Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • km 10/92 bl. 3-10
  • Ligdraers”- Streekbyeenkoms vir 1992

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ligdraers”- Streekbyeenkoms vir 1992
  • Ons Koninkryksbediening—1992
  • Soortgelyke materiaal
  • Reël nou om die “Liefhebbers van Vryheid”- Streekbyeenkoms vir 1991 by te woon
    Ons Koninkryksbediening—1991
  • Vind ten volle by die “Goddelike Onderrigting”-Streekbyeenkoms vir 1993 baat
    Ons Koninkryksbediening—1993
  • “Vertrou op Jehovah”-Streekbyeenkoms vir 1987
    Ons Koninkryksbediening—1987
  • Die “Godvrugtige Vrees”-Streekbyeenkoms vir 1994
    Ons Koninkryksbediening—1994
Sien nog
Ons Koninkryksbediening—1992
km 10/92 bl. 3-10

Ligdraers”- Streekbyeenkoms vir 1992

1 Jesus het gesê dat sy volgelinge “die lig van die wêreld” sou wees (Matt. 5:14). In teenstelling hiermee word die wêreld se geestelike en sedelike duisternis elke dag groter (Jes. 60:2; Rom. 1:21). Ons verantwoordelikheid as ligdraers raak al hoe belangriker namate die einde van hierdie stelsel nader kom. Aangesien ons besef hoe belangrik ons rol is, sien ons gretig daarna uit om die “Ligdraers”-Streekbyeenkoms vir 1992 by te woon. Die eerste van hierdie reeks byeenkomste begin op Vrydag, 4 Desember.

2 ’n Driedaagse byeenkoms: Ons het vanjaar altesaam 23 byeenkomste in Suid-Afrika en buurlande gereël. Die hele program sal, buiten in Engels, aangebied word in Afrikaans, Portugees, Sepedi, Suid-Sotho, Tsonga, Tswana, Xhosa en Zulu asook party sessies in Grieks en Venda. Daar sal op twee plekke, naamlik Durban en Johannesburg ook sessies in gebaretaal aangebied word. Die program sal Vrydag om 10:20 vm. begin en sal Sondag ongeveer 4:15 nm. met ’n lied en gebed afgesluit word. Die deure sal om 7:30 vm. oopgemaak word en niemand sal toegelaat word om voor daardie tyd by die byeenkomsterrein in te gaan nie, tensy hulle ’n werkstoewysing het. Jehovah se volk wil die hele program bywoon. Het jy ’n persoonlike besluit geneem om al drie dae by te woon? Bid tot Jehovah en vra hom om jou pogings te seën.

3 Ons moet ten volle aandag skenk aan die hele program, van Vrydagoggend se openingstoespraak tot Sondagmiddag se slotkommentare. Besielende inligting sal bespreek word en in die vorm van toesprake, demonstrasies, onderhoude en ’n drama aangebied word. Jy moet beplan om lank voor die program Vrydag begin reeds in jou sitplek te wees. Dit neem die eerste dag gewoonlik langer om jou voertuig te parkeer, sitplekke te kry, ensovoorts. Gun jouself dus genoeg tyd. Deur na al die sessies te luister en daar te wees vir die slotlied en -gebed vind ons ten volle baat by die program en toon ons ons waardering vir ons voorreg om as ligdraers te dien.

4 Luister aandagtig: Die psalmis het gesê: “Ek gee ag op u getuienisse [“vermaninge”, NW]. Hoe lief het ek u wet; dit is my bepeinsing die hele dag” (Ps. 119:95b, 97). Ons moet by elke geleentheid wanneer ons vergader om deur Jehovah onderrig te word nie net met ons ore aandag skenk en luister nie maar ook met ons hart. Daar is egter ’n groter behoefte daaraan wanneer ons groot byeenkomste soos ’n streekbyeenkoms bywoon. Daar is baie dinge wat die oë kan sien en die ore kan hoor. Watter verlies sal dit tog vir ons wees as ons ons tyd en geld gebruik om die byeenkoms by te woon, maar dan huis toe gaan sonder dat ons party van die fynere punte kan onthou oor hoe ons beter ligdraers kan wees! As ons ten volle baat wil vind by die program moet ons ons bes doen om nie toe te laat dat enigiets ons aandag aftrek nie. Hoe kan ons verseker dat die inligting teen die einde van die byeenkomsprogram diep in ons hart en verstand ingeprent sal wees?

