Ondersteun die pioniers
1 God se volk is bekend vir hulle ywerige deelname aan die bediening. Hoewel nie almal se omstandighede hulle toelaat om pioniers te wees nie, moet ons daarna streef om die pioniergees aan te kweek deur heelhartig te wees in wat ons doen. Ons is bly saam met die talle wat die pionierdiens kan betree en ons moedig hulle aan.
2 Om ’n pionier te word en te bly, is ’n groot taak. Pioniers doen ’n groot gedeelte van die predikings- en dissipelmaakwerk. Dit word nie sonder baie moeite en opoffering gedoen nie. Hoe kan ander hierdie ywerige voltydse knegte ondersteun en aanmoedig?
3 Wat gedoen kan word: Pioniers het die ondersteuning van die ouere manne nodig. Die pioniers word baie aangemoedig wanneer ouere manne saam met hulle werk. Baie ouere manne probeer om ten minste een keer per jaar saam met elke pionier in die gemeente te werk. Sodoende kan die ouere manne die pioniers prys vir wat hulle doen en hulle help om vooruitgang te maak. Pioniers moet hulle rooster miskien aanpas om velddiens te doen wanneer die ouere manne beskikbaar is. Ouere manne moet ook seker maak dat die groepe genoeg gebied het. Bykomende velddiensvergaderinge kan vir die middae of aande gereël word om die pioniers se roosters in aanmerking te neem. Dit sal veral geld gedurende daardie maande wanneer daar ’n aantal hulppioniers is.—Jes. 40:11.
4 Bedieningsknegte is in ’n goeie posisie om pioniers te help deur hulle in die bediening te ondersteun en gemeentereëlings ywerig waar te neem. Pioniersusters waardeer dit as broers die leiding neem om groepe vir velddiens te organiseer. Diegene wat na die lektuur en tydskrifte omsien, kan seker maak dat daar genoeg voorraad beskikbaar is. As daar na sulke sake omgesien word, help dit die pioniers om hulle aandag op hulle bediening te vestig.
5 Elkeen kan help: Verkondigers kan help deur meer dikwels aan te bied om saam met die pioniers te werk. Pioniers geniet die geselskap en ondersteuning van die ander verkondigers. Miskien kan jy reëlings tref om een keer per week of twee keer per maand saam met die pioniers te werk. Materiële dinge kan met die pioniers gedeel word, en hierdie vrygewigheid word hoog op prys gestel deur die pioniers.—Filip. 4:14-19.
6 Gesinne kan baie doen om hulle gesinslede wat pioniers is te help. Huishoudelike take kan dikwels so ingedeel word dat een of meer gesinslede pioniers kan wees. Een suster met drie kinders werk twee dae per week. Haar seuns help haar deur die inkopies en werk in en om die huis te doen. Die dogter help om die huis skoon te maak en kos te kook. Vandat sy klaar is met skool het sy ook as pionier begin dien, en sy en haar ma werk onderskeidelik al om die ander dag. Sulke samewerking in die gesin stel meer in staat om as pioniers te dien en bring talle seëninge vir die gesin mee.
7 Ywerige pioniers toon dat hulle in baie opsigte ’n seën vir die gemeente is. Hulle ywer en voorbeeld moedig baie aan om meer in die velddiens te doen. Ons moet beslis doen wat ons kan om hulle te ondersteun. Sulke verenigde pogings bring vreugde mee vir almal en lei daartoe dat Jehovah geloof word.