Roodekrans—in volle gang!
Jehovah het in Jesaja 60:22 (NW) belowe om die predikingswerk. in die tyd van die einde te bespoedig. En hy het dit gedoen. Ons hoor steeds van wonderlike vermeerdering dwarsoor die wêreld. In Januarie het ons ’n hoogtepunt van 38,291 verkondigers in Suid-Afrika bereik. Ons het ook in Februarie ons sesde opeenvolgende hoogtepunt in pioniers gehad —daar was altesaam 2,531. Dit alles verskaf ons groot vreugde, en ons loof die naam van Jehovah wat dit voortdurend “laat groei”.— 1 Kor. 3: 6, 7.
Maar Jehovah bespoedig nie net die werk in die veld nie, hy bespoedig ook die bouwerk op Roodekrans. Dit moet gou voltooi word om die vermeerdering in die veld te behartig. Daarbenewens het ons ’n tydgrens weens die feit dat die tydelike huisvesting na Desember 1986 verwyder moet word. Ons bouwerk is nou baie dringend. Ons het derhalwe die Roodekrans-gesin tot meer as 700 permanente werkers vergroot. Die bouery gaan nou vinnig vooruit. Die werk is in volle gang!
As ons kyk na wat reeds bereik is, hoofsaaklik deur onervare werkers wat op Roodekrans opgelei is, is dit duidelik dat dit nie aan ons eie krag nie, maar aan Jehovah se gees te danke is (Sag. 4:6). Ons dank en loof Jehovah hiervoor.
Hoewel daar al soveel verrig is, het ons nog baie werk om voor die einde van die jaar te doen. Al die broers op Roodekrans voel die dringendheid aan. En net soos in die dae van Nehemia toe die muur van Jerusalem in 52 dae gebou is, is ons broers steeds “met hulle hart in die werk” (Neh. 4:6). Dit verskaf ons groot genot om die ywer van die broers op die projek te sien.
Ander voel ook hierdie dringendheid aan. Ons broers in nabygeleë gemeentes ondersteun ons baie goed. Ons het gewoonlik op die eerste en derde Saterdag van elke maand ruim 600 werkers, en soms meer as 700! Ons het onlangs begin om op die tweede en vierde Saterdag te werk, en sowat 400 broers help ons op daardie dae. Dit alles help ons om die konstruksie te bespoedig.
Wat is al gedoen?
DIE DRUKKERY. Dit is nou feitlik voltooi. Verskeie afdelings van die bouprojek gebruik dit vir pakplek en werkswinkels. Ons hoop om in Oktober of November ons vierkleur-TKS-rotasiepers te installeer. Nee, dit is nie ’n nuwe pers nie. Dit is die een wat ons in Elandsfontein gebruik. Die broers in Japan stuur egter vir ons bykomende toerusting vir hierdie pers sodat ons in vier kleure kan druk. Maar ons verstrek later meer inligting hieroor.
KANTOORBLOK. Hierdie foto toon dat daar baie goeie vordering gemaak word met die betonstruktuur van die kantoorblok. Ons hoop om die betonwerk teen die middel van Junie te voltooi. Dan moet ons die messelwerk doen, venters installeer, die mure pleister sowel as teëlwerk, verfwerk en ander afwerking doen. Daarna moet ons ’n verhoogde vloer bou en plafonne insit, wat op sigself groot ondernemings is. Die verhoogde vloer word vir die rekenaars benodig. ’n Telefoonstelsel en al die ander dienste wat vir die kantoorblok nodig is, moet ook geïnstalleer word. Ons is baie bly oor die vooruitgang, maar ons besef dat daar nog baie voor die einde van die jaar gedoen moet word.
HOOFWOONGEBOU. Ons hoop om die betonwerk van die laaste twee vleuels van die woongebou teen die middel van Julie te voltooi. Afgesien van ’n laaste laag verf in die kamers (wat weens die stof op Roodekrans nie nou prakties is nie) en dan die lê van matte en ander afwerking, is die eerste twee vleuels voltooi. Die diensgedeelte in die middel van die gebou, wat die kombuis, eetsaal, wassery, Koninkryksaal en ander dienste insluit, nader nou vinnig voltooiing. Maar dit is ’n ontsaglike taak om die hele woongebou teen die einde van Desember te voltooi; daar is nog so baie wat gedoen moet word—messelwerk, pleisterwerk, teëlwerk, verfwerk, loodgieterswerk, elektriese installasies, ensovoorts.
