“Goddelike Geregtigheid”-Streekbyeenkoms vir 1988
1 Jehovah God het geregtigheid en regverdigheid lief (Ps. 33:5). Sy kneg Elihu het gesê: “Die Almagtige—ons vind Hom nie; Hy is groot van krag, maar die reg en die volheid van geregtigheid krenk Hy nie.”—Job 37:23.
2 Jehovah God sien waarlik nie die ongeregtighede wat in hierdie wêreld gepleeg word oor die hoof nie. Aangesien hy ’n God van onveranderde sedelike standaarde is, kan ons seker wees dat hy nie die wetteloosheid van vandag onbepaald sal duld nie. (Vergelyk Jesaja 14:3-8.) Trouens, Bybelprofesie dui op ons tyd as die laaste dae van hierdie goddelose wêreld. Ons moet dus deur ons werke toon dat ons regverdigheid en goddelike geregtigheid liefhet en dat ons ons afgeskeie van die veroordeelde gebruike van hierdie wêreld hou.
3 Jehovah se Getuies sien uit na die “Goddelike Geregtigheid”-Streekbyeenkomste wat vir 1988 gereël is. By streekbyeenkomste word ons werklik deur Jehovah geleer. Ons woon dit by met die gesindheid wat in die geïnspireerde gebed in Psalm 119:33 geopenbaar word: “HERE, leer my die weg van u insettinge, sodat ek dit tot die einde toe kan bewaar.” Hierdie woorde weerspieël beslis die gevoelens van al Jehovah se toegewyde knegte vandag.
4 WOON AL DIE SESSIES BY: Die “Goddelike Geregtigheid”-Streekbyeenkomste sal vier dae duur. Het jy reëlings getref om al die sessies by te woon? Belangrike informasie wat noodsaaklik is vir ons geestelike gesondheid sal van die openingsessie, Donderdag om 1:30 nm., tot die slotgebed, Sondag om ongeveer 4:00 nm., aangebied word, ’n Ander aspek van goddelike geregtigheid sal elke dag beklemtoon word. Die program sal toesprake, demonstrasies en dramas insluit. Moet derhalwe nie eers een sessie mis nie. Ons besef dat dit dalk sal vereis dat jy persoonlike opofferings en aanpassings in jou rooster moet maak. Jy sal moontlik reëlings met jou werkgewer moet tref om die byeenkoms te kan bywoon. As jy dit ’n saak van ernstige gebed maak en ’n opregte poging aanwend om daar te wees, sal Jehovah jou gewis seën.—Matt. 5:3, vgl. NW.
5 Probeer om elke dag vroeg op te daag en in jou sitplek te wees voor die sessies begin. Dit sal jou ’n geleentheid bied om Christelike omgang met broers en susters van ander plekke te geniet (Rom. 1:12). Jy sal Jehovah ook kan prys met sang, wat. ’n baie belangrike deel van ons aanbidding is, en in die openingsgebed kan deel. Onthou ook dat diegene wat om jou sit dit sekerlik sal waardeer as jy nie laat opdaag en hulle aandag van die program aflei nie. Christelike liefde en bedagsaamheid, asook respek vir Jehovah en die geestelike dinge wat hy voorsien, behoort ons te beweeg om ons bes te doen om betyds op te daag.
6 SKENK AANDAG AAN WAT JY HOOR: “Die woorde van die HERE is rein woorde, silwer wat gelouter is in ’n smeltkroes in die aarde, gesuiwer sewe maal” (Ps. 12:7). Talle van God se “rein woorde” sal by hierdie “Goddelike Geregtigheid”-Streekbyeenkoms gehoor word. Die informasie wat aangebied gaan word, sal nie ’n algemene boodskap vir die nuuskierige luisteraar wees nie, maar sal spesiale informasie wees vir Jehovah se volk, vir diegene wat aan hom toegewy is, wat hom wil behaag, wat “vir sy woord bewe” (Jes. 66:5). Van almal op aarde is ons hoogs bevoorreg om deur Jehovah geleer te word.—Jes. 54:13.
