Verkondig Jehovah se oordele dringend
1 Jehovah se bestemde tyd om sy oordele aan Babilon die Grote te voltrek, kom vinnig nader (Openb. 1:3; 19:2). Maar eers moet ’n finale waarskuwing teen haar naderende vernietiging gegee word. As liefhebbers van geregtigheid dit wil oorlewe, moet hulle ‘uit haar uit gaan’ en hulle daarop toelê om ’n goedgekeurde posisie voor Jehovah te kry.—Openb.18:4.
2 Die nuwe boek Openbaring—Sy groot klimaks is ophande! sal ons help om hierdie waarskuwingswerk te doen. Dit bied God se oordele teen hierdie gedoemde wêreld duidelik en aanskoulik aan. As jy dit nie reeds gedoen het nie, moet jy tyd opsysit om hierdie nuwe boek so gou moontlik deur te lees.
WEND ’N SPESIALE POGING AAN
3 Met die oog op die dringende boodskap daarvan, sal alle verkondigers ’n deel daarin wil hê om die Openbaring-boek van huis tot huis aan te bied. Maak aantekeninge van waar mense nie tuis was nie en gaan weer terug. Ouere manne moet dit oorweeg om bykomende velddiensvergaderinge te reël. Sal velddiensreëlings in die middag vir die verkondigers nuttig wees? Sommige het gevind dat getuieniswerk vroeg in die aand baie produktief is.
4 Behalwe om die Openbaring-boek van huis tot huis aan te bied, kan ander geleenthede ook benut word. Jong verkondigers kan die boek vir hulle onderwysers aanbied. Diegene wat sekulêre werk doen, kan gedurende etenstye met werkmaats praat en die boek vir hulle aanbied. Gee alle mense—familielede, afleweraars, verkoopsmense wat na ons deur kom, dokters, tandartse, prokureurs, sakemense met wie ons sake doen—die geleentheid om ‘die woorde van die profesie te hoor’ (Openb. 1:3). Hulle wil dalk onder die ongetelde groot menigte wees wat die klimaks van goddelike oordeel by Armageddon sal oorlewe.
5 Die nuwe ‘Onderwerp vir Gesprekke’ is “Wie sal ons aanbid?” Ons inleiding kan informasie op bladsy 171 van die Redenering-boek insluit. Vra die huisbewoner of hy opgelet het hoeveel verskillende vorme van aanbidding daar is, en wys hom dan daarop dat die mens ’n basiese behoefte het om iets hoër as homself te aanbid. Maar aangesien mense so dikwels valse gode aanbid het, gee Openbaring 14:7 ons ’n tydige waarskuwing. Dit wys op die belangrikheid daarvan om ons Skepper, die ware God, te aanbid. Die boek Openbaring identifiseer alle valse godsdienste met die naam Babilon die Grote en gee ’n dringende waarskuwing in Openbaring 18:2a, 4. Maar sê nou iemand ondersteun valse godsdiensorganisasies hoewel hy dalk goeie sedes handhaaf en aan ander probeer goed doen? So ’n handelwyse dra nie God se goedkeuring weg nie. Dit gee ons iets ernstigs om oor te dink. Wys die Openbaring-boek. en vestig die aandag op ’n spesifieke gedagte wat van belang is. Bied dan die boek teen ’n bydra van R6,00 aan.
6 Jou aanbieding kan gewysig word ooreenkomstig die soort gebied waarin jy werk. Hersien die materiaal in die Redenering-boek onder “Godsdiens”, bladsye 171-182, en onder “Babilon die Grote”, bladsye 51-56, vir wenke oor hoe dit gedoen kan word. Dit is dringend dat ons ’n volle aandeel daarin het om hierdie goddelike boodskap van oordeel en hoop te verkondig.—Openb. 14:6, 7.