Leef met gesonde verstand en regverdigheid
1 Ons leef in ’n wêreld wat ’n kragtige goddelose invloed uitoefen. Hierdie wêreld se standaarde gaan voortdurend agteruit (2 Tim. 3:3). As Christene moet ons ons standpunt inneem vir wat reg is en verstaan waarom ons dit moet aanhou doen. Maar watter riglyne en leiding is beskikbaar? Watter standaarde moet ons volg? “Leef met gesonde verstand en regverdigheid” is die aanmoedigende programtema vir ons spesiale byeenkomsdag vir die 1993-diensjaar.—Titus 2:12, NW.
2 Ons gaan deur middel van toesprake, demonstrasies en ondervindinge leer hoe ons onsself kan versterk om goddeloosheid te weerstaan en wêreldse begeertes te verwerp. Ons gaan ook sien hoe ons met gesonde verstand en regverdigheid in hierdie goddelose stelsel kan leef. Voorsienings sal bespreek word wat ons kan help om ons sinne te bewaar (1 Pet. 4:7, NW). Ouers en jongmense moet veral aandag skenk aan die toesprake en onderhoude tydens die middagsessie. Dit sal beklemtoon hoe noodsaaklik dit is om Goddelike wysheid en ervaring op te doen en saam te werk om ’n gelukkige teokratiese toekoms te bou.
3 Hoewel ons ons in ’n goddelose wêreld bevind, leer God se Woord ons wat die beste weg is om te volg. Die toespraak “Koester jou seëninge in ’n vreugdelose wêreld” sal beklemtoon watter voordele dit inhou om die Bybel se raad te volg. Terwyl ons voorbereidsels tref om teenwoordig te wees, moet ons in gedagte hou dat dit ons sal help om bekwamer in ons diens aan Jehovah te wees as ons tydens die program noukeurig aandag skenk en die raad toepas.—Filip. 3:15, 16.