Staan vas as een kudde
1 Die tema van die spesiale byeenkomsdag vir die 1990-diensjaar is: “Staan vas as een kudde.” Hierdie tema is op Filippense 1:27 gebaseer. Die oggendprogram sal informasie insluit oor die belangrikheid daarvan om vas te staan, voorsienings om ons te help om vas te staan, voorbeelde van standvastiges en hoe ons teen verswakkende invloede kan waak. Daar sal reëlings vir doop aan die einde van die oggendsessie wees. Enigiemand wat dit oorweeg om hulle te laat doop, moet die presiderende opsiener betyds laat weet sodat reëlings getref kan word om die vrae te hersien in Georganiseer om ons bediening te vervul.
2 In die middag sal daar ’n opsomming van Die Wagtoring wees wat gevolg sal word deur aanmoediging om positief in die bediening te wees, onderrig oor hoe om ander in die bediening te help en praktiese raad om ons te help om in een gees vas te staan. Dit is nou meer as ooit nodig om as een kudde voor Jehovah vas te staan. Ons verenigde standpunt vir ware aanbidding beskerm ons teen die verdelende magte waarvan Satan se wêreld deurdring is, en dit plaas ons in ’n gunstige posisie om ander te help om by ons in ware aanbidding aan te sluit.
3 Die program sal geestelik opbouend wees, en ons almal moet reëlings tref om vir die hele dag teenwoordig te wees. Julle kringopsiener sal julle in kennis stel wanneer julle jul spesiale byeenkomsdag sal hê, as hy dit nie reeds gedoen het nie.