Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • km 11/92 bl. 3-6
  • Vertrou op Jehovah in alles wat ons onderneem

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vertrou op Jehovah in alles wat ons onderneem
  • Ons Koninkryksbediening—1992
  • Soortgelyke materiaal
  • Voorsien met vreugde in die behoeftes wat die oeswerk meebring
    Ons Koninkryksbediening—1992
  • Jou rol in die bouwerk vir die toekoms
    Ons Koninkryksbediening—1991
  • Die bou van Koninkryksale in Suid-Afrika en sy buurstate
    Ons Koninkryksbediening—1997
  • Koninkryksaalbouwerk—’n belangrike aspek van heilige diens
    Ons Koninkryksbediening—2006
Sien nog
Ons Koninkryksbediening—1992
km 11/92 bl. 3-6

Vertrou op Jehovah in alles wat ons onderneem

1 Ons het God se seën nodig op alles wat ons onderneem. In Psalm 127:1 sien ons duidelik hoe verstandig dit is dat ons hierdie feit besef: “As die HERE die huis nie bou nie, tevergeefs werk die wat daaraan bou.” Ons moet dus seker maak dat ons die Skepper in al ons bedrywighede in ag neem.

2 Ander sien dit raak: Diegene wat vandag met boumetodes vertroud is, is diep beïndruk deur wat Jehovah se Getuies ten opsigte van die oprigting van “snelbou”-Koninkryksale bereik. In een gebied het ’n plaaslike koerant byvoorbeeld gesê: “Dit was ’n instroming van die Jehovah se Getuies se vrywillige werkers wat vir die driedaagse ‘Koninkryksaalbouprojek’ gekom het, en dit was inderdaad ’n driedaagse projek. . . . In drie dae het die Koninkryksaalboukomitee gekom en is hulle weer weg, maar wat hulle bereik het, sal nog lank onthou word.”

3 ’n Rooms-Katolieke geestelike het oor die oprigting van ’n “snelbou”-Koninkryksaal in Soweto kommentaar gelewer: “Ek het nog nooit so iets gesien nie. Mense van alle rasse wat saamwerk. Blankes wat in die swart gebied kom bou, en dit vir swart mense, en boonop terwyl hulle lewe in gevaar is, aangesien blankes in die swart woongebiede aangeval word.”

4 ’n Kringopsiener sê dat ’n vrou die week ná die oprigting van ’n “snelbou”-Koninkryksaal in die Noord-Transvaal lektuur gevra het by die Getuies wat by haar deur aangeklop het. In die verlede wou sy nie eers met die verkondigers praat of enige lektuur neem nie. Maar die bedrewenheid en eenheid by hierdie Koninkryksaalbouprojek het haar oortuig dat hierdie werklik God se volk is.

5 Dit is verblydend om te sien dat honderde vrywilligers aangebied het om met hierdie Koninkryksaalbouprojekte te help. So ’n gewillige gesindheid is inderdaad prysenswaardig en strook met die woorde in Psalm 110:3: “U volk sal baie gewillig wees.” Dit is soos een koerantartikel se opskrif gesê het: “Baie hande maak ligte werk.”

6 Wat ’n onvergeetlike ondervinding is dit tog om aan so ’n projek deel te neem! Een Getuie het gesê: “Ek dink hierdie projek waartydens ons almal saamgewerk het, het ons soos ’n gesin laat voel omdat elkeen sy deel bygedra het. Ons eenheid en organisasie het ongetwyfeld bewys dat Jehovah ons steun.” Een persoon het ná deelname aan ’n Koninkryksaalbouprojek geskryf: “Ek bestudeer nog die Verenig in aanbidding-boek. Hierdie projek was ’n uitstekende voorbeeld van die eenheid wat in die boek beskryf word. ’n Mens kan nie daarby verby kom nie. Niemand kan ná so ’n ondervinding alleen voel nie. Jehovah se gees is hier!”

7 Een koerant het openlik erken: “Die sukses wat Jehovah se Getuies met die ‘snelbou’ van hulle plekke van aanbidding behaal, is nie net aan samewerking te danke nie, maar aan toegewydheid.”

8 Tydens die oprigting van ’n dubbele Koninkryksaal in die middel van Johannesburg, het ’n vakman wat by ’n huis daar naby gewerk het die perseel besoek. Hy was nuuskierig oor al die bedrywigheid. Hy het gesê: “Julle bou julle eie plek van aanbidding . . . terwyl die mense in ons kerk nie eers kerk toe gaan nie. Dit is baie interessant. Ek het hope van julle lektuur wat ek gewoonlik koop omdat dit vir ’n goeie doel is, maar ek het dit nog nooit gelees nie. Nou sal ek dit graag wil lees en meer omtrent julle boodskap uitvind. Trouens, ek sal graag wil kom sien hoe julle God aanbid.”

