Die uitdaging om herbesoeke te doen
1 As bedienaars van die goeie nuus word ons beveel om dissipels te maak (Matt. 28:19). Dit beteken dat ons herbesoeke moet doen. Het jy ’n positiewe beskouing van hierdie baie belangrike aspek van ons Christelike bediening? Dit kan ’n stimulerende uitdaging wees om bekwaam te word met betrekking tot herbesoeke.—Spr. 22:29.
2 Elke toegewyde Christen moet verplig voel om aan die dissipelmaakwerk deel te neem. Dit beteken moontlik dat ons van ons persoonlike gerief moet prysgee om die Koninkrykshoop aan ander te verkondig. Herbesoeke bied ons die geleentheid om opregte mense te help om in hulle geestelike behoeftes te voorsien.
3 Gaan terug na alle belangstellendes: Ons moet teruggaan na almal wat belangstelling in die Koninkryksboodskap toon, al het hulle nie ons publikasies geneem nie. Daar is baie mense wat belangstelling toon deur hulle gewilligheid om Bybelonderwerpe met ons te bespreek. Jesus en die apostels het getoon hoe belangstelling in die Koninkryksboodskap aangewakker kan word deur sinvolle skriftuurlike gesprekke met mense aan te knoop.—Mark. 10:21; Hand. 2:37-41.
4 Ons doel met ’n herbesoek moet wees om ’n Bybelstudie te begin. Ons kan moontlik vir die huisbewoner demonstreer hoe ’n tuisbybelstudie gehou word. Jy kan seker wees dat Jehovah na jou gebed om hulp sal luister om ’n opregte persoon te vind vir wie jy die waarheid kan leer. Jehovah sal jou opregte pogings in sy diens seën. Vra Jehovah gerus om hulp en stel jou dit ten doel om ’n Bybelstudie te begin.
5 Gebruik traktate goed: Traktate kan doeltreffend gebruik word om Bybelstudies mee te begin. Baie het al ’n gesprek aangeknoop deur eenvoudig die prentjie voorop te bespreek. Lees een paragraaf op ’n slag saam met die huisbewoner deur. Wanneer ’n vraag gevra word, kan jy stop en die huisbewoner nooi om homself uit te spreek. Slaan die tekste na en toon hoe hulle toegepas word. Vestig dan sy aandag op die publikasie wat bestudeer kan word.
6 Gebruik die Redenering-boek: Doel- treffende herbesoeke kan met behulp van die Redenering-boek gedoen word. ’n Hersiening van die lys hoofonderwerpe of die saakregister kan jou help om gepaste inligting vir bespreking te kies wanneer jy teruggaan na iemand met wie jy voorheen gepraat het. Die gedeelte “Tekste wat dikwels verkeerd toegepas word” is baie nuttig wanneer besware dalk geopper word. Party pioniers sê dat hulle al baie Bybelstudies begin het deur inligting soos dié in die Redenering-boek op bladsy 225 onder “Waar kom Jehovah se Getuies aan hulle vertolking van die Bybel?” te gebruik. Hulle wys vir die huisbewoner hoe ons die Bybel homself laat verduidelik. Dit is baie doeltreffend en baie Bybelstudies is al só begin.
7 Ons moet, soos Jesus en die apostels, ’n opregte belangstelling in Jehovah se skape toon (Luk. 9:11). Liefde vir mense sal ons help om hulle hart met die Koninkrykswaarhede te bereik (2 Kor. 2:17). Wanneer ons ons meer daarop toelê om van onsself ten behoewe van ander se geestelike welsyn te gee, sal ons die uitdaging om herbesoeke te doen aanvaar.