Jy word uitgenooi na die “Suiwer Taal”-streekbyeenkoms vir 1990!
1 Byeenkomste is reeds honderd jaar al ’n besondere kenmerk van ons aanbidding. Veral sedert die herlewing van ons predikingsaktiwiteit in 1919 is hierdie samekomste uitsonderlike tydperke van geestelike verkwikking waartydens geopenbaarde flitse van lig uit God se Woord bekend gemaak is.
2 Dink byvoorbeeld terug aan die groot vreugde wat in 1931 by Columbus, Ohio, geopenbaar is toe God se volk die nuwe naam, Jehovah se Getuies, ontvang het. Groot blydskap het ook gepaard gegaan met die waarheid wat in 1935 by Washington, DC, geopenbaar is, naamlik dat die “groot menigte” bestem is om tot in Jehovah se nuwe wêreld behoue te bly.—Openb. 7:9.
3 Die streekbyeenkomste vir 1990 sal die tema “Suiwer Taal” hê, en jy word uitgenooi om dit by te woon. In Suider-Afrika sal 19 byeenkomste gehou word. Jehovah se profetiese woord in Sefanja 3:9 (NW) sê: “Want dan sal ek volke ’n suiwer taal laat spreek sodat hulle almal die naam van Jehovah kan aanroep, ten einde hom skouer aan skouer te dien.” Hierdie jaar se byeenkoms sal nie net toon wat die “suiwer taal” is nie, maar dit sal ons ook help om te besef waarom dit so belangrik is om die suiwer taal te leer en dit vlot te praat en hoe ons vermoë om dit te gebruik die eenheid van die wêreldwye broederskap versterk.
4 KOM VROEG: Jehovah se organisasie nooi ons om aan sy geestelike tafel te eet. Dit toon eerbied en waardering as ons betyds kom. Dit beteken in werklikheid dat ons elke dag vroeg moet kom en in ons sitplek moet wees voor die program begin. Dit vereis dat ons genoeg tyd moet toelaat om die nodige sake af te handel, soos om ons voertuig te parkeer en geskikte sitplekke vir ons gesin te kry.—1 Kor. 14:40.
5 Verlede jaar is afgevaardigdes na die byeenkomste in Pole beïndruk deur die godvrugtige toegewydheid, liefde en eenheid van hulle broers. Dit was duidelik dat die broers groot waardering gehad het vir die geestelike voorsienings wat die byeenkoms gebied het. Elke oggend was die broers vroeg by die byeenkomsterreine, in hul sitplekke en gereed vir die openingslied en gebed. Hulle het tot die slotlied en gebed gebly en het ná die program vertoef sodat hulle met hul broers kon assosieer.
6 Die ordelikheid van die broers was ’n voorbeeld vir almal. Hulle het gekom om te luister en te leer. Selfs reën wat op die oop stadions by Poznan en Chorzów geval het, kon nie hulle aandag van die program aftrek nie. Die jongmense wat teenwoordig was, met inbegrip van die kindertjies, was goed gedissiplineerd, stil en het aandagtig na die program geluister. Gesinne het saamgesit. Hulle het ’n goeie voorbeeld gestel deur diep respek vir Jehovah se tafel te betoon. Hoe kan ons baat vind by hulle voorbeeld?
7 Dit is skriftuurlik om die goeie voorbeeld van ander na te volg (2 Thess. 3:7). Hoewel ons persoonlike omstandighede dalk verskil, wil ons ook die grootste baat by ons byeenkomste vind. Om spanning en frustrasie te voorkom omdat ’n mens laat na die byeenkomsterrein vertrek, vind sommige gesinne dit nuttig om ’n redelike tyd vas te stel om te gaan slaap. Deur getrou by ’n rooster te bly, is daar ’n groter kans dat hulle ’n goeie nagrus sal kry en die volgende dag vroeg sal kan begin. Dit voorkom dat hulle daar aankom terwyl die program aan die gang is, wat steurend is en ’n ontstigting kan wees vir dié wat reeds sit. Ons bedagsaamheid in hierdie verband kan ons eerbied en respek vir Jehovah en ons liefde en bedagsaamheid vir ons broers weerspieël.