7 Om te luister, beteken dat ons werklik aandag skenk met ons verstand sowel as ons hart, met ons ore en ons begripsvermoë. Dit is belangrik dat ons na ‘die woord van Jehovah’ luister en dit hoor (Jer. 2:4). Wat ons hoor, sal juiste kennis insluit om ons insig te vergroot en ons waardering te laat toeneem. Ons sal informasie hoor wat ons geloof sal opbou en ons hoop sal versterk. Ons sal raad en dissipline ontvang wat liefdevol tot ons voordeel voorsien word. Baie tyd is daaraan bestee om navorsing te doen en vir die program voor te berei. Dit is derhalwe noodsaaklik dat ons luister en bewus is van wat Jehovah se Woord ons meedeel. Ons kan sodoende persoonlik daarby baat vind, en dit sal ons in staat stel om hierdie informasie te gebruik om ander te help.—Spr. 18:15.
8 Die vernaamste rede waarom ons die byeenkoms bywoon, is om geestelike leiding en aanmoediging te ontvang. Beplan dus om vroeg genoeg op te daag om die nodige sake af te handel, soos om maaltydkaartjies te koop, en wees dan in jou sitplek voordat die program begin. As jy dit doen, sal jy ontspanne wees, en jy sal jou dan nie kwel oor sake wat nie regstreeks met die program verband hou nie.
9 Maak seker dat jy elke aand ’n goeie nagrus kry sodat jy die volgende oggend verfris kan wees en gedurende die dag al jou aandag aan die program kan skenk. Hoewel die byeenkomstyd ons ’n goeie geleentheid bied om vriendskappe te hernieu en om aangename omgang te geniet, sal ons nie die volgende dag wakker wees om ten voile by die program baat te vind as ons tot laat in die nag opbly terwyl ons vriende besoek nie.
10 Wees asseblief oordeelkundig oor die items wat julle na die byeekomsterrein bring. In die verlede het sommige groot koelhouers of ander groot items gebring wat nie onder hulle sitplek kon inpas nie. Dit is in paadjies of op stoele gesit. Ons moet bedagsaam wees in sulke sake, aangesien dit veroorsaak het dat broers en belangstellendes nie sitplek gehad het nie en dit in die meeste gevalle brand- en veiligheidsregulasies geskend het.
11 DOOP: Die toespraak vir doopkandidate sal Saterdagoggend gehou word. Doop is die uiterlike simbool dat ’n persoon hom onvoorwaardelik aan Jehovah God toegewy het. Hierdie deel van die program is altyd een van die hoogtepunte van ’n streekbyeenkoms. Dit strek ons almal tot voordeel as ons aandagtig luister en nadink oor ons eie verhouding met Jehovah. Ons deel ook in die vreugde van diegene wat gedoop word.
12 Diegene wat beplan om hulle by een van die streekbyeenkomste te laat doop, moet seker maak dat hulle die presiderende opsiener lank voor die byeenkoms daarvan in kennis stel sodat daar genoeg tyd sal wees om die vrae in die Ons bedieningboek te hersien. Elke persoon wat beplan om hom te laat doop, moet ’n beskeie baaikostuum en ’n handdoek saambring.
13 Doopkandidate moet probeer om hulle sitplekke in die aangewese gedeelte in te neem voor die program Saterdagoggend begin. Na die dooptoespraak en gebed deur die spreker sal die sessievoorsitter kortliks instruksies aan doopkandidate gee en dan die lied aankondig. Almal sal staan terwyl die lied gesing word. Voordat die laaste vers gesing word, sal die saalwagters doopkandidate lei na die doopplek of na voertuie wat hulle daarheen sal neem, terwyl die res van die gehoor die lied klaar sing.
14 MAAK AANTEKENINGE: Onthou om nie net jou Bybel en liedereboek te bring nie, maar ook ’n aantekeningboek en pen of potlood. Ons het miskien nie die gewoonte om gedurende weeklikse gemeentelike vergaderinge aantekeninge te maak nie, omdat die meeste van die toesprake en demonstrasies uit materiaal geneem word wat vir almal in die gemeente beskikbaar is. Dit is egter heeltemal ’n ander saak om informasie by die streekbyeenkoms in te neem. Hoewel sommige van die toesprake mettertyd in die publikasies sal verskyn, sal ander nie. Selfs as al die toesprake in druk sou verskyn, kan kort, betekenisvolle aantekeninge nogtans belangrike voordele inhou.
15 Vir eers help dit jou om te konsentreer as jy aantekeninge maak. Let op die spreker se sleutelgedagtes en sleuteltekste of moontlik nuwe gedagtes. Maak dan kort aantekeninge hiervan. Gewoonlik sal een of twee sinne genoeg wees vir ’n sleutelgedagte. Jou konsentrasie sal ongetwyfeld verbeter as jy hierdie wenk toepas. Jy sal jou gedagtes nie so maklik laat dwaal of laat aflei nie. Jy sal ook toegerus wees om die daaropvolgende week saam met jou gemeente baat te vind by die hersiening van die byeenkomsglanspunte.
