Gesinsbybelstudie—’n prioriteit vir Christene
1 Gesinsbybelstudie geniet alte dikwels nie die nodige aandag wanneer daar ernstige probleme met gelowige gesinslede, veral met tieners, is nie. Ongelukkig ondervind talle gesinne, waaronder die van sommige ouere manne en bedieningsknegte, Probleme met hulle skoolgaande kinders wat voor wêreldse invloede geswig het.
2 ’n Kringopsiener het onlangs geskryf oor broers wat probleme met hulle kinders het. Hy het opgemerk dat die wortel van die probleem feitlik altyd die gebrek aan aandag aan Bybelonderrig in die huis is. ’n Onlangse opname deur ’n kringopsiener het aangedui dat tot 50 persent in sommige gemeentes nie ’n gereelde gesinsbybelstudie het nie.
’N PRIORITEIT
3 Jehovah het ouers in Israel gemaan: “En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan” (Deut. 6:6, 7). Ja, ouers in Israel is opdrag gegee om hierdie saak ernstig te oorweeg.
4 Tyd moet gereeld opsygesit word vir gesinstudie as gesinne die riglyne wil volg wat in God se Woord gegee word. Gesinshoofde moet ywerig daarin volhard om die gesinsbybelstudie gereeld te hou, en ander gesinslede moet eweneens help om hierdie aspek van gesinsaanbidding tot voordeel van die hele huisgesin te laat slaag. Almal moet besef dat as hulle nie nou behoorlik aandag skenk aan die geestelike behoeftes van die gesin nie, hulle heel waarskynlik in die toekoms met ernstige en selfs pynlike probleme te kampe sal hê.
HOE OM ’N STUDIEPROGRAM AAN TE PAS
5 Hoe moet ’n studie gehou word? Wat moet bestudeer word? Wanneer moet dit gehou word, en hoe lank? Hoe kan jy daarvan seker wees dat jy die kind se hart bereik? Lees gerus Die Wagtoring van 1 November 1986, bladsy 24 vir antwoorde op hierdie vrae.
6 Noodsaaklike bestanddele vir ’n suksesvolle gesinstudie is die vreugde en geesdrif wat die ouers openbaar. (Vergelyk Psalm 40:9.) Ouers moet ook die kinders prys vir hulle pogings en hulle aanmoedig om Jehovah se beginsels toe te pas.
7 ’n Suster het die waarheid geleer toe agt van haar kinders nog in die huis was. Hoewel sy ’n ongelowige en ontegemoetkomende man gehad het, het sy seker gemaak dat die geestelikheid van haar kinders behoorlike aandag geniet het. Sy het ’n goeie voorbeeld gestel in die velddiens en wat haar deelname by vergaderinge betref. Na velddiens het sy gewoonlik na haar kinders se gesigte gekyk om te sien of hulle blydskap weerspieël. Indien nie, het sy onmiddellik seker gemaak dat sy hulle aanmoedig. As hulle hul in hul kamers afgesonder het, het sy liefdevol met hulle gepraat om uit te vind wat hulle pla en hulle met God se Woord aangemoedig. Al haar kinders is gevolglik in die waarheid. Drie was gewone pioniers, en twee van hierdie drie het ook by Bethel gedien. Haar pogings is ryklik beloon omdat sy hulle geestelikheid altyd eerste gestel het.—Vergelyk 3 Johannes 4.
8 Talle seëninge kan nou en in die toekoms geniet word as ouers voortdurend aan die geestelike behoeftes van hulle kinders aandag skenk. Namate die kinders die waarde van God se wet besef en daarvan oortuig raak dat dit werklik goed en voordelig is, sal hulle nie aarsel om ander deur woord en daad te laat weet wat hulle glo nie (Psalm 119:165). Ouers, gee derhalwe julle gesinsbybelstudie vreugdevol die belangrike posisie wat dit toekom.