8 ’N VIERDAAGSE BYEENKOMS: Die “Suiwer Taal”-Streekbyeenkoms sal vier dae duur. Dit sal Donderdag om 1:30 nm. begin en sal Donderdag, Vrydag en Saterdag omstreeks 5:10 nm. en Sondag om 4:00 nm. afsluit. Van Vrydag tot Sondag sal die program om 9:30 vm. begin. (Let wel: Die byeenkoms in Pretoria sal Vrydag begin en Maandag eindig.) Elke dag sal propvol belangrike informasie wees wat met die spreek van die suiwer taal verband hou. Daar sal toesprake, demonstrasies, ondervindinge, simposiums en twee Bybeldramas wees.
9 Neem jou voor om nie eers een sessie te mis nie. Dit kan persoonlike opofferinge en aanpassings in jou rooster verg. Sommige moet spesiale reëlings met hul werkgewer tref. Talle offer finansiële voordele op om al die sessies by te woon. Dink egter aan wat baie van ons broers opgeoffer het en moes deurgaan sodat hulle verlede jaar die byeenkomste in Pole kon bywoon. Spoor dit jou nie des te meer aan om vir elke sessie by julle byeenkoms teenwoordig te wees nie? Jehovah sal beslis diegene seën wat dit ’n saak van opregte gebed maak en ’n opregte poging aanwend om daar te wees.—Hebr. 10:24, 25.
10 LUISTER AANDAGTIG: In Psalm 50:7 (NAV) sê Jehovah: “Luister, my volk, Ek wil my saak stel.” Moenie dat jou aandag gedurende die byeenkomsprogram afgetrek word deur dinge wat jy sien en hoor wat nie verband hou met die materiaal wat van die verhoog af aangebied word nie. Ons begeerte om die suiwer taal vlot te praat moet ons aanspoor om ten volle aan Jehovah se versoek in Jesaja 55:2 te voldoen: “Luister aandagtig na My.”
11 Al die materiaal wat by hierdie byeenkoms aangebied gaan word, is vir ons geestelike welsyn en sal ons help om ons voorneme te versterk om standvastig in ons diens aan Jehovah en eensgesind met ons broers te bly. Die byeenkoms sal ons op hoogte bring van huidige behoeftes en sal ons help om tred te hou met Jehovah se organisasie. Onoplettendheid sal tot gevolg hê dat ons agterbly. Ons moet ons in die program verdiep sodat ons ten volle daarby baat kan vind en daarna kan toepas wat ons leer.—Jak. 1:25.
12 Is daar iets wat ons kan doen om beter aandag aan die program te skenk en die informasie wat aangebied word te onthou? Ja, daar is. Baie byeenkomsgangers het die nuttige gewoonte aangeleer om gedurende die program aantekeninge te maak. Gepaste toerusting om mee aantekeninge te maak moet saam met Bybels en liedereboeke as standaardtoerusting beskou word wanneer ons ’n byeenkoms bywoon. As jy skepties is oor die maak van aantekeninge, kan jy gerus probeer om dit gedurende die “Suiwer Taal”-Streekbyeenkoms te doen. Jy sal dalk vind dat dit ’n goeie manier is om jou aandag gevestig te hou op wat gesê word en dat dit jou teen dwalende gedagtes beskerm.
13 Aantekeninge hoef nie omvattend of uitvoerig te wees nie. Gewoonlik sal ’n frase of twee voldoende wees vir ’n sleutelgedagte. Ouere manne vind dit voordelig om netjiese aantekeninge te hê sodat hulle ’n betekenisvolle hersiening van die byeenkomsprogram op die Diensvergadering kan hou. Hulle kan ook baie van die gedagtes wat by die byeenkoms aangebied word in hulle onderrigtings- en herderswerk insluit.