PAAIE. Paaie van sowat drie kilometer en drie parkeerterreine moet nog gebou word. Dit is ’n groot taak. Een van die spanne wat nou betonwerk doen, sal gedurende die laaste helfte van die jaar vry wees om hulle op paaie toe te lê.
TUINAANLEG. Die nuwe Bethelkompleks beslaan ’n baie groot gebied. Talle tuine moet aangelê word om die plek te verfraai. Daarom het ons ’n kwekery waar honderde bome, struike en dekplante gekweek word. Die Bethelgesin het ingestem om een Saterdag per maand Roodekrans toe te gaan om bome, struike, dekplante, gras, ensovoorts aan te plant om te help met die baie tuine wat aangelê moet word. Die tuinaanleg sal nog lank duur. Maar ons vertrou dat, wanneer dit klaar is, ons Bethelkompleks Jehovah se naam tot eer sal strek.
Kan jy help om die werk te bespoedig?
Nadat die betonwerk voltooi is, sal ons talle gekwalifiseerde ambagsmanne nodig hê om te help met die afronding. Kan ons die bouwerk teen die einde van die jaar voltooi? Party ingeligte mense dink nie so nie. Hulle reken dat daar eenvoudig te veel is om te doen. Hoewel party kleiner aspekte miskien nie klaar sal wees nie, strewe ons egter daarna om die grootste deel van die werk teen die einde van Desember te voltooi. Ons glo dat dit gedoen kan word —mits genoeg gekwalifiseerde werkers soos messelaars, pleisteraars, skrynwerkers, verwers, ensovoorts ons kom help.
Kan jy ons kom help as jy ’n opgeleide ambagsman is? Kan jy vakansie neem—’n maand, ’n paar weke, of selfs een week? (Nie minder as een week nie. En ongelukkig het ons nie huisvesting vir gesinne nie, net vir werkers.) Kan party van julle, as julle nie vakansieverlof het nie, reël om onbetaalde verlof te neem? Oorweeg gerus jou omstandighede biddend. As jy waarlik wil help, stel ons voor dat jy eers tentatiewe navrae in verband met verlof doen. As die vooruitsig gunstig lyk, kan jy dan jou aansoekvorm invul en sê wanneer jy kan kom en dit dan deur jou gemeentelike ouere manne stuur.
Maar moenie finale reëlings vir verlof tref totdat jou aansoek deur die Roodekransopsieners goedgekeur is nie.
Verder is daar sowat vyftig broers as permanente werkers nodig om die te vervang wat gevonnis is om vir die Departement van Mannekrag te werk. Ons verkies mans van 19 jaar of ouer. Ons sal egter nog 18-jariges aanvaar, maar niemand jonger as dit nie. Doen asseblief aansoek as jy ’n ongetroude broer is en een van hierdie plekke kan vul. Doen asseblief voortdurend aansoek, aangesien daar ongetwyfeld van tyd tot tyd openings sal wees.
Ons wil ’n beroep doen op Swart, Wit, Kleurling- en Indiërbroers in die veld om hierdie saak dringend en ernstig te oorweeg. Vra Jehovah om die weg te open sodat jy hierdie waardevolle bystand kan verleen. Ons het regtig jou hulp nodig in hierdie eindstadium. Beskou dit as ’n spesiale teokratiese voorreg, en wanneer hierdie Koninkryksregeringsentrum in die toekoms in volle werking is, sal jy dankbaar wees om te kan sê: “Ek het ’n deel aan daardie bouwerk gehad!”
Almal kan help—Hoe?
