Maak die juiste kennis aangaande Jesus Christus Bekend
1 Ons gaan gedurende Desember die boek Die grootste mens wat nog geleef het in ons veldbediening aanbied. Hoe gaan jy ’n sinvolle Bybelbespreking aanknoop, en hoe gaan jy hierdie uitstekende publikasie aanbied?
2 Bied dit vir ander aan: Wat is sommige van hierdie publikasie se interessante aspekte waarop ons die aandag kan vestig? Hoofstuk 5 stel ’n gepaste vraag vir hierdie tyd van die jaar: “Jesus se geboorte—Waar en wanneer?” ’n Mens kan ’n jong persoon se belangstelling wek met die opwindende verhaal “Jesus maak ’n skrikwekkende storm stil” in hoofstuk 44. Iemand wat siek is of die een of ander gebrek het, sal ongetwyfeld vertroos word deur hoofstuk 57, “Medelye met die geteisterdes”. Hoofstuk 90, “Die opstandingshoop”, sal die belangstelling van enigiemand wek wat al ’n geliefde deur die dood verloor het. ’n Bespreking oor onrusbarende wêreldtoestande kan ’n inleiding bied tot hoofstuk 111, “Die teken van die laaste dae”.
3 Nadat jy vriendelik gegroet het, kan jy sê:
◼ “Ons vra mense of hulle saamstem dat Jesus Christus die grootste mens is wat nog geleef het. [Laat die huisbewoner antwoord.] Daar is natuurlik baie manne wat die verloop van menseaangeleenthede beïnvloed het, en party het tot die vooruitgang van die mensdom bygedra, maar kyk wat maak Jesus Christus so besonders. [Lees Johannes 17:3.] Niemand anders het die mag om die mensdom die ewige lewe te gee nie. [Blaai na hoofstuk 111 van die Grootste mens-boek.] Toe Jesus hier op die aarde was, het hy die gebeure beskryf wat sou plaasvind voor die einde van die wêreld kom. Maar hy het sy dissipels ook aangemoedig om hulle te verheug, aangesien hierdie gebeure sou beteken dat verlossing naby is.” Nadat jy kortliks ’n paar kenmerke van die teken van Christus se teenwoordigheid bespreek het, kan jy die huisbewoner ander interessante aspekte van die boek wys. Bied die boek teen ’n bydrae van R8,00 aan.
4 Nadat jy op ’n gepaste wyse gegroet het, kan jy dalk die volgende benadering gebruik:
◼ “Gedurende Desember dink en praat mense baie oor Jesus. Hoe kan ons die voorbeeld navolg wat Jesus, die wêreld se grootste mens, vir ons gestel het? [Laat huisbewoner antwoord en vestig dan die aandag op 1 Petrus 2:21.] Hy het sy volgelinge geleer om hulle naaste lief te hê, sedelik rein te bly en te bid dat God se Koninkryk moet kom. Ons redding hang daarvan af of ons Jesus as ons Verlosser erken en gehoorsaam. [Lees Johannes 14:6.] Jesus was nie sommer ’n gewone mens nie. Hierdie boek beskryf hom as die grootste mens wat nog geleef het. Hoofstuk 59 bevestig dit en identifiseer hom as ‘die Christus, die Seun van die lewende God’. Aangesien ons van hom afhanklik is vir redding, dink jy nie dat ons soveel moontlik moet leer omtrent sy werk en wat hy ander geleer het nie? Hierdie boek is spesifiek met daardie doel geskryf, en ek wil graag hierdie eksemplaar by jou laat teen ’n bydrae van R8,00.”
5 Lê die grondslag vir ’n toekomstige besoek: Ongeag of ons die Grootste mens-boek, twee tydskrifte of ’n traktaat by die huisbewoner gelaat het of net ’n aangename gesprek gehad het, kan ons sê: “Wanneer ek weer kom, wil ek jou graag iets interessants vertel omtrent die stad waar Jesus gebore is.” Maak seker dat jy noukeurige aantekeninge maak oor die besoek en die belangstelling wat getoon is.
6 Die Koninkryk bied die enigste ware hoop vir die mensdom. Laat ons ons opregte begeerte toon om die “juiste kennis van die heilige geheim van God, naamlik Christus”, aan almal bekend te maak wat ons teëkom.—Kol. 2:2, NW.