14 SANG EN GEBED: Ons eer Jehovah deur lofliedere te sing. Dit is deel van ons aanbidding. Jehovah is ook bly wanneer sy volk hom in opregte gebed nader (Spr. 15:8b). Streekbyeenkomste bied ons ’n unieke geleentheid om met duisende van ons broers en susters verenig te wees en Jehovah deur sang sowel as gebed te loof. Sommige het egter ’n gebrek aan waardering vir hierdie belangrike aspekte van ons aanbidding getoon. Hoe? Deur sonder rede gedurende of na die openingslied en gebed by die byeenkoms aan te kom. Of aan die einde van die program verlaat sommige hulle sitplekke gedurende die lied en voor die gebed. Waarom? By seldsame geleenthede is daar moontlik goeie rede hiervoor. Maar toon sommige behoorlike respek en waardering vir Jehovah se tafel wanneer hulle afsien van die voorreg om te sing en saam te bid net sodat hulle vroeg by hulle motors kan kom of kan eet?—Matt. 6:33.
15 Ons moet versigtig wees dat ons nie in die najaging van persoonlike gerief toelaat dat die wêreld se “ek eerste”-gesindheid of goddelose eienskappe soos hebsug en selfsug ons geestelike groei belemmer nie. Mag ons dieselfde gees van waardering vir heilige dinge toon soos ons broers verlede jaar by die byeenkomste in Pole gedoen het en mag ons skouer aan skouer saam met hulle wandel deur gepaste respek vir sulke verhewe aspekte van ons bediening, naamlik ons gebede en lofliedere tot Jehovah, te toon.—Ps. 69:31.
16 ONS CHRISTELIKE MANIERE: Ons Christelike maniere en voorkoms by byeenkomste het ons ’n goeie reputasie as Jehovah se Getuies besorg. Dit is omdat ons aanbidding van Jehovah vir ons ’n saak van erns is en omdat ons nie die bywoning van ’n byeenkoms as ’n bloot sosiale uitstappie beskou nie. Wanneer ons by sulke spesiale geleenthede bymekaarkom, moet ons ons Christelike waardigheid en ’n geestelike gemoedstemming behou en ons te alle tye as bedienaars gedra.—1 Kor. 10:31-33.
17 Dit is egter verontrustend om te sien dat ’n paar wat die byeenkomste bywoon uitermate informeel in hulle gesindheid, kleredrag, spraak en gedrag geword het. Wat kan gedoen word wanneer dit in die plaaslike gemeente of by ’n byeenkoms opgemerk word? Diegene met geestelike hoedanighede moet liefdevolle raad gee met die doel om die persoon reg te help (Gal. 6:1; Ef. 4:11, 12). As ons die suiwer taal spreek, moet dit ons aanmoedig om ons goeie reputasie en hoë gedragstandaarde te handhaaf.
18 ’n Besoeker by een van die byeenkomste het die volgende briefie in ’n bydraebussie gelaat: “Ek het julle program baie geniet. Ek sal nou die Bybel saam met een van [die] broers studeer. Dit was my eerste besoek aan enige van julle byeenkomste. Ek het beoog om net Saterdag te kom, want Sondag is my kerkdag. Maar ek was só beïndruk dat ek vandag gekom het en my hele gesin saamgebring het. Maar ek was teleurgesteld omdat van die volwassenes hard gepraat het terwyl die spreker aan die woord was.”
