Help ander om God se liefde te waardeer
1 “God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was” (Rom. 5:8). Daardie woorde openbaar dat Jehovah belowe het om die mensdom van sonde, hartseer en die dood te verlos (Jon. 3:16). Ons waardering neem toe as ons besef dat God se liefde so groot is dat hy dit vir die hele mensdom gedoen het, hoewel die oorgrote meerderheid nie sy Godheid of sy seggenskap oor hulle lewens erken nie.
2 Aangesien die geleentheid om vir ewig te lewe vir alle mense beskikbaar is, wil ons doen wat ons kan om waardering vir God se liefde op te bou in die harte van diegene aan wie ons die goeie nuus bekendmaak. As mense Jehovah op aanneemlike wyse wil dien, moet hulle alles wat hy vir hulle gedoen het, veral deur middel van die losprysofferande van sy Seun, waardeer. Hoe kan ons hulle help om God se groot liefde te waardeer?
DIE GEDENKMAAL
3 Op Vrydag, 1 April 1988, sal Jehovah se volk die dood van Jesus Christus herdenk. Die Skriftuurlike toespraak wat by daardie geleentheid gehou sal word, kan talle nuwelinge wat dit bywoon, help om God se liefde meer te waardeer en duideliker te besef dat dit nodig is om in ooreenstemming met sy wil te lewe. Nooi gerus soveel mense moontlik om die Gedenkmaal by te woon. Het jy daaraan gedink om jou bure uit te nooi? Wat van jou familie, skoolmaats en mede-werkers? Gebruik die Genootskap se gedrukte uitnodiging om jou te help om gesprekke aan te knoop.
4 Ouere manne word aangespoor om deeglike voorbereidsels te tref vir die Gedenkmaal. Is daar genoeg sitplek vir almal wat dit moontlik sal bywoon en is daar reëlings getref vir ekstra stoele, indien nodig? Waar meer as een gemeente die saal gaan gebruik, is ordelike reëlings en ’n gepaste rooster nodig sodat elke gemeente genoeg tyd sal hê om die Gedenkmaal te vier. Die liggaam van ouere manne moet ’n bekwame spreker kies wat die inligting duidelik en skriftuurlik sal oordra. Dit sal alle aanwesiges help om te waardeer wat God ten behoewe van hulle gedoen het. Hulle sal gevolglik kan besef dat dit nodig is om sy liefde heelhartig te beantwoord.—Kyk Die Wagtoring van 15 Februarie 1985, bladsy 19.
BIED SKEPPING-BOEK AAN
5 Behalwe die gawe van sy Seun, het Jehovah ook sy liefde vir die mensdom getoon deur die dinge wat hy gemaak het. Nogtans gee miljoene Jehovah nie die eer vir die wonderlike skepping waardeur ons omring word nie. Dit is belangrik dat mense die waarheid oor die oorsprong van die lewe moet besef. Waarom? Want soos die Skepping-boek in paragraaf 3 op bladsy 8 sê: “Ons hele gesindheid teenoor die lewe en die toekoms [word beïnvloed] deur ons beskouing van die oorsprong van lewe. En die wyse waarop lewe in aansyn gekom het, sal bepaald die toekomstige verloop van die geskiedenis en ons plek daarin raak.” Ons nuwe ‘Onderwerp vir gesprekke’ en die Skepping-boek kan gebruik word om opregte persone te help besef dat Jehovah die Skepper van lewe en die gesinsreëling is.
6 Maart en April was nog altyd uitstekende maande om aan die hulppionierdiens deel te neem. Talle ouere manne en bedieningsknegte sal ongetwyfeld saam met hulle gesinslede hulppionierdiens kan doen en sodoende ’n goeie voorbeeld vir die gemeente stel.
7 Gebruik gedurende Maart elke geleentheid om ander te help om God se liefde te waardeer deur nuwelinge na die Gedenkmaal uit te nooi en die Skepping-boek aan te bied. Ons kan sodoende toon dat ons Jehovah se liefde baie waardeer.