Berei nou voor vir groter bedrywigheid wat voorlê
1 Gedurende oestyd is die arbeiders besiger as gewoonlik. En gedurende ’n tyd van dringendheid span mense hulself in en beweeg hulle met meer energie as gewoonlik rond. Ons leef in ’n oestyd en ’n tyd van dringendheid. Daar is baie om te doen. Berei jy jou voor om alles wat vereis word uit te voer?—Matt. 9:37, 38; 13:39; Luk. 13:24; 1 Tim. 4:10.
DIE GEDENKMAAL
2 Die Gedenkmaalseisoen is die belangrikste tyd van die jaar vir Jehovah se volk. Vanjaar sal die Gedenkmaalviering op Woensdagaand, 22 Maart, gehou word. Tref jy die nodige reëlings sodat niks jou en jou gesin sal verhinder om dit by te woon nie? Het jy familie en vriende uitgenooi sodat hulle ook daar kan wees? Wat van belangstellendes in julle gebied, jou Bybelstudente en vorige Bybelstudente?—Luk. 22:19; Openb. 22:17.
3 Die ouere manne reël gewoonlik dat die Koninkryksaal deeglik skoongemaak word voor die Gedenkmaal sodat alles in orde sal wees. Is reëlings getref vir die Gedenkmaalspreker, die embleme en diegene wat hulle sal bedien, asook ekstra sitplekke en genoeg saalwagters vir hierdie spesiale geleentheid?
’N GROTER DEELNAME AAN DIE VELDDIENS
4 Die Gedenkmaalseisoen herinner ons aan Jesus se offerande ten behoewe van ons. Dit is derhalwe ’n besonder gepaste tyd vir ons om te dink aan hoe ons ons bedrywigheid in die veldbediening kan vermeerder. Dit is een van die maniere waarop ons waardering vir Jehovah se onverdiende goedheid deur sy Seun kan betuig.
5 Kan jy gedurende Maart of April, of gedurende albei maande, as ’n hulppionier dien? Gedurende hierdie maande en gedurende Mei sal daar ’n intensiewe kampanje wees om die kragtige boodskap van Openbaring te verkondig. Maart sal gekenmerk word deur ons eerste kampanje met die Openbaring-boek, en alle Koninkryksverkondigers sal hulle gewis in hierdie bedrywigheid wil inspan. April het vyf naweke. Wat ’n wonderlike geleentheid om vyf agtereenvolgende Saterdae tydskrifdae te maak en die kleurryke nommers van Die Wagtoring oor Babilon die Grote aan te bied! Die Wagtoring van 15 April sal die hele teks bevat van die kragtige toespraak by ons “Goddelike Geregtigheid”-byeenkomste oor “Die berugte hoer” en die roerende resolusie wat daarop gevolg het. Watter groter aansporing kan ons wil hê om gedurende daardie vyf naweke besig te wees, indien moontlik as hulppioniers, om hierdie dinamiese boodskap so wyd moontlik te versprei! En om hierdie besielende boodskap aan te vul, sal Ontwaak! van 8 April insiggewende artikels bevat oor die slagting van die Nazi-era.
6 Ekstra inspanning is nodig om ’n groter deelname aan die velddiens te hê. Selfs al kan jy nie ’n pionier wees nie, sal dit gepas wees om ’n persoonlike uurmikpunt vir Maart en April te stel. Kan jy reël om meer tyd vir die velddiens te hê deur persoonlike belange en ontspanning te beperk? Doen die moeite. Vra Jehovah om jou te versterk en jou te seën. Diegene wat fisiese beperkinge het, vind moontlik dat hulle met die hulp van ander ook ’n groter deelname aan hierdie kampanje kan hê.
7 Maart en April behoort vir ons almal ’n baie besige tyd in Jehovah se diens te wees. Die ouere manne sal daarna streef om alles goed georganiseer te hê. Lektuurbehoeftes moet bepaal word en bestellings moet betyds geplaas word. Maak seker dat ekstra tydskrifte, veral Die Wagtoring van 15 April, beskikbaar is. Reël vir gebied, en tref reëlings om dit deeglik te dek. Daar moet gepaste velddiensreëlings wees, wat aandgetuieniswerk asook reëlings vir velddiens op vakansiedae in Maart en April insluit. Laat ons die tyd wyslik gebruik om Jehovah te loof terwyl ons ernstig om sy seën bid.