Teokratiese nuus
Rwanda: Goeie nuus! Die registrasie van die Vereniging van Jehovah se Getuies is op 13 April 1992 toegestaan. Daar was ’n nuwe hoogtepunt van 1502 verkondigers in Maart.
Suid-Afrika: Ruimhartige bydraes het 15 gemeentes sedert Oktober 1990 in staat gestel om lenings te verkry om hulle eie Koninkryksaal te bou. Ons wil hierdie geleentheid gebruik om elke persoon en gemeente te bedank dat hulle getrou tot die Genootskap-Koninkryksaalfonds bydra. Hou aan om hierdie goeie gesindheid aan die dag te lê.
Pogings om die Koninkryksaalbouwerk te bespoedig is weer eens geseën. Twee gemeentes in Soweto, Diepkloof-Oos en -Sentraal, was verheug toe die grootste gedeelte van hulle Koninkryksaalprojek gedurende die laaste vier dae van Mei voltooi is. Koninkryksaalkonstruksiewerkers het onder leiding van hulle Streekboukomitee baie hard gewerk om hierdie gemeentes te help. Sal jy ook graag jou hulp wil aanbied? Vra jou presiderende opsiener vir ’n “Kingdom Hall Construction Worker Questionnaire”-vorm.
Die Lindize-gemeente in die noorde van KwaZulu het die wonderlike gees waardeer wat getoon is deur spanne Koninkryksaalkonstruksiewerkers uit verskillende dele van Natal wat hulle gehelp het om hulle Koninkryksaal in ses naweke te bou. Hulle saal is in Julie toegewy.
Die Eastleigh-gemeente op die Oosrand, die Wilberforce-gemeente naby Vereeniging en die Midrand-gemeente noord van Johannesburg het hulle nuwe sale ook in Julie toegewy.