Die Pionierdiens—’n blyk van liefde
1 Dit is liefde vir Jehovah en vir ons medemens wat ons beweeg om in ’n voller mate aan die predikingsbedrywigheid deel te neem. Namate ons liefde vir Jehovah en vir mense toeneem, spoor dit ons aan om te beplan vir ’n selfs groter deelname aan die bediening. Ons liefde neem toe namate ons “juiste kennis” van God se Woord vermeerder (Filip. 1:9, 10, NW). Hoe meer ons oor Jehovah se wil leer, hoe groter word ons besef van die dringendheid van die tye waarin ons lewe. Dit maak ons meer besorg oor ander. Baie betoon hulle liefdevolle besorgdheid deur die pionierdiens te betree.
2 Kan jy die nodige veranderings aanbring om ’n hulppionier of ’n gewone pionier te word? Ons kan weliswaar nie almal pioniers word nie. Maar elkeen van ons moet sy omstandighede biddend ondersoek.
3 Daar is min Christene wat baie vrye tyd het sodat hulle aan die pionierdiens kan deelneem; dit is dus noodsaaklik om ‘die tyd uit te koop’ van daardie onnodige dinge wat op die oomblik ons tyd in beslag neem (Ef. 5:15-17). Ons liefde vir God en vir mense moet ons gewillig maak om van ons persoonlike begeertes en geriewe prys te gee sodat ons ons liefde in ’n groter mate kan toon (Mark. 12:33). Baie van die dinge wat ons aanskaf, en wat ons meen normaal is, word in ander wêrelddele as luukses beskou.
4 Wat kan ouers doen om hulle kinders te help sodat hulle op hierdie God-georiënteerde wyse dink? Ouers moet van kleins af teokratiese doelwitte aan hulle kinders voorhou. Dink dié wat in matriek is aan sekulêre doelwitte of aan geestelike doelwitte? Kan hulle dit hulle doelwit maak om die gewone pionierdiens te betree sodra hulle hulle skoolloopbaan voltooi het? Ons wil ons jongmense help om te besef watter blywende voordele dit inhou as hulle die pionierdiens op ’n jeugdige ouderdom betree. As hulle dit doen, maak hulle vir hulle skatte in die hemel bymekaar (Matt. 6:19-21). Dit behaag God en lewer bewys van ons lojaliteit en toegewydheid aan hom. En dit red die lewens van ander.
5 Dit is God se wil dat “alle [soorte] mense gered word” (1 Tim. 2:4, vgl. NW). Kan ons toon dat dit ook ons wil is? Ons kan as ons gewillig is om Koninkryksbelange eerste te stel. Ons kan dit ook doen deur te vertrou dat Jehovah in ons lewensbenodigdhede sal voorsien (Matt. 6:31-33). Ekonomiese toestande kan versleg, maar Jehovah se belofte om na ons om te sien verander nooit.—Ps. 37:25.
6 Dit is ’n blyk van liefde as ons ons kragte inspan om soveel as wat ons omstandighede dit toelaat aan die veldbediening deel te neem. Vir sommige sal dit beteken dat hulle ’n gewone pionier word. Waarom probeer jy nie alles in jou vermoë om teen 1 September 1992 te begin nie?