Maak Jehovah se dade bekend
1 “Maak sy dade onder die volke bekend, verkondig dat sy Naam hoog is . . . , want Hy het heerlike dinge gedoen” (Jes. 12:4, 5). Hoe reageer jy op hierdie vermaning? Wanneer ons oor Jehovah se dade met ons as ’n volk en as individue peins, sal dit ons beslis beweeg om met ander daaroor te praat. Jehovah het sy volk sowat 73 jaar gelede uit Babiloniese gevangenskap bevry. Ware aanbidding is sedert 1919 goed gevestig en het nou na alle dele van die aarde versprei. Die omvang van Jehovah se dade in hierdie opsig het ons verwagtinge ver oortref. Hoe diep is jou persoonlike waardering vir God se leiding, beskerming en seën? Kan jy meer doen om sy dade bekend te maak en sy naam te verhoog?
2 Die Gedenkmaalseisoen herinner ons aan ’n goddelike daad waarvoor ons vir ewig dankbaar sal wees. April sal veral ’n gepaste tyd wees om ons dankbaarheid en waardering aan Jehovah te toon deur as hulppionier in te skryf. As jy boonop gedurende die kringopsiener se besoek aan die hulppionierdiens deelneem, sal jy soveel te meer by sy hulp en aanmoediging in die bediening baat vind.
3 Reëlings verloop dikwels vlot wanneer groepe verkondigers as hulppioniers inskryf. ’n Goeie rooster kan uitgewerk word sodat almal ’n maat het om mee te werk, en susters met kindertjies kan reëlings tref om mekaar te help. Baie het gevind dat dit met goeie beplanning nie so moeilik is om die vereiste 60 uur te bereik nie. Dit beteken dat ’n mens gemiddeld 2 uur per dag of 15 uur per week aan die bediening moet bestee. Sommige hulppioniers getuig ’n uur of twee voor en ná hulle sekulêre werk en bring dan oor naweke meer tyd in die bediening deur.
4 Al kan jy nie aan die hulppionierdiens deelneem nie, kan jy moontlik jou aandeel aan velddiensbedrywighede vermeerder. Jy kan ander wat aan die pionierdiens deelneem ook met vervoer help of saam met hulle werk en sodoende ’n aanmoediging vir hulle wees. Wat ons ook al doen om Jehovah se naam en dade bekend te maak, dit sal nie ongemerk by ons waarderende God verbygaan nie.—Mal. 3:16.