16 Sal jy jong kinders of tieners saam met jou hê? Tref dan gerus reëlings dat hulle ook ooreenkomstig hulle ouderdom en vermoëns aantekeninge maak. Laat die gesin weet dat jy beplan om sommige van die hoofgedagtes wat deur die sprekers gemeld is te hersien wanneer julle na julle verblyfplek terugkeer of terwyl julle huis toe ry. Jonger kinders kan aangemoedig word om al die teksverwysings neer te skryf of op te let hoeveel keer ’n spreker sleutelwoorde of die tema van die toespraak meld. Hulle sal baie meer by die toesprake baat vind as hulle dit doen. Dit is goed dat kinders leer om noukeurig aandag te skenk by Christenvergaderinge. Julle sal hulle help om ’n vaste fondament vir die toekoms te bou.—Deut. 31:12; Ef. 6:4.
17 GOEIE GEDRAG: Ons ontvang elke jaar na afloop van ons streekbyeenkomste gunstige kommentare oor die ordelikheid en goeie gedrag wat daar te sien was. Waarnemers maak dikwels opmerkings oor die netjiese voorkoms van volwassenes sowel as kinders, om nie eens te praat van die vrede en eenheid onder die broers terwyl hulle die byeenkoms bywoon nie. Die jaar 1987 was geen uitsondering nie. Maar waarom meld ons dit? Omdat dit bemoedigend is om te weet dat ander dit opmerk en waardeer wanneer ons ’n goeie voorbeeld stel (1 Pet. 2:12). Maar nog belangriker, dit strek God tot eer. Ons wil Jehovah in woord en daad eer, en aangesien mense die organisasie en selfs die God wat ons aanbid volgens ons gedrag kan oordeel, moet ons altyd let op hoe ons optree.
18 Daar is etlike aspekte waaraan ons steeds aandag moet skenk sodat ons ten volle ‘soos ligte kan skyn’, veral wanneer ons nie by die byeenkomsterrein is nie, soos in restourante en hotelle.—Filip. 2:15.
19 Ten eerste, hoe vaar ons wat die onnodige hou van sitplekke betref? Daar was wel ’n verbetering in hierdie opsig, en ons wil julle hiervoor prys. Ons moet egter steeds aan hierdie saak aandag skenk, aangesien sommige die reëling misbruik. Hou asseblief in gedagte dat SITPLEKKE SLEGS GEHOU MAG WORD VIR JOU EIE GESIN EN PERSONE WAT SAAM MET JOU IN JOU MOTOR RY. Dit is net natuurlik om naby diegene saam met wie jy gekom het te wil sit, en daar word verwag dat gesinslede saam sal sit. Maar moet asseblief nie vir ander sitplekke hou nie. Vriende kry dikwels self sitplekke, en die ekstra sitplekke wat jy gehou het, word nie gebruik nie. Ons kan waardering vir die byeenkoms en bedagsaamheid teenoor ander toon deur hierdie riglyne te volg.—Matt. 7:12.
20 As toegewyde knegte moet ons gedrag TE ALLE TYE goed wees. Voorbeeldige gedrag word veral by groot byeenkomste opgemerk, en Jehovah se naam word deur sulke gedrag verheerlik. Maar slegte gedrag en onbedagsaamheid van net ’n paar kan Jehovah se naam en sy volk tot oneer strek. Ons het berigte ontvang dat ’n paar broers en hulle gesinne swak oordeel by hulle verblyfplek aan die dag gelê het. Weens ’n gebrek aan behoorlike toesig was sommige Getuiekinders baie onordelik. Die gees van die wêreld is duidelik by party wanneer hulle na hul verblyfplek terugkeer. By die byeenkoms sien ons duidelik wat die Christelike persoonlikheid behoort te wees, maar sommige vergeet blykbaar wat hulle op die program gesien en gehoor het wanneer hulle die byeenkomsterrein verlaat (Jak. 1:22-24). Ons teenwoordigheid by die byeenkoms en elders, asook ons gedrag en persoonsversorging, stel ons en die God wat ons aanbid in of ’n goeie of ’n slegte lig. Dit verskaf ons vreugde en verheerlik ons God Jehovah wanneer ons “lewenswandel in ooreenstemming met die evangelie van Christus” is.—Filip. 1: 27, NAV.
