’n Goeie rapport vir April!
1 Ons is verheug oor die nuwe verkondigershoogtepunt van 55 727 vir April. Daarbenewens het ons ’n nuwe hoogtepunt van 62 060 Bybelstudies gehad. Julle het baie hard gewerk en ons prys julle daarvoor. Hou asseblief aan om so ’n ywerige voorbeeld in die velddiens te stel.
2 Kan ons na ’n nuwe hoogtepunt in Augustus mik? Hoe kan dit bereik word? As elke verkondiger gedurende Augustus ’n volle deelname aan die velddiens het en aan die einde van die maand sy rapport stiptelik ingee, glo ons dat ons ’n nuwe hoogtepunt kan bereik. Elke boekstudiehouer kan dalk ’n klein voorraad rapportvormpies (S-4) by sy groepstudiesentrum hou om aan sy groep uit te deel. Hy moet die verkondigers daaraan herinner om hulle rapporte by die Koninkryksaal in die bussie gemerk “Velddiensrapporte” te sit.
3 Wat van progressiewe Bybelstudente? Kwalifiseer enige van hulle om gedurende Augustus saam met ons aan die bediening deel te neem? Daar behoort ELKE maand ’n bestendige toename in nuwe verkondigers te wees vanuit die meer as 62 000 Bybelstudies wat gehou word. Volg gerus die goeie wenke wat in die byvoegsel tot Ons Koninkryksbediening vir Mei 1993 gegee is om hierdie individue verder te help om vooruitgang te maak.
4 Laat ons almal ons inspan om ’n deeglike getuienis in ons toegewese gebied te gee. Onthou dat julle “altyd oorvloedig in die werk van die Here [moet wees], omdat julle weet dat julle arbeid in die Here nie tevergeefs is nie”.—1 Kor. 15:58.