9 Die ontwerp en ligging van Koninkryksale: Die ontwerp van ’n Koninkryksaal asook waar dit geleë sal wees, moet noukeurig oorweeg word sodat toegewyde fondse wyslik gebruik kan word. Die geboue moet eenvoudig wees. Daar word in Ons bediening-boek op bladsy 61 beklemtoon dat ‘die Koninkryksaal ’n plek van aanbidding is, en nie ’n spoggerige gebou moet wees om ander te beïndruk nie. . . . Die doel daarvan is funksioneel. (Vergelyk Handelinge 17:24.) Dit moet ’n gemaklike en gerieflike plek wees vir Christelike vergaderinge wat ons help om geestelik te groei en om van Jehovah te leer en wat ons aanspoor om aan sy Koninkryksdiens deel te neem.’ Uit ondervinding is dit duidelik dat ’n Koninkryksaal gewoonlik vir die verkondigers die nuttigste is as dit so na as moontlik aan hulle woonplek geleë is.

10 Dit is gewoonlik beter om eerder twee afsonderlike Koninkryksale op verskillende plekke as ’n dubbele Koninkryksaal te hê. Hulle kan elkeen deur twee of meer gemeentes gebruik word as die plek waar hulle geleë sal wees goed gekies word. Maar in sommige gevalle is twee Koninkryksale op een standplaas gebou. Dit was nodig weens die hoë koste of onbekombaarheid van grond.

11 Voordat daar op ’n standplaas besluit word, is daar verskeie faktore wat in samewerking met die Streekboukomitee oorweeg moet word: Is die standplaas sentraal in die gemeente se gebied geleë? Is die grootte van die standplaas goed oorweeg? As dit te groot is, sal ’n klein gemeente dit moeilik vind om dit te onderhou. As ’n standplaas te klein is, hou dit nadele in. Is daar plek om aan te bou as die saal te klein word? Sal daar genoeg parkeerplek wees, selfs al is daar tans nie baie motoreienaars in die gemeente nie? Het die standplaas aanvanklik duur ontwikkeling nodig vanweë ’n kwaai helling of klei- of kliplae? Hierdie en ander faktore moet uit die staanspoor oorweeg word.

12 Wat tot dusver bereik is: Sedert die Genootskap-Koninkryksaalfonds drie jaar gelede gestig is, is geld beskikbaar gestel om 16 Koninkryksale te help bou in lande wat onder toesig van hierdie takkantoor is. Hierdie Koninkryksale word deur 18 gemeentes gebruik. Wat ’n voortreflike blyk van Christelike liefde! Daar word elke jaar ongeveer 20 nuwe Koninkryksale gebou, en party bestaande Koninkryksale word opgeknap. Duisende broers en susters gee liefdevol van hulleself om gemeentes met hulle Koninkryksaalbouprojekte te help (Filip. 2:4). Baie van hierdie vrywilligers help ook met streek- en kringbyeenkomswerk, en sommige dien op Byeenkomssaalkomitees.

13 Diegene wat op die Streekboukomitees dien, moet inderdaad geprys word vir die vrygewige en gewillige gesindheid wat hulle aan die dag lê om in die reusebehoeftes met betrekking tot die bouwerk in Jehovah se groeiende organisasie te voorsien. “Hulle gewillige gees het ’n uitwerking op ons almal”, het een plaaslike boukomitee gesê, “maar Jehovah se liefdevolle voorsiening van bekwame toesighouers en doeltreffende leierskap deur die aanstelling van Streekboukomitees is werklik van onskatbare waarde. Ons wil graag, as ’n plaaslike komitee, ons hartlike dank teenoor die Genootskap uitspreek dat hulle so ’n voorsiening gemaak het. Sonder hierdie voorsiening en die hulp van Jehovah se heilige gees sou hierdie projek nooit geslaag het nie.” Die Inanda-Suidgemeente naby Durban het die volgende in ’n dankbrief gesê: “Die Streekboukomitee het ’n merkwaardige taak verrig waarop ons almal baie trots is.” Baie ander voel ook so daaroor.

