Bied die Goeie Nuus Aan—Deur spoedig terug te gaan na belangstellendes
1 Die apostel Paulus het Timotheüs aangespoor: “Verkondig die woord; [hou as ’n dringende saak daarmee aan] . . . doen die werk van ’n evangelis; vervul jou bediening” (2 Tim. 4:2, 5, vgl. NW). Daardie raad is vandag baie geldig.
2 Dit is noodsaaklik om die oorblywendes te vind wat “sug en steun” oor die korrupsie wat in die Christendom heers (Eseg. 9:4). Ja, “die hele wêreld [lê] in die mag van die Bose”, en alle mense het derhalwe die Koninkryk nodig (1 Joh. 5:19). Ons kan hulle help deur doeltreffende herbesoeke te doen. As ons spoedig na belangstellendes teruggaan, kan dit lewens red.
GAAN GOU TERUG
3 Dit is waarskynliker dat die huisbewoner die onderwerp wat jy bespreek het, sal onthou as jy ’n herbesoek kort na die eerste besoek doen. Jy sal goed in staat wees om die gesprek te hervat en die belangstelling verder te ontwikkel. Jy sal dalk die huisbewoner se belangstelling kan vergroot voor ander mense negatiewe gedagtes in sy verstand kan laat posvat.
4 Terwyl ’n suster een Maandag velddiens gedoen het, het sy ’n jong moeder wat neerslagtig en mismoedig was, ontmoet en vir haar getuig. Sy het Donderdag ’n herbesoek gedoen en ’n Bybelstudie begin. Die vrou het gesê dat haar vrae nog nooit so duidelik uit die Bybel beantwoord is nie. Die suster het haar die Vrydag weer besoek om aandag te vestig op die onderwerp van die Wagtoring-studie vir Sondag. Die vrou het dit daardie eerste Sondag bygewoon en aangehou om geestelike vooruitgang te maak. As ons te lank talm voordat ons na belangstellendes teruggaan, kan die oorspronklike belangstelling gou vervaag en sal dit moeilik wees om dit weer aan te wakker.
5 Op die eerste besoek kan jy ’n spesifieke afspraak vir ’n herbesoek maak. ’n Goeie manier om dit te doen, is deur ’n gedagteprikkelende vraag te opper en aan te bied om met die antwoord terug te kom. Maak ’n afspraak vir ’n spesifieke tyd in die volgende week, later in dieselfde week of selfs die volgende dag as dit gepas is.
GAAN TERUG NA ALLE BELANGSTELLENDES
6 As Christene word ons almal aangespoor om dissipels te maak (Matt. 28:19). Benewens diegene wat Bybellektuur aanvaar, stel ander dalk ook belang in die goeie nuus. Party wat lektuur van die hand wys, is moontlik gewillig om Bybelonderwerpe te bespreek. As jy belangstelling bemerk, kan jy gerus teruggaan en daardie belangstelling probeer ontwikkel, hetsy jy lektuur geplaas het of nie. Ons soek na mense wat in die goeie nuus belangstel.
7 ’n Spesiale pionier in Korea het aangevoel dat ’n vrou wat altyd die tydskrifte geweier het tog in ’n mate belang gestel het. Die pionier het die tydskrifte opsygesit, en die vrou was bereid om ’n paar paragrawe in een van die boekies te bespreek. Die suster het drie dae daarna vir ’n tweede bespreking teruggekeer. Die vrou het na ’n paar verdere besoeke twee maal ’n week ’n Bybelstudie gehad. Binne vier maande kon sy ernstige teenstand van haar familie te bowe kom en vir ander begin preek.
8 As jy werklik belangstelling wil aanwakker en Bybelstudies wil begin, is dit baie belangrik dat jy spoedig na alle belangstellendes teruggaan. As jy dit doen, sal dit vir jou baie seëninge uit Jehovah se hand meebring.