5 Om te luister, is ’n kuns wat ontwikkel en beoefen moet word. Die woord “luister”, beteken “om met aandag te hoor”. Hou hierdie paar wenke in gedagte: (1) Probeer jou bes om elke oggend goed uitgerus by die byeenkomsterrein op te daag. Dit sal beplanning en die samewerking van die gesin verg. As jy uitgeput is weens ’n gebrek aan slaap of honger is omdat jy nie ontbyt genuttig het nie, of as jy gespanne is omdat jy moes jaag, sal jy nie veel baat vind by die program nie. (2) Skep ’n gevoel van afwagting vir die manier waarop die tema ontwikkel gaan word. Julle kan elke gesinslid ’n paar weke voor die byeenkoms, as deel van julle gesinstudie, die geleentheid gee om te sê wat dit vir hom beteken om ’n ligdraer te wees. Wanneer julle by die byeenkoms is, kan julle voor die program begin na elke deel kyk wat daardie dag op die program bespreek sal word. (3) Dra gepaste klere, en moenie gedurende die sessies eet of drink nie. Daar is opgemerk dat ’n paar gedurende die program in die ouditorium of stadion in hulle sitplekke eet of drink. Dit is oneerbiedig, trek ander se aandag af en openbaar ’n gebrek aan selfbeheersing.—Sien Die Wagtoring van 15 November 1991, bladsye 8-18.

6 Ons wil veral aandag skenk aan die manier waarop ons aantekeninge maak. As dit reg gedoen word, sal dit jou help om die sprekers beter te volg en dit wat jy hoor te onthou. Aangesien ons vier keer vinniger dink as wat ons praat, is die maak van aantekeninge die beste manier waarop ons kan verhoed dat ons gedagtes dwaal. Soos een skrywer gesê het: “Dit is dikwels moeiliker om na ’n toespraak te luister as om een te hou.” Jy onthou moontlik dat vroeë Christene bekend daarvoor was dat hulle stukke gebreekte erdewerk na vergaderinge geneem het en tekste in ink daarop aangeteken het. Gelukkig kan ons goed gebruik maak van ’n aantekeningboek van mediumgrootte en ’n pen of ’n potlood. Om vaardig te wees wat die maak van aantekeninge betref, moet ons net genoeg neerskryf om die hoofgedagte weer te gee, maar nie soveel dat ons die heeltyd skryf nie. Dit sal ons doel verydel en veroorsaak dat belangrike punte wat deur die spreker genoem word by ons verbygaan. Skryf sleutelwoorde neer en gebruik afkortings. Jou aantekeninge sal van groter nut wees as jy dit daardie selfde aand nog hersien en dan weer voor die gemeente die programhoogtepunte op die Diensvergadering bespreek.