14 Nog vrywilligers word benodig: Weens die aanhoudende toename van gemeentes is daar ’n behoefte aan nog Koninkryksale. Nog fondse en werkers is nodig om in hierdie behoefte te voorsien. Daar is steeds ’n dringende behoefte aan ten minste nog 170 Koninkryksale in Suid-Afrika, 14 in Lesotho, 13 in Swaziland, 2 in Namibië en 7 in Botswana. Hierdie behoefte is nou nog groter as gevolg van die stigting van 32 nuwe gemeentes gedurende die afgelope jaar. In Lesotho is daar ’n besondere behoefte aan bekwame broers om toesig te hou sodat verskeie van die projekte wat aan die gang is, voltooi kan word. Hierdie broers het nie ’n Streekboukomitee nie en fondse is baie beperk. Swaziland en Botswana het ook hulp nodig. Daar is dalk bekwame broers met bou- of organisatoriese ondervinding wat hierdie broers kan uithelp. Tree asseblief met die Genootskap in verbinding as jy kan help.

15 Hoewel daar altyd baie broers en susters is wat met die bou van Koninkryksale help en hulle tyd en kragte vryelik beskikbaar stel, is daar ’n behoefte aan meer hulp, net soos daar ’n behoefte aan meer arbeiders in die oesveld is (Matt. 9:37, 38). Die meeste streekkomitees sê dat dit die las van diegene wat al jare hierdie verantwoordelikheid dra, sal ligter maak as nog gewillige werkers kan aanbied om met die Koninkryksaalbouprojekte te help.—Jes. 6:8; Gal. 6:2.

16 Broers wat vir hierdie vertakking van die teokratiese diens aansoek doen, moet in gedagte hou dat hulle hulle verpligting moet nakom (Matt. 5:37; Kol. 3:23, 24). Die opsieners van die verskillende afdelings moet regstreeks met die vrywilligers in verbinding tree om hulle te laat weet wanneer hulle op ’n bouperseel moet kom werk. Planne word beraam volgens die gegewe aantal beskikbare vrywilligers. Dit is dus belangrik dat almal opdaag soos afgespreek is, aangesien elke afdeling hulle werk teen ’n vasgestelde tyd moet afhandel sodat ander afdelings hulle werk betyds kan voltooi. Die werk word op dié manier gereël sodat die werkers na hulle gesin en tuisgemeente kan terugkeer sodra hulle deel van die werk afgehandel is.

17 Elke Streekboukomitee tref reëlings vir die werkers in hulle toegewese gebied. Hierdie reëling is baie doeltreffend, omdat die verantwoordelike broers hulle werkroosters só opstel dat hulle nie ’n las op die werkers plaas of onnodig baie van hulle dienste gebruik maak nie. Die streekkomitee sal om dieselfde rede aan “snelbou”-projekte voorkeur gee. Gemeentelike Boukomitees moet die toestemming van die streekkomitee verkry voordat hulle Koninkryksaalkonstruksiewerkers wat op die lys is, kan vra om hulle te help. Werkers word nie gevra om in ’n ander komitee se gebied uit te help nie tensy dit ’n spesiale reëling deur die Genootskap is en aangevra word deur ’n streekkomitee wie se werkvrag tydelik te groot is. As ’n ander nabygeleë streekkomitee op daardie tydstip ’n ligte werkvrag het, sal die Genootskap hulle dalk vra om te help.

18 Wie aan die vereistes voldoen: Wanneer ’n Koninkryksaalbouprojek ook al onderneem word, maak vrywilligers van die gemeente(s) wat die nuwe of opgeknapte fasiliteite gaan gebruik asook vrywilligers van nabygeleë gemeentes oor die algemeen die werkkragte uit. Party van hierdie vrywilligers word mettertyd opgeleide werkers en kwalifiseer daarna as ervare of selfs geskoolde werkers en kan derhalwe hulle dienste beskikbaar stel deur ’n “Kingdom Hall Construction Worker Questionnaire”-vorm in te stuur.

19 Die Streekboukomitees het maand vir maand spesifiek diegene nodig wat ondervinding in die boubedryf het en wat aanbied om met die nodige Koninkryksaalbouwerk te help. Hulle moet ’n goeie reputasie in die gemeente hê en deur die plaaslike liggaam van ouere manne goedgekeur word. Kan jy, as jy onder hierdie kategorie val, jou sake so reël dat jy in hierdie vertakking van Jehovah se diens kan help? (Neh. 4:6). Indien wel, moet jy ’n “Kingdom Hall Construction Worker Questionnaire”-vorm by die presiderende opsiener of die sekretaris in jou gemeente kry en dit onmiddellik instuur.

