Openbaring—Geheime word ontsluit
1 Die boek Openbaring was lank ’n geheim. Bybelkenners het eeue lank probeer om sy geheime te ontsluit, maar sonder veel welslae. Die goddelik geïnspireerde inligting in Openbaring was egter nie bedoel om vir ewig geheim gehou te word nie. Dit is ’n deel van God se Woord wat ons moet verstaan (2 Tim. 3:16, 17). Gelukkig ontsluit God Openbaring nou namate sy opwindende profesieë in ons dag in vervulling gaan. Net soos Jehovah Johannes gebruik het om hierdie visioene aan sy mede-Christene oor te dra, gebruik Hy vandag ‘die getroue dienskneg’ om die betekenis van hierdie aangrypende profesie te onthul.—Matt. 24:45-47; Openb. 1:1-3.
2 Die aanbod vir Maart: Die boek Openbaring—Sy groot klimaks is ophande! het God se volk baie insig gegee en aangemoedig. Maar waarom sou dit vir mense in julle gebied van belang wees? Omdat hierdie opwindende publikasie uiters belangrike gebeure bespreek wat in die Bybelboek Openbaring beskryf word en wat in hierdie laaste dae hulle klimaks bereik. Sou denkers nie in die toekoms belangstel, soos dit deur God geopenbaar word nie? Hoewel die Bybelboek Openbaring God se regverdige oordele beskryf, bied dit ook beloftes van wonderlike toekomstige seëninge (Openb. 21:1-5). As ons die geïnspireerde boodskap daarin verstaan, help dit ons om te besef waar ons ons in die tydstroom bevind, en dit laat ons besef hoe dringend dit is om God se wil te doen.
3 Is die Openbaring-boek te moeilik vir die publiek om te verstaan? Blykbaar het baie dit nie te moeilik gevind nie. Let op ’n paar van die baie opmerkings wat lesers oor die boek gemaak het. Een man het gesê: “Hierdie inligting is kragtig. Maar dit is interessant. Ek hou baie daarvan.” ’n Predikant het gesê: “Ek het nog nooit iets gelees wat só opwindend en só waar is soos hierdie boek nie!” Iemand anders wat die boek in minder as ’n week gelees het, het gesê: “Nou het my oë vir die waarheid oopgegaan. Ek wil my hele lewe verander.” Dit is duidelik dat talle geluk vind wanneer hulle die Bybelboek Openbaring vir die eerste keer in hulle lewe met begrip lees en die woorde daarin ter harte begin neem.
4 Beveel die Openbaring-boek ywerig by ander aan: Wanneer jy gedurende Maart skriftuurlike besprekings met ander het, moet jy nie huiwer om die Openbaring-boek vir belangstellendes te wys nie. Noem vir diegene wat dit graag wil lees dat hulle ’n merk kan maak by die gedeeltes van die boek wat hulle nie verstaan nie en dat jy daardie punte met hulle sal bespreek wanneer jy terugkom. Op dié manier kan jy vasstel hoeveel hulle belangstel en ’n verdere grondslag lê vir ’n herbesoek.
5 Baie het die Openbaring-boek met welslae aangebied, nie net in die bediening van huis tot huis nie, maar ook informeel by familielede, kennisse en mense met wie hulle sake doen. Wys vir hulle hoe jy persoonlik baat gevind het by die treffende prente, nuttige tabelle en ander wonderlike leermiddele in die boek. Dit kan ander aanmoedig om die boek Openbaring te ondersoek, hoewel hulle moontlik voorheen gemeen het dat dit te moeilik is om te verstaan.
6 Hoe bevoorreg is ons tog om ingelig te wees omtrent toekomstige gebeure wat in die boek Openbaring geopenbaar word en wat vandag deur God se kanaal verduidelik word! Aangesien sulke kennis aan ons toevertrou is, moet ons, in teenstelling met die skrifgeleerdes van Jesus se dag en die geestelikes van vandag, nooit versuim om die betekenis van God se Woord aan diegene wat wil luister, bekend te maak of dit vir hulle te ontsluit nie. (Vergelyk Lukas 11:52.) En terwyl ons dit doen, hoop ons dat nog baie meer die hoop op die ewige lewe in God se nuwe wêreld sal aanneem en hulle by ons sal aansluit om die wil van ons Skepper te doen.—Openb. 4:11.