7 Hartlike sang en gebed: Lofliedere wat tot eer van Jehovah gesing word asook eerbiedige gebede tot hom is noodsaaklike dele van ons aanbidding (2 Kron. 30:21, 27). Hierdie is belangrike aspekte van die byeenkoms waaraan ons almal kan deelneem. Ons sal gedurende die drie dae van ons “Ligdraers”-Streekbyeenkoms 18 lofliedere tot Jehovah sing en in agt gebede tot ons hemelse Vader verenig wees. Sang en gebed is werklik kosbare voorregte. Jehovah gee ons meer as 12 uur se geestelike opvoeding en opleiding. Gedurende die paar minute waarin ons sing en bid, dank ons Jehovah vir sy milddadige gawes en prys ons hom. Aangesien ons as ’n menigte byeenkom om tot Jehovah te bid, wil ons nie hê dat Jehovah ons as selfsugtige en ondankbare individue moet beskou omdat ons weens swak beplanning nie aan die sang en gebed deelgeneem het nie. Daar sal hierdie jaar weer eens ’n voldoende voorraad lektuur by elke byeenkoms beskikbaar wees sodat diegene wat gepas in hulle sitplekke bly tot die sessie afgesluit is hul lektuur sal kan bekom. Niemand moet ook voor ’n sessie verby is, opstaan met die doel om voor ander in die ry vir voedsel te gaan staan nie.—Matt. 7:12; Rom. 12:10; Filip. 2:1-4.

8 Doen alles tot eer van God: Elke jaar word ons vriendelik daaraan herinner hoe belangrik goeie maniere en goeie gedrag by die byeenkoms is. Die meeste moet geprys word omdat hulle hierdie herinnerings pligsgetrou nakom. Namate hierdie stelsel sy einde nader, moet ons noodgedwonge by die werkplek en by die skool in die geselskap van mense wees wie se gedrag ooreenstem met dit wat in 2 Timotheüs 3:1-5 voorspel is. Hierdie assosiasie kan ’n nadelige invloed op ons hê as ons nie waaksaam is nie. Ons wil niemand ooit enige rede gee om van ons ‘kwaad te spreek soos van kwaaddoeners nie’ (1 Pet. 2:12). Dit vereis dat ons meer as die gewone aandag aan ons Christelike persoonlikheid skenk. Almal moet let op hulle gedrag by die byeenkoms en op enige openbare plek, soos hotelle en restaurante. Die ouere manne is besorg oor al hulle broers (Filip. 2:4). Hulle moet hulpvaardig wees en ander vir hulle goeie gedrag prys. Ouere manne moet ook die vrymoedigheid hê om liefdevolle raad te gee indien nodig, selfs al ken hulle die broer of suster nie persoonlik nie. Enige ernstige probleme moet by die Administrasiekantoor by die byeenkoms aangemeld word.

9 Die nuwe persoonlikheid waarvan Efesiërs 4:24 praat, word vergelyk met ’n kledingstuk wat ’n mens aantrek wanneer jy die ou persoonlikheid aflê. Hierdie verandering wat persoonlikheid betref, moet ook deur ons letterlike klere weerspieël word. Daar is opgemerk dat party broers en susters, veral die jonges, baie informeel aantrek, soms selfs onbeskeie. Ander trek hulle skoene uit en sit hulle voete op die rugkant van die stoel voor hulle of loop in sykouse rond. Gedra ons ons so by die Koninkryksaal? Party doopkandidate het ook al T-hemde gedra met wêreldse slagspreuke en handelsname of advertensies vir verskillende produkte. Ouere manne wat die vrae bespreek met diegene wat hulle voorberei om gedoop te word, moet seker maak dat die doopkandidate verstaan watter kleredrag vir die geleentheid gepas is.—Sien Die Wagtoring van 1 Junie 1985, bladsy 30 en 15 Julie 1973, bladsye 334-5.

10 Opneemapparate: Hoewel videokameras toegelaat word, wil ons diegene wat daarvan gebruik maak, aanspoor om ander in ag te neem, selektief te wees wat hulle opnames betref en diegene te respekteer wat nie afgeneem wil word terwyl hulle eet of na die program luister of terwyl daar gebid word nie. Enigiemand wat ’n video- of kassetopname maak, moet nie die gehoor se aandag aftrek of ’n steurnis veroorsaak nie. ’n Mens mag dele van die program vanuit jou sitplek opneem. Maar gedurende die sessies sal dit onvanpas wees vir enigiemand om in die paadjies en voor die gehoor rond te loop terwyl hy of sy die program opneem. Die saalwagters moet indien nodig met diegene praat wat nie in hierdie opsig broederliefde betoon nie. Hou asseblief in gedagte dat geen kameras of opneemapparate aan die elektriese- of klankstelsel by die byeenkoms gekoppel mag word nie, en geen toerusting mag in die paadjies of in die loopareas geplaas word nie.

