Bied die Goeie Nuus Aan—Deur traktate by elke geleentheid te gebruik
1 Sommige plante kan honderde of selfs duisende sade voortbring. Jehovah het op hierdie manier verseker dat sulke plantegroei altyd welig op die aarde sal wees.—Gen. 1:29, 30.
2 Jehovah maak eweneens in sy groot milddadigheid die saad van Koninkrykswaarheid oorvloedig, nie net in die monde van sy toegewyde knegte nie, maar ook in die vorm van drukwerk. Dink aan die honderdmiljoene boeke, boekies, tydskrifte en brosjures wat deur die jare heen versprei is. ’n Nuwe stel traktate is onlangs gedruk. Gebruik ons die traktate om die goeie nuus by elke geleentheid te verkondig?
3 Ons moet met die traktate vertroud raak om hulle doeltreffend te kan gebruik. Let op dat hulle kleurryk is en op duursame papier gedruk is. Hulle handige grootte maak dit gerieflik om oral waar ons gaan ’n paar saam met ons te dra. Allerbelangriks, die Bybelse boodskap in elke traktaat is duidelik, ter sake en oortuigend. Is jy bewus van die talle geleenthede wat daar is om hulle te gebruik?
4 Huis-tot-huiswerk: Talle verkondigers vind dat die aanbieding van ’n gratis traktaat in hulle inleiding die geleentheid skep vir ’n gesprek met die huisbewoner. Jy kan dit dalk met die huidige ‘Onderwerp vir gesprekke’ probeer deur Die lewe in ’n vreedsame wêreld of Waarom jy die Bybel kan vertrou te gebruik. Gedurende ’n gesprek by die deur vind jy dalk uit dat die persoon onlangs ’n geliefde aan die dood afgestaan het. Hoe gepas sal dit tog nie wees om die vertroostende boodskap in die traktaat Watter hoop vir afgestorwe dierbares? met hom te deel nie. Of die gesprek openbaar miskien dat die persoon ’n paar misvattings het oor wat Jehovah se Getuies glo. Die traktaat Wat glo Jehovah se Getuies? is moontlik net wat hy nodig het. Die huisbewoner is dikwels bereid om ’n traktaat te aanvaar al wys hy die lektuuraanbod van die hand. Ons weet nie watter uitwerking een traktaat kan hê op daardie persoon of op ander in sy huis wat dit moontlik lees nie.—Pred. 11:6.
5 Informele getuieniswerk: Gedurende ons daaglikse roetine kom ons dalk in aanraking met etlike wêreldse persone. Waar ons ook al is, die traktate help ons om voorberei te wees om ’n getuienis te gee. Die geleentheid vir ’n kort mondelinge getuienis kan vergroot word as ons die persoon ’n traktaat aanbied wat hy later kan lees.
6 Praat werkmaats of ander by jou werk oor die druk en probleme van die lewe in hierdie stelsel? Sal hulle graag wil weet wat jou ’n hoop vir die toekoms gegee het? As hulle werklik “sug en steun” oor die wêreld se onregverdige toestande sal die informasie in Die lewe in ’n vreedsame nuwe wêreld ’n ontvanklike snaar in hulle harte aanroer en die weg vir verdere besprekings baan.—Eseg. 9:4.
7 Hoor julle jongmense op skool dat onderwysers of medeleerlinge die betroubaarheid van die Bybel bevraagteken? Waarom jy die Bybel kan vertrou bevat ’n geloofversterkende boodskap wat die wetenskaplike en geskiedkundige akkuraatheid van die Bybel toon en wat moontlik hulle belangstelling sal wek om meer te leer.
8 Jesus het gesê dat die veld waarin ons moet getuig die hele bewoonde aarde is (Matt. 13:38; 24:14, vgl. NW). Laat ons dus, waar daar ook al mense is—hetsy by die werk, op skool, in die wagkamer van ’n dokter of ’n tandarts, by die selfhelpwassery of waar ons inkopies doen, by die huise van familielede of bure, of selfs by ons eie deur wanneer mense om verskeie redes aanklop—elke geleentheid benut om die sade van die goeie nuus van die Koninkryk te versprei vol vertroue dat sommige hiervan op “goeie grond” sal val en verdere vrug tot lof van Jehovah sal voortbring.—Matt. 13:23.