Gaan met vreugde terug om belangstellendes te help
1 Almal wat aan die huis-tot-huis-werk deelneem, wil belangstellendes graag help. As ons sulke hulp verleen, ervaar ons groot vreugde en voldoening. (Vergelyk Psalm 126:5, 6.) Dit vereis dat ons voorbereid is.
2 Voorbereiding beteken vereers dat ons huis-tot-huis-verslag breedvoerige inligting moet bevat. Maak ’n aantekening van die onderwerp wat tydens die eerste besoek bespreek is en wat die huisbewoner se reaksie daarop was. Jy kan selfs ’n aantekening maak van hoe jy die gesprek tydens jou herbesoek gaan begin.
3 As jy byvoorbeeld tydens jou eerste besoek na die Onse Vader verwys het en toe die “Regering”-brosjure by die huisbewoner gelaat het, kan jy kortliks iets soos die volgende sê:
◼ “Tydens my vorige besoek het ons bespreek hoe God se wil op die aarde gedoen gaan word en dat vrede op alle lewensterreine verwesenlik gaan word. Let asseblief op wat dit op bladsy 29 van die brosjure wat ek hier gelaat het, sê oor die ander seëninge wat God se Koninkryk vir die mens gaan bring.”
4 As die persoon nie werklik in God glo nie, kan jy iets soos die volgende sê:
◼ “Toe ek laas hier was, het ons die punt bespreek wat Paulus in Hebreërs 3:4 gestel het, wat logiese redes gee waarom ons kan glo dat daar ’n intelligente Maker van alle dinge moet wees.” Lees die teks weer en verwys na bladsye 4 tot 9 van die brosjure Gee God werklik vir ons om? en hervat jou eerste aanbieding. Vra die vraag en lees dan die paragraaf sodat die huisbewoner die vraag kan beantwoord. As dit prakties is, kan jy hom nooi om sy brosjure te kry en kan julle saam na die materiaal kyk.
5 As dit tydens jou eerste besoek gelyk het of die huisbewoner tevrede is, op materiële gebied of andersins, kan jy weer verwys na die traktaat Sal hierdie wêreld bly voortbestaan? en bladsy 6 lees. Vra die huisbewoner of hy graag op ’n pragtige paradysaarde wil woon. Om verder vas te stel hoeveel hy belangstel, kan jy hom vra om kommentaar te lewer oor ’n bemoedigende prent of stelling in ’n tydskrif wat jy gebruik.
6 Hierdie selfde basiese benadering kan gebruik word met ’n artikel wat jy moontlik in Die Wagtoring of die Ontwaak! bespreek het. Verwys na die artikel wat jy tydens jou eerste besoek beklemtoon het en meld dan ’n ander interessante punt in dieselfde artikel of in ’n ander nommer wat jy by jou het. Lees ’n teks saam, indien moontlik, en vra die huisbewoner om daaroor kommentaar te lewer. Moedig dan die huisbewoner aan om op die tydskrifte in te teken.
7 Ons moet positief wees oor die intekeningaanbod gedurende Mei. Ons kan gerus mense op ons tydskrifroetes aanmoedig om op die tydskrifte in te teken. Ons kan ook mense wat in die verlede belangstelling in die waarheid getoon of lektuur by ons geneem het, aanmoedig om in te teken.
8 Hou jou doelwit om ’n Bybelstudie te begin in gedagte. Dit verg gewoonlik etlike besoeke om genoeg belangstelling daarvoor te wek. Toon dat jy persoonlik in die huisbewoner belangstel deur so gou as moontlik terug te gaan.
9 Die goeie nuus wat ons verkondig, bring groot blydskap (Luk. 2:10). Dit is beslis rede tot blydskap wanneer belangstellendes gunstig op ons pogings reageer (Filip. 4:1). Laat ons sulke vreugde maai deur terug te gaan om belangstellendes te help wat ons in die veld teëkom.