. Hulle het ambagsmanne (slegs broers) van oor die hele Verenigde State, waarvan party meer as 6 000 kilometer van New York af woon, genooi om hulle met hulle bouprojekte te kom help. Hierdie broers het drie weke, twee weke of minstens een week verlof geneem en daardie tyd by die boupersele in New York deurgebring. Hulle het waarde volle hulp verleen. Hierdie broers kom op hulle eie onkoste (die meeste van hulle per vliegtuig) en word van huisvesting en voedsel voorsien terwyl hulle met die bouprojek help. Is daar broers in hierdie land wat ambagsmanne is en verlof kan neem of vakansietyd kan gebruik om ons vir ’n tydperk van een tot drie weke te help? Party van julle is dalk nie ambagsmanne nie maar kan ’n goeie dag se werkverrig. Julle sal ons ook baie kan help. Ons kan baie meer helpers gebruik. Stuur asseblief julle aansoekvorms in.
11 Ander broers wat nie te ver van Roodekrans af woon nie, kan nadink oor wat die broers in Duitsland gedoen het om met hulle brouprojek in Selters te help. Party kon nie net ’n dag lank by Selters help nie, omdat hulle so ver moes ry. Groepe broers van so ver as Wes-Berlyn het toe bymekaargekom en ’n bus gehuur wat Vrydagmiddag na Selters vertrek het, waar hulle die hele Saterdag tot laat Sondagmiddag gewerk het voordat hulle na hulle huise teruggekeer het. Dink net wat ’n bus vol ambagsmanne en ander manne gedurende so ’n naweek vir ’n projek kan beteken! Is dit iets waaroor die broers in julle stad kan nadink? Nooi gerus nabygeleë gemeentes om saam met julle aan so ’n reëling deel te neem.
12 Broers wat ons op die manier wil kom help, moet asseblief vroegtydig vir ons skryf sodat ons vir hulle verblyf kan reël en voorsiening kan maak vir maaltye oor die naweek. In ander lande was die bogemelde reëling tot broers beperk, en dit is wat ons hier ook sal verkies.
13 Dit skakel nie die uitnodiging uit wat ons in die verlede aan gesinne gerig het om by Roodekrans te kom werk nie. Weens beperkte huisvesting sal ons dit verkies om slegs werkers hier te huisves, maar as daar ambagsmanne is wat nie kan kom tensy hulle gesin saamkom nie, nooi ons hulle om as gesin aansoek te doen. Ons sal hulle graag hier wil hê, mits daar huisvesting is.
14 Dit spyt ons om julle mee te deel dat ons nie Swart broers hier mag huisves wat ons gedurende hulle vakansie wil kom help nie. Dit is weens die regulasies op instromingsbeheer. Maar as party Swart broers (nie ongetroude susters nie) reëlings kan tref om by vriende in Soweto of ander nabygeleë Swart woonbuurte te kom kuier en dan elke dag kan inkom om te werk, sal ons verheug wees oor hulle ondersteuning.
DAAR IS ’N ANDER MANIER
15 Daar is ’n ander manier waarop ons ALMAL die bouprojek kan ondersteun. Hoe? Deur ons geldelike ondersteuning. Ons wil dadelik byvoeg dat baie van julle gereeld vir ons maandelikse bydraes stuur, en dit word baie waardeer. Dit sluit party persone in wat dit glad nie breed het nie en vir wie dit ’n groot opoffering is om die projek by Roodekrans te ondersteun. Een bejaarde Swart egpaar stuur elke maand ’n bydrae van R20 uit hulle pensioen ten bate van die projek. Dit is waarlik ’n roerende opoffering en maak sekerlik Jehovah se hart bly. Maar wat hierdie saak betref, moet elkeen gee “soos hy hom in sy hart voorneem”.—2 Kor. 9:7.
16 Jehovah verwag dat ons almal sy ware aanbidding met ons materiële besittings moet ondersteun. Trouens, hy beskou dit as ’n daad van minagting, asof ons hom persoonlik verag, as ons versuim om in hierdie opsig ons volle deel te doen. Dit blyk uit wat hy vir die nasie Israel gesê het.
17 As individue in daardie toegewyde nasie moes hulle volgens die Mosaïese Wet sekere offerandes aan Jehovah bring. Jehovah het verwag dat hulle die beste in hulle kudde sou bring. Soos in Maleagi 1:6-8 opgeteken is, het Jehovah hulle daarvan beskuldig dat hulle hom verag deur blinde, lam of siek diere as offerandes te bring. (Kyk ook vers 12 tot 14.) Ons raai julle aan om nou hierdie verse te lees. Aan die einde van vers 8 daag Jehovah hulle uit deur te sê dat hulle nie so ’n gawe—’n lam, blinde of siek dier—vir ’n menslike goewerneur sou bring nie, maar dit is wat hulle vir Jehovah, die Soewereine Heer aan wie die hele aarde behoort, gebring het.
18 Ons redeneer dalk dat ons ons nooit aan sulke minagting teenoor Jehovah skuldig sal maak nie. Doen ons nie dieselfde as ons gawe aan Jehovah nie die beste is wat ons kan gee nie, maar eerder soos “oorskiet” is, ’n bedraggie wat ons nie eers sal mis nie, ’n bedrag wat geen opoffering van ons verg nie? Vra jouself af: Is my ondersteuning van die projek by Roodekrans die beste wat ek kan gee? Ons wil nie hê ons offerande moet ’n “lam” of “siek” offer wees nie. Dit is ’n ernstige saak wat ons almal moet oorweeg, aangesien die manier waarop ons ons materiële besittings gebruik om die ware aanbidding van Jehovah te ondersteun, toon of ons hom ‘eer’ of “verag”.
19 Soms redeneer ons dalk dat ons gebrek sal ly as ons Jehovah se werk op geldelike gebied ten volle sou ondersteun. Kom alles wat ons het dan nie van Jehovah af nie? (1 Kron. 29:11,14). Is ons nie van Jehovah afhanklik vir alles wat ons het nie? Het ons dit nie gedurende die onlangse droogtes ervaar dat die mens heeltemal van Jehovah afhanklik is om die lewe te onderhou nie? Sal hy ons nie seen met meer as wat ons nodig het as ons sy ware aanbidding met ons materiële besittings ondersteun nie? Dit is wat hy die nasie Israel in Maleagi hoofstuk 3 belowe het. Hulle het nie hulle tiendes na Jehovah se huis gebring soos hulle veronderstel was om te doen nie, ten spyte van die feit dat Jehovah hulle verseker het dat hy hulle met ’n oorvloed materiële seëninge sou beloon indien hulle dit gedoen het.(Lees Maleagi 3:10.) Hoewel Jehovah nie vandag tiendes van ons verwag nie, aangesien ons nie onder die Mosaïese Wet is nie, verwag hy wel dat ons ons heelhartige toewyding ook deur ons geldelike ondersteuning van sy werk moet toon.
20 Ons het onlangs ’n ondervinding gehoor uit ’n land wat ongeveer dieselfde aantal verkondigers gehad het toe hulle moes aanbou as wat ons nou in Suid-Afrika het. Hulle het nuwe takfasiliteite nodig gehad, en hierdie nuwe fasiliteite het om en by dieselfde gekos as ons nuwe takkompleks by Roodekrans. Hoewel hierdie broers oor die algemeen as arm beskou word, aangesien die land finansieel armer is as Suid-Afrika, het hierdie broers die koste vir hulle hele projek sowel as die nuwe toerusting wat hulle moes koop, self gedek. Baie van die broers in ons land doen net so goed, en ons dank Jehovah vir die ondersteuning wat ons tot dusver ontvang het. Ons meld hierdie voorbeeld tot voordeel van diegene wat nog nie hulle voorreg in hierdie opsig besef het nie. As elkeen sy deel op ’n gereelde, maandelikse grondslag doen, sal ons meer kan doen om ons bouprojek self te finansier.
21 By een van die onlangse streekbyeenkomste is ons bydraes met reëndruppels vergelyk. Een reëndruppeltjie rig nie veel uit nie, maar wanneer miljoene reëndruppels aanhou val, deurweek hulle later die aarde en vorm hulle stroompies wat in groter strome saamvloei en later ’n rivier word. Saam veroorsaak al die druppels dus ’n rivier in vloed wat met miljoene liter water na die see stroom. Dit geld ook vir ons bydraes. As elkeen gereeld, elke maand, sy deel doen, sal hierdie druppels ’n standhoudende stroom bydraes vorm wat ons in staat sal stel om ons verpligtinge in verband met die bouprojek na te kom.
22 Die Bestuursliggaam het hulle waardering uitgespreek vir die geldelike ondersteuning wat die broers in Suid-Afrika aan die projek gee en het goedgunstig gereël dat ons hulp van ander takke ontvang. Hulle het ons egter aan ons eie verantwoordelikheid in hierdie verband herinner. Ons dek op die oomblik ’n agtste van ons gemiddelde maandelikse uitgawes by Roodekrans. Dit is waarom ons hierdie inligting onder julle aandag bring, aangesien die broers in Suid-Afrika oor die algemeen baie beter daaraan toe is as hulle bure in baie ander Afrikastate.
23 Ons wil dus elkeen van julle aanspoor om julle eie situasie in hierdie verband noukeurig te beskou. Bespreek die saak met Jehovah in gebed. Ons wil beslis nooit hê dat Jehovah moet dink dat enigeen van ons hom “verag” met betrekking tot ons materiële gawes nie.
24 Ons vra bowenal dat julle vir ons moet bid, dat Jehovah die projek sal seën en ons dit met welslae tot die eer van sy groot naam sal voltooi.
[Die drukkery nader voltooiing Picture on ]
[Die vordering met die eerste 80 kamers van die woongebou picture on ]
[’n Ander aansig van die drukkery Picture on ]