20 Daar is ook geestelike ryp broers wat as ouere manne of bedieningsknegte dien en wat gebruik kan word om toesig te hou. Hoewel hulle dalk nie veel ondervinding in die boubedryf het nie, kan hulle ook ’n aansoekvorm invul. Baie wat onder hierdie kategorie val, help in afdelings wat nie direk met die bouwerk verband hou nie, soos verkeersreëling, voedselverskaffing, sekuriteit, beheer oor toerusting, veiligheid, beplanning, aankope, rekeninge en eerstehulp. Ander word ook opgelei sodat hulle in groter mate in die toekoms gebruik kan word. Ouere manne en bedieningsknegte word aangemoedig om dit ernstig te oorweeg of hulle hulle dienste beskikbaar kan stel vir hierdie werk wat tot ons Vader, Jehovah, se lof strek.—Vergelyk 1 Samuel 3:8; Mattheüs 4:20.

21 Almal kan ’n aandeel hê: Almal kan ’n goeie gesindheid teenoor hierdie noodsaaklike werk toon deur hulle volle ondersteuning aan gemeentelike reëlings te gee wanneer party ’n gedeelte van ’n naweek by ’n Koninkryksaalbouprojek werk. Geeneen van ons moet hierdie vrywilligers enigsins ontmoedig deur te kenne te gee dat hulle liefdearbeid met betrekking tot die Koninkryksaalbouwerk nie heilige diens is nie (Spr. 24:10, NW; Hebr. 6:10). ’n Balans moet natuurlik gehandhaaf word, en dit is waarom die Streekboukomitees hulle roosters deeglik uitwerk sodat vrywilligers nie onnodig van hulle tuisgemeente af weg is nie.

22 Al laat ons omstandighede ons nie toe om as vrywilligers direk by die bouwerk betrokke te wees nie, is daar ’n belangrike aspek van die saak waaraan ons almal ’n aandeel kan hê. Wat is dit? Om Jehovah met ons “waardevolle dinge” te eer (Spr. 3:9, NW). Ons kan verseker wees dat Jehovah hoogs tevrede is wanneer ons ons liefdevolle geldelike ondersteuning gee sodat nog Koninkryksale gebou kan word. Die maandelikse bydraes tot die Genootskap-Koninkryksaalfonds wat van meer as 500 gemeentes sowel as van kringe en individue ontvang word, word hoog op prys gestel. Ons wil almal aanmoedig om met hierdie goeie ondersteuning aan te hou, aangesien nog baie gemeentes om Koninkryksaallenings aansoek doen (Hand. 20:35; 2 Kor. 9:6, 7; 2 Kor. 8:7, NW). Nog ’n manier waarop ons die armer gemeentes kan help, is om boumateriaal te skenk. Dalk het jy nuwe, ongebruikte boumateriaal beskikbaar. Wat van goeie tweedehandse boumateriaal? In onlangse maande is vergaderplekke liefdevol met geskenkte boumateriaal en gereedskap vir nuwe groepe in plakkersdorpe naby Johannesburg en Kaapstad opgerig. Die Streekboukomitee in julle gebied sal sulke skenkings met graagte ontvang. Tree gerus met julle kringopsiener of die Genootskap in verbinding as julle nie weet hoe om met julle Streekboukomitee in aanraking te kom nie.

23 Verreikende voordele: Aangesien Streekboukomitees riglyne van die Genootskap sowel as bykomende opleiding ontvang, kan gemeentes wat ’n Koninkryksaal bou of opknap daarby baat vind as hulle hierdie komitees raadpleeg. Dit sal verstandig wees as ouere manne met die Streekboukomitee in aanraking kom voordat hulle ’n standplaas koop en dan deur die hele projek nou met hierdie ervare broers saamwerk.—Spr. 15:22.

24 Jehovah help ons waarlik in besondere mate om baie huise van aanbidding tot sy lof op te rig. Broers en susters word deur ’n selfopofferende liefde beweeg. Dit is presies die soort liefde wat Jesus gesê het sy ware volgelinge onmiskenbaar sou identifiseer (Joh. 13:34, 35). Hulle stel, net soos Jesus, ander se belange bo hulle eie.

25 Ja, diegene wat help om geboue vir die aanbidding van Jehovah op te rig, ondervind die waarheid van Psalm 127:1. Hoewel bekwame werkers hulle tyd en kragte gewillig beskikbaar stel vir die vinnige oprigting van pragtige Koninkryksale, is dit Jehovah se seën wat die sukses daarvan verseker. Laat ons almal aanhou om vryelik van ons tyd en “waardevolle dinge” te gee terwyl ons op Jehovah vertrou om ons pogings te seën.—Spr. 3:9, NW.

[Prent op bladsy 3]

Diepkloof, Soweto—In vier dae opgerig

[Prent op bladsy 4]

Toewydingsdag—Dubbelverdiepinggebou met houtraamwerk, Hillbrow, Johannesburg

[Prent op bladsy 5]

Inanda-Suid, Durban

[Prent op bladsy 6]

Lindizwe, Nongoma, KwaZulu

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel