Bied die Goeie Nuus Aan—Vir alle mense
1 Jesus Christus het die Koninkryk van God wyd en syd verkondig. Sy boodskap in die hele Galilea was: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom” (Matt. 4:17). Dit was ’n tydige boodskap van goeie nuus wat die harte van Jesus se luisteraars geraak en vir hulle hoop gegee het. Sulke goeie nuus moes met ander gedeel word, en weens die dringendheid daarvan het diegene wat hierdie werk gedoen het ’n gewigtige verantwoordelikheid gehad.
2 Wie het hierdie verantwoordelikheid aanvaar? Aan die begin van ons Gewone Jaartelling was dit die dissipels van Jesus, waaronder die getroue apostels. Ons is eeue later bewus gemaak van hierdie boodskap, en daarom het ons ook die verantwoordelikheid om dit met ander te deel (1 Kor. 9:16). As ons van elke gepaste geleentheid gebruik maak, kan ons ons hartgrondige gehoorsaamheid toon aan Jesus se bevel om die ‘evangelie van die koninkryk te verkondig in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies’ voordat die einde aanbreek.—Matt. 24:14.
3Wend ons ’n poging aan om met iemand by elke huis te praat wanneer ons van huis tot huis gaan? Aangesien so baie mense sekulêre werk doen, is daar miskien by baie huise geen antwoord nie. Dit beteken natuurlik nie altyd dat daar niemand tuis is omdat niemand voordeur toe kom nie. Is daar aanduidings dat hulle ’n ingang aan die kant of agter die huis gebruik? Iemand sal dalk oopmaak as jy daar klop. Miskien is die huisbewoner agter in die tuin of in die motorhuis. Jy sal soms ’n afsonderlike woonstel vind met ’n ingang aan die kant van die huis. Nadat jy ander huise besoek het, sien jy dalk die huisbewoner terugkeer. Gaan dan gerus na ’n paar minute terug en klop weer.
4 Wat van huise waar jy niemand tuis vind nie? Skryf hulle op jou huis-tot-huisverslag neer. Dit is gewoonlik die beste om ’n afsonderlike verslag te hou van belangstellendes wat jy weer wil besoek sodat die lys adresse waar niemand tuis was nie vir iemand anders gegee kan word as jy nie kan teruggaan nie. Wanneer broers na huise terugkeer waar niemand tuis was nie, het talle sukses behaal as hulle op verskillende tye terugkeer, aangesien daar dan ’n groter moontlikheid is dat jy iemand tuis sal vind. Party verkondigers het daarin geslaag om mense tuis te vind toe hulle later dieselfde dag of in die aand
weer besoek afgelê het. Mense wat gedurende die week nie tuis is nie, is dikwels oor die naweek daar, en omgekeerd. Groepe wat gedurende die week en oor naweke getuieniswerk doen, kan hulle lys adresse waar niemand tuis was nie, uitruil en sodoende moontlik daarin slaag om party van die mense te bereik. Die getrouheid waarmee ons hierdie verslag hou en dit opvolg, is ’n blyk van ons liefde vir ander en ons begeerte om Jehovah te behaag.—Luk. 16:10.
5 Wees gereed om gebruik te maak van ander geleenthede om getuienis te lewer terwyl jy in die gebied is. Byvoorbeeld: Jy kom dalk persone teë wat ’n entjie gaan stap het, of op ’n bankie sit of vir ’n bus wag. Hulle sal dalk luister as jy hulle taktvol nader en vriendelik glimlag. Dit is ook goed om winkeltjies en firmas te besoek as hulle nie besonder besig is nie. Jy sal dikwels ook jongmense in jou bediening teëkom. Moenie die geleentheid om ’n Skriftuurlike gedagte met hulle te deel laat verbyglip nie, want hulle lewens is ook belangrik.—Matt. 19:14.
6 God se Woord toon duidelik dat Jehovah “wil hê dat alle mense gered word” (1 Tim. 2:4). “Hy ... wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom” (2 Pet. 3:9). As ons ons toegekende gebied deeglik dek en waarlik ’n poging aanwend om met almal in aanraking te kom, toon ons dat ons ander liefhet soos Jehovah hulle liefhet. Daardie gesindheid sal beslis vir ons en vir die wat na ons luister seëninge bring.—1 Tim. 4:16.