11 Vir ouers: Ons wil weer eens beklemtoon hoe belangrik dit is dat ouers te alle tye toesig hou oor hulle kinders, of dit nou binne die byeenkomsterrein of by hulle verblyfplek is (Spr. 29:15b; Luk. 2:48). Maak gedurende die program seker dat jou kinders aandag skenk en aantekeninge maak. Daar is gedurende pouse geleenthede om met vriende van ander gemeentes te gesels.

12 Die volgende lig toe hoe belangrik dit is om te alle tye te weet waar jou kinders is: ’n Taxibestuurder in een byeenkomsstad het vir ’n broer gesê dat hy twee jong meisies by die byeenkomsterrein opgelaai het. Hulle was duidelik van plan om die hele middag weg te bly en het vir die bestuurder gesê dat hulle ma nie voor 5:00 nm. sou agterkom dat hulle weg is nie. Die taxibestuurder was bekommerd oor hulle welsyn, maar wat van hulle ma? Hoe tragies sou dit tog wees as iets met hulle gebeur het, om nie eers te praat van die oneer wat dit op God se naam en volk sou bring nie!

13 Jou volle samewerking word waardeer: Hoe belangrik is dit dat ons die Genootskap se leiding volg en die byeenkoms bywoon waarheen ons gemeente aangewys is? Om vir elke byeenkoms voor te berei, vereis noukeurige beplanning deur die Genootskap en bekwame broers wat in elke byeenkomsstad daarvoor verantwoordelik is. Daar moet genoeg sitplek, voedsel, lektuur, ensovoorts gereël word. As heelwat broers ’n ander byeenkoms bywoon as die een waarheen hulle aangewys is, kan dit probleme veroorsaak. Daar sal waarskynlik min wees wie se omstandighede hulle noodsaak om ’n ander byeenkoms by te woon. Jy wil dalk om verskeie redes ’n ander byeenkoms bywoon, maar as ’n groot hoeveelheid broers die byeenkoms van hulle keuse bywoon, kan dit tot groot ontwrigting lei.

14 Ons vra almal se samewerking wat die hou van sitplekke betref. Hou asseblief in gedagte dat SITPLEKKE SLEGS GEHOU MAG WORD VIR JOU EIE GESIN EN ENIGIEMAND WAT SAAM MET JOU IN JOU MOTOR RY. Sitplekke wat spesiaal vir die bejaardes en diegene met gebreke gereserveer word, sal by die meeste byeenkomste beskikbaar wees. Ons versoek dat almal asseblief noukeurig na die tekens oplet en na die saalwagters luister. Party ouer broers moes al op ander plekke wat moeiliker bereikbaar is vir ’n sitplek soek omdat jonger mense die sitplekke geneem het wat vir die bejaardes gereserveer was. Wees asseblief bedagsaam teenoor die bejaardes. Ons kan ongelukkig nie aan versoeke voldoen om aparte areas of kamers af te sonder vir diegene met probleme soos allergieë nie.

15 Daar word voorgestel dat persoonlike items wat na die byeenkoms gebring word tot ’n minimum beperk word. As ’n item nie onder jou stoel kan inpas nie, is dit beter om dit by die huis te los. Groot koelhouers mag om veiligheidsredes nie in die paadjies gesit word nie, en as jy hulle op die stoel langs jou plaas, kan dit iemand van ’n sitplek ontneem.