19 By sommige byeenkomste is daar ook opgemerk dat ’n paar tienderjariges in die boonste gedeeltes of ver van die ander in die ouditorium sit, briefies rondstuur, fluister en oor die algemeen nie aan die program aandag skenk nie. Sulke gedrag toon dat hulle steeds ouerlike toesig nodig het en by die gesin moet sit. Verantwoordelike ouers sal aan hierdie sake aandag skenk en die leiding voorsien wat hulle kinders nodig het (Ef. 6:4). Broers, susters en jongmense moet besef dat wanneer die program aan die gang is dit ’n tyd is om te luister, nie om te gesels nie.—Deut. 31:12.
20 VIR OUERS: Jong kinders en tieners is onder diegene wat na die “Suiwer Taal”-Streekbyeenkoms uitgenooi word. Hulle moet ook die suiwer taal vlot praat. Hoe goed is dit tog om jongmense te sien wat geleer het om noukeurig aandag te skenk by alle Christenvergaderinge en wat intens belangstel in die byeenkomsprogram! (Ps. 148:12, 13). Maar baie hang van die ouers se voorbeeld en toesig af. Baie jongmense is goed opgelei om aantekeninge te maak. Indien jy as ouer jou kinders nog nie geleer het om aantekeninge te maak nie, kan jy gerus die tyd gebruik wat voor julle streekbyeenkoms oorbly om dit te doen. Selfs klein kindertjies kan aangemoedig word om teksverwysings en verwante sleutelwoorde wat die spreker gebruik neer te skryf. Sommige ouers reël om hoofgedagtes van die dag se program te hersien nadat hulle na hul verblyfplek teruggekeer het of terwyl hulle huis toe ry.
21 Die meeste ouers besef natuurlik dat dit die natuurlike neiging van kinders is om spelerig te wees. Hulle het ’n gebrek aan lewensondervinding en is onvolwasse. Hulle moet derhalwe geleer word wanneer om aandag te skenk en hoe om hulle by vergaderinge te gedra. Dit verg goeie toesig deur hulle ouers. Sommige ouers was nalatig op hierdie gebied. Hoewel ouers dalk gedurende gebed behoorlike eerbied vir Jehovah toon, speel hulle kinders soms en trek hulle ander se aandag af. Ouers moet weet wat hulle kinders selfs gedurende gebede doen. En wat doen hulle wanneer hulle gedurende die program hulle sitplek verlaat? Word kinders gedurende of na die byeenkomsprogram sonder toesig gelaat? (Spr. 29:15). Alle Christenouers moet te alle tye streng toesig oor hul kinders hou terwyl hulle hul “in die tug en vermaning van die Here” opvoed.—Ef. 6:4.
22 JOU VOLLE SAMEWERKING WORD WAARDEER: Dit het baie beplanning en werk geverg om te sorg dat daar genoeg sitplek, lektuur, voedsel en ander voorsienings is vir almal wat die byeenkoms bywoon. Om die doeltreffendheid van hierdie reëlings te verseker, is elke gemeente na ’n spesifieke byeenkoms aangewys. Jou volle samewerking is belangrik om te voorkom dat ons mekaar verdring. Daar kan natuurlik omstandighede wees wat dit vir ’n paar nodig maak om ’n byeenkoms in ’n ander gebied by te woon. Die meeste sal egter die byeenkoms kan bywoon waarheen hulle aangewys is.—1 Kor. 13:5; Filip. 2:4.
23 Jou volle samewerking word versoek wat die hou van sitplekke betref. Hou asseblief in gedagte dat SITPLEKKE SLEGS GEHOU MAG WORD VIR JOU EIE GESIN EN PERSONE WAT SAAM MET JOU IN JOU MOTOR RY. Moet asseblief nie vir ander sitplekke hou nie. Soms word ekstra sitplekke bespreek vir niemand in die besonder nie. Dit is liefdeloos en verwar die saalwagters en ander wat na oop sitplekke soek. Ooreenkomstig Bybelraad, moet ons daarna strewe om broederlike geneentheid te toon en ten volle met die goedgekeurde reëling vir die hou van sitplekke saam te werk.—2 Pet. 1:5-8, NW.
