“Laat hom wat hoor, sê: Kom!”
1 Gedurende sy aardse bediening het Jesus Christus regskape persone wat dors was hartlik genooi om na hom te kom vir geestelike verkwikking (Joh. 7:37). Vandag gaan die Goeie Herder liefdevol voort om “’n groot menigte” ander skape deur middel van die bruidklas te nooi om vryelik van God se voorsienings vir die ewige lewe te drink.—Openb. 7:9,17; 22:17.
2 Die gesalfde oorblyfsel wat deur God se gees en Woord aangedryf word, het bly sê: “Kom!” Meer as drie-miljoen ander skape het op hierdie uitnodiging gereageer, en hulle dors word nou geles. Dit is ook hulle voorreg om gehoor te gee aan die opdrag: “Laat hom wat hoor, sê: Kom!”
RIG HULLE NA GOD SE ORGANISASIE
3 Wanneer ons sê, “Kom”, rig ons ander nie na ons toe, asof ons die bron van “die water van die lewe” is nie. Ons rig hulle eerder met reg na Jehovah en na sy teokratiese organisasie. As iemand ’n opregte belangstelling toon om meer te leer, moet ons nie huiwer nie om te sê: Kom na ons Christenvergaderinge. Dit is waar ware geestelike verkwikking gevind word.—Ps. 133:1-3.
4 Nog ’n manier waarop ons mense aan God se organisasie kan bekendstel, is deur Die Wagtoring en Ontwaak! ’n Leser kan leer dat daar waarlik ’n internasionale broederskap van Christene is wat in eenheid leef en werk (Jes. 2:2-4; Sag. 8:23). Hierdie eenheid word gesien in hulle bediening, by byeenkomste, wanneer aanbiddingsplekke gebou word of wanneer hulle mekaar help ten tyde van rampe, ens. Ons tydskrifte nooi miljoene lesers om die plaaslike Koninkryksaal te besoek en in die geestelike feesmaal te deel wat God se knegte geniet. As ons God se organisasie waardeer en die waarheid liefhet wat ons deur Ontwaak! en Die Wagtoring geleer het, sal ons gedurende Oktober geesdriftig intekeninge op albei hierdie uitstekende publikasies aanbied.
LAAT NUWELINGE SÊ: “KOM”
5 Bybelstudente wat die waarheid met hulle harte verstaan, kan aangespoor word om hulle kennis met hulle vriende, familielede, sakekennisse en ander te deel. (Vergelyk Johannes 1: 46, 47; 4:28-30.) Hulle moet besef dat nie almal die waarheid geredelik sal aanvaar nie, maar dat daar party sal wees wat die goeie nuus sal waardeer en op ’n hartlike uitnodiging om te “kom”, sal reageer.
6 Verlede Oktober is ’n waarderende Bybelstudent beweeg om intekeninge op Die Wagtoring en Ontwaak! vir sy baie kennisse aan te bied. Hy het fabrieke in sy omgewing besoek en gedurende etenstye met die werkers gepraat. Hy het eenvoudig vir hulle gesê: “Julle almal weet hoe ek was; ek het baie slegte dinge gedoen soos al die ander, maar ek het verander. Hierdie tydskrifte het my gehelp om te verander. Hulle kan julle ook help omdat hulle elke probleem bespreek wat ’n persoon kan teëkom.” Hy het daardie maand 62 intekeninge gekry!
7 Dit is ’n voorreg vir die “ander skape” om ten nouste saam te werk met die oorblyfsel van Christus se “bruid” deur vir almal oral te sê: “Kom.” Mag miljoene ander, as dit Jehovah se wil is, “die water van die lewe” drink en onder die regskape persone tel wat die Koning sal hoor sê: ‘Kom en geniet die seëninge in die paradysaarde onder God se Koninkryk.’—Matt. 25:34.