21 ’n Laaste vriendelike vermaning hou verband met kuiery en geselsery gedurende die sessies. Ons is vanself sprekend bly om vriende by die byeenkoms te sien, maar respek vir Jehovah en bedagsaamheid teenoor ons broers behoort vir ons die belangrikste te wees. Ons sal ander dus nie gedurende die program wil steur of hulle aandag wil aflei nie. As jy jou sitplek om die een of ander belangrike rede moet verlaat, moet jy dit so gou en saggies moontlik doen. Niemand moet ook in die gangetjies kuier terwyl die program aan die gang is nie. Ons is daar om te luister en te leer.—Luk. 8:18, NW.
22 VOEDSELBEHOEFTES: Spesiale reëlings word weer eens getref vir die voorsiening van voedsame, goeie kos en drinkgoed. Die Genootskap waardeer die broers en susters se goeie ondersteuning van die voedselreëlings baie. Dit het dit moontlik gemaak om beter fasiliteite te huur, byeenkomsonkoste te dek, en het julle ook in staat gestel om gedurende die kort middagpouse by die byeenkomsterrein te bly en betyds, verkwik en gereed vir die belangriker geestelike maal te wees.
23 Ons wil graag meld dat dit baie duur geword het om fasiliteite in die groter sentrums te huur. Julle volle ondersteuning van die voedseldiens, asook julle bydraes, het dit vir die Genootskap moontlik gemaak om steeds voldoende fasiliteite te kry en al die betrokke koste te dek. Ons wil almal aanmoedig om die voedselreëlings vanjaar ten volle te benut en weer eens al die vrywilligerwerkers bedank wat vanjaar in die Voedselafdeling en ander departemente gaan werk.
24 VRYWILLIGERDIENS: Die klem op vereenvoudiging is veral opmerklik in verband met die man-ure wat nodig is om ’n streekbyeenkoms te organiseer en te laat vlot. Diegene wat al baie jare in die waarheid is, onthou dat duisende vrywilligers voor en gedurende groot byeenkomste nodig was en dat hulle baie ure in verskeie byeenkomsdepartemente bestee het. Daardie liefdedade is innig waardeer, maar dit het dikwels daartoe gelei dat baie van die vrywilligers heelwat van die program gemis het.
25 Hoewel minder vrywilligers en minder tyd nou nodig is om die werk te doen, is vrywilligerhulp steeds nodig om ’n streekbyeenkoms glad te laat verloop. Kan jy ’n aandeel daarin hê? Niemand moet dink dat hy die grootste deel van die program sal mis as hy vrywilligerdiens doen, soos dit al in die verlede die geval was nie.
26 Gaan na die Vrywilligerafdeling wanneer jy by die byeenkomsterrein aankom. Selfs as jy net vir ’n gedeelte van die byeenkoms kan werk, sal jou dienste waardeer word. Jy sal dit geestelik lonend vind om by die byeenkoms te werk. Kinders onder 16 jaar kan ook bydra tot die sukses van die byeenkoms, maar hulle moet onder toesig van ’n ouer of ’n ander volwassene werk.
27 OPNAMES: Dit is ook gepas om die Genootskap se standpunt oor die gebruik van Videokameras en oudiotoerusting te verduidelik. ’n Konsekwente beleid is verkieslik vir alle vergaderinge—streekbyeenkomste, kringbyeenkomste, spesiale byeenkomsdae en in Koninkryksale. Hoewel daar geen verbod op die gebruik van sulke toerusting is nie, is beheermaatreëls en beperkings blykbaar nodig. Saalwagters moet daarop let dat diegene wat Videokameras en bandopnemers gebruik ander nie steur of hulle aandag van die program aflei nie. Broers wat sulke toerusting gebruik, moet die saalwagters en ouere manne wat toesig hou hulle samewerking gee en nie net doen wat hulle wil nie. Sulke toerusting moet nie in gangetjies of deure opgestel word nie. Geen dergelike toerusting moet aan die luidsprekerstelsel of elektriese kontaksokke gekoppel word nie. Spreiligte sal ook nie toegelaat word nie. In sommige gevalle kan sulke toerusting opgestel word waar dit die gehoor nie sal steur nie, soos agter in die sale.