24 Daar word voorgestel dat goeie oordeel aan die dag gelê word oor persoonlike items wat na die byeenkomsterrein gebring word. In die verlede het sommige groot koelhouers of ander groot items gebring wat nie onder hulle sitplek kon inpas nie. Dit is in die gangetjies of op stoele neergesit. Dit het veroorsaak dat ander nie ’n sitplek gehad het nie en het soms brand- en veiligheidsregulasies geskend. Ons moet bedagsaam wees in sulke aangeleenthede.
25 Die gebruik van videokameras en bandopnemers word by die byeenkomsterrein toegelaat. Diegene wat sulke toerusting gebruik, moet egter versigtig wees om nie ander te steur of hulle aandag af te trek nie. Sulke toerusting moet nie in gangetjies of uitgange opgestel word nie. Sulke toerusting mag nie aan die luidsprekerstelsel of elektriese kontaksokke gekoppel word nie. Spreiligte sal nie toegelaat word nie. Diegene wat ’n steurnis veroorsaak of enige van die voorgenoemde riglyne veronagsaam, moet die saak sonder versuim regstel wanneer dit onder hulle aandag gebring word. Saalwagters en ander wat toesig hou, moet wakker wees om enige skending van hierdie riglyne reg te stel, en diegene wat sulke toerusting gebruik, moet saalwagters hulle volle samewerking gee.
26 VOEDSELBEDIENING: ’n Vereenvoudigde reëling vir voedselbediening soortgelyk aan verlede jaar word vir 1990 beplan. Dit verlig die werklas grootliks en maak dit moontlik om meer aandag aan die geestelike aspekte van die byeenkoms te skenk, aangesien die werkers meer van die program kan geniet. (Ex. 12:16b; Deut. 31:12; it Dl. 1 bl. 503-4, 821; vergelyk Lukas 10:38-42.) Die spyskaart maak voorsiening vir genoeg voedsel vir die oggend en middag. (Vergelyk Mattheüs 14:14-20.) Vir aandetes kan elkeen hulle eie reëlings tref, hoewel ’n bietjie kos by die byeenkoms beskikbaar sal wees.
27 Die Genootskap stel die goeie ondersteuning wat julle broers en susters deur die jare heen aan die voedselreëlings gegee het hoog op prys. Dit het dit moontlik gemaak om goeie fasiliteite te huur en die byeenkomsonkoste te dek. Die huurgeld vir sommige fasiliteite het gedurende die afgelope paar jaar skerp gestyg. Enige bydraes om sulke koste te help dek, word dus baie waardeer. Enige bydraes vir voorbyeenkomsonkoste kan aan die Streekbyeenkomskomitee in jou gebied gestuur word.
28 KOM NA DIE “SUIWER TAAL”-STREEKBYEENKOMS: Deur die “Suiwer Taal”-Streekbyeenkoms by te woon en noukeurig aandag te skenk aan die program, sal jy des te meer besef waarom Jehovah ons die suiwer taal gegee het en waarom ons altyd moet waak teen enige selfsugtige neiging wat kan verhinder dat ons eensgesind met ons broers is. Tref nou reëlings om teenwoordig te wees vir die openingslied en om al die sessies tot die slotgebed op Sondagmiddag by te woon.
[Venster op bladsy 10]
Herinneringe in verband met die Streekbyeenkoms
HUISVESTING: Die meeste verkondigers sal hulle eie reëlings vir huisvesting tref. As jy egter wil hê dat die byeenkomsorganisasie vir jou huisvesting moet reël en jy nog nie om huisvesting aansoek gedoen het nie, moet jy asseblief jou Kameraansoekvorm onmiddellik aan hulle stuur.
