Kweek belangstelling aan deur doeltreffende herbesoeke te doen
1 Elke goed voorbereide toespraak het ’n belangwekkende inleiding, ’n leersame liggaam en ’n motiverende slot. Die inleiding boei die aandag van die gehoor, maar sonder die liggaam en die slot sal die toespraak onvolledig wees. Dieselfde beginsel geld vir ons bediening. Dit is goed om die huisbewoner se belangstelling tydens die eerste besoek te wek, maar ons moet daardie aanvanklike belangstelling aankweek deur doeltreffende herbesoeke te doen.
2 Waarom laat God lyding toe? Wat ’n gedagteprikkelende vraag is dit tog! Stem jy nie saam dat dit iets is waaroor baie mense vandag wonder nie? Dit is waarom daar in die artikel hierbo voorgestel is dat jy hierdie vraag aan die einde van die eerste besoek opper sodat jy dit kan beantwoord wanneer jy die herbesoek doen.
3 Jy kan dalk sê:
◼“Hallo. Toe ons laas gesels het, het die gedagte oor waarom God lyding toelaat ter sprake gekom, en ek het belowe om vir jou inligting daaroor te bring. Baie mense voel dat as God werklik vir ons omgee, sal hy ’n einde aan lyding maak. Miskien het jy ook al só gevoel. [Laat huisbewoner antwoord.] Die Bybel verseker ons dat God werklik vir ons omgee. [Lees 1 Johannes 4:8.] God het grondige redes waarom hy toegelaat het dat lyding tot nou toe voortduur. Een van daardie redes word in 2 Petrus 3:9 verduidelik. [Lees.] Ander redes word in hierdie brosjure uiteengesit.” Blaai dan na bladsy 14 en 15 van die brosjure “Kyk, Ek maak alles nuut” en bespreek ’n interessante punt.
4 Party huisbewoners wil dalk ’n breedvoeriger verduideliking hê en dit sal moontlik verskeie herbesoeke verg voordat hulle heeltemal tevrede met die antwoord is. ’n Paar van die Genootskap se hardebandboeke met 192 bladsye wat gedurende Januarie aangebied word, bevat ’n hoofstuk wat as ’n grondslag vir ’n verdere bespreking van die onderwerp gebruik kan word.
5 Wanneer jy die bespreking afsluit, kan jy nog ’n vraag opper en vir die huisbewoner sê dat jy graag ’n paar interessante gedagtes met hom wil bespreek wanneer jy terugkom. Baie mense wil graag weet wat met ’n mens gebeur wanneer jy sterf. Tref reëlings om daardie onderwerp op ’n geleë tyd te bespreek.
6 Dit sal nuttig wees as jy drie basiese beginsels in gedagte hou. Wees aanpasbaar. Die huisbewoner is dalk nie daaraan gewoond om ’n spesifieke tyd vir ’n Bybelbespreking opsy te sit nie. Hou dit kort. Moenie aan die begin te lank bly of te veel gedagtes dek nie. In die meeste gevalle sal die huisbewoner gunstiger op jou besoeke reageer as jy net ’n paar gedagtes in ’n kort tydjie bespreek. Wees hartlik en vriendelik. Laat die huisbewoner sien dat jy werklik in hom as persoon belangstel.
7 Ons eerste doelwit is om die huisbewoner in ’n skriftuurlike bespreking te betrek. Daarna wil ons ’n vrugbare tuisbybelstudie in ’n gepaste publikasie, soos die Paradys op aarde-boek, begin. Jy kan daardie vreugde smaak as jy die aanvanklike belangstelling geduldig aankweek deur doeltreffende herbesoeke te doen.