Neem ten volle deel aan bedrywighede in Maart en April
1 Die apostel Paulus het die gemeente in Korinthe vermaan om standvastig en “altyd oorvloedig in die werk van die Here” te wees (1 Kor. 15:58). Daardie raad is ook van toepassing op Christene van die 20ste eeu. Laat ons, in die gees van Paulus se woorde, kyk hoe ons ’n deel kan hê aan die talle teokratiese bedrywighede wat vir Maart en April gereël is.
DIE SPESIALE TOESPRAAK
2 Gemeentes van Jehovah se Getuies dwarsoor die aarde sal die week wat begin met 9 Maart bymekaar kom om na die spesiale openbare toespraak met die titel “Wêreldonveiligheid—Is daar ’n oplossing?” te luister. ’n Vraag wat talle mense vandag hinder, is: Hoe kan ware vrede en veiligheid op hierdie aarde bewerkstellig word? Aangesien talle meen dat die wêreldsituasie met sy geweld, terrorisme en oorlog hopeloos is, sal die inligting wat aangebied word uiters insiggewend wees. Wend dus ’n spesiale poging aan om alle belangstellendes uit te nooi om na hierdie tydige toespraak te kom luister.
DIE GEDENKMAAL
3 Gesalfde Christene dwarsoor die aarde sal op Maandag, 24 Maart, na sononder saam met hulle getroue metgeselle, die ander skape, die dood van ons Here Jesus Christus herdenk en aan alles dink wat sy dood beteken in die lewe van die wat die groot Skepper, Jehovah God, dien. In 1985 het 7,792,109 wêreldwyd die Gedenkmaal bygewoon, en ons verwag dat baie meer regskapenes hierdie jaar saam met ons vir hierdie uiters belangrike geleentheid sal bymekaarkom. Gebruik julle voorraad gedrukte uitnodigings en span julle kragtig in om die talle nuwelinge wat die Gedenkmaal bywoon verder te help, ’n Studie kan moontlik met party begin word. Almal kan aangespoor word om gereeld met Jehovah se volk te assosieer.
PIONIERDIENS
4 Maart en April bied elke jaar uitstekende geleentheid om aan die hulppionierdiens deel te neem. Gedurende Maart 1985 het 2,314 ingeskryf. In April het daardie getal tot 5,765 gestyg. Dit is die meeste wat nog ooit in enige maand in Suid-Afrika hulppionierdiens gedoen het. Dit sal dalk nodig wees om ’n paar aanpassings in jou rooster te maak om hierdie werksaamheid saam met ander in jou gemeente te geniet. Die gemeente moet elke week in kennis gestel word van hoeveel goedgekeur is om as hulppioniers te dien. Dit kan ander aanspoor om in te skryf. Talle ouere manne en bedieningsknegte sowel as lede van hulle gesinne sal ongetwyfeld aan hierdie aspek van die diens kan deelneem en sodoende ’n goeie voorbeeld vir ander stel.
DIE LEKTUURAANBOD
5 Pogings sal gedurende Maart aangewend word om die Skepping-boek aan te bied. Nadat jy jou voorgestel het, kan jy die persoon se aandag vestig op hoofstuk 4 met die titel “Kan lewe per toeval ontstaan?” en paragraaf 1 lees. Dan kan jy sê dat hierdie hoofstuk kommentare van evolusioniste bespreek oor die moontlikheid dat lewe per toeval ontstaan het. Jy kan verwys na gekose tussenhofies, kanttekeninge of illustrasies wat jy meen die huisbewoner se aptyt sal wek.
6 Dit sal veelsydigheid verg om die ‘Onderwerp vir gesprekke’ aan te pas by die verskillende mense wat jy in velddiens teëkom. Hoe kan jy die Skepping-boek aanbied vir diegene wat nie in evolusie glo nie? Jy kan vir hulle vra waarom ’n liefdevolle God soveel lyding in die wêreld toelaat. Blaai dan na paragraaf 1 op bladsy 188 en toon dat hierdie vraag in die boek bespreek word. Of jy wil dalk na bladsy 191 blaai, paragraaf 8 lees en die illustrasies van Adam en Eva op bladsye 189 en 191 met mekaar vergelyk. Help die huisbewoner om te besef dat hierdie hoofstuk ’n redelike en Skriftuurlike verduideliking bevat oor waarom God lyding toelaat.
7 In April sal ons die boek Ware vrede en veiligheid—Hoe kan jy dit vind? aanbied. Die bydrae vir hierdie publikasie sal R1.80 wees. Daar die Verenigde Volke 1986 tot “Internasionale Vredesjaar” uitgeroep het, is die boodskap in die Ware vrede-boek baie tydig aangesien dit die aandag op die ware bron van vrede vestig.
8 Dit is dus duidelik dat Maart en April vir ons talle geleenthede bied om ‘oorvloedig te wees in die werk van die Here’. Met die jaarteks vir 1986, “Gaan... verkondig die koninkryk van God”, in gedagte, het ons almal ons werktoewysing om God se Koninkryk in die hande van Christus Jesus, die gegronde hoop vir ware vrede en veiligheid, te verkondig.—Luk. 9:60.