DOOP: Doopkandidate moet probeer om hulle sitplekke in die aangewese gedeelte in te neem voor die program Saterdagoggend begin. Elke persoon wat beplan om hom te laat doop, moet ’n beskeie baaikostuum en ’n handdoek saambring. Na die dooptoespraak en gebed deur die spreker sal die sessievoorsitter kortliks instruksies aan die doopkandidate gee en dan die lied aankondig. Aan die begin van die laaste vers sal die saalwagters die doopkandidate lei na die doopplek of na voertuie wat hulle daarheen sal neem, terwyl die res van die gehoor die lied klaar sing. Aangesien doop, as simbool van ’n mens se toewyding, ’n intieme en persoonlike saak tussen die individu en Jehovah is, is daar geen voorsiening vir gesamentlike doop waartydens twee of meer doopkandidate mekaar omhels of hande vashou terwyl hulle gedoop word nie.
VRYWILLIGERDIENS: Vrywilligerhulp is nodig om ’n streekbyeenkoms glad te laat verloop. Selfs as jy net vir ’n gedeelte van die byeenkoms kan werk, sal jou dienste waardeer word. As jy kan help, moet jy asseblief by die Vrywilligerafdeling aanmeld wanneer jy by die byeenkoms aankom. Kinders onder 16 jaar kan ook bydra tot die sukses van die byeenkoms, maar hulle moet saam met ’n ouer of ander verantwoordelike volwassene werk.
LIEDERE: Aangesien sang ’n deel van ons aanbidding is, moedig ons almal aan om die volgende liedere wat deel van die program sal wees te oefen: 148, 78, 217, 160, 191, 211, 69, 164, 111, 91, 144, 202, 33, 200, 79, 155, 61, 31, 42, 161, 45. Ons stel voor dat julle die Genootskap se kassette gebruik wanneer julle die liedere oefen.
PROGRAMTYE: Dit is verstandig en toon waardering as ons in ons sitplek is wanneer die program begin. Dit sal 1:30 nm. op die eerste dag wees. Tref reëlings om tot aan die einde van die sessies te bly. Die slotlied en gebed sal om 4:00 nm. op die laaste dag wees.
BETHELVERGADERING: Daar sal op die tweede dag ’n vergadering gehou word vir enige toegewyde verkondiger tussen 19 en 35 jaar wat graag in Bethel wil dien. Aankondigings oor die presiese tyd en plek van hierdie vergadering sal by die byeenkoms gedoen word.
PIONIERIDENTIFIKASIE: Alle gewone en spesiale pioniers, reisende opsieners, sendelinge en Bethelwerkers moet hulle identifikasiekaart (S-202) na die byeenkoms saambring. Diegene wat ten tyde van die streekbyeenkoms wat hulle bywoon reeds ses maande in voltydse diens is, kan byeenkomskoepons ter waarde van R22 ontvang wanneer hulle hul identifikasiekaart toon. Pas die kaart so goed op soos jy kontant sal oppas. Dit kan nie by die byeenkoms vervang word nie. Enige gratis publikasie of ander lektuur teen pioniertarief sal net by die boekekamer vir die pioniers beskikbaar wees.
LAPELKAARTE: Dra asseblief die spesiaal ontwerpte lapelkaarte by die byeenkoms en terwyl julle na en van die byeenkomsterrein reis. Dit gee ons dikwels die geleentheid om ’n goeie getuienis te lewer terwyl ons reis. Julle moet die lapelkaarte by julle gemeente kry, aangesien dit nie by die byeenkomste beskikbaar sal wees nie. Die lapelkaarte kos 5c elk en die plastiekhouers 50c elk.
’N WOORDJIE VAN WAARSKUWING: Sluit te alle tye jou motor en moet nooit enigiets oop en bloot laat nie, ongeag waar jy parkeer. Sluit jou besittings in die bagasiebak toe, indien moontlik. Pas ook op vir diewe en sakkerollers wat deur groot byeenkomste gelok word. Dit beteken dat geen waardevolle artikels onbewaak op sitplekke by die byeenkomste gelaat moet word nie. Wees asseblief versigtig.