28 SLOT: Daar is goeie redes waarom ons by die “Goddelike Geregtigheid”-Streekbyeenkoms wil wees waar ons Jehovah saam met duisende van ons broers kan aanbid. Byeenkomste is ook geestelike feeste wat ons geloof versterk en ons waardering vir die waarheid vergroot. Die profeet Jesaja het gesê dat Jehovah se knegte “geen honger en geen dors [sal] hê nie, en die woestyngloed en die son sal hulle nie steek nie; want hulle Ontfermer sal hulle lei en hulle saggies aanbring na die fonteine van water” (Jes. 49:10). Jehovah se volk is inderdaad nie geestelik honger nie, en hulle dors ook nie na waarheid nie. Ook tref die versengende hitte van God se vurige oordele ons nie. Ons weet hoe goed die geestelike voorsienings smaak en hoe opbouend hulle is. Dit is waarom ons verheug is oor die geleentheid om hierdie somer vir die “Goddelike Geregtigheid”-Streekbyeenkomste saam te kom.
[Boks op bladsy 10]
Inligting in verband met die Streekbyeenkoms
HUISVESTING: Die meeste verkondigers sal hulle eie reëlings vir huisvesting tref. As jy egter wil hê dat die byeenkomsorganisasie vir jou huisvesting moet reël en jy nog nie om huisvesting aansoek gedoen het nie, moet jy asseblief jou Kameraansoekvorm onmiddellik aan hulle stuur.
LIEDERE: Aangesien sang ’n deel van ons aanbidding is, moedig ons almal aan om die volgende liedere wat deel van die program sal wees te oefen: 42, 175, 204, 106, 191, 189, 47, 72, 111, 221, 34, 202, 91, 6, 112, 177, 215, 195, 168, 224 en 181.
PROGRAMTYE: Dit is verstandig en toon waardering as ons in ons sitplekke is wanneer die program begin. Dit sal Donderdag om 1:30 nm. begin. Beplan om tot aan die einde van die sessies te bly. Die program sal Sondag om 4:00 nm. met ’n lied en gebed afsluit.
BETHELVERGADERING: Daar sal Saterdag ’n vergadering gehou word vir enige toegewyde verkondiger tussen 19 en 35 jaar wat graag in Bethel wil dien. Aankondigings oor die presiese tyd en plek van hierdie vergadering sal by die byeenkoms gedoen word.
PIONIERIDENTIFIKASIE: Alle gewone en spesiale pioniers, reisende opsieners, sendelinge en Bethelwerkers moet hulle identifikasiekaart (S-202) na die byeenkoms saambring. Diegene wat ten tyde van die streekbyeenkoms reeds ses maande aangestelde pioniers is, kan slegs by daardie een byeenkoms byeenkomskaartjies ter waarde van R18 ontvang wanneer hulle hulle identifikasie en -toewysingskaart toon. Pas die kaart op soos jy kontant sal oppas. Dit kan nie by die byeenkoms vervang word nie. Enige gratis publikasie of ander lektuur teen pioniertarief sal net by die boekekamer vir die pioniers beskikbaar wees.
LAPELKAARTE: Hierdie kaarte word voorsien as ’n middel om die byeenkoms te adverteer en om ons broers en susters wat teenwoordig is te identifiseer. Daarom spoor ons julle aan om julle lapelkaarte te dra terwyl julle by die byeenkoms is en terwyl julle na en van die byeenkoms reis. Die kaart is nie net ’n identifikasiemiddel nie, maar lei dikwels daartoe dat ’n goeie getuienis gelewer kan word terwyl ons reis. Julie moet die kaarte by julle gemeente kry, aangesien dit nie by die byeenkomste beskikbaar sal wees nie. Die lapelkaarte kos 4c elk en die plastiekhouers 25c elk. (Die Genootskap het reeds lapelkaarte aan elke gemeente gestuur, maar die plastiekhouers moet deur die gemeente bestel word.)
’N WOORDJIE VAN WAARSKUWING: Sluit te alle tye jou motor en moet nooit enigiets oop en bloot in ’n motor laat nie, ongeag waar jy jou motor parkeer. Sluit jou goed in die bagasieruim toe, indien moontlik. Pas ook op vir diewe en sakkerollers wat deur groot byeenkomste gelok word. Dit beteken dat geen waardevolle artikels onbewaak op sitplekke by die byeenkomste gelaat moet word nie. Daar is ook gemeld dat susters met hoehakskoene makliker op die trappe kan val. Wees asseblief versigtig.