Eerstens moet jy onthou dat ons heeltemal afhanklik van Jehovah se seën is. Ons almal kan dus help deur Jehovah voortdurend te vra om ons projek te seën. Dit is ongetwyfeld die verenigde gebede van sy volk en hulle heelhartige steun in ooreenstemming met hulle gebede wat ons in staat gestel het om te doen wat ons reeds gedoen het. Jehovah luister na die verenigde gebede van sy volk (2 Kor. 1:11). Ja, hy kan “doen ver bo alles wat ons bid of dink”.—Ef. 3:20.
Tweedens help duisende broers gereeld by Roodekrans. Die meeste gemeentes kom een Saterdag elke tweede maand; ander kom een keer per maand. Die meeste van die werk is handearbeid, maar vir diegene wat sterk genoeg is, is die oefening en vars lug fisies voordelig terwyl die omgang met honderde ander wat almal Koninkryksbelange dien geestelik versterkend is. Ons stel julle getroue ondersteuning inderdaad hoog op prys. Die einde is nou in sig. Hou dus so aan!
Net ’n woordjie van waarskuwing: Op ’n groot bouperseel is daar altyd gevaarpunte. Gevolglik kan ons nie meer kinders onder 16 jaar toelaat om te werk nie. Tref asseblief reëlings dat daar tuis na hulle omgesien word wanneer dit julle beurt is om te kom help. Ons wil julle ook aanspoor om te probeer om nie julle velddiens te verwaarloos namate die pas versnel nie. Ons wil nie hê dat die Koninkryksprediking weens die bouwerk agteruit moet gaan nie.
Finansiële steun
Ons wil van hierdie geleentheid gebruik maak om almal te bedank wat gereeld elk maand ’n bydrae gee. Julle het ons baie goed ondersteun. Baie het dit gedoen al het dit groot opofferings geverg. Ons kan daarvan getuig dat talle, soos die apostel Paulus gesê het, “bo vermoë gewillig” was (2 Kor. 8:3). Dit moet Jehovah se hart verbly. Ons waardeer dit ook baie en dank Jehovah daagliks dat hy die harte van sy volk beweeg het om hierdie groot projek op so ’n wonderlike manier te steun.
Die projek is egter te groot om deur die broers in Suid-Afrika alleen gefinansier te word, en daarom moes ons bystand van oorsee kry. Ons het ’n groot rentevrye lening van ons broers in Brooklyn verkry waarsonder ons nie hierdie projek sou kon voltooi nie. Die dollar-wisselkoers het ons tot voordeel gestrek en het ons gehelp om party van ons hoë uitgawes te dek. Ons kan egter nie van ons broers oorsee verwag om ons op hierdie tydstip bykomende hulp te verleen nie, aangesien hulle ander groot bouprojekte in talle lande finansier.
As ons aan al die hulp van ons broers oorsee dink, verbly dit ons harte en vervul dit ons met opregte waardering. By Bethel het ons nou byvoorbeeld ’n baie groot rekenaarstelsel wat talle duur masjiene insluit. Wanneer handels-verteenwoordigers ons stelsel sien, is hulle verbaas oor die uitstekende toerusting wat ons het. Maar ons het nie hiervoor betaal nie. Ons broers in Brooklyn het al hierdie items vir ons gestuur.
Wanneer ons in die nuwe drukkery op Roodekrans intrek, sal ons ook ’n vierkleur-vlakdruk-rotasiepers hê. Soos vroeër gemeld, is dit nie ’n nuwe pers nie. Die TKS-pers van Japan wat ons tans het, sal na Roodekrans verskuif word, maar ons Japannese broers stuur vir ons twee ekstra drukeenhede, asook ’n verkoeler en ’n droër, wat ons pers in staat sal stel om vierkleur-werk te doen. Hierdie toerusting kos altesaam Rl,593,810. Ons hoef egter nie daarvoor te betaal nie. Ons betaal net die verkoopbelasting —’n aardige sommetjie—van sowat R191,000! Dit is ons vriendelike broers in Japan wat so vrygewig is om hierdie eenhede aan ons te skenk. Hulle doen dit ten spyte van die feit dat hulle self ’n baie groter pers moet aanskaf en ses verdiepings by hulle fabriek en agt verdiepings by hulle woongebou moet aanbou. En hulle betaal self daarvoor! Ons bewonder hulle werklik vir hulle heelhartige steun van die Koninkrykswerk.