16 Jehovah se volk waardeer dit dat hulle by gerieflike fasiliteite bymekaar kan kom om baat te vind by die geestelike program wat voorberei is. Ons waardeer ook die talle dienste en geriewe wat by sulke samekomste voorsien word. Reëlings word met baie sorg en teen aansienlike koste vir die Genootskap getref vir genoeg sitplek, die installering van duur klankstelsels, ’n doeltreffende afdeling vir voedselverskaffing en ’n aantal ander dienste wat dit aangenaam en geestelik verkwikkend maak om die byeenkoms by te woon.

17 Voedsel sal by al die byeenkomste beskikbaar wees. Ons moedig almal wat die byeenkoms gaan bywoon aan om van die reëling vir voedselverskaffing gebruik te maak. Ons wil net byvoeg dat die afdeling vir voedselverskaffing dit weens die stygende koste om die byeenkomsterrein te huur moeilik vind om al die onkostes van die terrein te dek. Met die oog hierop wil jy moontlik voor die tyd ’n bydrae stuur na die byeenkomsstad waar julle gemeente die byeenkoms gaan bywoon. As jy graag ’n tjek wil stuur, kan dit aan die “Watch Tower Convention” uitgemaak word. Alle bydraes word baie waardeer en die Genootskap wil julle graag by voorbaat bedank vir julle ruimhartige en verenigde ondersteuning van Koninkryksbelange op hierdie wyse.—Luk. 6:38.

18 Woon die “Ligdraers”-Streekbyeenkoms by: As ons die “Ligdraers”-Streekbyeenkoms bywoon, sal ons verheug wees om te hoor waarom dit so ’n groot eer en voorreg is om ligdraers te wees. Ons sal ook daaraan herinner word dat dit ’n ernstige verantwoordelikheid is. Deur meer as die gewone aandag te skenk aan die dinge wat ons by die byeenkoms hoor, sal ons ons vaardigheid as ligdraers verbeter en ook ons waardering vir ons rol as ligdraers laat toeneem. Tref nou reëlings om by al die sessies teenwoordig te wees, van die openingslied Vrydagmiddag tot die slotgebed Sondagmiddag.

[Venster op bladsy 10]

Herinnerings in verband met die Streekbyeenkoms

Huisvesting: Die meeste verkondigers sal hulle eie reëlings vir huisvesting tref. As jy egter wil hê dat die byeenkomsorganisasie vir jou huisvesting moet reël, kan jy ’n Kameraansoekvorm by die gemeentelike sekretaris kry. Die gemeentelike sekretaris sal dan onmiddellik die voltooide vorm na die betrokke byeenkomsadres stuur.

Kinderwaentjies: Die Brandweerafdeling stel voor dat dit nie in ’n ouditorium ingeneem word en dan in deurgange en paadjies of tussen rye sitplekke gelaat word nie. Aangesien groot skares samedromming kan veroorsaak, is kinderwaentjies potensieel gevaarlik, nie net vir die baba nie, maar ook vir enigiemand wat daaroor struikel. Moet hulle dus asseblief nie in die ouditorium inbring nie. Babastoeltjies of reisstoeltjies is egter toelaatbaar, aangesien dit aan stoele langs die ouers vasgemaak kan word. Ons sal jou samewerking op hierdie gebied waardeer. Die Byeenkomskomitee sal waar moontlik probeer om ’n kamer te reël waar moeders na hulle babas kan omsien, indien nodig.

Doop: Doopkandidate moet hulle sitplek in die aangewese gedeelte inneem vóór die program Saterdagoggend begin. Elkeen wat beplan om hom te laat doop, moet ’n beskeie baaikostuum en ’n handdoek saambring. Ná die dooptoespraak en gebed deur die spreker sal die sessievoorsitter kortliks instruksies aan die doopkandidate gee en dan die lied aankondig. Ná die laaste vers sal die saalwagters die doopkandidate na die doopplek of na voertuie lei wat hulle daarheen sal neem. Aangesien doop as simbool van ’n mens se toewyding ’n intieme en persoonlike saak tussen die individu en Jehovah is, is daar geen voorsiening vir gesamentlike doop waartydens twee of meer doopkandidate mekaar omhels of hande vashou terwyl hulle gedoop word nie. Die doopkandidate hoef nie ’n brief van die ouere manne te bring wat sê dat hulle gedoop mag word nie. Ouere manne hoef ook nie ’n lys in te handig met die name van diegene wat gedoop gaan word nie.

Vrywilligerdiens: Vrywilligerhulp is nodig om ’n streekbyeenkoms glad te laat verloop. Al kan jy net vir ’n gedeelte van die byeenkoms werk, sal jou dienste waardeer word. As jy kan help, moet jy asseblief by die Vrywilligerafdeling aanmeld wanneer jy by die byeenkoms aankom. Kinders onder 16 jaar kan ook bydra tot die sukses van die byeenkoms, maar hulle moet saam met ’n ouer of ander verantwoordelike volwassene werk. Ons wil alle vrywilligers aanmoedig om betyds te wees vir hulle werktoewysing. Dit is uiters noodsaaklik dat afdelingsopsieners of opsieners van ’n deel van ’n afdeling voor die tyd by hulle toewysing is. As hulle om die een of ander rede vertraag word, moet die byeenkomsopsiener daarvan in kennis gestel word.

Lapelkaarte: Dra asseblief die spesiaal ontwerpte lapelkaart by die byeenkoms en terwyl julle na en van die byeenkomsterrein reis. Dit gee ons dikwels die geleentheid om ’n goeie getuienis te gee terwyl ons reis. Julle moet die lapelkaarte by julle gemeente kry, aangesien dit nie by die byeenkomste beskikbaar sal wees nie.

Liedere: Aangesien sang ’n deel van ons aanbidding is, moedig ons almal aan om die volgende liedere wat deel van die program sal wees te oefen: 33, 91, 111, 38, 221, 217, 43, 128, 152, 177, 207, 201, 35, 89, 50, 168, 42, 45. Ons stel voor dat julle die Genootskap se kassette gebruik wanneer julle die liedere oefen.

Bethelvergadering: Daar sal op die tweede dag ’n vergadering gehou word vir enige toegewyde verkondiger tussen 19 en 35 jaar wat graag in Bethel wil dien. Aankondigings oor die tyd en plek van hierdie vergadering sal by die byeenkoms gedoen word.

Pionieridentifikasie: Alle gewone en spesiale pioniers, reisende opsieners, sendelinge, Bethelwerkers of diegene wat met die bouwerk by Bethel help, moet hulle pionierdiensidentifikasiekaart (S-202) na die byeenkoms bring. Daardie gewone en spesiale pioniers wie se name reeds ses maande op die lys is, sal voedselkaartjies ter waarde van R22 ontvang wanneer hulle hulle identifikasiekaart toon. Alle ander voltydse werkers wat hierbo genoem is, sal dieselfde hoeveelheid voedselkaartjies ontvang ongeag wanneer hulle die voltydse diens betree het. Pas jou identifikasiekaart so goed op soos jy kontant sal oppas aangesien dit nie by die byeenkoms vervang sal word nie. Enige gratis publikasies of ander lektuur teen pioniertarief sal net by die boekekamer vir die pioniers beskikbaar wees. Onthou asseblief om jou pionierdiensidentifikasiekaart saam te bring.

’n Woordjie van waarskuwing: Sluit te alle tye jou motor en moet nooit enigiets oop en bloot in jou motor laat nie, ongeag waar jy parkeer. Sluit jou besittings in die bagasiebak toe, indien moontlik. Pas ook op vir diewe en sakkerollers wat deur groot byeenkomste gelok word. Dit beteken dat geen waardevolle artikels onbewaak op sitplekke by die byeenkomste gelaat moet word nie. Daar was selfs al ’n paar berigte van gewetenlose mense wat probeer het om jong kinders van die byeenkomsterrein af weg te lok. Wees asseblief versigtig.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel