“Doen dit tot my gedagtenis”
1 Jesus het sy volgelinge opdrag gegee om sy dood jaarliks te herdenk (Luk. 22:19). Hierdie herdenking sou as ’n herinnering dien van die groot offerande wat Jesus ten behoewe van die mensdom gemaak het. Vanjaar sal Jehovah se Getuies wêreldwyd die herdenking van Christus se dood op Vrydag, 17 April, ná sononder, hou.
2 Persoonlike voorbereiding: Hoe kan ons vir ’n gepaste herdenking van hierdie belangrike gebeurtenis voorberei? Een manier is om biddend oor Jesus se aardse lewe en bediening te peins. Hy het die mensdom se Verlosser geword deur sy volmaakte menselewe op te offer (Matt. 20:28). Om ons te help om hierdie voorsiening te waardeer, wil ons almal aanmoedig om hoofstukke 112 tot 116 van Die grootste mens wat nog geleef het te lees.
3 Hierdie jaar is ons Bybellesing voor die Gedenkmaal, soos die Kalender van Jehovah se Getuies vir 1992 aantoon, uit sekere dele van die Bybelboek Markus. Hierdie spesiale Bybellesing is vir die ses dae van Sondag tot Vrydag, 12-17 April. Ons sal almal genoeg tyd opsy wil sit om oor hierdie ernstige gebeure te peins.
4 Deeglike voorbereiding deur die ouere manne: Maak seker dat Gedenkmaaluitnodigings beskikbaar is. Is daar genoeg sitplek vir almal wat verwag word? Waar meer as een gemeente die saal gaan gebruik, moet ordelike reëlings getref word sodat elke gemeente genoeg tyd het om die Gedenkmaal te hou. Diegene wat saalwagters is, moet oor hulle pligte ingelig word. Hulle moet die inisiatief neem om nuwelinge wat die Gedenkmaal bywoon welkom te heet. ’n Bekwame spreker wat die inligting duidelik en uit die Skrif sal aanbied, moet gekies word. Wys verantwoordelike ouere manne of bedieningsknegte aan om die embleme aan te gee. Ongesuurde brood en suiwer rooiwyn moet voorsien word. Sien Die Wagtoring van 15 Februarie 1985, bladsy 19, vir bykomende punte wat in gedagte gehou moet word.
5 As ons vooraf deeglike voorbereidsels tref, sal ons toon dat ons die belangrikheid van hierdie spesiale geleentheid ten volle waardeer en dat ons graag die herdenking van Christus se dood in gehoorsaamheid aan Jesus se opdrag wil hou.—1 Kor. 11:23-26.
[Venster op bladsy 3]
1. Is almal, die spreker inkluis, in kennis gestel van die presiese tyd en plek van die Gedenkmaal? Het die spreker vervoer?
2. Is definitiewe reëlings getref om die embleme te voorsien?
3. Is reëlings getref sodat iemand ’n skoon tafeldoek en genoeg glase en borde sal bring?
4. Watter reëlings is getref om die saal voor die Gedenkmaal skoon te maak en om dit gou weer skoon te maak as ’n ander gemeente die saal daardie aand gaan gebruik? Is daar gereël vir goeie klanktoerusting as ’n saal gehuur word?
5. Is die saalwagters en bedieners aangewys? Is ’n vergadering met hulle gereël voor die Gedenkmaal om hulle pligte te hersien? Wanneer? Watter prosedure sal gevolg word om te verseker dat almal goed bedien word?
6. Is reëlings getref om bejaarde en siek broers en susters te help? Is reëlings getref om enige van die gesalfdes te bedien wat bedlêend is en nie by die Koninkryksaal kan wees nie?