Dit is een ding om die geboue op Roodekrans te voltooi, maar ’n ander om dit ten volle toe te rus. Daar sal baie toerusting, rekenaars, drukperse, ensovoorts van Elandsfontein af verskuif moet word. Ons het reeds nuwe toerusting vir die kombuis en wassery op Roodekrans aangekoop. Saam met die toerusting van Bethel sal dit in die behoeftes van ons kombuis en wassery voorsien.
Maar daar is nog talle items nodig sodat Roodekrans doeltreffend kan funksioneer. Ons moet byvoorbeeld ’n groot telefoonstelsel vir die hele kompleks installeer. Lugreëling vir die rekenaars moet ook in die kantoorblok geïnstalleer word—’n groot uitgawe. Ons moet ook ’n noodkragbron installeer sodat ons kan voortgaan om te werk wanneer die kragtoevoer onderbreek word. Dit is nie luukseartikels nie. Dit is noodsaaklik. En ons vertrou op die volgehoue steun van ons broers om dit te bekom.
Waarom bou ons Roodekrans?
Die antwoord is eenvoudig. Jehovah is besig om die Koninkryskwerk te bespoedig. Die Suid-Afrikaanse tak speel ’n lewensbelangrike rol hierin, nie net in hierdie land nie maar ook in naburige lande en ander lande verder noord. Ons doen drukwerk vir hierdie lande en voorsien hulle ook van papier, ink, toerusting en ander materiaal wat nie daar verkrygbaar is nie. Ons 25-tonvragmotor gaan een maal per maand Zambië en Zimbabwe toe. Ons help ook die takke in Zaïre en Mauritius met hulle bouprojekte deur vir hulle baie bouvoorraad aan te koop. Ons word natuurlik vir laasgenoemde uitgawes terugbetaal. Die Suid-Afrikaanse tak is in die gelukkige posisie om hierdie ander takke te help waar dit feitlik onmoontlik is om talle nodige items te verkry.
Nog ’n dringende rede waarom ’n nuwe Bethel gebou word, is die feit dat ons huidige Bethel nie net vol is nie, dit is oorvol! Dit is die geval ten spyte van die feit dat meer as 40 lede van die gesin nou op Roodekrans woon. Die meeste van hulle is vertalers. Met die gelyktydige publikasie van die Genootskap se tydskrifte en boeke moes die vertaalafdeling aansienlik vergroot word. Om dus na die behoeftes van ons broers in die hele Suider-Afrika tot bo in Sentraal-Afrika om te sien, moes ’n nuwe Bethelkompleks eenvoudig gebou word.
Namate Jehovah die Koninkrykswerk bespoedig, moet ons gereed wees om daarna om te sien. Dit is waarom die Genootskap party van die groter takke toerus om meer van die wêreldwye werklas op hulle te neem. Ons is bly om so ’n tak te wees.
Wat ’n voorreg!
Soos in die res van die wêreld is daar in Suid-Afrika onrus, angs, onenigheid en ’n toenemende gevoel van wanhoop. Satan se stelsel is tot die dood toe siek en sal binnekort verbrokkel. In teenstelling hiermee is Jehovah se organisasie verenig, vreedsaam, groeiend, gelukkig en vol vertroue vir die toekoms—’n ware geestelike paradys! Mense van alle nasies stroom na “die berg van die huis van die HERE” waar hulle lewegewende onderrigting in verband met “sy weë” ontvang (Jes. 2:2, 3). Hoe word dit gedoen? Deur die groot predikingswerk. Die miljoene publikasies en die geestelike leiding wat binnekort van Roodekrans sal kom, sal ’n belangrike rol in die lewensreddende kampanje in Suider-Afrika speel! Wat ’n voorreg is dit tog om deel te hê aan hierdie noodsaaklike werk wat vir miljoene hoop en lewe gee en wat Jehovah se luisterryke naam tot groot eer strek!
[Picture on page 3]
Drukkery
[Picture on page 4]
Kantoorblok
[Picture on page 5]
Voor- en agteraansig van hoofwoongebou