Bied die Goeie Nuus Aan—Saam met nuwelinge
1 Hoe voordelig is dit tog om ervare verkondigers van die goeie nuus onder ons te hê! Hulle is ’n groot aanwins vir die gemeente wanneer hulle hulle vermoëns tesame met kennis en ondervinding gebruik om die talle nuwelinge wat vandag na Jehovah se organisasie stroom te help. Hulle neem die geïnspireerde vermaning ter harte: “Namate elkeen ’n genadegawe ontvang het, moet julle mekaar daarmee dien.”—1 Pet. 4:10.
2 Goedgekeurde metgeselle en pasgedooptes moet geprys word vir hulle harde werk in die veldbediening. Maar hulle ondervinding is miskien nog beperk tot net een of twee aspekte van die predikingswerk, soos die verspreiding van tydskrifte en informele getuieniswerk. Om hulle vooruitgang te laat blyk, moet hierdie nuwelinge aan soveel aspekte van die bediening moontlik deelneem en hulle bekwaamheid as verkondigers van die goeie nuus vergroot. Dit sal nuwelinge help om bekwame Koninkryksbedienaars te word as hulle saam met diegene werk wat meer ondervinding het.—Pred. 4:9, 10.
STEL JOUSELF BESKIKBAAR
3 Kan jy jouself beskikbaar stel om ander in die bediening te help? Nuwelinge moet nie net leer hoe om tydskrifte aan te bied nie, maar ook hoe om die Bybel in die huis-tot-huisbediening te gebruik. Hulle moet leer hoe om gesprekke met huisbewoners aan te knoop en voort te sit. Iemand wat onervare is, kan bang wees om herbesoeke te doen en Bybelstudies te hou. Maar diegene wat gewillig is, kan leer hoe om hierdie nuwe verantwoordelikhede te hanteer as hulle die nodige hulp en bemoediging ontvang.
HOE KAN JY HELP?
4 Een manier waarop jy kan help, is om voorgestelde aanbiedinge in Ons Koninkryksbediening met minder ervarenes te bespreek. Kies gepaste inleidings uit die Redenering-boek en oefen hoe jy op besware en gesprekdempers sal antwoord. Oefen gedurende oefensessies hoe om tekste te gebruik en die huidige lektuuraanbod aan te bied. Jy kan bespreek hoe om ’n eerste besoek af te sluit sodat die grondslag vir ’n herbesoek gelê word, of jy kan wys hoe ’n Bybelstudie begin kan word. Sulke voorbereiding sal die nuwe verkondiger help om vertroue te hê in sy vermoë om met mense oor God se Woord te praat.
5 Maak definitiewe afsprake om in die veldbediening te werk. Die nuweling verkies dalk om saam te gaan en gedurende ’n paar besoeke net te luister. Dan kan hy probeer om toe te pas wat gedurende oefensessies voorberei is. Terwyl julle saam werk, kan julle bespreek hoe julle julle aanbiedings kan verbeter en hoe om dinge soos onverskilligheid en teenstand te hanteer. Wees aanmoedigend en ondersteunend. Herinner die nuweling daaraan dat dit Jehovah se werk is en dat hy ons opregte pogings sal seën.—Matt. 11: 29, 30.
WERK OOK SAAM MET DIE JONGMENSE
6 Jongmense geniet hulle deelname aan die bediening meer wanneer hulle ’n goed voorbereide aanbieding het. Die jong kinders kan aangespoor word om ’n eenvoudige tydskrifaanbieding te doen. As hulle kan, kan hulle die geleentheid gebied word om ’n Bybelteks vir die huisbewoner te lees. Help elkeen om na gelang van sy ouderdom en sy vermoë vooruitgang te maak. Ouers en ander in die gemeente kan die nodige hulp en aanmoediging gee sodat die jong kinders, sowel as die wat tot volwassenheid groei, bekwaam kan word om ‘die woord van die waarheid reg te sny’.—2 Tim. 2:15.
7 Bybelstudiehouers moet die studente in die velddiens uitneem sodra hulle aan die vereistes voldoen. Ouere manne, bedieningsknegte, pioniers en ouers moet ook wakker wees om hulp aan te bied aan diegene wat aan die predikingswerk begin deelneem. Kan jy jouself beskikbaar stel om nuwelinge te help? Neem die inisiatief om dit te doen, want ‘as ons goed saamgevoeg is en die nodige ondersteuning gee, bevorder dit die groei van die liggaam’.—Ef. 4:16.