Pas jy toe wat jy geleer het?
1 Wat ’n vreugde was dit om al vier dae van ons “Goddelike Geregtigheid”-Streekbyeenkoms by te woon! Ja, die program was elke dag propvol aanmoediging en praktiese wenke oor hoe ons God se geregtigheid en regverdigheid in groter mate aan die dag kan lê. Pas jy toe wat jy ‘geleer, gehoor en gesien het’, noudat jy teruggekeer het na jou huis en jou gewone roetine? (Filip. 4:9). Dit sal goed wees om ’n paar glanspunte van die byeenkomsprogram te hersien.
2 Dink terug aan die toespraak “Lei ’n gebalanseerde, eenvoudige lewe” wat op Donderdagmiddag gehou is. Dit is op Jesus se raad in Mattheüs 6: 19-33 gebaseer. Het jy ernstig gedink oor wat jy kan doen om onnodige dinge uit te skakel sodat jy meer tyd sal hê om te studeer, vir vergaderinge voor te berei en ander te help? Watter aanpassings kan jy maak sodat jy ’n eenvoudige lewe kan lei met minder afleidings en groter betrokkenheid by geestelike sake? As ons eers God se Koninkryk en sy geregtigheid soek, verminder dit bekommernis en vergroot dit ons lewensvreugde.
3 Die deel “Neem dissipline aan en word wys” het beklemtoon waarom dit belangrik is om al die onderrigting wat Jehovah deur sy Woord en organisasie voorsien te benut. Een gebied waaraan party moontlik spesifieke aandag moet skenk, is die verfyning en verbetering van hulle bediening. Gebruik ons gereeld die voorgestelde ‘Onderwerp vir gesprekke’ om die huisbewoner in ’n Bybelbespreking te betrek? Of is ons tevrede met kort tydskrifaanbiedings? Pas ons raad en wenke toe oor hoe ons die Redenering-boek kan gebruik, terug kan gaan na belangstellendes en Bybelstudies kan hou?—Spr. 8:33.
4 Vrydag se program het die toespraak “Wees rein van verstand en liggaam” ingesluit. Goddelike geregtigheid vereis dat God se volk geestelik, sedelik, verstandelik en fisies rein moet wees (2 Kor. 7:1). Pas jy toe wat jy oor hierdie belangrike saak geleer het? Hoe? Ons sal geestelik rein bly as ons afgeskeie bly van hierdie wêreld se onrein godsdienste en van afvalliges. Ons moet ons verstande dissiplineer as ons onrein denkgewoontes of verkeerde seksuele begeertes, wat tot verstandelike en sedelike onreinheid lei, wil vermy (Job 31:1, 9-11). Het jy besliste stappe gedoen om rolprente, TV-programme of leesstof te vermy wat ’n bederwende invloed op jou of jou gesin kan hê? Dit is ook gemeld dat party persoonlike sindelikheid en netheid by die huis verwaarloos het. As enigiemand ’n swakheid op hierdie gebied het, kan aanpassings sekerlik in persoonlike gewoontes gemaak word om fisiese reinheid te verseker. Elke gesinslid moet saamwerk om die reinheid en ordelikheid van ’n huishouding te handhaaf. Veral wanneer ons Jehovah in die bediening verteenwoordig, moet ons voorkoms goed versorg en ons klere netjies, skoon en beskeie wees. Ons verheerlik daardeur ons heilige God.—1 Pet. 1:14-16.
5 Toekomstige nommers van Ons Koninkryksbediening sal ons aan nog ander noodsaaklike aspekte van goddelike geregtigheid herinner waarvan ons by verlede jaar se byeenkoms geleer het. Dit sal vir almal nuttig wees terwyl ons hierdie beginsels van geregtigheid in ons daaglikse lewens en ons bediening toepas. Anders as baie mense in die Christendom wat dit geniet om na die Bybel se boodskap te luister, maar nie daarvolgens handel nie, put ons veel genot en persoonlike voordeel daaruit deur “daders van die woord en nie net hoorders” te wees nie.—Jak. 1:22-25; Eseg. 33:32.